Volgens Jan-Willem Eggink, hoofbestuurder van Shell in Afrika, is die ontginning van skaliegas deur hidroliese breking die enigste oplossing om Suid-Afrika se koolstofspoor aansienlik te verbeter. Dit kan ook ‘n antwoord bied op die land se stygende energie-aanvraag.
Suid-Afrika se verbintenis tot die beperking van kweekhuisgasse is reeds deur pres. Jacob Zuma tydens die beraad oor klimaatsverandering in Denemarke bevestig, het Eggink gesê.
Eggink was ‘n spreker by die Afrika-gaskonferensie in Johannesburg.
Shell beplan om dié projek as een van die mees ekologiesvriendelike gasontginningsprojekte ter wêreld te bestuur. Eggink sê Shell sal nie die Karoo se waterbronne aantas nie en bestudeer reeds ander maniere om water in te bring.
Jonathan Deal, voorsitter van die Treasure Karoo Action Group (TKAG), het Shell en ander oliemaatskappye gedurende sy aanbieding by die konferensie nogtans versoek om nie voort te gaan met dié ontginning nie.
Volgens Deal bestaan daar steeds nie genoeg bewyse dat die potensiële voordele die risiko’s van “fracking” of hidrouliese breking oorskadu nie. Suid-Afrika behoort eerder ondersoek in te stel na hernubare energie vanweë klimaatsverandering en ‘n dreigende waternood.
Deal het die minister van energie, Susan Shabangu, gevra om die taakspan wat sy aangewys het om hidrouliese breking te ondersoek, te ontbind. Hy sê daar heers onduidelikheid oor die taakspan se doelwitte.
Die Karoo sal geweldige skade ly indien lisensies vir gasprospektering en gasproduksie toegestaan word omdat die voor- en nadele van die hidroliese breking steeds nie behoorlik opgeweeg is nie, sê hy.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.