praag.co.za

Gee my Biko bó Zille

Written by

in

Zuma en ZilleEk was ‘n jong seuntjie in 1976 toe die Soweto-onluste losgebars het. My pa-hulle se skok en bekommernis oor die onluste het nietemin ‘n indruk op my gemaak. Dit was vir my pa-hulle se geslag ‘n kultuurskok, die gedagte dat die eens magtige vorige bedeling so openlik uitgedaag kon word. In ‘n geweldige  stuk ironie was Hector Pietersen se dood egter ook vir die ANC ‘n skok. In 1976 was die ANC geneutraliseer en bykans irrelevant. Die vorige regering se sekerheidsmagte was gedissiplineerd en effektief, anders as vandag se misdadige, korrupte polisie.

Die ANC is dus, nes my pa-hulle, onverhoeds betrap deur die skielike oplewing van swart nasionalisme, want dit is wat dit was; ‘n kawolt teen Afrikaans in skole, wat tekenend was van ‘n herlewing in swart bewussyn. Tog was die ANC in 1976 irrelevant en uit voeling met die swartes op voetsoolvlak. Die vorige bedeling se sekerheidsmagte het die ANC doeltreffend geneutraliseer. Ek weet nie presies wat Hector Pietersen gemaak het om sy heldestatus te verdien nie; op die oog af het hy stokkies gedraai by die skool en deelgeneem aan anargie in 1976, waarvoor hy toe deur die polisie geskiet is. (Hy was ‘n omstander wat per ongeluk in die spervuur beland het – redakteursnota). Al was hy kwansuis ‘n held, was hy egter geen ANC-held nie, maar eerder ‘n BCM-held.  

Die eintlike vader van die onluste in Soweto was dus nie die vetkatterroriste van die ANC wat in luukse ballingskap in Londen of Oosbloklande gesit en vetweefsel opbou het met behulp van die donasies van pienk-gesinde Europese donateurs of Westerse sakelui nie, maar eerder Steve Biko, ‘n Xhosa-nasionalis wat in 1977 in polisie-aanhouding dood is. Biko se Black Consciousness Movement of BCM het ‘n leidende rol in die Soweto-onluste gespeel, en nie die ANC se onbevoegde, vetkat-exiles of terroriste nie. Die ANC was salig onbewus hiervan, omrede die ondergemiddelde Tambo en Sisulu geen Ché Guevaras was nie, maar eerder sissies wat ‘n lekker lewe in Londen geniet het.

Biko is vir my ‘n interessante figuur. Hy het byvoorbeeld vlot Xhosa, Engels en, verbasend genoeg, ook goeie Afrikaans gepraat.  Biko was eens deel van die Nasionale Unie van Suid-Afrikaanse Studente (NUSAS), maar het later besluit dat wittes nie regtig kon bydra tot die swartes se stryd om bevryding nie en het toe ‘n ander organisasie, SASO, gestig, wat nie blanke lede gehad het nie. Dus: Die huidige propaganda en leuens oor nie-rassigheid en reënboognasie-eenheid het alreeds in die vroeë jare sewentig en selfs die sestigs vir Biko, ‘n swarte, na ‘n wanklank geklink. Wat vir my eweneens interessant is, is dat Biko se destydse houvrou, Mamphele Ramphele, vandag een van die ANC-bewind se felste kritici is. Dit was me. Ramphele wat gemeen het dat Bantoe-onderwys beter was as die huidige, mislukte Suid-Afrikaanse onderwysstelsel.

Alhoewel Biko onverbiddelik gekant was teen die vorige bedeling, kan ek veel meer met hom simpatiseer as met die huidige trop leuenaars en bedrieërs wat die evangelie van nie-rassigheid aan ons prober smous;  vanaf die kriminele ANC tot by die eweneens bedrieglike wit Black Sash-antie met haar afstootlike en vernederende gedansery, haar Botox-boogie, die DA se Helen Zille. Die ANC en sy Engelse meelopers, die DA van Botoxzilla en kie., was en is bloot die voortsetting van die Britse Imperialisme onder ‘n ander naam. Dit was nie om dowe neute dat die terroriste van die ANC in Londen gaan wegkruip het nie en ook nie om dowe neute dat Engelse sendingskole in die Ooskaap die alma maters van o.a. Mandela, Sisulu en Tambo, was nie.

Ek is dit eens met Steve Biko: Daar is geen skande daarin om bewus of trots te wees van wie en wat jy is nie, veral as jy nie ‘n Britse, imperialistiese na-aper is nie. Maak nie saak of Afrikaners of Xhosas foute het nie, Afrikaners en Xhosas kan albei bewus wees van wie hulle is en trots wees op wie hulle is. Biko en Malcolm X se swart bewussyn het gegaan oor swart bewussyn en swart trots. Alhoewel ek nie met Malcolm X se anti-blanke denkwyses saamgestem het nie, kan ek dit begryp, want ten spyte van Afrikaners se foute, is ek steeds trots Afrikaner, nes Steve Biko of Malcolm X trots swart was.

