praag.co.za

Category: Karin Roodt

Karin Roodt se Rubrieke.

  • Pole midde-in nuwe Koue Oorlog

    Bush is skynbaar onder die indruk dat hy ‘n tweede na-oorlogse Amerikaanse segetog in Europa kan laat herleef met behulp van lande wat moeilik met Duitsland kan meeding. Sy taal en verwysings was tipies van die konteks wat ná afloop van die Tweede Wêreldoorlog geheers het.

    Pole se sukkelende verhoudinge met buurlande Duitsland en Rusland is bekend. Die Poolse minister van Verdediging, Radek Sikorsky, het al by geleentheid na die "Hitler-Stalin-pakt" verwys om die Noordeuropese-gaspypleiding wat sy bure onderneem het, aan te val. Ook die lot van Duitse minderhede in Pole is ‘n teer punt en die Pole wil nie graag daaraan herinner word nie.

    Pole word deur ‘n konserwatiewe regering gelei. Die identiese tweelingbroers, Lech en Jaroslaw Kaczynski is onderskeidelik tot president en eerste minister verkies. Die Kaczynski’s is, in navolging van die Republikeinse Party in die VSA, bekend vir hul onverdraagsaamheid teenoor homoseksuele huwelike en hul aanmoediging van die doodstraf. Die Gay Pride-optogte is in 2004 en 2005 in Pole verbied.

    Alhoewel albei broers uitgesproke homofobe is, het die koerant die "Rzeczpolita" berig dat die Poolse geheime diens in 1992 ‘n ondersoek teen Jaroslaw gelas het om sy seksuele voorkeur te probeer bepaal. Jan Lesiak, die ondersoekbeampte, was van mening dat dit raadsaam sal wees aangesien Jaroslaw steeds by sy moeder gewoon het en oënskynlik nie veel in vroulike geselskap belang gestel het nie.
     
    Die identiese broers is sedert hul kinderjare in Pole bekend omdat hulle die hoofrolle in ‘n kommunistiese film vertolk het. Die film by name "Die twee wat die maan gesteel het" was destyds op massaverspreiding gemik.

    Die Kaczynski’s het ook ‘n berugte naamgenoot in die VSA, bekend as die Unabomber wat kampusse en lughawens vir ongeveer 20 jaar lank met briefbomme geteiken het. Ted Kaczynski, ‘n talentvolle wiskundeprofessor van Berkeley, is uiteindelik deur die FBI aangekeer. Kaczynski wou deur sy terreurveldtog die oorheersing van tegnologie verhoed omdat dit blykbaar teen die menslike natuur sou wees.

    Bush is met ope arms Vrydagaand deur die Poolse leier in die geskiedkundige hawestad ontvang. Hy het die Pole vir hul ondersteuning van die missielafweerstelsel op hul grondgebied tydens ‘n gesamentlike perskonferensie bedank. "Ons wil ‘n regverdige uitkoms onderhandel, wat die veiligheid van Pole en die veiligheid van die hele kontinent sal verhoog teen skurkbewinde wat in die versoeking kom om vrye nasies te wil onderdruk."

    In Tsjeggië het die ongewilde Amerikaanse leier gesê: "Die Koue Oorlog is oor. Dis verby. Die mense van die Tsjeggiese Republiek hoef nie te kies tussen vriendskap met die VSA of vriendskap met Rusland nie, julle kan altwee kies."  Hy het nietemin vroeër by ‘n konferensie vir demokrasie wat deur oud-president Vaclav Havel en Nathan Sharansky gereël is in dieselfde vertrek waar die Warskou-pakt ontbind is, Rusland en China weens ‘n gebrek aan demokrasie gekritiseer.

