Pretoria gaan sy naam dalk behou, maar meer as 27 straatname in die hoofstad sal verander word.
Dit is die ANC se “aanbod” in die geheime onderhandelinge wat tans aan die gang is in die omstrede naamsveranderingstryd, het Beeld berig.
Die Tshwane-metro se burgemeester, Kgosientso Ramokgopa, het met lede van die opposisiepartye vergader om die probleem Donderdag te bespreek. Die raad het in 2008 aangekondig dat die name van talle strate “wat aanstootlik is as gevolg van hul koloniale en apartheidsverlede” geïdentifiseer is.
Nuwe name vir die betrokke strate is in ‘n konsep-dokument vervat wat deur die raad opgestel word. Slegs twee straatname, Pretorius en Paul Kruger, het behoue gebly.
Ander, soos Schoeman, Van der Walt, Andries, DF Malan, Prinsloo, Genl Louis Botha, Skinner, Kerk, Walker / Charles, Koningin Wilhelmina, Voortrekker, Mears, Beatrix, Hendrik Verwoerd, Hans Strijdom, Vermeulen, Potgieter, en Duncan, gaan verander.
Opposisiepartye veg nog om die name van die Kerk- en Voortrekkerstrate te behou.
Ramokgopa sal na verwagting volgende week ‘n amptelike aankondiging maak.
Brandon Topham, DA-leier in die Tshwane-metroraad, het gesê sy party is baie bly die ANC het nie probeer om die naamsverandering op ‘n onsensitiewe wyse deur te druk nie.
“Almal se geskiedenis moet gereflekteer word in die stad, en niemand gaan aan die einde 100% tevrede wees met die proses nie,” het hy gesê.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.