praag.co.za

Tag: Bataclan

  • Karel Combrinck: Ontwaak jy wat slaap

    Karel Combrinck: Ontwaak jy wat slaap

    Ons Westerse beskawing is oor die eeue aan talle bedreigings blootgestel. Bedreigings van buite, maar dan veral, die ergste van almal: die bedreigings van binne. En as ons sê bedreigings van binne, dan bedoel ons daarmee die verskynsel dat mense hulle wil tot voortbestaan, verloor. Die beste voorbeeld hiervan uit die geskiedenis was die verval en ondergang van die Romeinse ryk. Maar daar is steeds nog die bedreigings  van buite ook en die grootste hiervan is  die knaende uitbreidingsdrang van die Moslemwêreld .

    Die stryd tussen die Christen- en die Moslemwêreld strek oor eeue tot sover terug as die geboorte van die profeet Mohammed in 571. Kort na sy dood het die Moslemverowerings van reusagtige gebiede in Noord-Afrika, die Midde-Ooste, en die Verre-Ooste ‘n aanvang geneem. Binne die bestek van twee eeue het die Moslems vanuit hulle tuisvesting op die Arabiese skiereiland hulle heerskapy uitgebrei na (huidige benamings): Egipte, Libië, Algerië, Tunisië, Morokko, Spanje Israel , Irak, Iran, Sirië, Turkye, Oos-Europa en groot gebiede in die Verre-Ooste tot aan die grens van Indië. Vandag het bv. Indonesië die grootste Moslembevolking op aarde.

    Vir ons van belang is dat tot en met die Moslemverowerings, die oorgrote meerderheid van die wêreld se Christenbevolking in Noord-Afrika gewoon het. Die Moslems het hieraan ‘n einde gemaak en sedertdien het die Christenteenwoordigheid in hierdie lande tot onbeduidende minderhede gekwyn. Deur die geskiedenis het die Westelike Christenbevolkings van tyd tot tyd daadwerklike pogings aangewend om die Moslemuitbreiding hok te slaan, maar dikwels, het hulle net kop gegee.

    Na hulle verowerings van die sesde en sewende eeu het Moslems (Arabiere en Turke) talle skuiwe gemaak in die rigting van Sentraal- en Wes-Europa. Soms het hulle hulle teen sterk weerstand vasgeloop. By ander geleenthede , soos byvoorbeeld nou, sonder enige weerstand hoegenaamd.

    Van 711 tot 1492 was Spanje in die hande van die Arabiere. Kort nadat hulle Spanje oorrompel het, het die Arabiese (Moslem-) veroweraars verdere invalle in Frankryk onderneem, maar daar, nadat hulle 500 km ver gevorder het, is hulle in 732 by die stad Poitiers voorgekeer deur Karel Martel en na Spanje teruggedryf. In 1492 het die Christelike Spanjaarde na agt eeue se stryd teen Moslemoorheersing die besetters finaal uit hulle land verjaag.

    In 1463 het die Turke Konstantinopel, die hoofstad van die Oos-Romeinse ryk en ook van die Christelike wêreld van daardie tyd oorrompel. Konstantinopel is vernoem na die eerste Romeinse keiser wat die Christelike geloof aangeneem het. Bitter ironies was dat die Turkse inname van Konstantinopel, (voortaan bekend as Instanboel), moontlik gemaak is deur die plundering van die stad enkele jare tevore deur die Kruisvaarders wat die stad se vermoëns om homself te verdedig onherroeplik verwoes het. Die val van Konstantinopel het die deure wyd oopgegooi vir Turkse verowering van die hele Oos-Mediterreense en Oos-Europese gebied.

    In 1529 vertrek ‘n reuse- Turkse vloot in die rigting van die Wes-Middellandse See. Hulle word by die slag van Lepanto in die Golf van Korinte (nie ver van Athene nie) deur ‘n koalisievloot van Christelike lande oortuigend verslaan.

    Die slag van Lepanto in 1571, voorstelling deur ‘n onbekende Engelse skilder

    Dwarsdeur die 17de en 18de eeue het die Turke volhardend probeer om Wene in te neem en sodoende hulle pad oorland na Wes-Europa oop te maak. In 1716 is hulle pogings finaal die nek ingeslaan deur die Oostenrykse veldheer, Prins Eugen.