    Op hul kenmerkende sikofantiese manier, het Naspers se Pieter Malan vandeesweek in ‘n patetiese rubriek in Beeld ook gepoog om die Russe op dieselfde wyse as Bush te kritiseer. Dit kom nadat Mbeki tydens sy besoek aan Heiligendamm homself soos ‘n handpop vir Bob Geldof gedra het en hy woordeliks clichés oor Afrika herhaal het wat sy Britse meesters van hom verlang het.

    Bush beplan ook om in Albanië en Bulgarye aan te doen wat die VSA se belangstelling in Rusland se agterplaas nog verder sal beklemtoon.

    диагностический сканер для автоАлександр Фильчаков

  • ‘Scheinheiligendamm’

    Bob het sy kans benut om 24 bladsye van linkse, naïewe en sensasiebelaaide Britse propaganda aan die Duitse bouer, vragmotorbestuurder en handearbeider op te dis. Die voorbladopskrif en foto van ‘n uitgeteerde swart gillende kind, was alles behalwe skugter: Dertigduisend mense sterf elke dag in Afrika van armoede.
    In nog groter letters, swart, wit en rooi: Hou op daarmee, NOU!, asof elke Duitse leser persoonlik verantwoordelik is vir die haglike toestand. Trouens hy vra sommer ‘n bladsy of wat later reguit of die Duitsers hulle nie erg skaam nie.

    Om die polities-korrekte inhoud beter te onderstreep moes die gebruiklike kaalmeisie ook verdwyn om plek te maak vir halfgeklede en honger swartes. Die enigste erotiese boodskappe was van Duitse sterre wat skynbaar ‘n liefdesverhouding met Afrika vertroetel.

    Vir model Bettina Zimmermann (28) is dit “Afrika mon amour”, terwyl die brandmaer Claudia Schiffer nie genoeg kan kry van die “towerstof” wat die kontinent aan modemateriaal produseer nie. Loréal-meisie Schiffer was onlangs in die nuus nadat daar bespiegel is dat sy ‘n anoreksie-lyer is.

    Dit was alles te lese onder ‘n foto van ‘n poedelnaakte Alek Wek, wêreldbekende model wat spog met ‘n huidkleur wat blouswart is. Akteur Matt Damon kon sy “woede” elders skaars beteuel toe hy verneem dat ‘n kind in Afrika elke 15 sekondes sterf omdat skoon drinkwater ontbreek.

    ‘n Hele paar moes by die lees daarvan sekerlik gedink het dat die Axel Springer-koerant al lankal ‘n verleentheid is, al is dit net vir die skaamtelose manier waarop hulle daagliks enige onderwerp behandel. Maar die oormaat selfvertroue waarmee die Britte die Duitsers takseer, was waarskynlik ‘n groter bron van irritasie as die gewone kitsch waartoe Bild in staat is.

    Die Rat van Boomtown het ná afloop van die oefening dit as harder werk as wat hy gedink het beskryf, maar sy blinde selfvoldaanheid was steeds onaangetas. “Ek dink ons het vandag ‘n koerant geskep wat die Duitse politiek en die lewens van miljoene mense kan verander,” het hy in sy skik gesê.

    Bob het byvoorbeeld nie eers die moeite gedoen om uit te vind watter Duitse hulporganisasies reeds in Afrika betrokke is nie, maar eerder gesteun op sy eie, soms irrelevante, visuele materiaal. By die voorbladfoto is van die wêreld se prominente gesigte uitgestal waaronder dié van George Bush. Natuurlik een en almal vriende van Blair, maar geen Duitser sal Bush vir ‘n Afrika-vriend aansien nie.

    Die Amerikaanse president se gewildheid is tewens besonder laag in Duitsland vanweë die feit dat hy wegskram van klimaatsbestuur en sy afgelope toespraak daaroor is met groot teleurstelling begroet. Desnieteenstaande is die Bild ook versier met drie bladsye van die ongewilde Bush wat so veel vir Vigs in Afrika doen. Dat dit op ‘n fiasko afstuur in SA agv van die eiesoortige benadering waarvoor ons gesondheidsminister bekend is, word nêrens genoem nie.

