praag.co.za

Padkaart na Afrikanervryheid 3

Written by

in

Iemand het onlangs gesê dat die Afrikaner se pragmatisme tydens die De Klerk-tydvak in nihilisme oorgegaan het, want daar word van ons verwag om blymoedig by ons eie ondergang aan te pas. Hoe knellender die wetgewing en hoe benouender ons situasie, hoe stywer moet ons die gordel intrek, hoe harder moet ons werk en met soveel minder klaarkom. Daar word ook deur vele Afrikaner-nihiliste bepleit dat ons hierdie onhoudbare stelsel moet “maak werk”, by gebrek aan enige alternatiewe.

Hoewel my padkaart bedoel is as ʼn praktiese oplossing vir ons huidige probleem, bevat dit onvermydelik ʼn paar intellektuele en ideologiese veronderstellings. In die eerste instansie is die woord “vryheid” oop vir interpretasie. In die Franse eksistensialisme is selfs die aangehoudene in ʼn konsentrasiekamp of in ʼn dodesel “vry”. In Camus se beroemde opstel oor die Sisifusmite begin hy deur te sê: “Daar is net een waarlik ernstige filosofiese probleem en dit is selfmoord… die res kom agterna.” Vir die Franse eksistensialiste was die lewe by uitstek absurd; vandaar dus ook hul klem op die absurde logika.

In ʼn onlangse peiling op die Praagwebwerf het ons lesers gevra om die grootste Afrikanerverraaier van alle tye te nomineer en vir hom te stem. Uiteindelik het die lys so daar uitgesien:

FW de Klerk (politikus) 43%            

Roelf Meyer (politikus) 15.9%

Pik Botha (politikus) 10.3%

Max du Preez (joernalis) 4.7%   

Deon Maas (joernalis) 4.7%   

Marthinus van Schalkwyk (politikus) 3.7%   

Genl. Constand Viljoen (politikus) 3.7%   

Dirk du Toit (politikus) 3.7%   

Beyers Naudé (predikant) 2.8%   

Steve Booysen van ABSA (sakeman) 1.9%   

Willie Esterhuyse (akademikus) 1.9%   

Ton Vosloo (sakeman) 1.9%   

Johan Heyns (teoloog) 0.9%            

Johan Pienaar (internetskrywer) 0.9%

Hierdie peiling is waarskynlik nie verteenwoordigend van die breë Afrikanervolk daar buite nie, maar ek verstout my om te sê dat FW de Klerk loshande enige kompetisie van dié aard sal wen, op watter manier dit ook al gehou word.

Ek wil daarom by hierdie geleentheid mnr. FW de Klerk gelukwens met sy nuwe titel. Benewens ʼn Nobelprys van die Sweedse Akademie is hy ook deur die lesers van www.praag.org verkies as die Grootste Afrikanerverraaier van alle tye.

Miskien is De Klerk, asook Roelf Meyer en Pik Botha wat saam 69% van die stemme op hulle verenig het, egter slimmer as wat ons almal dink. Heel moontlik is De Klerk ʼn eksistensialis en ʼn leser van Albert Camus. Hy word allerweë deur bedenklike joernaliste opgehemel as “die argitek van ons vryheid”. Maar dit is ʼn absurde vryheid, die vryheid van die terdoodveroordeelde. In Camus se Buitestaander wat deur Jan Rabie in Afrikaans vertaal is en deur Uitgewery Praag heruitgegee is, voel Meursault wat onskuldig ter dood veroordeel is dat hy sy “hart vir die heel eerste keer open aan die tere onverskilligheid van die heelal. En omdat ek voel dat dit so baie soos ek is, so broederlik verwant aan my, weet ek dat ek gelukkig was en nog is. Sodat alles vervul kan word, sodat ek minder alleen kan voel, kan ek nog net hoop dat daar baie toeskouers op die dag van my teregstelling sal wees, dat hulle my met krete van haat sal begroet.”

