Vrese vir ‘n brandstoftekort het ontstaan nadat die petroleumwerkersvakbond CEPPHWAWU gister begin staak het. Die vakbond CEPPWAWU het belowe om vandag af kontrakteurs te verhoed om brandstof af te lewer in die petroleumbedryf.
Brandstofvervaardigers het verskeie maatskappye gekontrakteer om hulle van diens te wees terwyl die staking aan die gang is. Die rede vir die staking is dat geen loonooreenkoms tussen vervaardigers en CEPPWAWU bereik kon word nie. Die werkers eis `n verhoging van nege persent maar die wergewers bied net sewe persent aan.
‘n Verteenwoordiger van die vakbond in die Wes-Kaap, Fazel Ernst het gesê:
“Ons is bereid om ons werkgewers te druk totdat hulle rede insien en ons hoop dat dié optrede die bestuur die lig sal laat sien.”
Die staking sal na verwagting 15 000 werkers betrek en sal die aflewering van brandstof aan vulstasie regoor die land raak, veral in Kwazulu-Natal, die Oos- en Wes-Kaap, asook Mpumalanga. Gauteng word deur ‘n pyplyn vanaf Durban verskaf, alhoewel daar ook ongeveer 100 tenkwaens per dag tussen die PWV en Durban loop.
In die verlede het vulstasies na ongeveer drie dae leeggeloop. Motoriste kan dus van Sondag af brandstoftekorte verwag.
Volgens mnr. Jan Schoeman van die Suid-Afrikaanse brandstofkleinhandelaarsvereniging, sal die staking werkers by die brandstofdepots insluit, vervoerfasiliteite en olieraffinaderye, maar nie die petroljoggies by vulstasies nie, wat aan ‘n ander vakbond behoort.
Layton Beard van die Outomobielasssosiasie sê:
“Motoriste moet voorsiening maak deur te verseker dat hul tenks vol gehou word en dat hulle vir ten minste ‘n tyd lank gedek is.
“Motoriste moet ook sover moontlik brandstof bespaar deur nie onbeplande ritte te onderneem as hulle dit kan vermy nie en deur nie in piektye te bestuur of hul lugreëling te gebruik nie.
“Hulle behoort hul vensters toe te hou om die sleurfaktor van hul voertuie te verminder en sodoende minder brandstof te gebruik.”

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.