praag.co.za

Tag: DA

  • De Lille bedank as Wes-Kaapse leier

    De Lille bedank as Wes-Kaapse leier

    Patricia de Lille het bedank as DA-leier van die Wes-Kaap. Sy het die nuus vanoggend getwiet.

    Sy het haar eie stert geprys in haar bedankingsbrief, maar soos gewoonlik geen woord gerep oor die hoë misdaadsyfer in haar provinsie nie.

    Van die kriminele veldbrande het sy ook nie ‘n woord gerep in haar cliché-belaaide bedankingsbrief nie.

    Sy het die groei in kiesersondersteuning, ‘n kroniese DA-hoofpyn, en “doelwitte” wat glo bereik is, geloof. Behalwe haar eie loopbaanplanne is dit nie duidelik wat hierdie “doelwitte” was nie.

    Die DA maak daarop staat dat “nie-rassigheid” hul party staande sal hou.

    Maar dit lyk of De Lille nou wegskram van die “geweldige verantwoordelikheid” van ‘n DA-beheerde provinsie.

  • DA kerm voort oor Internasionale Strafhof-onttrekking

    DA kerm voort oor Internasionale Strafhof-onttrekking

    Die regering sal vandag sy saak in die hooggeregshof in Pretoria stel rakende sy besluit om Suid-Afrika aan die Internasionale Strafhof te onttrek.

    Die hof het Maandag betoë aangehoor van die DA, die Suid-Afrikaanse Litigasiesentrum, die Helen Suzman-stigting, die Sentrum vir Menseregte en die Sentrum vir die Bevordering van die Grondwet.

    Hulle vra dat die hof die regering se besluit onwettig en ongrondwetlik verklaar en dit ter syde stel.

    Die DA se regsverteenwoordiger Steven Budlender, het aangevoer dat die regering nie die mag het om so ‘n besluit te neem nie.

    Budlender beweer daar word “beskerming” van Suid-Afrikaners weggeneem, want die strafhof is glo ‘n veiligheidsnet teen menseregte-oortredings.

    Soos alle voorstanders van sogenaamde “menseregte” in Suid-Afrika, het Budlender klaarblyklik ook nog nooit verneem van plaasmoorde, verkragtings en misdaad in die land waar hy self woon nie en sal hy ook nie kan verklaar wat die nuttelose hof gedoen het intussen om dit te voorkom nie.

    Die groep voer aan dat die kabinet nie by magte is om sodanige beluit te neem nie en dat die kwessie in die parlement bespreek moet word, wat hoogstens neerkom op ‘n duur vertragingstaktiek.

    President Jacob Zuma en die ministers van Justisie en van Internasionale Betrekkinge sal vandag in die hooggeregshof in Pretoria betoog dat die regering se besluit om hom aan die Internasionale Strafhof te onttrek, wettig en grondwetlik is.

  • ANC-Jeugliga wens Madonsela geluk met haar DA-veldtog

    ANC-Jeugliga wens Madonsela geluk met haar DA-veldtog

    Thuli Madonsela is deur die ANC-Jeugliga ‘n DA-marionet genoem. Die voormalige openbare beskermer, Madonsela het geweier om kommentaar te lewer op die uitlek van die klankopname van haar onderhoud met president Jacob Zuma.

    Madonsela het glo die DA se verkiesingsveldtog afgeskop met die ondersoek na die beweerde staatskaping.

    Die ANC-jeugliga het op ‘n mediakonferensie in Luthuli-huis in Johannesburg by monde van die jeugliga-woordvoerder Mlondi Mkhize ‘n beroep op die ANC-leierskap gedoen om hulle nie aan die verslag te steur nie want dit is niksseggend.

    “Dit is ons oorwoë mening dat die openbare beskermer baie goed weet dat sy die bekendstelling van ‘n DA-veldtog voor 2019 se nasionale en provinsiale verkiesings behartig. Ons is van mening dat daar nie genoegsame bewyse is in die dramakwien se verslag nie. As die ANC-jeugliga wil ons haar graag sterkte toewens met haar DA pogings.”

    Ontleders en politici bestudeer nog die verslag van 350 bladsye van die Openbare Beskermer wat vrygestel is deur ‘n bevel van die hooggeregshof in Pretoria.

