praag.co.za

Tyd vir plaasinvalle is verby, sê Zim-goewerneur

Written by

in

Die goewerneur van die Midlandsprovinsie in Zimbabwe, Jason Machaya, het gewaarsku dat indringers op die plaas van Derek Shaw, een van Zimbabwe se min oorblywende wit melkboere, moet ligloop.

Die goewerneur het ook die nuutste vlaag van plaasbesettings veroordeel en gesê: “Die tyd vir plaasinvalle is verby”.

Die afgelope week het meer as 200 onwettige plakkers en hul gesinne op Shaw se plaas, Wildebeest, sy laaste 200 hektaar grond beset. Die ander deel van sy plaas is tussen 2002 en 2004 aan grondbesetters oorhandig.

Machaya se waarskuwing kom terwyl Zimbabwe sukkel om hul melkproduksie te verbeter. Kundiges in die bedryf blameer die lae vlak van melkproduksie op die chaotiese grondhervormingsprogram asook die regering se weiering om eiendomsreg te eerbiedig.

Meeste van die melk in Zimbabwe word uit Suid-Afrika ingevoer. Selfs Nestlé Zimbabwe, een van die grootste melkkopers, voer melk vanuit Suid-Afrika in, want plaaslike produsente versuim om aan sy behoeftes te voldoen.

Machaya het gesê Shaw is een van die “strategiese boere” wat ‘n ooreenkoms met die regering aangegaan het. Daar is besluit dat Shaw sy oorblywende grond moet hou.

“Mnr Shaw moet nie versteur word nie. Dit is die regering se standpunt. Blanke kommersiële boere soos hy is deel van land se pogings om melkboerdery te verbeter,” het hy gesê.

“Enigiemand wat grond in Zimbabwe beset, moet dit doen deur die wette van die land,” het hy gesê.

Die Midlandsprovinsie het ‘n aantal plaasbesettings in die afgelope dekade beleef, insluitende die plaas van Colin Cloete, ‘n voormalige president van die Commercial Farmers Union van Zimbabwe van Chegutu, wie se plaas vir tabak geoormerk is. Hy het dié jaar ‘n finale appèl verloor om sy enigste oorblywende eiendom te behou.

Een van die land se mees vereerde beestelers, Philip Hapelt, moes sy plaas aan Zanu-PF-politikus Jabulani Mangena oorhandig. Hapelt, sy familie en sy werknemers moes geweld trotseer voordat die howe hom ‘n persona non grata verklaar het.

Ben Freeth se plaas is deur Zanu-PF se staatmaker Nathan Shamuyarira gevat. Freeth se skoonpa, Mike Campbell, het die saak na die SAOG-tribunaal geneem en sy saak gewen. Maar, die regering het die uitspraak ongeldig verklaar, en gesê die Tribunaal het nie jurisdiksie in Zimbabwe nie.

Volgens WikiLeakskommunikasie van 2003 was sowat 300 kommersiële boere in regsgevegte met die regering betrokke om hul grond te hou, terwyl 4000 – 4500 blanke boere reeds uitgesit is.

Tot op datum het die regering ‘n beslissing deur die SAOG-tribunaal in 2008 geïgnoreer, nadat 77 kommersiële boere aangevoer het dat die grondhervormingsprogram op ‘n rassegrondslag gevoer word.

Александр Фильчаков Васильевич

Comments

Leave a Reply