Paulus Khumalo (23), ‘n plaasarbeider, het in ‘n verklaring gesê die plan van ‘n groep mans was om geld uit die kluis in die Potgieters se huis te kry.
Die hof het gehoor dat die groep vóór die misdaad op ‘n plaas naby Lindley in die Oos-Vrystaat ontmoet het en ‘n vuurwapen, ‘n panga en klere om oor die slagoffers se gesigte te gooi, gereed gekry het.
Khumalo het gesê daar is ooreengekom dat die kind nié doodgemaak sou word nie.
Hy is een van ses mans, tussen die ouderdomme van 18 en 33, wat beskuldig word van die moord op die boer Attie Potgieter, sy vrou Wilna en hul tweejarige dogter, Wilmien, in Desember verlede jaar.
Die ander beskuldigdes is Stemmer Mofokeng (23), Tapa Mofokeng (34), Tshokolo Lelala (19), Telleko Seekoei (20) en Diphapang Motaung (18). Hulle is almal van Lindley afkomstig.
Hulle het almal onskuldig gepleit op drie aanklagte van moord, een van roof met verswarende omstandighede en ander aanklagte wat met die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie verband hou.
In die hof Woensdag is verklaar dat Attie Potgieter 151 keer gesteek en gesny is.
“Die oorledene is doodgemartel,” het die patoloog Robert Book gesê.
‘n Nadoodse ondersoek het aangetoon dat Wilna (36) verskeie diep snye aan haar kop en ‘n skietwond aan die nek gehad het.
Wilmien is in die agterkant van haar koppie geskiet.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.