By dié “biblioteke,” wat gratis vir algar is, kan mense enige boek neem en enige boek agterlaat vir ander om te lees.
Daar is geen registrasieproses nie, geen datum waarteen die boek teruggegee moet word nie en jy kan soveel neem of gee soos wat jy wil.
“Hierdie projek is gemik op almal wat daarvan hou om te lees, sonder beperkings op ouderdom en opleiding. Dit is oop vir almal,” het Michael Aubermann, een van die organiseerders, aan Associated Press gesê.
Die stad se jongste boekrak, wat €5 000 gekos het, is ‘n staalrak met glasdeure en is twee weke gelede langs Bayenturm, een van die stad se Middeleeuse torings, opgerig.
Dit is die vierde gratis boekrak wat Aubermann se groep, die Keulse Burgertrust, in die stad opgerig het. Twee ander is ook in Ikea-winkels geplaas.
“Ons het ons ander buitemuurse rakke verlede jaar ingesit en dit werk regtig goed,” het Aubermann, ‘n 44-jarige wat in IT-bestuur werk, gesê.
Die openbare boekrakke, wat gewoonlik deur donasies gefinansier word en deur plaaslike vrywilligergroepe bestuur word, is onafhanklik van mekaar in verskeie stede oor Duitsland opgerig, insluitende Berlyn, Hannover en Bonn.
Elke rak het sowat 200 boeke en dit neem gewoonlik sowat twee weke vir die rak om heeltemal met nuwe titels vervang te word, het hy gesê.
Mense neem dikwels meer boeke as wat hulle terugsit, maar dit lyk nie asof die uitgewers en aanlynboekverkpers gepla is nie, en hulle ondersteun die gedagte.
Daar was natuurlik al vergrype soos een lid van die publiek wat al die boeke geneem het en by ‘n vlooimark gaan verkoop het.
Uitgewers sê hulle beskou dit as ‘n promosie en nie ‘n kompetisie nie. Hulle kla egter dat godsdienstige groepe die rakke misbruik en boeke verwyder om hul eie eng godsdienstige idees te probeer versprei, maar sulke boeke word glo dadelik verwyder.
Rassistiese en prekerige boeke word ook glo afgehaal.
Fiksie, reisgidse, speurverhale en selfhelpboeke is die gewildste. Klassieke werke word ook op die rak geplaas.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.