    Die Bild-gasredakteur se kinderlike kragtoer waaroor Beeld – die name is ook dieselfde! – so positief berig, was sonder einde. Hy het weer herhaal dat hulp “belowe” is en beloftes moet nagekom word. Dit weet elke drie-jarige kind. Behalwe Naomi Campbell en Kofi Annan is elke ander swarte in Afrika volgens die Live Aid-organiseerder beslis sonder ‘n krieseltjie kos.

    Gelukkig het Bob nie ‘n dag honger gely nie en breedvoerig is oor sy regte-egte kantienkaartjie en ete by die koerant se restaurant berig. Die hele maaltyd van beesvleis, aarbeie en room, afgesluk met skoon water en afgesluit met koffie, was nog ‘n volkleur nuuswaardige selfbeheptheid.

    Danksy Brittanje se besliste aandrang dat Bob, dis nou Mugabe, tot Zimbabwe se leier verkies moet word, is daar vandag ‘n dringende voedseltekort in daardie land, maar Sir Bob, Bild en Beeld stel nie in oorsake belang nie. Trouens noudat SA weer deel van die Gemenbes is, is voedselsekuriteit ook nie meer ‘n uitgemaakte saak hier nie, maar dit skeel ons pop-politici en jingo-pers ewe min.

    Onderliggend aan die skrille boodskap is dat alle wittes, behalwe vanselfsprekend die Britte, die oorsaak van Afrikaprobleme is omdat hulle nie rojaal genoeg gee en help nie. Praat van agter die deur staan!

    Bildzeitung se lomp poging het vir kritiek uit vele oorde gesorg, en Der Spiegel het droogweg opgemerk dat Merkel se ingenomenheid met Bob Geldof die komende spitsberaad van G-8 lande na Scheinheiligendamm verander het. Die Kanselier het heel skynheilig met die propaganda-oefening saamgespeel.

    free casino online no downloadДанильченко Юрий Брониславович

  • Minderwaardigheid katalisator vir etniese geweld

    Die tese dat etniese groepe “agente'' van 'n buitelandse mag verteenwoordig, kom voor in die meeste verslae oor etniese onluste. Van 1780 af, toe Katolieke in Londen aangeval is omdat mense geglo het hulle is pouslike samesweerders wat deur die weermagte van Frankryk en Spanje gesteun is, tot die laat 19de eeu, toe Armeniërs in Turkye daarvan verdink is dat hulle die Russe goedgesind is, is etniese teikengroepe só voorgestel.

    In Zimbabwe word die boere ook as "agente'" voorgestel, ongeag hul burgerskap. Die teikenidentifikasie vind slegs in rasseterme neerslag. Die regerende party se retoriek klink daarom asof dit teen die Weste as geheel gemik is en nie teen 'n minderheid binne eie landsgrense nie.

    Etniese geweld is deur dieselfde retoriek in Kambodja, Mianmar en Uganda gekenmerk.

    Michael Ignatieff, in sy boek Blood and Belonging, en Horowitz voer albei aan dat daar 'n psigologiese dimensie aan antagonisme is.

    Wat betref kenmerke van botsende groepe, moet in gedagte gehou word dat dit betrekking het op twee antagoniste (oftewel groepe). In dié verband is psigologiese jukstaposisie handig om die antagonistiese verhouding beter te verstaan.

    Met verwysing na kommer in 1992 oor die opkoms van neo-Nazigeweld in Oos-Duitsland teenoor die Turkse minderheid ná die val van die Berlynse Muur, het die meningsnavorser Elisabeth Noelle-Naumann gesê: "Die sleuteltaak is om selfvertroue te herwin. Hierdie (Oos-Duitse) bevolking is 'n gewonde nasie . . . Ek meen mense sal net gemaklik wees as hulle hul natuurlike selfrespek as volk kan herwin. 'n Individu wie se selfrespek weggevat word, ly erg skade. Dit geld ook volke.''

