Skakel gerus in op praagTV eerskomende Vrydagaand 30 September om 20.00 vir ‘n interaktiewe praatjie deur dr. Dan Roodt oor die volgende onderwerp: “Diogenes, askese en Afrikanerdekadensie” by die volgende skakel:
http://www.livestream.com/praa
Askese, onthouding en die stryd van die mens teen sy drifte, asook materialisme, is onderliggend aan die Westerse beskawing en die Christelike etos. Die mees ekstreme voorbeeld van askese is sekerlik te vinde by die ou-Griekse filosoof, Diogenes van Sinope, wat in ‘n balie gewoon, geen besittings behalwe ‘n paar boeke gehad het nie en by mense om geld en kos gebedel het. Slegs fragmente van sy filosofie vanaf die vierde eeu voor Christus is aan ons oorgedra, maar daaruit kan ons sy totale lewensbeskouing aflei.
Ná ‘n uiteensetting van Diogenes se denke, word die vraag gevra: Is ware askese moontlik en watter nut het Diogenes se leer van onthouding vandag vir ons?
Tans beleef die Afrikaner die mees dekadente periode in sy geskiedenis en het hy willoos geraak voor die aanslag van propaganda, materialisme, plesier, vermaak, sport, dwelms en alkohol. Om die wil herbou, is askese en onthouding wel nodig.
Benewens Diogenes se siniese askese, word enkele ander vorme van ‘n eenvoudige, nederige lewenstyl bespreek, sowel Westers as Oosters. Watter asketiese ideaal behoort elkeen van ons na te streef?
Moenie die verrassende antwoord misloop nie! Besoek praagTV by http://www.livestream.com/praa

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.