Pretoria in rooi getooi vir Rooi Oktober

Deel op

Met ‘n goeie opkoms van ongeveer 500 mense, het die Rooi Oktober-betoging vanoggend in Pretoria en vele ander dorpe en stede in die land, maar ook in die buiteland, die land aan die gons gehad. Ná toesprake by die Pretoriase Kunsmuseum deur Steve Hofmeyr en Sunette Bridges het die optog na die grasperk van die Uniegebou vertrek waar die horde rooi ballonne in ‘n oomblik van poëtiese Afrikanerprotes die blou hemel bokant die hoofstad bestyg het.

Die oomblik toe die rooi ballonne losgelaat is
Die oomblik toe die rooi ballonne losgelaat is

Terwyl die Naspersgroep hoofsaaklik die gebeurtenis geïgnoreer het, was sowel plaaslike as buitelandse media goed by die betoging verteenwoordig. Onderhoude is toegestaan deur Hofmeyr en Bridges, asook dr. Dan Roodt van PRAAG wat verklaar het dat “Afrikaners van ‘n stem ontneem is deur die huidige stelsel en deur sadistiese moordenaars geteiken word”.

Tydens die straatoptog is volkslliedere gesing, soos 'Sarie Marais', 'Die lied van jong Suid-Afrika', 'Oukraalliedjie', 'Bobbejaan klim die berg' en vele meer.
Tydens die straatoptog is volkslliedere gesing, soos ‘Sarie Marais’, ‘Die lied van jong Suid-Afrika’, ‘Oukraalliedjie’, ‘Bobbejaan klim die berg’ en vele meer.

Die Stem en ander volksliedere is voor en tydens die optog gesing, met Steve Hofmeyr wat kort-kort die noot ingesit het.

Steve Hofmeyr oorhandig die memorandum aan die regeringsverteenwoordiger, omring deur polisie
Steve Hofmeyr oorhandig die memorandum aan die regeringsverteenwoordiger, omring deur polisie

Op Twitter het die hutsteken #RedOctober ongekende gewildheid bereik en die meeste meningsvormers en rubriekskrywers het landwyd daaroor kommentaar gelewer. RSG het ‘n klankgreep van Steve Hofmeyr uitgesaai, maar dit is gevolg deur kommentaar deur dr. Frans Cronjé van die liberale Instituut vir Rasseaangeleenthede wat beweer het dat “niemand van Rooi Oktober bewus is nie en ‘n mens ook nie aandag daaraan moet gee nie”. Sy woorde is natuurlik heel gister en vandag deur die media, asook Facebook en Twitter weerspreek, maar dit het hom nie van stryk gebring nie. Cronjé het verder ‘n pleidooi vir fatalisme teenoor plaasmoorde en ander vorme van geweldsmisdaad gelewer deur te sê dat “Suid-Afrika deur die ervaring van geweld verenig word, maar dat betogings soos dié deur Rooi Oktober ons verdeel”.

Die kleurlingkommentator Eusebius McKaiser het op Twitter gesê: #RedOctober: A fear of losing unearned privilege. waarop dr. Dan Roodt van praag geantwoord het: “Is one’s life an unearned privilege in South Africa? But the natural born killers take it away every day…”

danroodt3Nog foto’s, tesame met ‘n video-onderhoud met ‘n geweldslagoffer sal binnekort hier beskikbaar wees, asook beeldmateriaal van die oomblik toe Die Stem deur die optoggangers gesing is.

Lees ook Steve Hofmeyr se toespraak, wat oorspronklik in Afrikaans gelewer is, hier in Engels.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.