    Vir eeue na die val van Konstantinopel  was die Turke in beheer van Griekeland en die Balkanstate totdat hulle tydens die Griekse vryheidsoorlog van die vroeë negentiende eeu verdryf is, met die uitsondering van die grondgebied aan die Westelike oewer van die Bosforus waar onder meer Konstantinopel (die huidige Istanboel) en die oudste belangrike gebou in die Christelike beskawing, nl. die Katedraal Aya Sophia, geleë is. Die Aya Sophia is terloops pas deur pres. Erdogan van Turkye tot moskee verklaar.

    In ‘n onlangse artikel het Leon Lemmer die profetiese boek , Omsingel die laer van die heiliges deur Jean Raspail bespreek wat handel oor die omsingeling van die Europese beskawing deur hordes uit die derde wêreld. Profeties is dit nie heeltemal nie, want dit is gegrond op sy waarnemings van verwikkelings voor — en tydens — die skrywe van die boek. Tog is dit merkwaardig hoe dinge gebeur presies soos hy dit in 1973 voorsien het. As beskrywing van wat nou besig is om te gebeur, is “oorstroming” moontlik ‘n meer akkurate beskrywing  as “omsingeling”. ‘n Vyand wat jou omsingel kan jy nog beveg, maar teen dié wat jou binnegesypel het, is jy magteloos.

    Vandag beleef ons die klakkelose aanvaarding van miljoene Moslems uit Turkye en Noord-Afrika in bv Frankryk; dié land sit tans met ‘n bevolking van meer ses miljoen Moslems. En in Engeland, Nederland en Duitsland is die situasie nie veel beter nie. Hierdie instroming sou vanselfsprekend nie moontlik gewees het sonder die goedkeuring, en selfs aanmoediging van opeenvolgende Europese regerings nie. Dink vir ‘n oomblik maar aan mev Merkel wat ‘n jaar of wat gelede die instroming van miljoene “asielsoekers” uit die derde wêreld as ‘n “geleentheid vir Duitsland” beskryf het. (Eine Chance fur Deutschland).

    Daar is boeke te skryf oor die maniere waarop die Westerse beskawings besig is om hulleself af te takel. Die groot vraag is natuurlik waarom hulle dit wil doen. Daar is meer as een moontlike verklaring. Een is dat ‘n beskawing wie se einde begin nader kom, die neiging het om met die naderende katastrofe te flankeer. Nog ‘n moontlikheid kan wees dat ‘n beskawing wat so’n laagtepunt bereik het soos die huidige Weste, verkies om ‘n vinnige einde daaraan te maak ten einde weer van voor af te begin of om selfs heeltemal te verdwyn. En dan is daar natuurlik die sterk moontlikheid dat iemand besig is om die situasie te manipuleer ten einde voordeel daaruit te kan trek en te kan oorheers.

    Maar as daar dan nou wel ‘n ontwaking in Europese lande sou kom oor die snelle oorname van hulle lande deur Moslem indringers, dan gebeur dit, ironies genoeg, danksy die optredes van die Moslemekstremiste self. Ten einde die artikel nie te lank te maak nie, noem ons net kortliks enkele onlangse gevalle :

    • 2015: Aanslag teen die Paryse hekelpublikasie Charlie Hebdo. 12 mense gedood en 11 verwond.
    • 2015: Aanval op die Paryse nagklub Bataclan. 130 mense dood en 413 beseer.
    • 2016: ‘n Moslembesetene jaag met ‘n vragmotor in ‘n skare feesvierendes in die stad Nice in. 86 mense dood en talle beseer.
    • ‘n Week of wat gelede word ‘n Franse onderwyser in Parys voor sy skool, ten aansien van talle skoolkinders deur ‘n Moslem maniak onthoof.
    • En pas weer word drie vrouens in ‘n kerk in Nice keelaf gesny.

