{jathumbnail off}

Nissan X-Trail 2.0 dCi 4×4 LE
R436 900
Die Nissan X-Trail is seker een van mees gebalanseerde gesinsvoertuie wat ons nog bestuur het. Die motor is ruim, bougehalte is puik en die sagte swart leer dra tot die verfyndheid van die motor by. Slim laaie en sitplekkonfigurasie asook luukses soos elektries verstelbare sitplekke wat verhit kan word, ‘n navigasiestelsel en ingeboude hardeskyf met raakskermtegnologie. Ons toetsmotor was toegerus met ‘n 2.0-literturbodieselenjin wat 110 Kw en 320 Nm se wringkrag ontwikkel. Die seepgladde outomatiese ratkas tesame met die elektroniese vier-by-vierstelsel wat baie soos dié van die Land Rovers met die draai van ‘n knop die beste vastrap vir jou kies, werk uitstekend. Daar is ook opdraandwegtrekhulp en afdraandkloubeheer. Wat rygerief aanbetref, voel die X-Trail baie meer soos ‘n motor as ‘n sportnutsvoertuig. Ons gee die X-Trail beslis 5 uit 5.

Peugeot RCZ 2.0 Hdi
R370 165
Soek jy iets anders, iets wat die koppe oral laat draai, nie te duur is nie, maar baie duur lyk, goeie werkverrigting bied en die beste van alles, baie suinig is met die voggies? Die Peugeot RCZ 2.0 HDi is dalk net die motor. Ons het hom vir ‘n paar dae onder hande geneem en was baie beïndruk. Oral waar ons met die motor gery het, wou mense weet of dit dalk ‘n Porsche of ‘n TT is, dan sien hulle dit is ‘n Peugeot en vra verbaas wat, ‘n Peugeot? Die 2-literturbodieselenjin ontwikkel 120 Kw en 340 Nm se wringkrag; dit gee die leeutjie nogal heelwat skop met sy asem wat eers by 220km/u sal opraak. Verbruik is slegs 5,3 l/100km en die beste van alles is: daar is vier sitplekke en ‘n reusebegasieruim wat twee groot reistasse plus ‘n smuktassie sal insluk. Kop- en skouerruimte binne is puik, asook die afwerking is puik. Ons gee hom 5 uit 5.

Toyota Fortuner 2.5 D-4D Raised Body
R325 500
Die Fortuner verkoop soos soetkoek; nou is daar ‘n meer bekostigbare weergawe met ‘n kleiner enjin. Die hele reeks het so ‘n regtrek gehad met nuwe sierroosters , asook voor- en agterligte. Ons het onverwags die intreevlak 2.5 D-4D met agterwielaandrywing gery. Die binneruim is bruin van kleur. Nie baie mooi nie maar aanvaarbare kwaliteit met 7 sitplekke. Dit is asof Toyota alles wat die Fortuner so ‘n gewilde voertuig gemaak het bietjie goedkoper probeer maak het en dit wys nogal. Die 2.5-turbodieseleenheid ontwikkel 106 Kw teenoor die 120 Kw van die 3 liter-turbodiesel. Wringkrag is identies aan dié van die 3-liter met 343 Nm. Daar is R70 000 verskil tussen die 2.5 en die 3 l , beide 4×2, chroomhandvatsels, leerafwerking, outomatiese lugversorging en ligte, togbeheer, donkerruite, Bluetooth vir die telefoon, parkeersensors en 6 luidsprekers. Wat rygerief betref, voel die Fortuner nog steeds soos ‘n bakkie. Dit verteenwoordig goeie waarde in die Toyota-konteks; tog is ons daarvan oortuig dat daar beter kopies by ander vervaardigers se sportnutsvoertuie bestaan. 3 uit 5.

Audi A6 3.0 TDI S-Tronic Quattro
R645 000
Audi het vroër vanjaar hulle splinternuwe A6 bekendgestel en ons kon vir enkele dae agter die stuur inskuif. Die motor was nog nie eers behoorlik by al die handelaars beskikbaar nie, toe word hy al genomineer vir Motor van die jaar 2012. Soos die BMW 530d in 2011 is dié ‘n ekslusiewe besigheidsklaskoets met van die mees gevorderde enjin- en ondersteltegnologie wat daar vandag beskikbaar is. Audi-aanhangers sal weet alles wat die Duitsers bou, is goed. Die nuwe A6 is groter dog ligter, kragtiger dog suiniger en as jy nie mooi kyk nie, kan jy maklik dink dit is ‘n A8 wat glad nie ‘n slegte gedagte is nie. Meer beenruimte, meer begasieruimte. Ons toetsmotor se 3l-turbodieseleenheid lewer 180 Kw en 500 Nm se wringkrag. Die Quattro-aandrywing sorg vir 0-100km/u in 6,1 sekondes en sy stoom word beperk tot 250km/h. Daarby teug die A6 slegs 5,9 l/100km, ongelooflik. Die binneruim is leer van hoek tot kant. Ons dink die Audi A6 3.0 TDI S-Tronic Quattro staan ‘n baie goeie kans om die 2012-Motor van die Jaar-titel in te palm. 5 uit 5.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.