praag.co.za

Ope brief aan mnr. Athol Trollip van die DA

Dan Roodt

Written by

in

Geagte mnr. Trollip,

Oor die afgelope week het u uitlating in ‘n skrywe aan mnr. Jaap Kelder, dat “Afrikaners… Nazi’s is” nogal opslae gemaak. U het intussen bewerings dat u anti-Afrikaans en anti-Afrikaner sou wees, verwerp. Maar die vermoede bly bestaan dat u en u party, die sogenaamde Demokratiese Alliansie, wel by uitstek Afrikanerhaters is.

Onder die partye en groepe wat u as Nazi’s klassifiseer, tel die Vryheidsfront Plus. Waarop grond u hierdie bewering? Is daar enigiets in die grondwet van die VF Plus wat ooreenstem met dié van die Nationalsozialistische Deutsche Arbeiterpartei van Adolf Hitler? Het dr. Pieter Mulder of enige ander leier van die party al ooit ‘n stelling gemaak wat as anti-Semities, rassisties of wat ook al geïnterpreteer kan word? Ek glo nie.

Maar hier het u so pas, by wyse van u gewraakte interne e-pos aan mev. Steyn wat glo nooit vir die buitewêreld bestem was nie, ‘n kwetsende en onbillike aanmerking teenoor Afrikaners gemaak. Hulle sê mense wat in glashuise bly, moenie met klippe gooi nie. En dit was nie Afrikaners wat Engelse vroue en kinders in dié land in konsentrasiekampe aangehou het nie, dit was andersom, nie waar nie? Indien u na Afrikaners as “Nazi’s” verwys, hoe noem u uself?

Indien hierdie e-pos van u bloot ‘n eenmalige uitlating aan mnr. Kelder was en u en u party nie anti-Afrikaans was nie, sou ‘n mens seker kon verwag dat daar vele Afrkaners in die topbestuur van u party sou dien, nie waar nie? Maar danksy mnr. Ernst Marais, wat vandeesweek ‘n bietjie op die veelgeroemde “groot” opposisieparty se webwerf gaan rondkuier het, weet ons nou dat die etniese samestelling van die DA se toptien parlementslede só daar uitsien:

1. Athol Trollip: Parlementêre leier van die DA

2. Ian Davidson: Hoofsweep van die DA

3. Mike Ellis: Onderhoofsweep van die DA

4. Lindiwe Mazibuko: Skaduminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming

5. Patricia Kopane: Skaduminister van sosiale ontwikkeling

6. George Boinamo: Skadu-adjunkminister van arbeid

7. Sejamothopo Motau: Skaduminister van energie

8. Archibold Figlan: Skadu-adjunkminister van huisvesting

9. Emmah More: Skadu-adjunkminister van gesondheid

10. Kenneth Mbubu: Skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking

Onder al hierdie “skaduministers” en “skadu-adjunkte” sien ek geen Afrikaners nie. Trouens, toe ek self hierdie lysie op die DA se webwerf gaan kontroleer het, het ek vergeefs na die Afrikaanse weergawe van u webwerf gesoek. Bestaan daar so iets?

Met ander woorde, ons het nou al drie elemente wat die vermoede dat u en u party wesentlik anti-Afrikaans is, bevestig: u eie kwetsende uitlatings teenoor ons Afrikaners, u Engels-eentalige webwerf en die afwesigheid van enige Afrikaners in die DA se parlementêre toptien.

Soos ons weet, het hierdie hele polemiek ontstaan weens u nasionale partywoordvoerder en “skaduminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming”, Lindiwe Mazibuko, se verklaring dat “die ANC-regering se doelwitte soortgelyk aan dié van die DA mag wees” as dit kom by grondhervorming en wat sy “restitusie” noem.

Helaas, u daaropvolgende verklaring dat u ‘n “vyfdegeslagboer” sou wees, verander niks aan die gevolgtrekking dat die DA, ‘n Engels-liberale party, nie net Afrikaners en hul taal minag nie, maar insgelyks beplan om deur radikale grondhervorming Afrikanerboere van hul plase af te sit. Asof die voorbeelde van ZANU-PF en die ANC se onderskeie grondhervormings, wat elkeen klaaglik misluk het, nie reeds genoeg was om ‘n sogenaamd liberale party soos die DA van so ‘n onbekookte beleid te laat afsien nie.

Sedert geboorte moet elke Afrikaner in dié land een of ander tyd die skeltaal van hovaardige, koloniale Engelse verduur, met terme soos “rockspider”, “dumb Dutchmen” en dergelike wat ons toegeslinger word. Die grootste raaisel is egter waar die setel van ‘n “aangebore hoër Britse IK” is, soos prof. Jaap Steyn dit op ‘n keer genoem het, want dis beslis nie in die verstand van Albion se kinders te vinde nie.