    Horowitz toon met voorbeelde uit veral Asië en Afrika die ooreenkomste in antagonisme tussen individue en groepe in voorvalle van etniese geweld.

    Hy onderskei tussen sogenaamde mededingende agterlike en vooruitstrewende groepe. Met enkele uitsonderings is dit altyd die groep wat as vooruitstrewend gesien word, wat aangeval word.

    Só het die Lulua die Luba in die destydse Zaïre aangeval, het die Hutu's die Tutsi's in Rwanda vermoor omdat hulle minderwaardig teenoor laasgenoemde gevoel het, het die Mbochi die Lari in die Kongo geteister en het die Maleiers Chinese minderhede in Maleisië en Singapoer uitgesonder.

    Hoe meer verskille ter sprake is, hoe groter is die potensiaal vir konflik. Die Lari is byvoorbeeld beskryf as "gevorderd'' en "ondernemend'' en daarom as gevaarlik vir die Mbochi.

    Die Luba is beskou as "hooghartig, arrogant en nepotisties'' en die Lulua was dus “bang vir onderdrukking'' en wou graag "byhou''.

    In Zimbabwe word die boere, wat meen hulle is noodsaaklik vir die ekonomie, as 'n struikelblok gesien omdat hulle gelyke geleenthede met hul "koloniale grondhonger'' strem.

    Die eise om die speelveld gelyk te maak, gaan nie sonder 'n groot mate van selfverwyt en selftwyfel gepaard nie. Die ondergeskikte groep wat wil sien dat die oop aspek van mededinging ingeperk word en wat spesiale behandeling vra, soos regstellende maatreëls, laat die gevoel van onsekerheid in die groep verhoog.

    Die psigoanalis Ernest Jones verduidelik die psigodinamika van hoe dié soort konflik (wat intern is en nie ekstern nie) tot aggressie kan lei.

    Jones sien haat as die normale reaksie op selfvertwyfeling. Indien die haatgevoelens tot skuld lei, is die enigste manier om verligting te kry eenvoudig om méér te haat. 'n Oordrewe bedreiging word in die teikengroep uitgewys en die haatgevoelens op hulle geprojekteer.

    Ironies is dat indien die teikengroep heftig op sulke haat reageer, hulle só onwetend die gewaande “redelikheid'' van die haatgevoelens teenoor hul groep bevestig. En só maak hulle dit makliker vir die inisieerders om oor te gaan tot geweld as die geleentheid hom voordoen.

    Die teorie van frustrasie-aggressie volg 'n ander roete, maar kom tot dieselfde gevolgtrekking.

    Indien daar geen ander uitlaatkleppe vir opbouende frustrasie is nie, neem die waarskynlikheid van geweld toe.

    As agterlikheid beteken dat doelwitte buite bereik sal bly, is geweld al manier om verskille uit die weg te ruim om uiteindelik weer 'n posisie van mag teenoor die ander groep te beklee.

    Geweld word gekenmerk deur onderliggende selfvertwyfeling en 'n verbale onvermoë, meen Hans Toch in sy boek Violent Men.

    Die verloorder wil nie net die spel opbreek nie, hy wil sy opponent vernietig. Horowitz sien dié ooreenkoms in byna elke geval van etniese geweld.

    En die teikengroep deel sonder uitsondering dieselfde kenmerke: ondernemendheid, ambisie, energie, arrogansie en sukses.

    коляскі дитячіОлександр Фільчаков прокурор

  • Tsjad: Meer chaos in die vooruitsig

    Die verkiesing wat in dié land voorsien is en wat binne die volgende week of twee plaasvind, gaan deur die opposisie geboikot word. Dus stel die "legitieme" kritici van President Idriss Déby nie veel in demokratiese prosesse belang om die veelbeprese demokrasie na te streef nie.

