praag.co.za

Internasionale juridiese gewete?

Written by

in

Die lasbrief wat die Internasionale Strafhof in Den Haag vir Moeammar Ghaddafi, sy seun en “troonopvolger” en die hoof van Intelligensie uitgereik het, stuur skokgolwe oor die wêreld. Veral uit Afrika is daar ontsteltenis.

Die optrede kan egter beswaarlik as anti-swart afgemaak word.

Lasbriewe op aanklagte wat met volksmoord, of die doodmaak van burgerlikes verband hou, is ruim uitgereik vir oortreders en beweerde oortreders uit Joegoe-Slawië, en kort-kort word oor nog arrestasies en uitlewerings berig.

Die Groot-merekonflik en etniese moordorgies lewer ook elke nou en dan arrestasies op, terwyl ander dele van Afrika ook al ‘n uitlewering of wat opgelewer het. Die Taylor-verhoor het selfs ‘n diamant-nadraai in die Suid-Afrikaanse howe gehad, waarby die Mandela Trust en Naomi Campbell betrek is.

Afrika het egter ook ‘n paar kladmerke agter die blad. Pres. Oamar al Bashir van Soedan word byvoorbeeld nie uitgelewer nie, en soms blatant deur Afrikalande gesteun. Stilswyend is daar blykbaar ‘n internasionale vergelyk dat solank Bashir sy samewerking gee vir die onafhanklikheid van Suid-Soedan, so lank sal sy vryheid stilswyend geduld word.

Intern in Afrika is sake egter ook nie altyd mooi gestroomlyn nie. Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe bied byvoorbeeld huisvesting aan die oud- Ethiopiese diktator Haile Mirriam Mengistu. Mengistu is in ‘n stadium in sy eie land ter dood veroordeel.

Hoewel Afrika sake na anti-Afrika of anti-swart probeer herlei, sit dié leiers se turf. In die eerste plek kan hulle geen sweempie vordering toon vir hul pogings om die Libiese kwessie op te los nie, en Ghaddafi het telkemale omtrent dadelik sy sogenaamde ondernemings aan basies enigeen verbreek deur weer aanvalle op burgerlikes te loods.

In die eerste plek is die regter wat aan die hoof staan van die groep regters wat die lasbrief uitgereik het, ‘n vroueregter uit Botswana. In die tweede plek het die regters van die ontbinde SAOG-tribunaal ook met stappe teen die SAOG begin. Dié tribunaal het bekendheid verwerf toe dit uitspraak teen Mugabe se grondgrype gelewer het, maar die SAOG dit eerder ontbind het as om sanksie te gee aan die uitspraak.

Teen dié agtergrond klink Afrika se besware teen die Ghaddafi-lasbrief op die nie-Afrika-oor verspot. Lande buite Afrika neig om ‘n heel ander persepsie oor die Libiese krisis te hê, soos die onlangse besluit van Denemarke om slegs die rebelle-owerheid in Libië as wettige regering te erken. Ghaddafi word gewoon nie as deel van enige toekomstige Libië beskou nie.

Dit beteken egter ook nie dat daar besliste pragmatiese negatiewe aspekte is in die uitreik van die lasbrief nie. Ghaddafi sal nou baie moeiliker uit die beergreep op die Tripolitaanse gebied van Libië gedwing word, omdat hy nou streng gesproke geen veilige hawe buite sy land sal kan vind nie. Boonop geld dieselfde vir die enigste mens aan wie hy bereid sou wees om sy gesag af te staan, sy seun Saif al-Islam.

Intussen neem vrae toe oor hoekom Ghaddafi dié soort behandeling kry, terwyl die wêreld traag weggespring het met selfs beperkte, persoonlike sanksies teen die bewind in Sirië. Ook daar kom daar bykans weekliks na die Vrydagaand-gebede slagtings van burgerlikes aan die hand van die militêre voor. Die getal vlugtelinge in Turkye neem geleidelik toe, wat bykans verseker dat ‘n oplossing gevind sal moet word – of Turkye sit met ‘n permanente vlugtelingbevolking wat onder meer Koerde insluit – ‘n klip-in-die-maag-vooruitsig vir die Turke. Die tipe sanksies wat lande teen die Assad-bewind instel, is grootliks ongekoördineerd en opsigtelik impotent.

free online slots gamesлобановский александр харьков

Comments

Leave a Reply