Die kos op die tafel kan uiteindelik afhang van ons kennis van die ruimte. So sê Dr. Seidu Mohammed, direkteur-generaal van Nigerië se Nasionale Ontwikkelingsagentskap vir Ruimtenavorsing.
Hy sê ontwikkelende lande sal in tegnologie moet belê omdat voedselsekuriteit daarop staatmaak.
Afrika is ver agter wat tegnologiese vooruitgang betref nadat verskeie sulke programme wat onder die vorige bedeling onderneem is, deur die ANC afgeskaf is.
Lede van Suid-Afrika en Afrika se ruimtebedryf het Donderdag tydens ‘n mediakonferensie gesê: “Afrika gaan sy eie satelliete wat aan sy eie behoeftes voldoen, bou.”
Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap (Sansa), dr. Sandile Malinga, sê vier satelliete gaan gelanseer word as die projek waaraan Suid-Afrika, Algerië, Nigerië en Kenia saamwerk, realiseer.
Dit kan binne drie jaar ‘n werklikheid sal wees, sê hy. Daar mag later nog lande aansluit by die projek.
“Met ‘n konstellasie [van satelliete] kan jy daagliks tot ‘n duisend beelde kry. Omdat ál vier saamwerk, kan jy veel gouer die hele vasteland afneem. Dit neem ons nou nege maande om die hele Suid-Afrika af te neem.”
Boere kan sodoende belangwekkende seisoenale veranderings volg omdat oeste deur die hele seisoen uit die ruimte gefotografeer kan word.
Rampe kan insgelyks op dieselfde wyse waargeneem word.
Malinga het gesê Suid-Afrika het ‘n bestaande lanseerterrein by Waenhuiskrans en sal dus in staat wees om ‘n eie vuurpylprogram te ontwikkel. So’n projek sal egter langer as tien jaar neem.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.