Die provinsiale kommissaris van Polisie in Noordwes, lt.-genl. MNZ Mbombo, sê die besluit om die Polisie se provinsiale hoofkantoor van Potchefstroom na Mafikeng te skuif, is ‘n politieke besluit.
Sy het vandag gereageer op ‘n vraag van Pieter Groenewald in die parlement se portefeuljekomitee vir Polisie. Sy kon nie sê wat die koste gaan wees nie en op ‘n stadium is ‘n bedrag van R371 miljoen genoem.
“Die rede is totaal onaanvaarbaar en die skuif sal nie net ekonomies sleg wees vir Potchefstroom nie, maar dit sal miljoene rande se vermorsing van belastingbetalers se geld wees.
Die ontwrigting van lede se gesinne sal ook in sekere gevalle traumaties wees en baie lede se eggenoot of eggenotes het ‘n ander werk plaaslik en sal nie maklik werk kry in Mafikeng nie.
Potchefstroom is die ideale ligging vir die hoofkwartier omdat die grootste konsentrasie van mense in Noordwes in die nodale punte Rustenburg/Brits en Potchefstroom Klerksdorp/Orkney/Stilfontein is.
Rustenburg is ongeveer 140 km van Potchefstroom en Klerksdorp 40 km terwyl Mafikeng meer as 200 km weg van Rustenburg en Potchefstroom/Klerksdorp geleë is.
Die komiteelede het saamgestem dat die rede nie aanvaarbaar is nie en ek sal die saak ook opneem met die minister van Polisie, aangesien daar geen regverdiging is vir die besluit nie,” sê mnr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder oor Polisie vir die Vryheidsfront Plus.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.