Mnr. Trollip of wie ook al sy taamlik onbeholpe briefie vir hom geskryf het, mag onder die indruk verkeer dat hy Afrikaans magtig is, maar dit wemel van lomp en onafrikaanse uitdrukkings. Die woord “huidiglik” bestaan nie in Afrikaans nie. Ons gebruik “tans”. ‘n Mens sit op ‘n stoel, maar neem nie aanstoot “op ‘n siening nie”. Eerder neem ‘n mens aanstoot aan iets of iemand. Trouens, op skrif klink Trollip meer soos ‘n middelmatige hoërskoolseun wat na woorde tas as die parlementêre leier van ‘n party wat seker vir ten minste 50% van sy stemme van die arme “dom” en “Nazi-”Afrikanerstemvee afhanklik is.

As Trollip so ‘n slim, liberale Engelsman is, waarom klink hy so dom? Dit bring my by die politieke punt wat ‘n mens te midde van die stilistiese opdrifsels van Trollip se swak briefie moet ontsyfer. Soos die Engelse Führer van die DA dit in sy geradbraakte Afrikaans stel: “Mnr Kelder se konserwatiewe, ultra-regse en verkrampte sieninge rondom sekere burgers van hierdie land is in lyn met die van groepe soos die FF+, wat streef om NET die belange van sekere minderheidsgroepe te bevorder. Op sulke sieninge, Mr Slabbert, neem ek aanstoot.”

Met ander woorde, Trollip neem aanstoot aan diegene wat die belange van hul eie etniese groep of minderheidsgroep bó dié van ander groepe stel. Mnr. Trollip, ek vra u met trane in my oë, neem u dan aanstoot aan uself? Verwyt u uself dat u die belange van Engelse anti-Afrikaanse Progge soos uself bo dié van ander groepe in ons land stel? Laas toe ek gekyk het, was die blanke Engelssprekendes in dié land – en veral die liberaliste onder hulle – by verre in die minderheid. Terwyl die DA interne regstellende aksie en rassekwotas toepas, bly die aantal Engelse drasties oorverteenwoordig in die party se leierskapsposisies, nie waar nie, mnr. Trollip?

‘n Ander kwessie wat my intrigeer, is waarom die liberale megalomane met hul verhewe aangebore Engelse IK’s in die verlede so hard geveg het om die ANC aan bewind te stel, maar van die Afrikanerstemvee verwag om hul in die huidige opposisie teen die ANC te ondersteun. Is dit nie ‘n effense paradoks nie? Mev. Zille is dan so trots op haar hatige teenkanting teen die vorige Afrikanerregering en sy soldate dat sy blomme by die name van Kubaanse gesneuweldes in Angola by Vryheidspark gaan lê het, dog gee terselfdertyd voor om die ANC uit die regeringskussings te wil lig. Hoe rym dit?

As u eerlik is, mnr. Trollip, sal u onverwyld in die openbaar verklaar dat u party nie langer die stemme van “dom, konserwatiewe, ultra-regse en verkrampte Afrikaner-Nazi’s” wil hê nie, maar eerder dié van “slim”, liberale, vrysinnige Engelse wat sukkel om Afrikaans of dalk selfs Engels te skryf, soos uself.

Sonder die steun van liberale Afrikanerhaters soos uself, sou die groteske linkse revolusie van onlangs nooit in Suid-Afrika plaasgevind het nie. Terwyl die etniese denke van Afrikaners op hul eie vryheid ingestem is, verteenwoordig u en die res van die “skadu”-leiers in die DA ‘n deels etniese, deels imperialistiese strewe om u wil op ander af te dwing.

Ek is doodeerlik as ek sê dat u my as Afrikaner nie in die parlement verteenwoordig nie en ook nooit sal verteenwoordig nie. Ten minste verwag ek ‘n sekere vlak van beskaafde uitdrukkingsvermoë en denke van ‘n “parlementêre leier”.

U mag vir die gemiddelde Engelsman in dié land goed genoeg wees, maar nie vir ons nie. U sal u ou skoene agterna gooi om ooit in dieselfde asem as die groot Afrikanerleiers en -parlementariërs van die verlede, wat u so verafsku, genoem te word.

Waarskynlik sal u ook nie die goeie maniere hê om op hierdie brief te antwoord nie. Want soos ons almal weet, spruit die meerderwaardigheid van die Engelse jingo in dié land veral uit sy heimelike gevoel van minderwaardigheid teenoor sy gehate Afrikaanse medeburger. Vandaar die feit dat u eerder sal toesien hoedat hierdie land soos Zimbabwe ten gronde gaan as wat u ooit sal toegee dat ons Afrikaners nog altyd reg was oor die multietniese aard van die Suid-Afrikaanse samelewing, teenoor u afstootlike kolonialistese een-nasie-fantasie.

Soos mnr. Anton Barnard onlangs in sy artikels op die Praagwebwerf gesuggereer het, verteenwoordig die DA met sy wêreldvreemde kwasi-Britse narciste soos uself ‘n veel groter bedreiging vir die Afrikaner as die ANC. Ons vrees u toekomstige grondhervorming en verdrukking, indien u party ooit aan bewind sou kom, veel meer as dié van Julius Malema of enige ander ANC-heethoof.

многоступенчатый насос ценаАлександр Фильчаков

Comments

Leave a Reply