    In die afwesigheid van enige wil om die invloei van inkommers aan bande te lê, probeer die Europese regerings die probleem besweer met spoeg-en-plakmaatreëls wat maar net die uiteindelike ramp uitstel. Al die beklekkery en stertswaaiery van Westerse regerings stel die Moslems allermins tevrede. Inteendeel is daar miljoene Moslems wêreldwyd aan die betoog teen Frankryk en dit is wensdenkery dat hierdie oorverhitte atmosfeer nie na Europa gaan oorwaai nie. Vir hierdie situasie het die huidige en ‘n reeks vorige regerings net hulself te blameer. Daar is politieke partye, publikasies en indiwidue wat dekades lank reeds teen hierdie dreigende katastrofe probeer waarsku, maar hulle word deurgaans afgemaak as  “ekstreemregs” en dus ignoreerbaar. Daar is niemand so doof as hy wat nie wil hoor nie. Klink bekend nè?

    Veral ontstellend is dat die Moslems, benewens die besetting van gedeeltes van Europese stede, ook voorskriftelik wil wees oor beleid buite die gebiede wat hulle vir alle praktiese doeleindes volledig beheer: Halaalkos in skoolkafeterias, selfs in openbare staatskole, Moslemskole waar kinders teen die Weste geïndoktrineer word, die toepassing van Moslemwette deur Moslemhowe, moskees om elke draai ten spyte daarvan dat Christene wêreldwyd uit Moslemlande verdryf word en geen Christelike kerke aldaar toegelaaat word nie.

    Te midde van dít alles maak die Europese Unie en EU-lidlande net nog meer en meer regulasies en voorskrifte wat ” diskriminasie” teen die Moslem- en ander inkommers verbied. Dis asof hulle hul eie graf nie vinnig genoeg kan grawe nie. Die geykte argument is altyd “Ja, maar Moslems is nie almal radikaal nie.” Dit is so, maar hoe weet die Franse en ander Europese lande se polisie watter Moslems is radikaal, of potensieel radikaal en watter nie en as hulle weet, waarom vind die aanvalle dan plaas? Daar is natuurlik gevalle waar hulle wel duidelik geweet het dat ‘n bepaalde persoon ‘n radikaal is en hom nogtans vryelik laat rondloop het soos in die geval van die maniak wat die onderwyser onthoof het. En in elk geval, Moslems radikaliseer oornag.

    Een van die redes waarom die Moslems so suksesvol is in hulle pogings om die Westerse wêreld te oorspoel, is dat hulle in sekere opsigte die waardes respekteer wat die Westerse samelewings lank reeds verwerp het: Hulle is konserwatief, hulle het die wil om te wen, hulle is familievas, geheg aan hulle geloof, hulle duld nie homoseksuele huwelike nie, hulle het hoër morele standaarde, hulle vrouens loop nie half kaalbas in die straat en selfs in kerke rond nie. In ‘n neutedop, in Europa is die moskees vol en die kerke leeg.

    Natuurlik is daar dié in hulle geledere wat onskuldige mense vermoor en vermink en dis ‘n probleem — ‘n probleem vir ons, maar ook ‘n probleem vir hulle want die oorgrote meerderheid slagoffers van Moslemterreur  is ander Moslems. Lankal reeds het die Moslemwêreld tot die besef gekom dat hulle met ‘n frontale gewelddadige aanslag teen die Weste nie veel verder sal kom nie. Daarom het hulle eerder die strategie begin volg van geleidelike insypeling, want hulle het maar te goed verstaan dat die Westerse humanistiese samelewings teen die instroming van “arme drommels ” uit die derde wêreld nie bestand is nie. Enkele jare gelede het die Turkse president, Erdogan, tydens ‘n toespraak voor ‘n Turkse gehoor in Duitsland uitgeroep: “Dis nie nodig om Turkye as lid van die Europese Unie toe te laat nie. Turkye is reeds in Europa!”

    Het die Europese beskawings ‘n kans om hulle teen hierdie dreigende oorstroming te verweer? Die kanse lyk uiters skraal, maar as daar dan tog ‘n kans is, sal dit in die eerste plek afhang daarvan of die Europese beskawings daarin kan slaag om eers die stryd teen hulleself te wen.