    Moontlike inmenging by ondernemings in staatsbesit was een van die aspekte uitgelig deur die voormalige openbare beskermer, Madonsela.

    Sy sê die minister van openbare ondernemings Lynne Brown het na bewering die Denelraad ontbind om die Guptas tegemoet te kom.

  • DA-burgemeester van Pretoria roskam sy vandaalvennote in EFF

    DA-burgemeester van Pretoria roskam sy vandaalvennote in EFF

    Die DA-burgemeester van die groter Pretoria-munisipaliteit, bekend as Tshwane, het sy EFF-vennote in die stadsraad so effens geroskam nadat Julius Malema se party Woensdag tydens ‘n betoging die stad op horings geneem het deur winkels te plunder, asook vandalisme, intimidasie en geweld te pleeg.

    Burgemeester Solly Msimang het gister die wanorde wat sy koalisievennoot in die stad gesaai het, gekritiseer. Volgens hom het die toestemming wat die EFF vir sy optog van die metropolisie ontvang het ‘n bepaalde roete en riglyne ingesluit wat alles deur die Effers geïgnoreer is.

    Die EFF het slegs toestemming gehad om vanaf Kerkplein tot by die Pretoriase Landdroshof te stap maar verskeie groepe Effers het deur die hele stad geloop en by die Uniegebou geëindig waar hulle met die polisie slaags geraak het toe hulle dié wou binnedring.

    “Toe ons hul versoek vir ‘n optog goedgekeur het, was daar riglyne oor waarheen hulle kon stap en wat toelaatbaar was en wat nie. Ons keur af wat gebeur het en ons gaan die saak met die organisasie se betrokke leierskap opneem,” het Solly gesê.

    Volgens die burgemeester “grens” die gebeure aan “onwettigheid” en gaan hy daarom voorstel dat die stadsraad se regulasies en beleide “versterk” word sodat organisasies of individue verantwoordelik gehou kan word indien skade berokken word weens ‘n optog of betoging wat in hul naam plaasvind.

    “Dit is iets wat ons na die raad toe kan neem en kan probeer om bywette te versterk, om hulle meer tande te gee om teen mense op te tree wat aan dié tipe dinge deelneem,” het hy gesê.

    Ná die skoonmaakoperasie wat gister in die stad plaasgevind het, het Msimang verklaar dat die beraamde skade wat die EFF-optog veroorsaak het tot miljoene rande beloop en dat hulpbronne van die stad se ander funksies weggeneem moes word om die gemors op te ruim.

    Die waarnemende polisiekommissaris, luitenant-generaal Khomotso Phahlane, sê dat 28 mense in hegtenis geneem is en meer arrestasies mag volg aangesien 35 gevalle van saakbeskadiging, openbare geweld, inbraak en aanranding ondersoek word. Volgens hom is twee polisiebeamptes beseer, terwyl een, ‘n kaptein, chirurgiese behandeling moes ontvang nadat hy met ‘n bottel in die gesig geslaan is.

    “Hierdie ongelukkige voorvalle, wat tot beserings onder lede van die diens gelei het, is betreurenswaardig en moet deur ons almal verwerp word,” het hy gesê.

    Die EFF het tot dusver geen kommentaar gelewer nie.

  • Chaos toe raadslede mekaar bydam

    Chaos toe raadslede mekaar bydam

    Chaos en geweld het tydens ‘n sitting van die Nelson Mandelabaai Metroraad in Port Elizabeth uitgebreek, en twee raadslede is beseer.

    ‘n DA-raadslid, Rano Kayser en ‘n ANC-raadslid, Rosi Daaminds is hospitaal toe geneem raadslede mekaar met waterbekers en glase bygedam het.

    Daaminds het tydens die voorval ineengestort.

    ‘n Woordvoerder van die burgemeester, Kristoff Adeldorf sê raadslede wat by die voorval betrokke was sal aangekla word van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

    Hy beskuldig die ANC daarvan dat hulle vir die voorval aanspreeklik is.

    Adeldorf sê Kayser is intussen uit die hospitaal ontslaan nadat hy behandel is vir ernstige kop- en oorwonde.

    Die geweld het volgens berigte uitgebreek na pogings om die ANC-raadslid, Xola Sabani weens beweerde wangedrag te dissiplineer.

