praag.co.za

Category: Sport

  • Roland Schoeman wys weer sy staal

    Roland Schoeman wys weer sy staal

    Roland Schoeman
    Roland Schoeman

    Die Suid-Afrikaanse swemmer Roland Schoeman het weereens sy staal gewys toe hy twee goue medaljes in die Doha-been van die 2013 Fina Wêreldbyeenkoms gewen het.

    Die 33-jarige Schoeman het goud gewen in die 50 m-vlinderslag en -borsslag, terwyl Chad Le Clos ‘n derde goue medalje vir Suid-Afrika in die 200-vlinderslag verower het.

    Myles Brown het ‘n silwer medalje vir Suid-Afrika verower toe hy net-net in die 400-vryslag vir mans teen Robert Hurley van Australië verloor het. – Sapa

  • Bismarck se rooikaart geskrap

    Bismarck se rooikaart geskrap

    Bismarck du Plessis
    Bismarck du Plessis

    Bismarck du Plessis se omstrede rooikaart wat hy tydens Saterdag se nederlaag teen die All Blacks gekry het, is van sy dissiplinêre rekord geskrap .

    Die regsbeampte Terry Willis het in Maandag se dissiplinêre verhoor bevind dat die Franse skeidsregter Romain Poite die verkeerde beslissing gemaak het toe hy du Plessis met ‘n geelkaart in die 17de minuut vir ‘n duikslag op die losskakel Dan Carter gestraf het.

    In ‘n verklaring op Maandag, het die IRB gesê dat die geel kaart toegeken teen du Plessis “nie korrek” was nie.

    Du Plessis het ‘n tweede geel kaart vir ongeoorloofde spel in die 42ste minuut van die wedstryd gekry, wat beteken het dat hy outomaties van die veld gestuur is.

    Die IRB het gesê dat die geel kaart–besluit ‘n “ongelukkige geval van menslike foute deur die skeidsregters was“.

    Du Plessis het geen verdere straf ontvang nie, maar die tweede geelkaart wat hy in die 42ste minuut ontvang het, sal vir die res van die Rugbykampioenskap-reeks op sy rekord bly. – Sapa

  • Franse skeidsregter bederf kampioenskapswedstryd

    Franse skeidsregter bederf kampioenskapswedstryd

    'n Regte haantjie...
    ‘n Regte haantjie…

    Die Franse skeidsregter van vanoggend se rugby-kampioenskapswedstryd op Eden Park in Auckland tussen die Springbokke en die All Blacks, het die toets bederf toe hy vier geelkaarte uitgedeel het.

    Die Springbokhaker, Bismarck du Plessis, is van die veld af gestuur toe hy ‘n tweede geelkaart van Romain Poite gekry het, met kommentators en rugbylui wat hul koppe in ongeloof geskud het oor veral sy eerste geelkaart.

    Die Bokke het 50 minute lank met net 14 spelers gespeel en het met 29-15 gewen, wat aan hulle ‘n bonuspunt vir vier drieë besorg het.

    Die All Blacks is nou vier punte voor op die rugbyleer met nog twee wedstryde wat oor is. – RSG

  • Nadal wen Amerikaanse Ope

    Nadal wen Amerikaanse Ope

    Rafi Nadal
    Rafi, soos die Spanjaarde hom noem

    Die Spanjaard, Rafael Nadal het ‘n skitterende jaar afgerond deur die wêreld se voorste tennisspeler, Novak Djokovic in die Amerikaanse Ope op die Arthur Ashe Stadion te klop.

    Nadal het met 6-2 3-6 6-4 6-1 geseëvier en sodoende sy tweede Grand Slam vanjaar inge-oes.

    Hy het vroeër vanjaar die Franse Ope titel vir die agste keer verower. Die oorwinning in die VSA bring Nadal se getal Slams op 13 te staan.

    Hy is nou derde op die lys van die mees bekroonde spelers, met net Roger Federer en Pete Sampras wat beter rekords as hy het.