  • Joseph Secrève: Je suis Afrikaner

    Joseph Secrève: Je suis Afrikaner

    In verband met ’n intense studie wat ek gedoen het die laaste paar jaar was ek effens weggewees van rubrieke skryf, maar noudat die situasie wêreldwyd uiters sorgwekkend afteken, dink ek dit is belangrik om die publiek van ’n paar pertinente gedagtes op die hoogte te stel.

    Toe die Paryse gemorsblad Charlie Hebdo enkele jare gelede slagoffer geword het van ‘n djihadiese aanslag met noodlottige afloop, het stemme en spandoeke regoor die wêreld Je suis Charlie uitgeblaker. Almal het in solidariteit met die slagoffers gestaan, net om enkele maande later te verneem hoe die Bataclan-nagklub aldaar ‘n heelwat groter moordaanslag beleef.

    Net soos almal in solidariteit met hierdie spotblad saamgestaan het, sien ons nou hoe die hele Westerse wêreld dieselfde ellende trotseer as wat die Afrikaner mutatis mutandis ondergaan het tydens die Groot Verraad van 1990. Mandela is vrygelaat, wat sommige Suid-Afrikaners met hoop gevul het en ander somber gestem het.

    Vandag, ses-en-twintig jaar na die magsoorname, is die gruwel in Suid-Afrika so erg dat al sou ‘n mens spreekwoordelikerwys terug in die tyd kon reis en ons grootouers videobeelde van vandag vertoon, sou dit na alle waarskynlikheid met ongeloof begroet word. Dink maar aan die duisende gestroopte plase, infrastruktuur in verval, geraamtes van woonstelle in Hillbrow en Berea, kamikazivlieëniers gemaskeer as taxibestuurders, ensovoorts. Selfs Desmond Tutu het die huidige situasie al bekla as “erger as apartheid” maar die bende Kruiperkaners soos Max du Preez en vennote staar hulself blind teen die klere van die keiser en kan eenvoudig nie ophou met anti-Afrikanerpropaganda voer nie.

    Kortweg, ons leef in ‘n era van volslae verstandsverbystering!

    Die tyd is nou in feite reg dat die hele wêreld se Westerse volke in die skoene van die Afrikaners staan. En net soos met die Afrikaner sien ons ‘n mengsel van skok en ongeloof enersyds, en andersyds ‘n histrioniese smeekbede om vergifnis aan die donker-getinte medemens.

    Ondertussen is daar al genoeg mense, wittes en swartes in die Verenigde State wat omgekom het as gevolg van hierdie aanhitsery en professionele oproerkraaiers wat betaal word om vernieling en aanranding te veroorsaak. Soos u in die hiperskakel kan sien, het selfs die ekstreemlinkse Christenhaters The Young Turks hierdie nuusbrokkie uitgelek.

    Die vraag is: Hoekom nou? Wat sit hieragter?

    Eers het die wêreld vir twee maande binnegesit vanweë Bill Gates se bedrogepidemie, wat die wêreldekonomie ‘n knou toegedien het wat nog jare sal vat om te herstel. Dit is aanneemlik dat die frustrasie wat hieruit ontstaan het die gemoedere laat oplaai het, en soos ‘n stoomketel druk afblaas, word enige geweldsinsident tans gebruik as gasheer om hierdie frustrasie ‘n gesig te gee. Daarteenoor staan dat die werkloosheid dalk wat mense genoop het om George Soros se tjek te aanvaar in ruil vir amok saai, soos ons in die boonste skakel kan sien.

    Ek dink egter nie dat dit die werklike rede is nie, aangesien mense tot sulke drastiese optredes oorgaan vanweë ‘n bepaalde kernoortuiging en nie sommer vir ‘n paar dollars nie, maar mense verskil nou eenmaal.

    Daar is ook ‘n ander moontlike rede, naamlik dat niemand minder nie as Barack Obama hieragter sit. Die ondersoeksjoernalis Paul Sperry het hierdie gebeurtenis ondersoek dat Obama se stigting besig is om duisende jong linkses met Saul Alinsky-agtige taktieke op te lei, en hulle is nou besig om hul slag te slaan. Die (alternatiewe) perse begin nou steeds harder te roep oor “Obamagate” naamlik dat Obama op Trump se telefoonoproepe bespioneer het toe hy nog president was, en dit blyk nou dat hy aktiewe pogings onderneem het om Trump se presidentskap te verhinder. Dit is niks minder as ‘n staatsgreep nie.

