Manamela het Sondag in Johannesburg gesê dat die liga aan die departemente van basiese en hoër onderwys sal voorstel dat die publikasie van matriekuitslae in koerante gestaak word om leerlinge wat druip die “verleentheid” en “vernedering” te spaar.
“Waarom moet ons ‘n verleentheid vir miljoene of selfs duisende jong mense skep wat hul graad 12-eksamen skryf? Hulle word ‘n bespotting van die hele dorp,” het Manamela gesê.
“Daar is ernstige gevalle waar jong mense selfmoord pleeg omdat hulle name nie in die koerante verskyn nie, en dan later uitvind dat hulle eintlik deurgekom het.
“Ons is ook bekommerd omdat die maatstaf van slaag of dop in die lewe deur graad 12 bepaal word, en dit is nogal ‘n rede tot kommer omdat dit bepaal of jy dit in die lewe maak of nie, en dit dryf jong mense na selfmoord, met geen alternatief as dwelms, prostitusie en allerhande dinge,” het Manamela gesê.
Daar is reeds verlede week berig dat 96 leerlinge selfmoord gepleeg het sedert die begin van die jaar in die Oos-Kaap. Die provinsiale onderwysdepartement het gesê die sterftes is veroorsaak deur ‘n kombinasie van faktore, met inbegrip van huishoudelike geweld, boelies by skole, groepsdruk, armoede en die hoë voorkoms van MIV en vigs.
“Ek kan hierdie uit persoonlike ervaring sê: Ek was nie in die koerant nie, want daar was resultate wat hangende was,” het Manamela gesê.
“Maar daar was ‘n ondersteunende omgewing en sommige van my vriende het regtig gedop, maar ons almal het mekaar ondersteun, net om te besef toe ek my matriekuitslae kry dat ek werklik geslaag het.
“Miskien is een van die dinge dat die resultate inderdaad gepubliseer moet word met die identiteitsnommer of die studentenommer van die student,” het hy gesê.
Basiese Onderwys woordvoerder Panyaza Lesufi het gesê die departement sal bereid wees om die Jong Kommunistiese Liga te ontmoet om die idee te bespreek.
Professor Kobus Maree, ‘n opvoedkundige sielkundige aan die Universiteit van Pretoria, stem saam met Manamela, en sê die departement van basiese onderwys moet resultate publiseer deur ‘n eksamennommer te gee om leerlinge te beskerm.
“Resultate is ‘n private aangeleentheid. Dit het niks te doen met iemand anders nie. Wie gee die onderwysdepartemente die reg om resultate met die name van die leerlinge te publiseer?”
Manamela het gesê die Jong Kommunistiese Liga sal ‘n werk-vir-die-jeug-beraad volgende maand hou om planne en idees aan die regering voor te stel om die hoë werkloosheidskoers onder jong mense aan te spreek.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.