    Indien "legitieme weerstand" volgens Desmond Thompson se definisie militêre ondersteuning uit ‘n buurland insluit, is daar seker hoop vir Jacob Zuma want met die nodige samewerking vanuit Zimbabwe mag hy dalk net SA se volgende president word…

    ‘n Ooggetuie van die VN se Hoëkommissariaat vir Vlugtelinge, Ana Liria-Franch, beweer volgens ‘n berig van AFP dat die FUC-rebelle die vlugtelingkampe in Tsjad terroriseer om volgelinge onder dwang en deur afpersing te rekruteer. Die rebelle wil die ongewilde president – wat die grondwet van sy land verander het om aan te bly – met vlugtelinghulp en omkoopgeld verwilder.

    Dit is onder sulke omstandighede te begrype dat die internasionaal erkende President Déby nie juis te vinde is vir kampe wat die rebellebeweging se getalle bly aanvul nie. Desmond Thompson suggereer nietemin dat Déby se anti-demokratiese ingesteldheid hom daartoe noop, asof hy self die vlugtelingkampe ter wille van sy eie ondergang ontgin.

    Indien die Wêreldbank nie intussen Déby se fondse afgesny het nie, sou hy waarskynlik ook nie so ongewild geraak het nie. Van Déby se hoë weermagoffisiere het in ruil vir soldy na die opposisie oorgeloop.

    Dié belangrike verwikkelinge word nie in Thompson se artikel genoem nie. Die "internasionale gemeenskap" waarna hy verwys sou kon baat by ‘n paar feite ipv nog ‘n dosis manipulasie.

    Die Franse bevind hulself tans in ‘n uiters delikate posisie in Tsjad omdat hulle agv ‘n verdedigingsooreenkoms (wat uit die sewentigerjare dateer), asook geostrategiese redes die toestand probeer stabiliseer. Alhoewel dit nie dieselfde as die ooreenkoms tussen die Ivoorkus en Frankryk is wat voorsiening vir militêre beskerming en dus outomatiese ingryping maak nie, is militêre bystand nogtans deel van wat ‘n politieke besluit deur Tsjad mag vereis.

    ‘n Gebrek aan leierskap in Frankryk verhoed die regering egter om die situasie behoorlik aan enige van die aantal belanghebbendes of die buitewêreld te kommunikeer. Die nuwe gegewe op ons kontinent het in sekere Franse politieke kringe in gebreke gebly om as belangrike kwessie te figureer en Afrikapolitiek word steeds in ‘n waas van geheimhouding bedryf.

    Behalwe die skaduagtige wyse waarop Afrika benader is, was dit ook merendeels die werk van een man, Jacques Foccart. Sy afsterwe het blykbaar ‘n groter leemte gelaat as wat vermoed kon word. (Lees meer omtrent sy sukses in die Afrikalande waar Frankryk hul invloed voorheen kon laat geld het.)

    ‘n Groot vraagteken hang opnuut oor die idee van ‘n eie vredesmag vir Afrika. Selfs Le Monde [Hoofartikel 17.04.2006] neem die Franse Mirage wat waarskuwingsskote op die aankomende rebelle geskiet het, kwalik. Die Franse sou tot onlangs nog die voorbeeld vir Europese betrokkenheid op die vasteland stel deur die vestiging van ‘n militêre mag vir die AU.

    Die rebelle se naderende invalsposisies is tewens uur vir uur aan Tsjad se weermag gekommunikeer. Die amptelike standpunt van die EU is dat verdediging en vredesintervensies deur die AU oorgeneem en bestuur behoort te word. Kennelik steur die Epervier-sending hulle nie veel aan allerlei amptelike standpunte oor militêre betrokkenheid in Afrika nie of hulle besef dalk dat dié mooi woorde nie met die werklikheid tred kan hou nie.

