praag.co.za

Afrikaanses is nie plesierig nie, net bekommerd

Written by

in

Afrikaanses is bekommerd oor die toestand van regering in Suid-Afrika, het die ANC se tesourier-generaal, Mathews Phosa, Dinsdag gesê.

“Daar is ‘n gevoel dat die leierskap moet sokkies optrek en die kwessie van goeie regering begin aanspreek,” het Phosa gesê ná ‘n vergadering tussen die ANC en 19 Afrikaanse liggame in Johannesburg.

Hy het gesê ander kwessies waaroor kommer uitgespreek is, is dienslewering, veral op regeringsvlak, veiligheid in stedelike en landelike gebiede en die posisie van die Afrikaanse taal en kultuur.

Afrikaanse groepe wat die vergadering bygewoon het sluit in die Afrikanerbond, die NG Kerk, die Voortrekker Monument, die ATKV, die Afrikaanse Taalraad en die Federasie van Beheerliggame van SA skole.

Die ANC-afvaardiging het Phosa, Gwede Mantashe (sekretaris-generaal van die ANC), Tina Joemat-Pettersson (minister van landbou, bosbou en visserye) en Enoch Godongwana (adjunkminister van openbare ondernemings) ingesluit.

Die sameroepers van die ANC Progressiewe Sakeforum, Renier Schoeman en Daryl Swanepoel, het ook die vergadering bygewoon.

Phosa het gesê hy voel die gesprekke loop goed af.

“Daar is geen heilige koeie nie… ons het gesê, praat soos julle praat in die noordelike voorstede, moenie dinge wegsteek nie, ons wil dinge hoor,” het hy gesê.

“Ons moet hulle omarm en met die kwessies omgaan. Ons is nie hier om maatjie-maatjie te wees nie. Ons het dit duidelik gemaak dat ons nie na stemme soek nie, ons kyk na kwessies wat die nasie raak… dinge waaroor die nasie bekommerd is.”

Phosa het gesê die organisasies het oor hul voorbehoude gepraat en gesê hul meriete word ondermyn deur regeringsaanwysings.

Sommige het die kwessie van swart ekonomiese bemagtiging bespreek.

Phosa het gesê hy was geraak toe een van die organiseerders oor positiewe burgerskap gepraat het.

“Hulle wil deelneem, hulle wil insette lewer vir die beleide.”

Hy het gesê die ANC het ook kwessies opgehaal, soos landelike veiligheid.

“Ons het gesê, wel, daar moet ook sekuriteit vir plaaswerkers wees, julle moet hulle op ‘n menswaardige manier hanteer. Ons gee aan mekaar albei kante van die storie… sodat nie een perspektief dominant is nie,” het hy gesê.

Die VF+ het vroeër gesê die ANC tree uit eiebelang op deur praatjies met Afrikaanse groepe te hou.

Die ANC het ‘n verpligting om die bekommernisse van Afrikaanse organisasies in die land te verstaan, het Mantashe gesê.

“Of hulle vir ons stem of nie, ons het ‘n verpligting om te verstaan waar hulle vandaan kom, asook hul bekommernisse,” het hy aan verslaggewers in Johannesburg gesê.

Mantashe het gesê hulle het sommige bekommernisse uitgespreek en wil ‘n bydrae tot Suid-Afrika lewer.

“Mense wil ‘n bydrae daartoe maak om Suid-Afrika te laat werk en om Suid-Afrika ‘n beter land te maak om in te woon.”

Die Afrikaanse taal is ook bespreek.

“Wat uitgekom het, is dat daar geen bedoeling is om Afrikaans te verhoog ten koste van ander tale nie,” het Mantashe gesê.

Meer vergaderings van dié aard sal gehou word, het Mantashe gesê.

лобановский александр компромат

Comments

Leave a Reply