Soos Meursault in Die buitstaander, is die Afrikaner veronderstel om sy teregstelling en die meedoënlose vernietiging van sy identiteit, taal en kultuur onder die huidige stelsel met vrolike afwagting tegemoet te gaan. Of soos Izak de Villiers dit ʼn jaar of twee gelede in sy Akademietoespraak gestel het: ons moet “die varkwagters by ʼn bedeling” wees. Die parallelle tussen Camus se siening van selfmoord as “die enigste ernstige wysgerige kwessie” en die politieke selfmoord wat De Klerk oor ons afgeroep het, is frappant.

Daarom val dit ook op dat die tweede kategorie van persone wat beduidende stemme as groot verraaiers van ons lesers (en sedert 1 Januarie het ons bykans een miljoen besoekers aan ons webwerf gehad) getrek het, die joernaliste Max du Preez en Deon Maas was. Soos De Klerk, is ook hulle politieke eksistensialiste of nihiliste wat glo dat hoe meer absurd en onregverdig die stelsel raak, hoe “vryer” word ons.

Daar is mos daardie hippie-liedjie van Janis Joplin, “Me and Bobby McGee” wat lui: Freedom’s just another word for nothing left to lose. Joplin het op die ouderdom van 27 gesterf aan ʼn oordosis heroïen. Ongelukkig vir die Afrikaanse publiek, het Deon Maas, wat self ʼn voorstander van dwelmgebruik vir die jeug is, nog nie aan ʼn oordosis omgekom nie.

Ons moderne begrip “vryheid” soos dit ook tydens die Franse revolusie gebruik is in die slagspreuk liberté, égalité, fraternité, is ontleen aan die Latynse woord libertas. Dis nogal ironies en miskien veelseggend dat die naam van Libertas, die eertydse woning van Suid-Afrikaanse eerste ministers, intussen verander is! Die burgerlike vryheid wat deur die begrip libertas uitgedruk word, staan teenoor servitus, oftewel: slawerny, knegskap. In ʼn politieke sin het die ou Romeine dit gebruik om die vryheid van ʼn volk, wat nie deur ʼn monarg regeer word of deur ʼn ander volk oorheers word nie, uit te druk.

Terwyl diegene wat op Praag se treffersparade van groot verraaiers verskyn ons absurde papiervryheid, ʼn vryheid-in-naam, verheerlik, kan dit nie as vryheid in die klassieke Romeinse sin of in enige ernstige betekenis deurgaan nie.

Op ʼn manier preek ek hier aan die bekeerdes. Want as daar een ding is wat die groot verskeidenheid aktiviste, skrywers en betrokkenes van PRAAG in gemeen het, is dit ons afkeer van die onvryheid wat ons vandag op soveel gebiede moet verduur. Ek dink elkeen van ons is dit eens dat die absurde vryheid, die vryheid van die persoon wat sy eie of sy volk se lewe neem of wat soos Meursault in die dodesel verkeer, nie vir ons genoeg is nie. In die vierde vers van “Die Stem” deur C.J. Langenhoven word daar gepraat van “Knegte van die Allerhoogste teen die hele wêreld vry” waardeur die Afrikaner se eeue-oue vryheidstrewe uitgedruk word om aan alle vorme van oorheersing in hierdie wêreld te ontkom.

In een van sy mees revolusionêre geskrifte het Wladimir Lenin die vraag gevra: “Wat moet gedoen word?” En dit is ook ʼn vraag wat hom vandag met akute dringendheid aan die Afrikaner opdring, die Afrikaner wat moontlik besig is om sy laaste jare in Afrika te slyt.

As ons dan praat van ʼn padkaart na vryheid, impliseer dit niks minder as ʼn omwenteling in die huidige bestel waar ons oorheers en dikwels vertrap word nie. Toe ek aanvanklik in die laat negentigerjare by ons huidige vryheidstryd betrokke geraak het, het ek taamlik helder ingesien dat daar ses fases in so ʼn stryd is. Ek herhaal net hier die verskillende fases wat ek reeds op 10 November 2005 in ʼn gelyknamige rubriek oor ʼn Padkaart na vryheid opgenoem het:

  1. Intellektuele fase (waar ‘n stel idees ontwikkel word of herontdek word).
  2. Ideologiese fase (waar idees in slagspreuke vertaal word en aan die volk gekommunikeer word).
  3. Organisatoriese fase (waar die volk georganiseer en gemobiliseer word).
  4.  Politieke fase (waar politieke doelwitte nagestreef word).
  5.  ‘n Oorwinning en bereiking van politieke mag (hopelik).
  6. Konsolidasie en vernietiging van die vyand.

