Terwyl geweld geensins goedgepraat kan word nie, sou dit nietemin interessant wees om te verstaan wat die oorsake van die geweld is.
Die geweld word deur die inwoners self op vaaghede geblameer. Buitelanders steel glo hulle werk, of kry glo huise wat na regte aan burgers moes gaan. Swak dienslewering, van 'n ongespesifiseerde aard, kry ook die skuld.
Weer eens, sonder om geweld in enige vorm goed te praat, kan mens gerus ag slaan op die inwoners se klagtes, en lyk dit op die oog af of daar geldige griewe teen buitelanders kan wees.
Skattings raam dat daar sowat 3 miljoen Zimbabwiërs reeds onwettig in die land is. Daar is dus meer Zimbabwiërs in Suid-Afrika as wat daar Afrikaners is! Hulle is sekerlik reeds een van die grootste etniese groepe in die land, naas Xhosas, Zoeloes en kleurlinge. Zimbabwiërs bevind hulle ook te midde van enige iets tussen sewe en twaalf miljoen ander onwettiges, uit Mosambiek, Malawi, Nigerië, die Kongo en talle ander lande op die kontinent.
Menseregte-organisasies hou vol dat onwettige immigrante nie burgers van werksgeleenthede ontneem nie, maar in 'n land met tussen 25% en 40% werkloosheid is dit 'n hoogs twyfelagtige siening. Die burgers wat werkloos is, is grootliks diegene sonder vaardighede. Hulle enigste hoop is om laaggeskoolde arbeid te verrig, en hulle kan ongetwyfeld strawwe mededinging te wagte wees van onwettiges wat bereid is om vir veel laer lone, harder as plaaslike burgers te werk. Onwettiges plaas ook 'n bykans ondraaglike las op infrastruktuur soos behuising.
Toegang tot voldoende dienslewering is insgelyks 'n geldige klagte vir elke Suid-Afrikaner. Die ganse Pretoria gaan byvoorbeeld al vir die afgelope twee weke gebuk onder 'n vulliskrisis, omdat die Tshwenes in Pretoria se stadsraad se rampspoedige beleidsrigtings tot 'n staking gelei het. Dele van Alexandra is 'n reusagtige plakkerskamp, sonder behoorlike behuising, lopende water of spoeltoilette.
Kennelik is dit maklik om, miskien verkeerdelik, die vinger te wys na onwettige immigrante as diegene wat die burgers se huise en dienste "steel". Hulle wat die onwettiges aanrand, is egter kwaad vir die verkeerd mense. Die ware sondebok is die ANC-regime.
Die onwettiges is eerstens in Suid-Afrika juis omdat die ANC weier om effektiewe grensbeheer toe te pas, tot op die punt waar onwettige immigrasie blykbaar die stilswyende goedkeuring van die regime wegdra. Tweedens kan die volslae ineenstorting van dienslewering regstreeks voor die deur van die ANC gelê word. Ek hoef nie uit te brei oor die rampspoedige gevolge wat die ANC se rassistiese etniese reiniging van bekwame blankes uit die diens van die regering veroorsaak het nie, en die korrupte, baantjies-vir-boeties-aanstellings van onbevoegdes in stadsrade is al bykans 'n standaardgrap in Suid-Afrika.
Op presies dieselfde wyse is die ineenstorting van onder andere gesondheidsorg en onderwys, probleme wat ook deur die armes in Alexandra ervaar word, regstreeks te blameer op die volslae onbevoegdheid van die ANC-regering.
Ek is kennelik 'n Westerling en verstaan waarskynlik nie die Afrikaan se psige nie, maar een vreedsame oplossing vir die probleme van die inwoners van Alexandra is nie so moeilik om te bedink nie. As hulle bloot net hulle gesamentlike mag by die stembus wil gebruik, kan hulle vir 'n party stem wat hulle beter dienslewering sal gee. Die ANC is so korrup, onbekwaam, maar ook so houtgerus dat dit maklik is om te veronderstel dat selfs die PAC 'n beter opsie vir 'n inwoner van Alexandra kan wees.
Die begin van die einde van die vorige bedeling was waarskynlik op 16 June 1976, toe die opstande in Soweto begin het. Is die 12de Mei die begin van die einde van die ANC-regime?
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.