    Die ANC het beswaar teen die stap aangeteken, waarna gevegte uitgebreek het. ‘n Aantal skote is ook afgevuur. Die ANC het aangedui dat hulle aanklagte teen ‘n DA-raadslid gaan indien weens die afvuur van skote.

    Die burgemeester, Athol Trollip sê egter dit was waarskuwingskote wat deur veiligheidswagte afgevuur is om orde te herstel.

    ‘n Ondersoek sal van stapel gestuur word na gdie voorval.

  • Geweeklaag omdat SA Internasionale Strafhof wil verlaat

    Geweeklaag omdat SA Internasionale Strafhof wil verlaat

    Die sekretarisgeneraal van die Verenigde Nasies, Ban Ki-Moon het ‘n beroep op Suid-Afrika gedoen om sy onttrekking van die Internasionale Strafhof te heroorweeg voordat die besluit oor ‘n jaar in werking tree.

    Die VN het bevestig dat Suid-Afrika tot dusver die enigste land is wat ‘n formele kennisgewing ingedien het om van die Statuut van Rome te onttrek, ten spyte van berigte dat Burundi dit reeds gedoen het.

    Die regering het verlede week die sekretarisgeneraal ingelig oor sy besluit om van die Strafhof te onttrek.

    ‘n Woordvoerder van die sekretarisgeneraal, Stephane Dujarric sê die besluit raak nie net die VN nie, maar die internasionale gemeenskap as ‘n geheel.

    Die verklaring deur Suid-Afrika is ‘n groot slag vir die aansien van die hof.

    Die aankondiging volg na ‘n dispuut verlede jaar toe Soedanese president Omar al-Bashir die land besoek het, ten spyte van ‘n lasbrief oor beweerde oorlogsmisdade wat die hof uitgereik het. Vroeër hierdie maand, het Burundi gesê hulle sal die hof verlaat, terwyl Namibië en Kenia ook die moontlikheid oorweeg.

    Die hof is gestig in 2002, maar dikwels daarvan beskuldig dat hulle partydig teenoor Afrika staan.

    Die stigting is gekenmerk deur ‘n gebrek aan internasionale samewerking, ook van die Verenigde State, wat die verdrag rakende die jurisdiksie van die hof onderteken het, maar dit nooit bekragtig het nie.

    Suid-Afrika se besluit sal die weg baan vir ander Afrika-state om die hof vaarwel te roep. Die hof is opgerig om die “vervolging van die ernstigste misdade wat die gewete van die mensdom skok, naamlik volksmoord, oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en misdade van aggressie”.

    Intussen is die DA en derglike surrogate onthuts oor die besluit. Die party wil die besluit “onwettig” laat verklaar omdat dit nie deur die parlement besluit is nie, en gaan “direk” na die Konstitusionele Hof hardloop om dit te doen.

    Die leier van die DA, Mmusi Maimane, het sonder ironie gesê die besluit is strydig met die land se verbintenis tot internasionale geregtigheid en menseregte.

    Hy sê dit dui op ‘n “drastiese agteruitgang in Suid-Afrika se aansien in die internasionale gemeenskap”. Hy sê Suid-Afrika is besig om weer die muishond van die wêreld te word met ‘n regering wat hom nou skaar by moordenaars en diktators regdeur die wêreld.

    Amnestie Internasionaal het die besluit deur die Suid-Afrikaanse regering as “diep verraad teen miljoene slagoffers wêreldwyd” bestempel en die vrees uitgespreek dat apartheid sal terugkeer.

    “Suid-Afrika se skielike kennisgewing om te onttrek van die ISH is diep teleurstellend. Met hierdie skuif, het die land miljoene slagoffers van die ernstigste menseregteskendings verraai en die internasionale regstelsel ondermyn,” het Netsanet Belay, Amnestie Internasionaal se direkteur vir Afrika geweeklaag.

    “Die Statuut van Rome is ‘n verbintenis tussen lande dat hulle nie meer misdade onder die internasionale reg, insluitend apartheid, sonder straf sal toelaat nie,” het Belay gesê.

    Die voorsitter van die Afrika Unie-kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma, sê Suid-Afrika het die reg gehad om die Internasionale Strafhof te verlaat. Dlamini-Zuma sê lede van die AU besluit self of hulle lid van die strafhof wil wees.

