Die Rehoboth Baster Gemeente (RBG) is besig om ’n hofgeding by die Internasionale Strafhof (ICC) in te dien om op inheemse eiendomsregte aan te dring, aanspraak te maak op selfbeskikking en om beweerde onteiening van Bastergrond en bates deur die Namibiese regering uit te daag.
Volgens die RBG is die internasionale liggaam, die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO), bereid om tegniese en finansiële hulp vir dié hofgeding te verskaf, het Die Republikein berig.
Die UNPO is ’n lidmaatskapgedrewe organisasie van inheemse minderheidsgroepe uit onerkende en besette gebiede. Volgens die UNPO-webblad is dit ’n vreedsame, demokratiese organisasie waarvan die lede nie genoegsame verteenwoordiging op internasionale forums soos die Verenigde Nasies (VN) het nie.
Afrikaners in Suid-Afrika is ook deel van UNPO. Die doel van UNPO-lidmaatskap is om die politieke, kulturele en ekonomiese regte van die Afrikaners te bevorder.
Omdat die UNPO nie groepe met militante neigings aanvaar nie, is die RBG se aansoek tot lidmaatskap in 1993 afgekeur wens die weerstandsgeskiedenis van die Basters teen Duitse koloniale besetting.
Die RBG het egter ongeveer agt jaar gelede UNPO-lidmaatskap gekry. Met dié lidmaatskap verseker, is die UNPO nou besig om reëlings vir die stigting en finansiering van ’n Baster-ambassade in Den Haag, Nederland te tref.
“Die doel van die ambassade is om blootstelling van die Baster-gemeenskap se strewe na selfbeskikking te bevorder,” het een van die RBG-leiers, mnr. Martin Dentlinger, aanRepublikein gesê.
Dentlinger was deel van ’n afvaardiging wat gister van ’n vergadering van die Nuwe Wêreldberaadorganisasie in Brussel, België, teruggekeer het.
Dié beraad is ’n “kunstige en politieke” formasie wat in 2012 gestig is om “alternatiewe parlemente” te verskaf vir organisasies wat tans “uit demokrasie gesluit is”.
By die vergadering wat die afgelope naweek gehou is, het die RBG aansoek gedoen om lid van die beraad se parlement te word “as ’n volk wat uitgesluit is van demokrasie en wie se reg op selfbeskikking aangeval word”.
Die groep het ook vir solidariteit van susterorganisasies gevra en het ’n beroep op die organisasies gedoen om druk op die Namibiese regering te plaas ter ondersteuning van die Basters se selfbeskikkingsaspirasies.
RBG het ook gevra vir “aktiewe politieke en wetlike oorsig” in die hangende hoërhofsaak waarin die Baster-kaptein John McNab en ander van onwettige besetting van erwe in Rehoboth beskuldig word.
McNab het vandeesweek gesê die Bastersaak vir selfbeskikking is om grond wat ná onafhanklikwording onteien is, terug te kry en self te administreer.
Die RBG wil ook selfbestuur oor die Bastervolk se onderwys en munisipale en ander openbare dienste hê.
McNab het benadruk dat selfbeskikking nie met afstigting verwar moet word nie.
“Selfbeskikking beteken nie afskei nie. Ons wil nie afstig nie. Dit is nie dat ons op ons eie wil staan nie.
“Ons is in die land gebore en het vriende en familie in alle dele van die land,” het McNab by ’n vergadering op Rehoboth gesê.
Hy het bygevoeg: “Dit is die reg van enige volk wat oor ’n lang tydperk deur ’n regering onderdruk is om op selfbeskikking aanspraak te maak.”
Hy het gesê afstigting is nie ’n volhoubare opsie nie, maar het die “grootskaalse maatskaplike disintegrasie en verval” in die land aan die behoefte vir selfbestuur toegeskryf.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.