Drie passasiers is dood en drie beseer toe drie motors Woensdag naby Gordonsbaai op Sir Lowryspas in die Wes-Kaap in ‘n botsing betrokke was.
Twee volwassenes en ʼn kind is op die toneel dood verklaar. Een van die passasiers het kritieke beserings opgedoen en moes per helikopter na ʼn hospitaal geneem word.
“Een van die voertuie wou ʼn ander verbysteek en het toe ʼn derde motor reg van voor getref, wat die een voertuig laat omslaan en bo-op ʼn ander laat beland het,” volgens Christo Venter, woordvoerder van ER24.
“Die ongeluk het op die N2 net voor die uitkykpunt plaasgevind.”
Twee ander het minder ernstige beserings opgedoen en is per ambulans na die Helderberg-hospitaal vervoer.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.