Twee jaar gelede het ek gemeen dat die Afrikaner in die huidige stryd iewers tussen fase 1 en 2 verkeer en ʼn aanvang neem met fase 3. Ek verstout my egter om te sê dat die De la Rey-fenomeen nie die begin nie, maar die afsluiting van fase 2 gemarkeer het en dat ons nou reeds besig is met fases 3 en 4.

Ons weet almal hoe moeilik dit is om mense in enige vorm van organisasie saam te snoer, veral wanneer jou opponent oor al die hulpbronne van die staat en die grootste deel van die media beskik. Maar ons mense het reeds male sonder tal in die verlede bewys dat ons die onmoontlike kán regkry. Dink maar net aan Bloedrivier, Vegkop en Majuba, of aan die Afrikaanse taal wat teen die historiese neiging in en ernstige taalverdrukking ten spyt, in die skadu van Engels kon ontwikkel en gedy.

Die longe van elke Afrikaanse asemteug vandag is die erfenis van die verlede toe ons voorgeslagte onder baie moeilike omstandighede ʼn nuwe taal deur hul blote harde werk en ywer geskep het. Sonder daardie oorgelewerde kapitaal sou ons vandag nie Afrikaans as kultuurtaal kon praat of skryf, daarin kon filosofeer of regspraak lewer nie.

Afrikaans is, inderdaad, iets onwaarskynliks, iets wonderbaarliks wat getuig van ons vermoë om teen Engels en die Britse Ryk op te staan en op soveel maniere die hele gang van die geskiedenis te verander.

Nou onlangs skryf my seuntjie van twaalf ʼn taak oor Angola. Ek haal ʼn enkele sin daaruit aan wat vir ons boekdele spreek, betreffende daardie land se onafhanklikheid in 1975: “Portugal het vir amper 500 jaar ʼn blywende teenwoordigheid in Angola gehandhaaf en die plaaslike inwoners se aansoek om onafhanklikheid is met gemengde gevoelens begroet.”

Trouens, Angola is veel ouer as Suid-Afrika. Die eerste Portugese nedersetting in daardie land dateer uit die jaar 1483, byna tweehonderd jaar voor ons eie volksplanting in die Kaap. Ná 500 jaar “handhaaf Portugal nie meer ʼn teenwoordigheid in Angola nie”, maar ons kan sekerlik sê dat die Afrikaner steeds in dié land teenwoordig is, ten spyte van die donker wolke oor ons toekoms. Gaan ons eenvoudig die slagoffers word van die Afrikageskiedenis se gang waar alle blankes of mense van Westerse afkoms soos in Angola, Mosambiek of Zimbabwe meedoënloos voor swart nasionalisme verdryf word of gaan die Afrikaner weer sorg vir ʼn sonderlinge ommekeer soos so dikwels in die verlede?

Wat die huidige politieke fase van ons stryd betref, moet ons vir ons die doelwit stel om weer beheer oor so ʼn groot deel van die land waar ons mense gevestig is en waar Afrikaans as moedertaal en as lingua franca gepraat word, te bekom. Vir my lê daardie toekomstige hinterland of Afrikaanse Republiek wes van die Drakensberg sodat veral die grootste deel van Natal waar die Zoeloes woon en die Transkei waar ons huidige oorheersers, die Xhosas, vandaan kom, uitgesluit word.