    Dit gebeur min of meer op die vooraand van die voorbereidings van die nuwe presidentsverkiesings, en soos ons nou al goed weet, is die linkse elite doodsbang dat Trump nog ‘n keer president gaan word. Hulle het al hul boesemvriende Jeffrey Epstein, Harvey Weinstein en ander sedemisdadigers verloor as gevolg van Trump se klandestiene ingrepe om hierdie figure te arresteer, en hulle reageer angstig op wie volgende sal val.

    ‘n Hele ander verklaring vir hierdie geweld kan in die sterre gevind word. Dit klink natuurlik soos bog, maar daar is ‘n rede hoekom ek dink dit in oënskou geneem moet word. Blykbaar is daar een of ander astrologiese ontwikkeling wat maak dat die wêreld die komende paar maande ontwrig gaan word. Dit sou piek on Oktober en daarna weer geleidelik afneem. Wat hierdie verklaring ‘n bietjie meer rugbaarheid gee is dat die wêreld se rykstes glo hierdie dinge. Soos die bankier J.P. Morgan destyds gesê het: “Miljoenêrs glo nie in sterrewiggelary nie. Miljardêrs wel!” As sulke ryk en invloedryke mense sulke goed glo, word dit meestal ‘n waarheid. Onthou die woorde van die sosioloog W.I. Thomas: “If people perceive situations as real, they will become real in their consequences.”

    Of daar werklik iets bonatuurliks hieragter sit of nie, is irrelevant. Hulle gaan sorg dat dit waar word. En soos gewoonlik is hul gunsteling taktiek juis om tweedrag te saai deur mense teen mekaar aan te hits en uit te speel. Per definisie beteken dit dat die feitlike gebeure nie saak maak nie. Die lont in die kruidvat – die dood van die swart valsgeldbetaler George Floyd – word aangevoer as oorsaak, maar is in werklikheid ‘n verskoning om hierdie skielike drif om te verniel te regverdig.

    In elk geval ervaar die wêreld so min of meer dieselfde ellende wat vir die Afrikaner nou al gemeenplaas geword het. Wat kan ‘n mens daaraan doen, is natuurlik die volgende vraag. Die lot van die Afrikaner is bykans vergeet in die wêreld, aangesien mense elders nou te besig is om hul eie vure te blus.

    In elk geval weet almal nou wat dit is om ‘n Afrikaner te wees.

    Ek wonder hoe lank dit nog die Europeër of Amerikaner gaan vat om Van Wyk Louw se beginsel van voortbestaan in geregtigheid te ontdek?

     

  • Sting-konsert in Parys ‘n reuse toesmeerdery

    Sting-konsert in Parys ‘n reuse toesmeerdery

    Die Eagles of Death Metal se voorsanger Jesse Hughes is toegang geweier tot die plek waar ‘n massaslagting 89 van sy ondersteuners uitgewis het. Op 13 November, 2015, het terroriste die konsertsaal geteiken en onder die wit gehoor gemaai, wat tot die dood 90 mense gelei het.

    Hughes dink dat die sekuriteit by die Bataclan betrokke was in die terroriste-aanvalle in Parys waar sy Kaliforniese groep opgetree het. Hoofstroommediaberigte vertel dat die terroriste die saal “binnegestorm” het, maar dit is ‘n leuen sê Hughes.

    Hughes en ‘n ander lid is verbied om die konsert ter herdenking van die slagoffers by te woon “omdat hy beweer Moslempersoneel was betrokke by [die] aanval” het AFP berig. Dit is nie die eerste keer dat die groep weggewys word deur Franse promotors oor hul getuienis van wat gebeur het nie.