    Die rebelle-segsman in Parys, Laona Gong, het sy spyt uitgespreek dat Frankryk die dorpe Adré en Moudina in Tsjad, naby die Soedanese grens, uit die lug "aangeval" het en dat daar "’n aansienlike getal burgerlikes omgekom het". Op die vraag hoeveel ongeveer het Gong egter geantwoord dat hy geen idee het nie. Dit maak dit natuurlik effens moeilik om te verwag dat Frankryk binnekort tot enige sinvolle gesprek met Déby se teenstanders sal toetree.

    Die teenwoordigheid van 1 350 Franse soldate, ses Mirage-vegvliegtuie en 3 helikopters wat probeer vrede handhaaf terwyl die druk toeneem is ‘n ondankbare taak. Sonder die Franse teenwoordigheid gaan die land waarskynlik in twee verdeel word soos onlangs in die Ivoorkus gebeur het, tussen Moslems in die noorde en Christene in die suide. Dié ou etniese verdelingslyne sal dan sorg dat die spanning vererger.

    Die grootste bedreiging kom weliswaar uit Soedan. Die rekening vir die splinternuwe Toyota’s waarmee die rebelle hul intog gemaak het is deur daardie land vereffen. Net soos in SA is die vele kritici waarskynlik nie soseer begaan oor al die tierlantyntjies van ‘n grondwet, demokrasie of wet en orde as met wie die staatskas mag plunder nie.

    Wat seker is, is dat meer wanorde nie aan die broeiende chaos van 50 000 dooies en 200 000 vlugtelinge gaan remedieer nie. Veral nie op die kontinent wat ons onlangs weer ‘n renaissance belowe het nie.

    often shouldлобановский александр досье

  • Nigeri?: Hoogs vlambaar

    Dié land, wat ongeveer 250 verskillende etniese groepe omvat, beleef sedert 1999 ‘n burgerlike bewind en bypassende nuwe grondwet wat danksy internasionaal erkende verkiesings ‘n relatief stabiele bestel kon verseker.

    Dat Olusegun Obasanjo besluit het om ‘n grondwet-amendement aan te bring om hom in staat te stel om nog ‘n termyn aan te bly ná 2007 se verkiesings, het teenstanders asook ondersteuners van die president egter aan die mor en word hy deesdae onvleiend met sy voorganger genl. Sani Abacha, bewindhebber van die vorige ongewilde militêre diktatuur, vergelyk.

    Obasanjo het veral die Moslemstem in die noorde van die land nodig om weer te wen en tot dusver het sy visepresident wat daardie ondersteuning verseker, Atiku Abubakar, nog nie aangedui dat ‘n derde termyn vir hom ‘n lastigheid sal wees nie. Waarskynlik beskou Abubakar dit eerder as ‘n geleentheid om sy mag verder uit te brei as die stemme in 2007 getel word.

    Die derde termyn-kwessie is egter besig om in ‘n probleem te ontaard wat nie net ‘n opvolgstryd behels nie, maar ook ernstige woelinge rondom die land se dalende olieproduksie insluit. Sedert die begin van die jaar waarsku ontleders dat die sporadiese aanvalle en sabotasie op pyplynolietoevoer verder uitgebrei sal word na olieplatforms naby die kus vanweë politieke onrus en dat dit die prys van ru-olie verder nadelig sal beïnvloed.

    Die eertydse geloof dat ru-olieplatforms net af van die kus van Wes-Afrika dus minder politieke risiko inhou as die vasteland self is besig om in oliekringe ernstig heroorweeg te word. Aanvallers slaag al daarin om met behulp van gemotoriseerde rubberbootjies sover as 50km van die kus toe te slaan en skade aan te rig.

    Nigerië voorsien o.a. die VSA van ‘n vyfde van sy ru-olieinvoere en lewer ‘n besonder lae-swaelinhoud, oftewel ‘n "soet" ru-olie, wat teen ‘n lae raffineringskoste na goeie gehalte brandstof omgeskakel kan word.