    Volgens ‘n presidensiële woordvoerder in Kenia, Manoah Esipisu, het dié land nog nie met die formele proses begin om van die Internasionale Strafhof te onttrek nie.

    Indien die groot moondhede soos die VSA en China reeds in 1998 hulself nie wil verbind tot die Statuut van Rome nie, wonder ‘n mens hoekom ander lande daarin sal belangstel.

  • Malema stel samesmelting met ANC in die vooruitsig

    Malema stel samesmelting met ANC in die vooruitsig

    Dinsdagaand het Julius Malema sy beleid om die media te ignoreer laat vaar en met ‘n nuwe voorstel gekom wat sy ondersteuners sal verbaas.

    Tydens ‘n onderhoud met eNCA het die EFF-leier uit die bloute gesê dat hy bereid sou wees om ‘n “samesmeltingproses” met die ANC te begin.

    Die samesmelting sal glo slegs oorweeg word as die ANC se steun in die verkiesings van 2019 onder die 50%-merk daal.

    Dit was ‘n knipoog na diegene wat diep agterdogtig staan teenoor Malema se werklike langtermyndoelwitte.

    Hy was ook skepties oor die EFF se sukses. Die party sukkel om deur te breek na die 20%-drempel.

    Die DA meen hy, sal nooit genoeg ondersteuning kry om ‘n regering op sy eie te vorm nie.

    As die ANC sukkel, sê hy, “sal sy eerste aanbod aan ‘n samesmelting met die ANC” gaan.

    En dit sal nie net ‘n geval wees van waar hy ‘n pos in die regering kry, of ‘n rol speel in die bepaling van beleidrigtigtings nie, belowe hy.

    Hy sê hy praat oor ‘n behoorlike, groothandel samesmelting.

    “Die naam van die ANC herinner ons mense aan hul pynlike verlede,” sê hy. Dit moet dus ‘n hele nuwe party wees waarin beide die ANC en die EFF ophou om te bestaan.

    Dit kan glo met “unieke leierskap” deurgevoer word.

  • Krisis op kampusse word deur DA, EFF aangemoedig

    Krisis op kampusse word deur DA, EFF aangemoedig

    Die krisis in hoër onderwys word kennelik deur die opposisie aangemoedig om van president Zuma ontslae te raak. Maar die DA en EFF is besig om die meerderheid studente se wense daarmee ook te verontagsaam en in gevaar te stel.

    Die nasionale voorsitter van die EFF, Dali Mpofu is nou betrokke by die betogings vir gratis onderwys. Hy het aangevoer dat hy op die kampus van Witwatersrand optree as “besorgde ouer” en nie as politikus nie.

    Maar Mpofu het nogtans in ‘n politieke hoedanigheid ‘n beroep op belanghebbers gedoen om die betogers te ondersteun. Hy het selfs die polisie se teenwoordigheid op die kampusse gekritiseer.

    Vroeër is berig dat Mpofu die Beset Luthuli-huis beweging befonds het. Hy het glo vyf miljoen rand uit Amerika ontvang en dit gebruik het om die anti-Zuma betogers te steun.

    Hulle eis dat die president asook die nasionale uitvoerende komitee van die ANC bedank.

    Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, meen ook “alle rolspelers”, wat oproeriges insluit, moet aan gesprek deelneem. Maar dié houding beteken dat die betogers se sogenaamde griewe ernstig opgeneem moet word, terwyl dit slegs die mening van ‘n klein minderheid verteenwoordig.

    Net soos die vise-kansellier van die Universiteit van Kaapstad, Max Price, meen Madonsela die krisis is die regering se skuld, terwyl dit duidelik is dat hulle skerm vir die belhamels se “regte”.

    Die president van die Appèlhof in Bloemfontein, regter Lex Mpati, het intussen ook sy stem gevoeg by die opposisie oor die gewelddadige betogings by universiteite.

    Die DA gesê het die ANC-regering het sy plig versuim om ‘n buitengewone vergadering oor die krisis te belê sodat dit in die Parlement bespreek kon word, maar nog geen leierskap getoon om die ontwrigting en geweld te veroordeel nie.

    Die polisie het moes Dinsdag rubberkoeëls gebruik om die betogende studente by Wits uiteen te jaag. Twee polisiebeamptes en ‘n dosent is beseer.

