praag.co.za

Word die vryemark beheer?

Written by

in

Dis opmerklik hoe ekonomiese beleidsvraagstukke deesdae van een land na die ander oorgeplant word. In Suid-Afrika is die rou nasionaliseringsdebat effens afgeweer deur Julias Malema op ‘n syspoor van ‘n magdom ingewikkelde dissiplinêre party-oortredinge te plaas wat enige mens aan die ontvangkant daarvan sou laat skeel kyk, laat staan nog ‘n houtwerkprobleemkind.

Eenderse ekonomiese standpuntverskille oorskadu egter tans die Angelsaksiese wêreld waar die vrye mark ‘n paar jaar gelede as die enigste alternatief beskou is na die val van kommunisme en die filosoof Fukuyama die “einde van die geskiedenis”, bedoelende die einde van Marx en Hegel, aangekondig het. Toe nie.

Malema, die debatte van die Republikeine in die VSA, die Occupy-beweging, die Arabiese lente en die nuutste spelbrekernuus uit Australië dui daarop dat groot internasionale ondernemings dieselfde hindernis gaan teëkom: Meer regeringsinmenging, meer belastings, dalk selfs yslike populêre teenstand.

Blykbaar was Malema se institusionele posisie die kos vir sy voortstuwende kom-ons-vat-die-myne-beleid en toe nie sy ideologiese ywer nie. Daar was selfs ‘n kommentaar op Praag wat voorgestel het dat die ou betaal is om sy voorkeurbeleid te verkondig, of, nouja, afbetaal is om dit op die agenda te plaas sodat die kwessie “bestuur” kan word.

Die ideologiese debat, die een tussen sosialisme en die vrye mark, sny nogtans steeds deur ‘n hele paar grensdrade, al is Malema vir eers hier uitgerangeer. Holomisa en die NUM het nou die bal opgetel en gaan vir die doelpale van nasionalisering hardloop. Die vraag is egter of hulle besef het dat die media skeidsregter oor die debat gaan speel.

Media24 het nie verniet hulle swaargewigte, te wete Pius Langa en Kobus van Rooyen, vorentoe gestoot vir die onlangse openbare verhore oor mediavryheid wat hulle help befonds het nie. Van Rooyen was nog ‘n paar jaar gelede die epitoom van sensuur, maar blykbaar is hy ‘n betroubare skoothondjie vir die monopolistiese mediagroep en sal hy enige deuntjie blaf.

Dit staan natuurlik Media24 heeltemal vry om oor plaasmoorde en die oorsake daarvan te berig, maar daardie vryheid word vreemd genoeg geensins benut nie, en Afrikanerboere is uitgelewer aan moordbendes met ‘n onverklaarbare voorliefde vir misdaad.

Terwyl die Amerikaanse presidentresies aan die ontvou is en Occupy stoom verloor (Hoe lank kan enige mens in daardie winter uitkamp?), is die gevolge van die Arabiese lente pynlik sigbaar. Die opstande het nie liberale demokrasieë gebaar nie ten spyte van Washington se naïewe hoop en openbare aanmoediging.

Die Westerse media het hierdie rondte in die Midde-Ooste 1 – 0 verloor en dalk die hele reeks prysgegee toe Al-Kaida hul vlag op ‘n regeringsgebou in Libië gehys het.

Die mediabeeld wat Hilary Clinton wou skep van die eensame, ongewilde tiran, ongeliefd by sy eie mense – lees Moebarak, Gadaffi en nou Assad – is gewoon kinderlik en uitgedien. Gadaffi was só gewild dat geen rewolusie hom kon ontsetel nie, slegs buitelandse intervensie. In Sirië woed tans eweneens ‘n soortgelyke stryd tussen buitelandse belange.

Verslae deur die Arabiese Liga en Christenwaarnemers in Sirië plaas ernstige vraagtekens oor die sogenaamde onderdrukking deur regeringsmagte in Homs. Die 200 sterftes wat in die Angelsaksiese media net voor die Veiligheidsraadbesluit berig is, was toe nie eens 30 nie en die dertig dooies het almal aan sekure kopskote gesterf.

Trouens, die Arabiese Liga se roterende voorsitterstoel is op die nippertjie deur Katar gekoop om ‘n eers ongunstige verslag te onderdruk sodat ‘n gunstige verslag, een wat regimeverandering in Sirië sal beteken, aan die Veiligheidsraad voorgelê kon word.

Van die gewelddadige onderdukking deur die staat in Bahrein en die ooste van Saoedi-Arabië hoor ‘n mens maar min. Iran se invloed daar voed ‘n populêre opstand in wat beskou kan word as nogmaals ‘n internasionale tektoniese verskuiwing van belange.

Duidelik is Mazibuko die groot wit Angelsaksiese hoop in Suid-Afrika wat met haar kapsel en ‘n oormaat onverklaarbare selfvertroue die grootste wit party, die DA, van irrelevansie wil red. Haar vryemarkoortuigings sal haar nog minder geliefd maak by die swart kieser by wie stygende verwagtinge die botoon voer.

Maar die interessantste verwikkelinge vind tans in Australië plaas waar die wêreld se rykste vrou, Gina Rinehart, haar aandeel in Fairfax-mediagroep vergroot het na 14%, om invloed te koop sê waarnemers.

Sy het die skrif aan die muur waargeneem wat haar aansienlike mynbelange gaan raak. Rinehart, wat reeds daarvan beskuldig word dat sy omgewingsdeskundiges wat kla oor besoedeling, ondermyn, is nie naastenby so invloedryk soos Rupert Murdoch nie, maar sê kenners, sy is baie meer vasberade om belastings te ontduik en inheemse grondaansprake in Wes-Australië te bestuur.

Murdoch, wat soos Media24, ‘n mediamonopolie in Australië bedryf, met ‘n 70%-aandeel en ‘n greep oor die enigste nasionale koerant, was instrumenteel in die toesmeer van die volksmoord teen die Aborigineë. Dit het in 1997 aan die lig gekom dat die voortslepende uitwissing van Australië se inheemse bevolking wat sedert die 18de eeu onder die Britte as die “nigger hunt” bekendstaan, feitlik onverpoos en sistematies deur die Australiese owerhede gedryf is.

Van die wêreld se 90 inheemse bevolkings het die inboorlinge vandag daar die laagste lewensverwagting. Aborigineë is oral in Australië teen vyf keer die koers van swartes in die ou Suid-Afrika in die tronk gestop en in die weste van die land, waar die minerale rykdomme opgesluit lê, teen agt keer die koers van swartes onder apartheid.

Rinehart vrees waarskynlik dat die inheemse aansprake op grond en belastings wat daarmee kan saamgaan, haar winste gaan belemmer. Met Murdoch wat sukkel met sy openbare beeld en Fairfax wat munt daaruit kan slaan, het sy kennelik besluit dat sy haar belange gaan beskerm deur mediabeheer. Niemand glo dat sy in die tanende winste van Fairfax belangstel nie.

In 1988 het Murdoch se Sun-koerant die inboorlinge “onbetroubaar en brutaal” genoem in ‘n poging om die inheemse bevolking van hulle grondaansprake te vervreem wat in 1976 verkry is. Dié beskrywing is deur die Mediaraad in die VK as “onaanvaarbaar rassisties” beskryf.

Selfs ‘n VN-rapporteur het Australië se beleid as een van “rassediskriminasie” uitgesonder. Fairfax sal dus waarskynlik nie meer lank oor Murdoch se vergrype verslag doen nie.

Александр Фильчаков прокурор

Comments

Leave a Reply