praag.co.za

Beeld onderdruk polemiek rondom Tim du Plessis se ‘Yeats’-rubriek

Dan Roodt

Written by

in

Suid-Afrika is meer en meer besig om in volslae absurditeit te verval. Een van die teenstrydighede is die “liberale” media soos Beeld wat allesbehalwe liberaal is as dit daarby kom om ander se menings te verdra.

Juis gister is twee taamlik onskuldige reaksies van my by Tim du Plessis se jongste rubriek op Beeld verwyder, asook ‘n ander bydrae deur mnr. Leendert van Oostrum. Waarom? Ek laat dit aan my lesers oor om self ‘n oordeel te vorm oor die liberale verdraagsaamheid van Beeld en diegene wat sy kommentaarruimtes modereer.

Die vraag kan tereg gevra word: Gaan Yeats ons van ondergang red?

My eerste reaksie op Beeld

Janee, Leendert, ek kan nie meer met jou saamstem nie. Ek het al in 2000 gesien waarheen ons op pad is met die ANC se swart-nasionalistiese arrogansie en het in Rapport en elders daaroor en oor die gruwelike geweldsmisdaad probeer skryf. Maar ek is in die Nasperskoerante, veral Die Burger as ‘n “rassis” en reaksionêr uitgekryt. Eers is mense op ‘n dwaalspoor gelei en noudat die skrif so groot aan die muur is dat selfs die blindes dit kan sien, word daar na strooihalms soos “Things fall apart” gegryp. Asof Chinua Achebe van Nigerië nie al in die laat vyftigerjare ‘n boek met daardie Yeats-titel geskryf het nie.

Terloops, Tony Leon, met wie ek op universiteit was, is allermins ‘n kenner van letterkunde. Dis net die soveelste cliché wat een of ander ligstraaltjie van “insig” moet bied in ‘n donker gat waarin ons op georganiseerde wyse ingestoot is, met Naspers en FW de Klerk voor in die koor!

My tweede reaksie op Beeld

@Frik Hoe sou ons ons kon verskans? Soos Israel… Ek weet dis nie ‘n baie positiewe voorbeeld nie, maar ons vyande is nie so magtig soos dié van Israel nie. Swart Suid-Afrikaners is nie naastenby so fanaties soos Moslems nie en beskik ook nie oor olie nie, dus sou daar ‘n politieke balans tussen hul getalle en ‘n Afrikanerstaat ontstaan het wat vir die hele Suider-Afrika tot voordeel sou gewees het. Die feit dat ons nie almal op een plek woon nie, kon deur ‘n kantonstelsel soos in Switserland aangespreek word. Jacques du Toit hier onder is reg dat die NP nie onderhandel het nie, maar bloot gekapituleer het. ‘n Kompromie was moontlik destyds, want ons het steeds die Weermag, Lugmag en Vloot agter ons gehad, terwyl die ANC grootliks die dreigement van getalle en propaganda/negatiewe publisiteit gehad het.

Ná die mislukking van 1994 kon ons steeds Afrikaners rondom die idee van selfbeskikking en intellektuele argumente soos rondom 2000 gemobiliseer het, maar danksy die verdagmakery, verguising en propaganda van die Naspersmedia teen kritiese denkers/Afrikanerdissidente het daardie geleentheid ook verbygegaan. Vandaar die tien verlore jare. Noudat die krisis regtig groot is, word daar van ons verwag om een of ander haas uit die hoed te pluk, maar ons is van alles gestroop: van ons wapens, ons instellings, ons identiteit, ons taal en kultuur, selfs ons menswaardigheid en reputasie. Maar die feit dat ons erkenning kry dat ons reg was, is darem ‘n oorwinninkie en skep hoop.

My derde reaksie op Beeld

Beeld se moderators verwyder sowaar my en Leendert se kommentaar op Tim du Plessis, sulke eksemplariese liberale! Waarom? Vrees u dat die “stemme van rede” dalk die gebrom van domheid en sikofansie mag oorweldig? Wat sou ons sonder praag.co.za gemaak het waar ‘n mens ten minste kan debatteer sonder hierdie Broederbondsensuur uit die jare toet! U sanik so oor apartheid (wat u een en almal gedien het), maar as daar nou ooit “apartheidsdinousourusse” was, is dit diegene wat ons steeds probeer sensureer, ons menings onderdruk en kritiek in die kiem probeer smoor. Wat Tim du Plessis hier bo sê, is nie kritiek nie, want dit bevraagteken geen veronderstellings van hierdie korrupte en bose orde nie. Dis blote wensdenkery dat “nuwe swart leiers” sal opstaan om die waansin te keer, terwyl ons apaties moet terugsit en rugby kyk, met ‘n Klipdrift en Coke byderhand. Gelukkig plak ek ook my kommentaar op roodt.org, dus kan Beeld maar aanhou verwyder, sensureer en spraakvryheid inperk…

Lees ook Dan Roodt se rubriek in Engels vandag: The rise of the Left spells disaster for South Africa.

 

все для скважинтопкарго развод

Comments

Leave a Reply