    Vyf studente is in hegtenis geneem. Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Kgomotso Phahlane het die media na die geweld toegespreek, en sê die vernietiging van eiendom kan nie toegelaat word nie.

    Klaarblyklik stem die DA en EFF nie daarmee saam nie.

  • DA se noue bande met ontlasting

    DA se noue bande met ontlasting

    Die Demokratiese Alliansie het besonder noue bande met ontlasting.

    Die DA se provinsiale leier, Patricia de Lille, sê die ontlastinggooier Loyiso Nkohla het gehelp om haar party se oorwinning te beklink in die Kaap.

    De Lille het die poefgooier geprys dat haar party ‘n paar groot munisipaliteite in Kaapstad gewen het.

    Loyiso is vroeër in hegtenis geneem nadat hy ontlasting op die trappe van die Wes-Kaapse wetgewer en by die Internasionale Lughawe in Kaapstad uitgegooi het.

    De Lille sê die ontlastingman het hulle baie nader aan die “mense” gebring.

    In Noordwes sê die party hulle beplan om ‘n klag te lê by die Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit se gesondheidsowerhede oor die groot hoeveelhede ontlasting in die Tigane-plakkerskamp.

    Hulle is bekommerd oor die “onhigiëniese lewensomstandighede”, iets wat die plakkers klaarblyklik nie veel kwel nie maar wel vir DA-raadslid, Gerhard Oosthuizen.

    Dit is nie bekend of Oosthuizen bewus is dat ontlastinggooiers vir die party ‘n groot aanwins is nie.

    Oosthuizen sê hy was tydens ‘n toesighoudende besoek aan die gebied “geskok” om te verneem dat inwoners nie toegang tot drinkwater en behoorlike toilette het nie.

    Hy sê die gebied het ongeveer 1 360 plakkershutte, met gemiddeld meer as vier inwoners in elke huishouding. Die hele gebied het glo slegs vier watervoorsieningspunte.

    “Ek het die probleem reeds by ‘n junior personeellid aangemeld. Ons gaan dit egter opvolg deur dit by ‘n senior personeellid aan te meld en dan sal ons kyk hoe ons die saak verder gaan hanteer,” het Oosthuizen bygevoeg.

    Die Matlosana-munisipaliteit kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

  • Nuwe OB goedgekeur

    Nuwe OB goedgekeur

    Die Nasionale Vergadering het die ontleder van die Staatsveiligheidsagentskap, Busisiwe Mkhwebane, as die nuwe Openbare Beskermer goedgekeur.

    Die Vergadering het die adhoc-komitee se verslag oorweeg waarin Mkhwebane as die voorkeurkandidaat aangedui is om die uittredende Thuli Madonsela te vervang.

    Al die partye behalwe die DA het ten gunste van haar gestem. Volgens die DA is sy ‘n “spioen van Suid-Afrika se geheimediens”.

    Volgens die grondwet moes sy minstens 60 persent, oftewel 240, van die 400 stemme kry. ‘n Totaal van 263 lede het vir haar gestem, en slegs nege-en-sewentig teen haar.

    Die uittredende Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het ‘n beroep op haar opvolger Mkhwebane gedoen om haar deur die Grondwet en die oppergesag van die reg te laat lei.

    Madonsela het ‘n toekenning in Pretoria ontvang terwyl die Nasionale Vergadering Mkhwebane se benoeming om haar pos oor te neem bekragtig het, en kon nie die geleentheid bywoon nie.

    Madonsela sê formele gelukwensinge sal volg onmiddellik nadat President Jacob Zuma Mkhwebane se aanstellling bevestig het.

  • OB-aanstelling: DA-potte wat ketels verwyt

    OB-aanstelling: DA-potte wat ketels verwyt

    Die Nasionale Vergadering sal vandag besluit of hulle die aanbeveling aanvaar om die gewese ontleder van die Staatsveiligheidagentskap, Busisiwe Mkhwebane, as die nuwe Openbare Beskermer aan te stel.

    Die verslag van die ad hoc-komitee oor die OB sal vandag aan die Nasionale Vergadering vir finale oorweging voorgelê word.

    Al die partye, behalwe die DA, het bevestig dat hulle Mkhwebane se aanstelling steun. Die DA voer aan dat Mkhwebane ‘n spioen was en daarom nie geskik is vir die pos nie.

