Hierdie aksie was baie positief ontvang deur beide personeel en leerlinge. Hulle het gevoel dat sulke inisiatiewe meer gereeld moet plaasvind om aan die jeug die voordele van moedertaalonderrig op tersiêre vlak te laat besef.
VF+TAS het ook gesels oor die stand van Afrikaans as onderrigtaal op Tuks. Me. Nadine Greyling, van Tuks Afrikaanse Studente (TAS), is van mening dat dit van kardinale belang is dat Afrikaans op Tuks nie net behou moet word nie, maar weer uitgebrei moet word na al die kursusse wat aangebied word by UP. Die behoud van Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit is ook volgens haar van uiterste belang vir die moontlike ontwikkeling van ander amptelike tale as onderrigtale by UP. “Indien Afrikaans as onderrigtaal sou agteruitgaan en afneem staan ons die gevaar dat slegs een taal gebruik sal word as onderrigtaal en dit sal die ontwikkeling van ander tale feitlik onmoontlik maak. Indien Afrikaans behou en uitgebrei kan word sal dit die meertaligheid van die universiteit bevorder en ook die weg baan vir die moontlike ontwikkeling van ander amptelike tale as tersiêre onderrigtale,” het Greyling aangevoer.
“VF+TAS voel Tuks kan homself in ‘n klas van sy eie plaas as universiteit indien hy bereid is om leiding te neem onder die Suid-Afrikaanse universiteite en ‘n Afrikataal, soos byvoorbeeld Sepedi, ook as onderrigtaal kan ontwikkel. Hulle sal egter eers die veiligheid van Afrikaans moet verseker. Afrikaans is tog die oorspronklike taal van die universiteit sedert sy ontstaan. Tuks moet onthou dat dit heel waarskynlik nie die instansie sou wees wat dit vandag is as dit nie vir Afrikaans as onderrigtaal was nie. Hy moet sy oorspronklike taal eer en beskerm – dit is deel van sy trotse geskiedenis,” het Greyling bygevoeg.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.