Skaliegas is die gonswoord in die energiebedryf op die oomblik. Dit het die vermoë om in baie lande se energiebehoeftes vir baie dekades te voorsien.
Skaliegas-koors het die hele energiewêreld op hol sedert die grootskaalse ontginning daarvan in Texas en Pennsylvanië die afgelope vyf jaar. Duisende produksietorings het soos paddastoelle binne ‘n kwessie van vyf jaar verrys.
Die koors het regoor die aardbol gespoel en Suid-Afrika se Karoovlaktes, deel van die groter geologiese stelsel wat vanaf Indië regoor die skeurvallei deur Afrika strek, het die stormloop nie ontsnap nie.
Maar dit lyk asof ontginning daarvan nie sonder spannings gaan verloop nie. Volgens berigte het Dr. Johann Rupert die strydbyl opgeneem om Shell se eksplorasieprogram vir skaliegas in die Karoo te stuit. ‘n Interessante probleem het nou ontstaan: Moet ekonomiese ontwikkeling van ‘n arm streek ondergeskik gestel word aan die opinies of dreigemente van ‘n hoëprofiel persoon soos Dr. Rupert? Dit is ‘n klassieke geval waar emosionele en ekonomiese kragte teenoor mekaar opgestel word.
Raai wie gaan die stryd verloor?
Bewerings word gemaak dat die eksplorasiewerk skadelik sal wees vir die omgewing, veral skadelik vir die ondergrondse waterbronne, waarsonder enige ekonomiese aktiwiteit in die Karoo bykans onmoontlik sou wees. Die uitgetrekte vlaktes by Camdeboo, tuiste van eertydse dinosaurusse, word kansuis nou bedreig. Altesaam 200,000 vierkante kilometers, oftewel 15% van Suid-Afrika se oppervlakte, is reeds uitgewys vir eksplorasie.
Die inwoners van die Karoo is briesend omdat hulle nie in die saak geken was nie. Maar onder nuwe Suid-Afrikaanse wetgewing besit bewoners die grond se oppervlak, maar word die minerale daaronder as ‘n nasionale bate beskou.
Wat is nou die probleem met die eksplorasieprogram vir skaliegas en wat is skalie?
Skalie is sedimentêre rotslae wat deur die kompaktering van kleipartikels meer as 400 miljoen jaar gelede ontstaan het. Die kleisediment bevat organiese stowwe in gelamineerde lagies wat maklik in dun lagies opbreek. Die metaangas word dan vasgevang tussen die lagies en deur frakturing vrygestel.
Hidroliese frakturing (in Engels fracking), is ‘n tegniek wat sedert 1950 ontwikkel is om olie te ontgin. Water word teen ‘n baie hoë druk ondergronds ingepomp om die olie te verplaas en na bo te dwing.
Noudat die tegniek van horisontale boorwerk voldoende ontwikkel het, word dit op groot skaal in Texas toegepas. Vertikale boorgate word opgevolg met verskeie horisontale boorgate wat tot ses kilometer onder die oppervlak lê. Die gas, wat in die porieë van die skalieformasie is, word dan vrygestel om boontoe te vloei.
Om die vloeitempo te verhoog, word die skaliestruktuur rondom die horisontale gate op afgemete afstande met plofstof gekraak en deur ‘n mengsel van sand, water en chemikalië gevul om duisend skeurtjies te vorm waardeur die gas dan vryelik kan vloei. Die sandkorrels hou die nuwe skeurtjies tussen die lagies oop.
Hidroliese frakturing kan slegs op ‘n baie groot skaal gedoen word en is dus baie duur. Vir slegs een boorgat word meer as 25 miljoen liter water en chemikalië benodig . Dis soveel water as Graaf Reinet munisipaliteit se totale waterverbruik oor drie dae. Dosyne gate word gewoonlik op een plek geboor.
Dit word beweer dat Shell voorgestel het om seewater hiervoor per pypleiding aan te lê sodat beskikbare bronne nie geraak sal word nie. Dit is egter bekend dat seewater nie voldoende met die ander chemikalië reageer nie. Die bewering dat die toksiese chemikalië die ondergrondse waterbronne mag affekteer en dit ondrinkbaar maak. Dit is ‘n ernstige aanklag wat deeglike ondersoek verg.