    Dié beskuldiging kom hoofsaaklik van Glynnis Breytenbach wat voorheen deur die Nasionale Vervolgingsgesag self daarvan beskuldig is dat sy vir Israel spioeneer.

    Die DA LP Breytenbach, het gesê dat Mkhwebane gewerk het as ‘n spioen terwyl sy as ‘n immigrasiebeampte aan die Suid-Afrikaanse ambassade in China verbonde was.

    Die DA het gesê verskeie bronne het betroubaar aan hulle gesê dat Mkhwebane op die betaalstaat van die SSA was terwyl sy in China gewerk het.

    Die ANC het in reaksie daarop gesê Mkhwebane het geen wet oortree deur in diens van die SSA te wees nie.

    Die party sê ook regter Sharise Weiner (foto) het die beste gevaar in haar onderhoud.

    Minstens 60 persent van die parlementslede, dit wil sê 240 van die 400 lede, moet ten gunste van Mkhebane stem om haar aanstelling te kan bekragtig deur president Jacob Zuma.

    Weiner sê sy was as student ‘n stigterslid van Regslui vir Menseregte en het anti-apartheidsaktiviste “gratis” verdedig as advokaat.

    Advokate soos Weiner is destyds deur die ANC-terreurfonds wat vanuit Londen, Brittanje bedryf is, betaal.

    Sy het erken dat sy geen Afrikataal magtig is nie.

    Die DA het ook professor Richard Majola vanweë sy ondervinding en kwalifikasie geloof, om kritiek teen hul voorkeur vir Weiner af te weer.

  • Nuwe OB aangewys deur ad hoc-komitee

    Nuwe OB aangewys deur ad hoc-komitee

    Die direkteur van Binnelandse Sake se Inligtingsbestuurseenheid, advokaat Busisiwe Mkhwebane is aanbeveel om die nuwe Openbare Beskermer te wees.

    Die ad hoc-komitee wat die aanbeveling moes maak het vanmiddag drie ure lank beraadslaag oor wie die beste kandidaat is.

    Die ander vier kandidate, regters Sirazj Desai en Erica Weiner asook advokaat Muvhango Lukhamaine en professor Bongani Majola is uitgeskakel.

    Daar was eenstemmigheid onder al die partye, buiten die DA, oor Mkhwebane se aanstelling. Dit moet egter nog deur die Nasionale Vergadering bekragtig word.

    Gerugte wil hê dat sy ‘n Zuma-ondersteuner is.

    Mkhwebane is ‘n advokaat wat in die hooggeregshof optree. Sy was vir sewe jaar ‘n senior ondersoekbeampte in die kantoor van die Openbare Beskermer.

    Sy het ook vir die Departement van Binnelandse Sake se afdeling belas met immigrasiekwessies gewerk. Mkhwebane het glo verskeie kwalifikasies in korporatiewe reg.

  • Max vra dat DA Die Stem skrap ter wille van EFF

    Max vra dat DA Die Stem skrap ter wille van EFF

    Die linkse rubriekskrywer Max du Preez het die DA-leier Mmusi Maimane, versoek om die Die Stem uit die volkslied te verwyder omdat die EFF nie daarvan hou nie.

    “Jy is in ‘n beter posisie as enige ander Suid-Afrikaanse politikus om te help om ontslae te raak van die verse uit Die Stem in ons volkslied.

    Du Preez meen Maimane is in die beste posisie omdat hy die politieke leier van die “oorgrote meerderheid wit Suid-Afrikaanse kiesers is” namens wie dié verse in die volkslied opgeneem is.

    Die Stem is glo nie so mooi en strelend soos die huidige lied nie omdat dit “marsmusiek” is volgens Du Preez se “musikale” oor.

    Hy meen Nkosi Sikelel ‘iAfrika moet eerder in Afrikaans en Engels gesing word.

    Die ANC het tot dusver druk weerstaan ​​om te peuter met Nkosi Sikelel iAfrica omdat hulle ‘n teenreaksie van blankes vrees.

    “Maar as die voorstel kom van die party wat deur die meeste blankes en ander minderhede ondersteun word, sal slegs ‘n paar hardekoppe kwaad wees,” het Du Preez gesê.

    Du Preez dink “volwasse Suid-Afrikaners” sien dit as ‘n “simbool wat noue verband met die apartheidsera het”.

