Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het Maandag op ‘n nuuskonferensie by Luthuli-huis in Johannesburg gesê regter Colin Lamont se uitspraak dat sang van “skiet die Boer” in die openbaar verbied word, nie betrekking het op ANC-lede nie. Die lied waarin die woorde “skiet die Boer” voorkom, is beter bekend as Ayesab’amagwala.
Ayanda Dlodlo, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), en sekretaris-genl. van MK se veteranevereniging, het die uitspraak van Lamont as ‘n “verkragting van die ANC se geskiedenis” beskryf. “Die NUK het sy toewyding aan die beskerming van sy erfenis beklemtoon deur teen die hofuitspraak wat ons vryheidslied verban, te appelleer,” het die ANC in ‘n mediaverklaring gesê.
Sdumo Dlamini, president van Cosatu, het Sondag tydens ‘n vergadering in Durban vakbondlede aangehits om die omstrede lied te sing. “Die vryheidsliedere is deel van ons geskiedenis en ons moet dit behou.
Om die lied te verbied is nie volhoubaar nie en mense sal aanhou om dit te sing,” het Dlamini gesê.
Lamont se beslissing verlede week in die gelykheidshof in Johannesburg dat die lied haatspraak verteenwoordig, is deur die meeste ANC-lede verwerp. “Indien die lied op ‘n Cosatu-vergadering gesing word, is dit nie minagting van die hof nie. Net Julius Malema word by name genoem in die uitspraak,” het Mantashe verklaar.
Mantashe het Maandag oor die afgelope naweek se vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) in Pretoria, verslag gedoen.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.