Khoi-en San-mense wil nie as “kleurlinge” bekendstaan nie en wil hê die regering moet die gebruik van die woord met verwysing na hulle verbied.
By ‘n Khoi-San-indaba aangebied deur die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming in Hilton naby Pietermaritzburg, in KwaZulu-Natal gister, het Khoi-San-leier Raymond Trollip gesê sy mense het baie verloor onder kolonialisme en apartheid, insluitend hul identiteit.
Die indaba is byeengeroep om te besluit oor die manier waarop die regering se beleid eise deur inheemse Suid-Afrikaners kan akkommodeer oor grond wat onder 1913 se Onteieningswet vervreem kon gewees het.
Ook namens die Namas en Koranas, het Trollip gesê die mense wil hul oorspronklike identiteite behou.
Trollip het geëis dat hul kultuur en behoud van identiteit ondersteun word deur die regering, en dat hul leiers betaal word deur die regering.
“Die regering het SEB vir ons swart broers en susters. Ons wil iets soortgelyks hê.
“Ons swart broers en susters ry in mooi motors en woon in mooi huise en ons is laer af op die skaal. Ons wil gelyk wees met hulle,” het hy gesê.
Voormalige Wes-Kaapse premier Peter Marais, wat gesê het hy is 100% Griekwa, het gesê mense het die reg op self-identifikasie. Hy het gesê die term “kleurling” is ‘n vorm van gedwonge identifikasie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.