Dat Julius Malema as eregas by die sewende SA Musiekkonferensie genooi is lyk op die oog heel onskuldig. Ongelukkig is niks waaraan Malema deelneem onskuldig nie.
Malema kon nie by die konferensie in Durban, bygewoon deur 500 platejoggies (waarskynlik almal swart), teenwoordig wees nie. Hy het eerder ‘n opname gestuur waarin hy die aanwesiges oproep om musiek te speel wat “demokrasie” bevorder en om politici te “embrace”. Ons weet natuurlik wie hierdie politici is wat omhels moet word. In Rwanda het die platejoggie, Georges Ruggiu, hom skuldig gemaak daaraan om die Hutu-meerderheid oor die luggolwe tot volksmoord aan te hits. Dat Malema ‘n rewolusionêre interpretasie van “demokrasie” het, is geen geheim nie. Platejoggies wat hom sou “embrace” sou vir seker bereid wees om op sy instruksie op te tree.
Dat Malema nie fisiek by die konferensie was nie moet glad nie die leser gerusstel nie. Malema was ten tye van die konferensie ‘n gas van die SA ambassadeur in Italië. Weereens op die oog af lyk dit onskuldig, behalwe natuurlik dat die besoek waarskynlik op die belastingbetaler se onkoste plaasgevind het.
Die finansiering van die besoek is egter die minste wat die skrywer kwel. Veel groter onheil moet vermoed word. Wat kan egter so erg omtrent ‘n besoek aan Italië wees? Dis immers ‘n Westerse land met geen ooglopende kwaadwilligheid teenoor Afrikaners nie. Wel, die uwe wil beweer dat Malema se besoek bittermin met Italië te make het en baie met Tunisië en sy bure te doene het.
Kort na die “World Festival of Youth and Students” in Pretoria (13 tot 21 Desember 2010) waarin die ANCYL ‘n belangrike rol gespeel het, het die huidige vlaag van jeugrewolusies oor die Midde-Ooste en Noord-Afrika begin spoel. Natuurlik was die eerste van daardie rewolusies en ook die mees suksesvolle in Tunisië (17 Desember 2010 tot 14 Januarie 2011).
Tunisië is nie net geografies na aan Italië geleë nie, maar het ook sterk diplomatieke en handelsbande met Italië. Indien ‘n Tunisiese jeugafvaardiging vir Malema in SA sou kom besoek, of selfs erger, indien Malema Tunisië toe sou gaan, sou dit al die waarskuwingsligte laat aangaan. Dit sou ruik na broeiende rewolusie.
Italië bly ‘n goeie afklimplek vir ‘n Tunisiese afvaardiging. Italie is een van die twee Europese lande waarmee Tunisie die sterkste ekonomiese en diplomatieke bande het. Die ander is Frankryk, hoewel Italië nader aan Tunisië is. Italië het ook geruime tyd gedien as bestemming vir vlugtelinge vanuit Tunisië. Hoewel sommige van hierdie vlugtelinge sedert die rewolusie na Tunisië sou terrugkeer, het hulle ook ‘n ondersteuningsnetwerk in Italië opgebou.
In sy nuutste boek, Advocates for Change, waarsku Moeketsie Mbeki dat SA op die vooraand van ‘n jeugrewolusie verkeer. Malema se doen en late moet fyn dopgehou word. Elke beweging deur die ANCYL en die ANC moet op hierdie stadium met agterdog bejeën word. Hul verbloemde handelinge verklap dikwels meer as wat hulle te kenne wil gee.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.