    Djokovic het na hy verslaan is, gesê hy glo dat Nadal binnekort weer die nommer een speler ter wêreld kan wees en dat daar oorgenoeg tyd is vir die 27-jarige om Roger Federer se rekord van 17 titels te oortref. – RSG

  • Curriebeker skop af met Griekwa-oorwinning

    Curriebeker skop af met Griekwa-oorwinning

    Ryno Barnes
    Ryno Barnes

    In die eerste Curriebekerwedstryd van die seisoen het die Griekwas gisteraand in Durban met die Haaie afgereken.

    Die Haaie het die laaste tien minute van die wedstryd nog met 30-25 voorgeloop, maar ‘n verdoelde drie nadat die eindfluitjie geblaas het, het die Haaie se doppie geklink.

    Die telling was 32-30 met die Haaie wat met ‘n bonuspunt tevrede moes wees. Die Haaie het drie drieë gedruk en die Griekwas twee.

    Almal is verdoel, maar die Griekwas het ses strafdoele oorgeklits teenoor die Haaie se drie.

    In vandag se twee ander wedstryde speel die Leeus op Ellispark teen die Cheetahs, terwyl die WP op Nuweland teen die Blou Bulle te staan sal kom.

  • Bees Roux keer tot rugby terug en swart gesin vergewe hom

    Bees Roux keer tot rugby terug en swart gesin vergewe hom

    Bees Roux
    Bees Roux

    Bees Roux sal binnekort as slot vir die Goue Leeus uitdraf, terwyl die familie van die swart metropolisieman van Pretoria, Johannes Nshimane Mogale, hom “onvoorwaardelik vergewe het”.

    In 2010 het die rugbyspeler die 38-jarige sersant op straat in Hatfield doodgeslaan en die jaar daarop in 2011 ‘n opgeskorte vonnis van 5 jaar tronkstraf ontvang. Van die voorwaardes van sy pleitooreenkoms was dat hy R750 000 se vergoeding aan Mogale se gesin betaal.

    Die breier van die Leeus, Johann Ackermann, het Maandag bevestig dat Roux (31) heel moontlik as slot gekies vir dié span gekies sal word tydens die komende Curriebekerseisoen. Volgens Manie Booysen, die uitvoerende hoof van die Goue-Leeus-rugbyunie (GLRU), is daar “tegnies gesproke hoegenaamd geen beletsel om Bees te kies nie. Dit sal jammer wees as mense sy betrokkenheid nou verkeerdelik wil beoordeel. Die ou het mos berou gehad.”

    Die unie het Roux self genader omdat hy tans probleme ondervind om sy slotposisies te vul. Roux sal tydens die Curriebekerreeks per wedstryd betaal word en het reeds gister saam met die res van die span in Johannesburg geoefen.

    “Ons kies hom ter wille van rugby en om geen ander rede nie. Hy is ‘n slot wat beskibaar is noudat hy van oorsee af teruggekeer het,” meen die afrigter, Johann Ackermann. Ons is in ‘n penarie aangesien daar geen ander spelers met ons ‘n kontrak geteken het nie, dus wil ons hom graag in die span intrek en kyk hoe dit gaan.”

    Die briewe waarin die Mogale-gesin hul vergiffenis aan Bees Roux uitspreek, het dit vir die unie makliker gemaak om na Roux as speler te kyk.

    “Ons het twee briewe wat uit 2011 en 2013 dateer, waarin die ouers en die gesin persoonlik hul seën daaroor uitspreek dat hy rugby speel en waarin hulle hom selfs vir Suid-Afrika wil sien speel,” het Ackermann gesê.

    “Dit het ons ‘n taamlik positiewe uitkyk gegee aangesien hulle (die familie) gewillig is om hom te vergewe en hom ‘n tweede kans in die lewe te bied.”