    Die Ijo-etniese groep, histories die slawehandeltussengangers tussen Europese en swart binnelandse slawehandelaars, wat toevallig ook onder die diktator Abacha kon floreer, voel soos talle regeringsopponente die kontantknyp van Nigerië se olieproduksieprobleme en ontoereikende regering. Hulle antwoord daarop is ‘n toenemend goed georganiseerde guerillamag by name MEND (Movement for the Emancipation of the Niger Delta).

    Hierdie geheimsinnige guerilla-vegters word deur kenners as heel effektief beskou. Hul beweeglikheid, vuurkrag en presisie is besig om die wêreld se oliemarkte te laat kennis neem van hul voorneme om, soos dit aan die begin van die jaar gestel is, "Nigerië se olieuitvoerkapasiteit heeltemal te vernietig". Daar word voorts bespiegel dat opleiding en vaardighede vanaf die insurgensieoorlog in Irak uitkring en stadig maar seker na ander potensiële konflikgebiede oorspoel.

    Die burgerlike bewind in Nigerië het ook intussen nie veel gedoen om hul enorme olie-inkomste meer verstandig aan te wend as die vorige militêre een nie. Hulle is daarom nie verniet saam met lande soos Tsjad en Haïti amper heel onderaan die 2005 korrupsie-indeks van die Berlynse kantoor van Transparency International nie.

    Shell, wat verantwoordelik is vir die helfte van Nigerië se ru-olieproduksie, het in 2004 ‘n studie befonds waarin aangetoon word dat die per capita-inkomste van die streek waaruit die guerillas vandag gewerf word onder die nasionale gemiddeld van $260 val en dat werkloosheid op sekere plekke daar 90% oorskry. Die ironie is dat die oliemaatskappy se moeite en onkoste vandag dubbel en dwars met terreur deur dieselfde inwoners beloon word.

    Van ‘n problematiese buitelandse betrokkenheid deur oliemaatskappye in Nigerië is daar natuurlik reeds lankal sprake ná die teregstelling van die aktivis Ken Saro-Wiwo wat die onderdrukking en uitbuiting van etniese minderhede in die olieryke Nigerdelta te berde wou bring. Shell se simpatieke houding teenoor die vorige bewind was destyds ‘n steen des aanstoots vir vele. Selfs ANC-simpatiseerders het in 1995 op ‘n boikot van Shell in Suid-Afrika aangedring!

    Daarom sal verskerpte terreuraksies deur ‘n etniese minderheid in die delta nie noodwendig onsimpatiek deur die buitewêreld bejeën word nie. ‘n Stygende olieprys sonder twyfel wel. In hulle aksies tot dusver het die guerillavegters wonder bo wonder ook die steun van die plaaslike bevolking behou en dit vergemaklik nie die taak van Nigeriese regeringsmagte om die weerstand kort te vat nie.

    Met die aanhouding van buitelandse gyselaars het die selfaangestelde guerillasegsman, Jomo Gbombo, gesê dat Shell toestemming aan regeringsmagte verleen het om hul militêre helikopters op Shell-eiendom te laat land en bygevoeg dat daar geen tekort is aan "dinge om te vernietig" om dié samewerking te beëindig nie.

    Die wêreld se derde grootste oliereus het reeds 330 werknemers landuit gestuur en vier pompstasies gesluit nadat hulle ontvoerings van personeel moes trotseer wat agterna as gyselaars aangehou is. Dié maatskappy rekruteer blykbaar nou teen ‘n astronomiese koste "gesoute" vrywilligers, om hul bedryf in die Nigerdelta aan die gang te hou.