Die teenpool van Malcolm X, Hendrik Verwoerd en Steve Biko se volkstrots en nasionalisme is uiteraard die “touchy-feely”, malvalekker-sagte Britse liberalisme en reënboog-idealisme, die soort wensdenkery wat Botoxzilla se DA en die ANC se intellektuele inspirasie is, maar wat uiteindelik ten doel het om die Britse imperialisme, wat deesdae weliswaar minder blatant is, te bevorder.  Volgens hierdie ideologie is almal presies dieselfde onder die enjinkap, het nasionalisme geen plek nie, en is dit moontlik vir die inwoners van Bosnië en Serwië, Soweto en Lynnwood, of die Vlaminge en die Wale, om ewigdurende groot maats te wees, ja, amen! Die erkenning van verskille tussen volke is volgens die Britse neo-imperialistiese ideologie – vandag vergestalt in die religie van nie-rassigheid en anti-rassisme – dus taboe. Almal moet eenvoudig inval by die model van multikulturalisme, al lei dit onafwendbaar tot konflik of burgeroorlog.

Die probleem wat ek met die liberale leuenaars het, of dit nou die ANC, Amerikaanse liberale of Botoxzilla se DA is, is dat hulle eenvoudig verseg om eerlik te wees oor hulle ware oogmerk, en daardie oogmerk handel onafwendbaar oor geld, nes die Anglo-Boereoorlog ook oor geld gehandel het. Daar is, waar dit by die drogideologie van die sogenaamde reënboognasie en multikulturalisme kom, hoegenaamd geen verskil tussen die DA en ANC nie.

Beide die DA en die ANC sal byvoorbeeld hoog opgee oor die blatante liegery bekend as sogenaamde diversiteit, maar soos ons met die DA in Kaapstad gesien het, beteken diversiteit in die praktyk glad nie wat dit op die oog af sou aandui nie. Afrikaanse straatname is dus deur die DA etnies gereinig, terwyl die Engelse, koloniale straatname net so daargelaat is. Hoe divers van die Engelse DA-Jingo’s! Die onaansienlike, ingeteelde Engelse koningin Victoria se naam pryk gevolglik steeds in Kaapstad by die V&A (Victoria and Albert) Waterfront, maar Hendrik Verwoerd se standbeeld word etnies gereinig deur die DA-bewind in die Midvaal-munisipaliteit.  Weer eens: Hoe divers van die DA-beheerde Kaapstadse stadsraad. Vir die leuenaars van die multi-kulti-DA beteken diversiteit dus slegs een ding:  ‘n Onverbiddelike verengelsing ten koste van al die ander kulture en tale.

Daar is slegs een, onheilspellende doel agter die DA se blatante etniese reiniging van Afrikaners se kultuur en geskiedenis, en dis om Engelse sakelui se opportunistiese sakebelange te bevorder, deur enige sprake van Afrikaner- en ander nasionalisme of -selfbeskikking in die kiem te smoor. Die teikening van Afrikaners se taal en kultuur, soos met dr Verwoerd se standbeeld in Meyerton, is ‘n goedkoop manier om hierdie doel te bereik. So ook steun die DA slegs rassistiese regstellende aksie ten einde Britse sakelui terwille te wees. Soos die Engelse gesegde lui: “Follow the money!”  

Dit gaan dus suiwer oor geld en die verryking van SEB-vetkatte of Britse sakebelange en in die Suid-Afrikaanse konteks lyk dit al te veel of SEB en Engelse sakebelange dieselfde ding is.  Gaan lees gerus Moeletsi Mbeki, Thabo se broer, se verdoemende boeke oor die sameswering tussen Engelse kapitalisme en die ANC.

Gee my enige dag ‘n eerlike Steve Biko, bó ‘n multikulti-leuenaar met verskuilde, pro-Engelse oogmerke soos Botoxzilla en haar DA.  Dit sou bes moontlik beter gewees het om eerder ‘n Kodesa met iemand soos Biko te onderhandel het, wat minstens op ‘n eerlike grondslag gebou sou wees. Wie weet? Miskien sou ‘n Kodesa met Biko-hulle, ipv die ANC en sy Britse meesters, gelei het tot ‘n meer volhoubare, Xhosa / Zoeloe-Ooskus / Westerse verdeling van Suid-Afrika.

mositaldentФильчаков прокурор харькова

Comments

Leave a Reply