    “Of jy wil hoor of nie, Die Stem en die oranje, wit en blou vlag was die eerste simbole van Afrikaner-nasionalisme wat ons samelewing oorheers het tussen 1948 en 1994.”

    Hy sê die meeste Afrikaners en ander wit Suid-Afrikaners maak dit duidelik vandag dat hulle glo apartheid verkeerd en immoreel was.

    “FW de Klerk, ‘n paar van sy kabinetskollegas en die Afrikaanse kerke het al uitgereik om uitgebreide verskonings aan te bied vir die era van ongeregtigheid.”

  • ANC-raadslid slaan dood neer toe DA Johannesburg oorneem

    ANC-raadslid slaan dood neer toe DA Johannesburg oorneem

    ‘n ANC-raadslid in Johannesburg, Nonhlanhla Mthembu, het tydens die stemming om ‘n nuwe burgemeester aan te wys, ineengesyg en gesterf, blykbaar aan ‘n hartaanval. Hierna is die aanwysing van die burgemeester en die hoofsweep van die stad gekombineer (foto hier bo), en is Herman Mashaba en Kevin Wax onderskeidelik as eerste burger en hoofsweep aangewys. Beide Mashaba en Wax is van die DA, wat die ondersteuning van die EFF tydens die stemmery geniet het.

    Mashaba het egter dadelik belowe om nóg meer fondse op die stad se nie-betalende swart inwoners te bestee deur te verklaar dat hy “die waardigheid van inwoners gaan herstel deur werk te skep en dienslewering te verbeter, veral in lokasies soos Alexandra”.

    Mashaba het insgelyks belowe om korrupsie in Johannesburg hok te slaan, ‘n stad waar omkopery en ‘n geknoei rondom tenders algemeen is. Mashaba het gisteraand net voor sy verkiesing as burgemeester gesê:

    “Van vanaand af word korrupsie tot openbare vyand nommer een verklaar. Ek verbind my en lê ‘n belofte af dat ons sal omsien na openbare geld wat misbruik is, en dit sal gebruik om waardigheid aan mense te verskaf. Ons gaan ‘n regering bedryf wat na u geld sal kyk.”

    Oor dienslewering het hy gesê: “Mense sonder toilette wat verwag om in ‘n stad te woon wat wêreldklas is, is nie regverdig nie. Ons wil hê dat Johannesburg daardie voortreflike stad moet wees waarin mense sal wil woon.”

    Mashaba is met 144 stemme teenoor die 125 van Parks Tau, die ANC se uitgaande burgemeester, verkies. Die hoofsweep sal Kevin Wax wees en die speaker Vasco da Gama, al drie van die DA.

    Da Gama se naam het al vir heelwat gekorswel op sosiale media gesorg, aangesien dit dieselfde as dié van die beroemde Portugese seevaarder is.

    Uit eerbied vir die ontslape Mthembu, het Mashaba besluit om nie gisteraand ‘n lang toespraak te lewer nie en dit eerder uit te stel na 13 September, wanneer hy sy inhuldigingstoespraak sal lewer.

    EFF-lede op die openbare galery het voortdurend gesing om die DA se kandidate te ondersteun. Telkens as ‘n ANC-raadslid se naam uitgeroep is, het hulle geboe.

    Amptenare van die Onafhanklike Verkiesingskommissie het die raadslede bygestaan om die verkiesings vir die drie posisies te hou.

    Enkele kere het chaos gedreig sodat die stadsbestuurder Trevor Fowler sy hande vol gehad het om die ondersteuners van die EFF en ANC op die openbare galery te beheer. Tydens die stemmery vir die speaker, het verskeie raadslede hul stembriewe aan die publiek getoon alvorens hulle in die stembus geplaas is. Van die party-amptenare het hierteen beswaar gemaak. Die OVK het beslis dat die stemmery in die geheim moes plaasvind en dat, indien dit weer sou gebeur, die stemmery oorgedoen sou moes word.

    Toe die ANC-lid wat voorheen daarvan beskuldig is dat hy EFF-raadslede wou omkoop om vir die ANC te stem, Dan Bovu, se naam aangekondig is, het die skare hom uitgejou. EFF-ondersteuners het hom as ‘n “gesoekte misdadiger” beskryf.