    Daar is sprake dat die eerste drie maande vir gewone vrywilligers teen $100 000 per maand vergoed word en $500 000 kontant op die tafel word aangebied vir enige vaste kontrak daarna. Desnieteenstaande is Shell se produksie met ‘n geraamde 10% ingekort vanweë hierdie probleme. Sommige ontleders meen dat dit selfs 20% mag wees. In elk geval word ‘n aansienlike 650 000 vate per dag minder uitgepomp omdat toestande so onveilig en onstabiel vir alle betrokkenes in die gebied geraak het.

    Omdat Shell nie sy voorsieningsverpligtinge kontraktueel kan nakom nie word die juridiese skuiwergat van force majeure tans gebruik om die daling in produksie a.g.v. voortslepende onrus, te dek. Daarvolgens verklaar Shell dat omstandighede buite beheer van die maatskappy veroorsaak dat verliese gelei word om eisers te ontmoedig.

    Die "sukses" wat met Shell behaal is, het kennelik daarvoor gesorg dat MEND op 12 Mei 2006 d.m.v. ‘n epos aan Reuters aangekondig het dat die wêreld se grootste gasomskakelingsaanleg volgende in die slag gaan bly. Die aanleg is op Bonny-eiland geleë van waar die 20 tot 30 miljard kubieke meter opbrengs per spesiaal ingerigte tenkskepe na verskillende verre bestemmings reis. Japan, Suid-Korea en Taiwan staan boaan die lys van hierdie aardgas-invoerders.

    Dié aardgasaanleg staan bekend as die Nigeria Liquefied Natural Gas (NLNG) en vyf van die beplande ses stelsels skakel hoofsaaklik metaangas na ‘n vloeibare en sodoende meer vervoerbare produk om.

    Onlangs was Rusland se voorsiening van dié immer gewilder en skoner vorm van energie aan die EU in die nuus toe die Russiese voorsiener Gazprom gedreig het om die krane toe te draai indien die EU nie meer opdok nie. Dat betroubare energievoorsiening ‘n aller belangrike politieke hefboom geraak het, is geen oordrywing nie.

    Dít het die MEND-guerillamag in Nigerië beslis verstaan. Voorheen was oliepyplynsabotasie eerder gemik op sogenaamde "bunkering" of kleinskaalse diefstal en van die ontploffings waarin dikwels soveel as 200 onskuldiges met hul lewens moes boet, is deur onbeholpe en haastige diewe veroorsaak en was nie noodwendig beplande terreur nie.

    Die saboteurs was hoofsaaklik daarop uit om hul invloed of kontantvloei of verkieslik albei te verhoog en die ontploffings min of meer "bonusse" vir die aanvallers omdat dit in die media aangekondig is. Die inwoners wat direk onder die onbeholpe sabotasie moet ly, neem blykbaar steeds nie die daders kwalik vir die gepaardgaande lewensverlies nie.

    Ten spyte van voortdurende etniese wrywing en godsdiensverskille in Nigerië word godsdienstige aansprake met minder toewyding gevoer as byvoorbeeld in die Midde-Ooste; gelukkig het allerlei beswaardes nog geen selfmoordbomdraers opgelewer om sulke ongelukke te wreek nie.

    Daardie voordeel mag binnekort iets van die verlede wees. ‘n Gelukkie wat MEND tref kan aansienlike buitelandse druk op die regering plaas om gehoor te gee aan oplaaiende binnelandse eise. Soos dit in Afrika gaan, sal dit sonder die sterk man Obasanjo of sy opvolger, feitlik onmoontlik wees om aan ‘n uiteenlopende aantal stemme gelyk gehoor te gee.

    Die stygende oliepryse en sterk energie-aanvraag wink. Die tafel is gedek vir ‘n felle stryd en Obasanjo is nie sonder meer verseker van sy Westerse steunpilare nie omdat nog ‘n termyn vir hulle ongetwyfeld ‘n verleentheid sal wees.

    Wat seker is, is die feit dat vloeibare aardgas hoogs vlambaar kan wees.

    всероссийская федерация парусного спортаФільчаков Олександр Васильович