Leon Lemmer: Hettie Smit oor ‘n vrou se plek

Deel op

Tot onlangs was daar ‘n leemte in my opvoeding. Ek het nooit Hettie Smit se gevierde boek, Sy kom met die sekelmaan (Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 6de druk 1955, 127p), gelees nie. Anderhalf maand gelede het ek dit tweedehands vir R5 gekoop.

Hettie Smit is die skuilnaam van die latere mevrou SJ van Vuuren (1908-1973). Sy het aan die Universiteit Kaapstad studeer en ‘n onderwyseres geword. In haar jeug was sy op WEG Louw (1913-1980) verlief. In 1937 is haar boek gepubliseer. Die teks bestaan uit dagboekinskrywings en briewe uit die tyd van haar fiksasie op WEG. Dit word die eerste bieg- of belydenisroman in Afrikaans genoem. Smit was ‘n talentvolle mens en het ook geskilder. Sy het twee seuns gehad en later by die staat se Vertaalburo in Pretoria gewerk.

In die roman is die hoofkarakter afwisselend Marié en Maria, sodat bv intense liefde en haat vir Johan mekaar kan afwissel en uitdrukking kan gee aan haar “wankelmoedige emosionele bestaan” (p 107). Dit bly ‘n onbeantwoorde liefde. “My rou is binne-in en buite-op. Hy loop sommer van binne af na buite soos ‘n dam wat oorloop” (32). “Elkeen moet maar in sy eie put uithuil … In ‘n put dink ‘n mens net put-gedagtes” (43). Die nuwe Suid-Afrika is ongetwyfeld ‘n onverdiende, onverkwiklike put vir Afrikaners. “Kan die lewe stil en mooi wees [?]” (113). Ja, maar kwalik in die nuwe Suid-Afrika.

WEG Louw is in 1944 met die komponis en orrelis, Rosa Nepgen (1909-2000), getroud. Sy het onder meer gedigte van WEG en sy ouer broer, NP van Wyk Louw (1906-1970), getoonset. Smit se prosa kom uit dieselfde dampkring as dié van die Digters van Dertig, bv die Louws, Elisabeth Eybers en Uys Krige, waarin daar dikwels ‘n subjektiewe belydenis-element is.

Smit verwys na ‘n “nuwe Afrikaansheid” (14). Gaan ‘n hernude, trotse Afrikaansheid ooit sy verskyning ná 1994 maak of gaan ons toelaat dat Afrikaans al hoe meer deur die brouseltaal Kaaps verdring en uiteindelik selfs daarmee vervang word? Waarmee ons deesdae in Afrikaans te make het, is “taalgedrogte, so aanhoudend soos ‘n Vrystaatse droogte” (19). Tussen hedendaagse regte Afrikaners en die sprekers van geradbraakte Afrikaans behoort daar “dik woord-tralies” (29) te wees.

Oor die lojaliteit van die twee Louw-broers jeens die Nasionale Party se Afrikanerregering en Afrikaans bestaan daar geen twyfel nie, al het die pluimsaad soms ietwat in die verkeerde rigting gewaai. Toe WEG professor in Afrikaans aan die Universiteit Rhodes was, het die studente sy lewe verpes deur die Union Jack oor die tuinhekkie van sy huis te hang. WEG het dan uitgestorm, die vlag afgeruk en vertrap. Dit mag met die spinnekopvlag gedoen word, maar deesdae nie met die onderrokvlag nie. WEG het sy loopbaan as professor aan die Universiteit Stellenbosch afgesluit. Toe is daar bv gekla oor sy “traagheid”. Dit is ook by sy broer waargeneem. Toe NP van Wyk Louw professor in Afrikaans aan Wits was, het sy mede-digter en senior dosent, Ernst van Heerden (1916-1997), in sy snippermandjie gekrap om vas te stel watter dokumente deur sy departementshoof onbeantwoord weggegooi is. Van Wyk Louw se kommentaar was: As dit belangrik was, sou hulle my gebel het.

Daar is pragtige beskrywings en wyshede in Smit se boek. “Het ons saam ‘n melodie, ‘n blom se kelk, ‘n skulp se ronding uitgemaak? … waarom is jou wese die ruspunt van my verlange … die voltooiing van my ganse ek?” (15). “Die moegste verdriet kom tog eindelik by die dood se koelte aan” (62). “‘n Mens lewe tog uiteindelik alleen as jy self gee, as jy self liefhet. As jy jou liefde kan uitlewe, kan formuleer; as jy in jou liefde kan skep” (87). “Wat op dees aarde moet ek noú liefhê? – ‘n klip, ‘n sipresboom? Of sal ‘n boom ook seermaak?” (105-106).

“Klim maar in die koelte van my hartseer … en bid maar suutjies saam dat die uiteindelike stilte noú moet kom – saggies soos die skemering oor die rantjies, en ongemerk soos slaap in die nag” (106). “Ag, meneer dominee, en sal dit dan maar ál wees ná ons hartseer? Goue strate en ‘n pêrelpoort? Dan bly ek maar liewer in my sonde alleen agter – hier op die armoedigste wêreld by die vriendelike bome en die bekende paaie waar hy eenmaal geloop het, en by die helder bergwater waar ons twee saam lankal allerhande onbelangrike ou geselsies gesels het” (122).

“Dit lyk my maklik om te vergeet vandag – om die waters van die tyd, die maande in hul kom en gaan, soos branders oor die sandkasteeltjies van jou beeld te laat spoel en elke walletjie uit te wis … Die vertes is blou, en die jare is lank, en wie is jy dat ek jou sal onthou?” (123).

Smit skryf in ‘n tyd toe militante feminisme plaaslik feitlik onbekend was. “Hoe graag ek jou tog nie sal oppiep en beskerm en met net-wat-jy-begeer sal voer tot versadigens toe – as ek maar net die kans het … Ek wou ook al vir jou ‘n paar sokkies brei” (50). Smit het begrip vir die waarde van ‘n man gehad; van hoe baie vreugde hy vir ‘n vrou kan verskaf. Militante feministe, soos Amanda Gouws en Christi van der Westhuizen, sal verstik as hulle lees wat Smit met soveel opregte oorgawe skryf.

Ek is dankbaar dat my dogter behoudend genoeg was om ‘n suksesvolle loopbaan te laat vaar om voltyds na haar twee pragtige kinders om te sien en dit daagliks as ‘n wonderlike avontuur te beleef namate hulle die werklikheid verken en al hoe beter verstaan.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.