    Jesse Hughes is ‘n pastoor in die Universele Lewe Kerk. Hy is pro-wapenbesit, pro-Trump, en pro-lewe. Hy beweer ook dat politieke korrektheid letterlik mense se dood veroorsaak. Die Franse eienaar van die konsertsaal wil egter niks van Hughes weet nie.

    “Hulle [Hughes en mede-lid] het gekom, ek het hulle uitgegooi – daar is dinge wat jy nie kan vergewe nie,” het Bataclan mede-direkteur Jules Frutos gesê. “Hy [Hughes] maak hierdie ongelooflike valse verklarings elke twee maande. Dit is waansin, beskuldig ons veiligheid daarvan dat hulle deel was van die terroriste … Genoeg. Zero. Dit moet stop.”

    Maar Frutos, wat Joods is, was nie teenwoordig in die saal nie. Hy bestuur steeds die saal nadat die eienaar na Israel verhuis het en hulle dit op 11 September aan ‘n multinasionale maatskappy verkoop het.

    Hughes het hom nie van stryk laat bring nie.

    “Ek het gesien hoe ‘n man met ‘n FAL [NAVO se ligte outomatiese geweer, ironies genoeg met die naam” Die regterarm van die Vrye Wêreld “] staan en toe hy my in die gesig staar, het sy oë soos albasters gelyk. Hy uit sy kop bedwelm, en ons weet nou hulle was hoog op Xanax en kokaïen. Ek het hom herken. Ek het hom vroeër in die dag gesien en gesien hoe staar hy na ons.”

    Hughes sê daar was ook ander ontstellende besonderhede. “Tydens die skietery wou ek na buite maar die deur agter die skerms was van buite afgesper. Hoe het dit gebeur?”

    Hughes beskryf hoe die terroriste se meesterbrein, Salah Abdeslam, na hulle gestaar het. Ahmad Almohammad, 25, het vermoedelik by die Bataclan terreurgroep aangesluit, terwyl hy homself voorgedoen het as ‘n migrant. Ten spyte van ‘n massiewe polisie- en weermagklopjag het Abdesalam maklik ontsnap tot hy eers in 18 Maart 2016 vasgetrek is.

    Na afloop van die aanval, het die Franse polisie 450 moskees gesluit omdat hulle ISIS-werwingsmateriaal in elke enkele een van hulle gevind het.

    Die publiek vir “Heavy Metal” musiek is byna 100 persent wit en manlik. Hughes sê die belangrikste besonderhede van die aanval word weggelaat uit al die mediaberigte. Hy sê toe die terroriste begin skiet het, was hulle reeds binne. “Hulle sekuriteitsouens het geweet. Hulle uitsmyters het geweet. Hulle deurwagte het geweet.”

    Sting het Saterdag­aand ‘n konsert by die Bataclan gegee waar Hughes geweier is.

    “Vanaand het ons twee take: Ten eerste om diegene te onthou wat hul lewe verloor het en dan om die lewe en musiek in hierdie geskiedkundige plek te vier,” het Sting gesê.

    In die twee ure lange aanval het die aanvallers hul slagoffers wat om genade gesmeek het, summier tereggestel. Geen van die mense in die gehoor is gyselaar gehou nie. Jong meisies het opgestaan met hul hande in die lug en gesmeek, maar hulle is koelbloedig voor die voet doodgeskiet.

    Maar Hughes sê die gyselaarstorie is dekking oor hoekom die polisie so lank geneem het om te reageer. Hy sê daar was geen gyselaars nie.

    Hughes sê die aanval bewys dat liberale denke veroorsaak dat mense nie meer geestelik weerbaar is nie. Hy sê die gehoor het nie eens begryp wat die geweerskote beteken nie. Hulle het verdwaas soos skape rondgemaal en nie eens probeer skuiling soek nie.

    Die aanval het geëindig toe een aanvaller doodgeskiet is en twee ander dood is toe hulle die bomgordels wat hulle gedra het, laat ontplof het.

    In gekoördineerde aanvalle daardie nag in Parys het ander gewapendes en selfmoordbomaanvallers ‘n sokkerstadium en verskeie straatkafees aangeval. Die Islamitiese Staat (ISIS) het aanspreeklikheid aanvaar vir die aanvalle waarin 130 mense dood is.