    ‘n Maand nadat hy op die aanklag skuldig gepleit het, het die Bloubulle-rugbyunie Roux weens kontrakbreuk afgedank en hy het later ‘n kontrak met die Franse klub, die Bordeaux-arende, opgeneem.

    In 2012 het hy by die Italiaanse span Treviso aangesluit, vir wie hy tot aan die einde van vanjaar se Europese seisoen gespeel het, terwyl hy ook in die Suid-Afrikaanse Barbare-span in hul wedstryd teen Saracens in Mei uitgedraf het.

    Pas nadat hulle ‘n plek in die 2014-Super-Rugby-toernooi deur ‘n punteverskil met die Suidelike Konings in hul promosie-relegasiewedstryde behaal het, bevind die Leeus hul in ‘n krisis wat die slotposisie betref.

    Kaptein JC Janse van Rensburg, wat die hoofanker in die voorry vir die Leeus was, het die span verlaat om vir Bayonne in Frankryk te gaan speel, terwyl Julian Redelinghuys oor die naweek ‘n langtermynbesering opgedoen het.

    “Ons kyk daarna om nog ‘n slot van iewers af te leen aangesien ons tans net drie fikse slotte in Ruan Dreyer, Jacques van Rooyen and CJ van der Linde het,” het Ackermann gesê.

    James Adams, Roux se agent, het gister gesê geen kontrak is gefinaliseer nie en hy onderhandel ook met ’n ander unie wat in Roux se dienste belangstel.

    Adams het toegegee plaaslike unies is versigtig om ’n kontrak met Roux te sluit.

    Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) meen die GLRU oortree geen regulasies met Roux se toevoeging tot hul oefengroep nie.

    “Daar is niks wetliks of grondwetliks wat spanne daarvan weerhou om spelers met ’n misdaadgeskiedenis te kies as hulle wil nie,” was Saru se kommentaar.

    Roux was nie giste vir kommentaar beskikbaar nie. – praag en Sapa

  • Leeus terug in Super Rugby

    Leeus terug in Super Rugby

    'n Leeus-ondersteuner op Ellispark
    ‘n Leeus-ondersteuner op Ellispark

    Die Leeus het gister hul weg terug na Super Rugby gevind, ondanks die loesing van 23-18 teen die Southern Kings tydens hul tweede promosie-relegasiewedstryd op Ellispark.

    Die Kings moes met meer as agt punt wen om in Super Rugby te bly, maar kon nie genoeg krag monster om hul oor die finale hekkie te loods nie.

    Dit is vooraf as een van dié wedstryde van die seisoen aangekondig. Maar die wedstryd het ietwat lusteloos begin vanweë die vele hanteerfoute wat in die eerste helfte gemaak is.

    Terwyl die Leeus die wedstryd as die oorweldigende gunstelinge aangepak het ná hul oorwinning verlede Saterdag in Port Elizabeth, het die Kings vroeg in die wedstryd die oorhand verkry.

    Die besoekers het in die 11de minuut die eerste punte aangeteken met Scott van Breda wat ‘n strafskop verdoel het.

    Van Breda het drie minute later die voorsprong vergroot, maar het die geleentheid verbrou om nog drie punte teen die 20-minute-merk in te oes.

    Terwyl Van Breda taamlik sukses met sy skoppe pale toe behaal het, het die Leeus se losskakel, Elton Jantjies met sy visier pale toe gesukkel.

    jantjies het drie van sy pogings pale toe verbrou, maar wat uiteindelik nie ‘n groot invloed op die spel sou hê nie.

    Desnieteenstaande sy sukkelende skopwerk, was die losskakel se balverspreiding flink en het hy die agterlyn op die voorvoet gehad.

    In die 23ste minuut het die Leeus hul eerste geleentheid verkry om die Kings se voorsprong te laat krimp, maar Jantjies se skop het kort van die dwarslat geval.

    Sewe minute later het hy egter geslaag en was sy span binne drie punte van die kusspan.