So ʼn toekomstige Afrikaanse Republiek sal ten minste in sy vroeë fase ook ʼn multikulturele staat wees, maar ek dink daar is vele verbeeldingryke maniere waarop ons die demografie van so ʼn staat kan bestuur ten einde emigrasie van nie-Afrikaners aan te moedig en die terugkeer van ons eie mense uit die diaspora, asook immigrasie van Europeërs uit ons stamlande. In baie opsigte het die ANC aan ons gewys hoe so iets gedoen moet word en ons hoef maar net hulle metodes en wetgewing effens aan te pas!

Benewens hierdie groter gebied, is ons voortbestaan in Afrika afhanklik van ʼn kleiner kerngebied waar ons van meet af aan in die meerderheid sal wees, ʼn soort Afrikanerprovinsie binne die huidige Suid-Afrika wat ook die hart van ʼn toekomstige multikulturele Afrikaanse Republiek sal verteenwoordig. Danksy die werk wat mnr. Anton Barnard van PRAAG gedoen het, asook vorige navorsing deur die destydse Volkstaatsraad, weet ons dat daar steeds so ʼn Afrikanerkerngebied in die huidige Pretoria-Centurion-gebied, wat ook dele van die Oos- en Wesrand insluit, bestaan.

Vanweë Mbeki se “oopgrensbeleid” waardeur onwettige immigrante eenvoudig toegelaat word om ongehinderd oor ons grense te stroom, sal hierdie Afrikanerkerngebied nie veel langer behoue bly nie en sal ons, soos die Portugese van Angola wat ná 500 jaar in daardie land verdryf is, uiteindelik ook van hierdie laaste oorblywende Afrikaner-enklawe waar ons oor die demografiese meerderheid beskik, vervreem word.

Dít mag nie gebeur nie. Reeds is daar tekens van weerstand onder ons mense soos byvoorbeeld die inwoners van Lynwood wat hul buurt teen geweld afgekamp het in weerwil van pogings van die ANC-stadsraad om dit te verhoed. Die huidige Afrikanerleierskap sal indringend oor optrede moet besin om daardie gebied te beveilig. Indien ons nie daardie gebied op ʼn vreedsame wyse kan bekom nie, sal ons na internasionale voorbeelde soos dié van Slowenië moet kyk waar ʼn minderheidsvolk eenvoudig in opstand teen meerderheidsoorheersing gekom het en ʼn geslaagde onafhanklikheidsoorlog, die sogenaamde Tiendaagse Oorlog vanaf 25 Junie 1991 tot 5 Julie 1991, teen die Serwiese meerderheid van die destydse Joego-Slawië gevoer het.

Soos die Sloweniërs wat alles in hul vermoë gedoen het om ʼn vreedsame skikking met Serwië te beding, maar aan die einde tog tot geweld oorgegaan het, sal ons moet besef dat ware vryheid nooit sonder vasberadenheid bekom word nie.

Myns insiens staan ons op die vooraand van groot gebeurtenisse in Suid-Afrika. Of meneer Jacob Zuma in Desember die ANC-magstryd wen of verloor, maak nie eintlik saak nie. Verloor hy, beskik ons oor ʼn potensiële Zoeloebondgenoot waarmee ons saam die vryheidstryd teen ʼn Xhosa-oorheersde ANC kan aanpak. Wen hy, bestaan daar ʼn sterk moontlikheid, gegrond op my gesprekke met hom, dat ons ʼn Afrikanerprovinsie binne die huidige Suid-Afrika kan bekom wat op die model van ʼn Québec of ʼn Vlaandere kan funksioneer.

Anders as wat soveel van ons mede-Afrikaners in hul nihilisme en defaïtisme dink, lê die weg na vryheid steeds voor ons oop.

Om af te sluit met Paul Kruger se beroemde woorde wat ook deur Jan Smuts op die vooraand van die Tweede Vryheidsoorlog aangehaal is (en wat ek insgelyks by 2005 se PRAAG-dinee gaan leen het):

“Hetsy ons oorwin of sterf, die vryheid sal in Afrika verrys soos die son uit die môrewolke en dan sal dit wees van die Zambesi tot aan Simonsbaai. Afrika vir die Afrikaner!”

очки для плавания детские ценалобановский александр интервью

Comments

Leave a Reply