Moontlike regsremedies gaan ondersoek word om die gemeenskap in die breë, en slagoffers van misdaad in besonder, te beskerm teen die gevolge van swak polisie-ondersoeke en aanklaagwerk, sê Afriforum.
Dié burgerregtegroep is steeds optimisties dat regsremedies gevind kan word om die gebreke in die regstelsel aan te spreek ten spyte van oplaaiende getuienis tot die teendeel.
Dit volg nadat vyf rampokkers van Soshanguve buite Pretoria vroeër vandag vrygespreek is op die moord op Hein de Jager, ‘n jong getroude pa wat op 13 Maart 2011 koelbloedig in sy winkel in Akasia, Pretoria doodgeskiet is.
Die een beskuldigde is reeds vroeër vrygelaat nadat die staatsadvokaat geensins ‘n saak teen hom bewys het nie. Die oorblywende vier beskuldigdes is vandag deur regter Cynthia Pretorius vrygespreek.
Regter Pretorius het in haar uitspraak genoem dat, alhoewel die hof ‘n sterk agterdog aangaande die betrokkenheid van die beskuldigdes by die moord op Hein de Jager het, die staat nie bo redelike twyfel daarin geslaag het om hul skuld te bewys nie.
Die polisie het nagelaat om ‘n uitkenningsparade te reël en geeneen van die getuies was later in staat om die beskuldigdes positief te identifiseer nie.
Regter Pretorius het bevind dat ‘n uitwysing van gesteelde goedere, die ontsnappingsvoertuig en die moordwapen deur een van die getuies nie toelaatbare getuienis was nie, aangesien die betrokke beskuldigde nie ná sy inhegtenisname ingelig is omtrent sy “grondwetlike regte” nie.
‘n Verdere bekentenis voor ‘n landdros deur een van die beskuldigdes is eweneens as ontoelaatbare getuienis geklassifiseer omdat die staat nie bo redelike twyfel kon bewys dat die bekentenis uit vrye wil en sonder onbehoorlike beïnvloeding gegee is nie.
Die grootste teleurstelling van die verhoor was die feit dat die staatsaanklaer self ‘n alibi vir die hoofverdagte bewys het deur die feit dat hy die hoofverdagte se vriendin as getuie geroep het om oor die eienaarskap van die ontsnappingsvoertuig te getuig.
AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, wat die uitspraak saam met die gesin van die slagoffer bygewoon het, het in sy reaksie gesê die staatsaanklaer het geskiedenis gemaak deur self ‘n alibi vir die hoofverdagte te bewys. Selfs nadat die betrokke getuie onder eed ‘n alibi aan die hoofverdagte gegee het, het die staatsaanklaer geen poging aangewend om die getuienis te weerlê of ten minste die getuie tot ‘n vyandige getuie te laat verklaar nie.
“Dit is tragies dat die vyf beskuldigdes, op staatskoste, elk ‘n eie advokaat gehad het, terwyl die slagoffers van misdaad en hul naasbestaandes uitgelewer is aan die halfgebakte ondersoekwerk van die polisie en swak voorbereide litigasie van die vervolgingsgesag se enkele junior advokaat. Die strafprosesreg laat geen ruimte vir die toetrede van vriende van die hof of derde partye nie. Slagoffers moet hulle dus berus by die feit dat hul belange deur onbekwame staatamptenare verteenwoordig word,” het Spies gesê.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.