praag.co.za

Reaksie op video skadeliker as video self

Written by

in

Die video is satiries van aard en niks meer as ‘n idiotiese studentepoets wat die spot dryf met Suid-Afrikaanse obsessies oor ras, waaronder sportkwotas en die gedwonge integrasie van kampuskoshuise, nie. Die swart vroue het uit vrye wil deelgeneem en die sogenaamde “urine” het verdunde aanmaakkoeldrank blyk te wees. Die ontgroeningstradisie bly sterk in Afrikaanse skole en universiteite en vele Afrikaners is sodoende al gedwing om aan vervelige en soms kinderagtige rituele deel te neem.

Die oordrewe reaksie op die video het meer skade aan rasseverhoudinge en interetniese naasbestaan in die land aangerig as die video self wat tot die rand van pseudo-artistieke uitdrukking beperk moes gewees het as ‘n vulgêre en studentikose spotstuk wat al as “’n Leon Schuster-fliek wat skeef geloop het”, beskryf is. Pleks daarvan, word dit tans met ‘n politieke en kulturele betekenis behang wat ver verwyder is van die jeugdige makers se bedoeling, as ‘n simptoom van kollektiewe “wit en Afrikanerrassisme”.

Soos die Deense spotprente wat in 2005 gepubliseer is, verteenwoordig die video ‘n toetssaak vir spraakvryheid in Suid-Afrika. Word mens toegelaat om die draak te steek met politieke korrektheid en die alomteenwoordige “demografiese verteenwoordigendheid” of het ons ‘n spul fundamentaliste geword wat gretig is om ‘n fatwa teen enigeen uit te spreek – selfs jong, onverantwoordelike studente – wat dit durf waag om die amptelike ideologie van “transformasie”, d.w.s. permanente omgekeerde diskriminasie teen blankes, te bevraagteken?

PRAAG glo dat spraakvryheid ononderhandelbaar is, afgesien van die aanstigting van geweld teen ander waaraan die Vrystaatse studente hulle nie skuldig gemaak het nie. In dieselfde week waartydens die dolheid oor die Reitz-video losgebars het, het swart studente op die UV-kampus m.b.t. Afrikanerstudentes gesê: “Kom ons verkrag al die ‘white bitches’.”

Oor die afgelope weke is ten minste vier Suid-Afrikaanse kampusse gesluit verklaar ná onluste deur swart studente wat nie met die video verband hou nie. Te midde van die toenemende onstabiliteit, is dit kommerwekkend dat die Engelstalige media ‘n waaragtige haatveldtog teen Afrikaans en Afrikaners voer. Trouens, die anti-Afrikaanse toon van die huidige Sunday Times of The Star is ononderskeibaar van wat daardie koerante in 1899 op die vooraand van die Anglo-Boereoorlog geskryf het of in 1920 toe hulle die stigting van Afrikaanse skole en universiteite probeer verhoed het.

Dis ooglopend dat verhoudinge tussen Suid-Afrikaanse rasse- en taalgroepe vinnig agteruitgaan. Slegs ‘n terugkeer tot redelike en beskaafde debat sal ons daarvan red om in die etniese konflik wat soveel Afrikalande kenmerk, te verval.

купить детские трекилобановский александр игоревич класс

Comments

Leave a Reply