Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) sal troepe na die Demokratiese Republiek van die Kongo stuur as deel van ‘n mag van die Verenigde Nasies, het die weermag Sondag bevestig.
“Ja, die Suid-Afrikaanse regering sal soldate stuur of sal soldate bydra tot die Verenigde Nasies se ingrypingsmag in die oostelike DRK,” het bgir.genl. Xolani Mabanga gesê.
“Die VN se Veiligheidsraad het verlede week ‘n resolusie aanvaar wat die ontplooiing van ‘n ingrypingsmag in die ooste van die DRK goedkeur. En die regering van Suid-Afrika het beloof om soldate vir daardie mag by te dra,” het hy gesê.
Mabanga het gesê daar is nog nie besonderhede oor wanneer en hoeveel soldate na die DRK gestuur sal word nie.
“Dit sal alles gesien word in die Verenigde Nasies se magstruktuur,” het hy gesê.
City Press en Rapport het Sondag berig dat Suid-Afrikaanse soldate in die ooste van die DRK ontplooi sal word, waar hulle teen die M23-rebellegroep sal veg.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.