Die waterkwessie is dus voorlopig onopgelos. Dit is voor die handliggend dat water vanaf die Gariepdam en die Vanderkloofdam gebruik kan word. Sodanige pypleidings sal weliswaar duur wees, maar dit moet as ‘n basiese koste beskou word vir ontginning. Dit sal mos net goed wees vir die omliggende dele as ‘n persentasie daarvan aan boerdery en menslike gebruik afgestaan word om die ondergrondse water te vervang.
Waarvoor word skaliegas gebruik?
As ‘n energiebron bestaan daar twee moontlikhede, naamlik vir kragopwekking of vloeibare brandstof.
Ek wil beweer dat Suid-Afrika se probleme rondom elektrisiteitsopwekking gou en goedkoop opgelos sal kan word met voldoende gasbronne om gasturbines aan te dryf. Gekombineerde siklusgasturbines het ‘n nuttigheidsgraad van 58% teenoor steenkoolsentrales met die helfte daarvan. Anders as steenkoolsentrales, gebruik turbines relatief min water. Die Karoo se skaliegas sal vir baie jare in daardie energiebehoefte kan voorsien.
‘n Reeks modulêre kragstasies kan oor die volgende twee of drie dekades baie gerieflik langs die twee Gariepdamme opgerig word. Skaliegas word per pypleiding na die damme gevoer en elektriese krag word direk aan die Eskomkragnetwerk gekoppel. Sulke kragstasies laat byna die helfte minder kweekhuisgasse vry as die steenkoolkragsasies, en dit het tyd geword waar steenkoolstasies aan die einde van Suid Afrika se energiebeplanning sal kom.
Die opwindendste vooruitsig is vir onafhanklike kragprodusente, oftewel IPP’s, om die krag aan die netwerk te verskaf.,
Die onderstaande kaart, verskaf deur Energy Africa, wys hoe strategies die Oranjerivier se damme geleë is.

Die tweede opsie is om die gas in vloeibare brandstowwe om te skakel met Sasol se GTL-proses. Hievoor kan ‘n deel aan Mossgas (deesdae bekend as Petrosa) gelewer word om die kwynende gasreserwes in die see te vervang.
Behalwe daardie vooruitsig, kan addisionele aanlegte wat van Sasol se GTL (gas to liquid) proses gebruik maak, opgerig word. Sulke nuwe aanlegte sal die land as geheel egter nie veel baat nie, tensy die naelstring met die oliebedryf geknip word. Tans word die prys van tuisgemaakte brandstof deur die buitelandse olieprys bepaal, ongeag die feit dat 40% van ons brandstofbehoefte plaaslik gesintetiseer word en absoluut niks met die prys van olie te make het nie. Dit is waar Sasol se superwinste vandaan kom; uit die motoris se sak.
Vanweë die kolossale omvang van die gasreserwes sal die heersende beleidsraamwerk en gepaardgaande wetgewing hersien moet word om die ekonomiese voordeel van skaliegas te optimiseer. Sou die fokus op GTL-produksie val, moet minstens 20% van die produksie vir kragopwekking bestem word.
Die staat sal die volgende vraag moet beantwoord: Wat moet voorkeur kry, elektrisiteitsvoorsiening, of vloeibare brandstofvoorsiening?
Dit is baie soos die Mosambiekse regering met Sasol gedoen het. In daardie geval moet Sasol ‘n persentasie van die gasvloei as tantieme aan Maputo lewer vir herverkoop deur die staat aan die plaaslike gemeenskappe.
Die vraag is egter of die hedendaagse regering die insig of vermoeë besit om te onderskei tussen die behoeftes van die land as geheel, of die winste van die oliemaatskappye wat een of ander BEE-vennootskappe aangegaan het.
Of is dit ook maar net ‘n apartheidsdroom soos Mossgas, Sasol, Yskor, Foskor, ensovoorts?

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.