    Die tuisspan het toe vir die eerste keer in die wedstryd die voorsprong geneem, toe Derick Minnie vyf minute voor halftyd ‘n doel vanaf ‘n losskrum ná ‘n lynstaan aangeteken het, met Jantjies wat die doelskop verbrou.

    Die Kings het egter die laaste sê in die wedstryd gehad to Van Breda ‘n minuut voor pouse ‘n strafdoel behaal, wat die besoekers ‘n geringe eenpuntvoorsprong besorg het.

    Ná halftyd het die Leeus daarin geslaag om weer voor te kom deur ‘n strafdoel (11-9).

    Die Leeus se selfvertroue het toegeneem en sodoende het hulle hul tweede doel van die wedstryd aangeteken toe Jaco Kriel sy pad oor die doellyn baan, met Janjties wat met die skop slaag om ‘n negepuntvoorsprong te bewerkstellig.

    Die tuisspan se geluk het egter begin draai toe die senter Stokkies Hanekom met ‘n geelkaart vir ‘n pootjieduikslag in die 67ste afgestuur is.

    Een minuut later het die Kings se slot Schalk Ferreira hom oor die doellyn gewerp, met Van Breda wat oorskop om hul agterstand tot twee punte te verklein.

    Met sewe minute op die horlosie oor, het die Kings weer punte aangeteken met Van Breda wat ‘n doel in die hoek druk en self met die doelskop slaag. Daarmee was die besoekers vyf punte voor.

    Maar die oorwinning sou vir die Kings bittersoet wees, aangesien hulle agt punte nodig gehad het om on Super Rugby aan te bly.

    Toe die skeidsregter Stuart Berry die einde van die wedstryd aankondig, bars Ellis Park los met die Queen-liedjie, We are the champions wat deur die stadion weergalm.

    As referee Stuart Berry signaled the end of the match Ellis Park erupted with Queen’s We are the Champions echoing through the stadium.

    Punte deur:

    Leeus 18 (8): Doele: Derick Minnie, Jaco Kriel. Doelskoppe: Elton Jantjies. Strafskoppe: Jantjies (2)

    Southern Kings 23 (9): Doele: Schalk Ferreira, Scott van Breda. Doelskoppe: Van Breda (2). Strafskoppe: Van Breda (3). – sapa

  • Seisoen verby vir Bulle se Hougaard, Stegmann

    Seisoen verby vir Bulle se Hougaard, Stegmann

    Stegmann, Hougaard in 2010
    Stegmann, Hougaard in 2010

    Deur Koos Venter.

    Die nuus dat Francis Hougaard en Deon Stegmann albei binnekort geopereer word vir ernstige beserings, en dus nie vanjaar weer rugby sal speel nie, is die nuuste terugslag vir die Blou Bulle wat na dese só uitgedun is voor die Curriebekerreeks dat hulle waarskynlik die jongste en mees onervare span in dié toernooi gaan

    wees.

    Met slegs tien dae oor voor die Curriebekerreeks vir 2013 afskop, het die krisis in die Bloubul kamp op Loftus Versfeld hierdie week vergroot toe daar aangekondig is dat nog twee senior Springbokke nie weer vanjaar vir die Bulle in aksie sal wees nie.

    Dié twee Springbokke, Francois Hougaard en Deon Stegmann, word albei binne die volgende week vir onderskeidelik ’n skouer- en ’n enkelbesering geopereer en sal dus nie weer vanjaar kan speel nie.

    Hierdie nuus is nie net sleg vir die Blou Bulle nie, maar ook vir die Springbokke, wat binnekort met hul veldtog in die Castle Rugby Kampioenskap teen Nieu-Seeland, Australië en Argentinië begin. Hoewel Stegmann waarskynlik nie tans in Springbok afrigter, Heyneke Meyer, se visier is nie, was Hougaard se betrokkenheid by die Springbokspan ’n formaliteit.

    Hougaard se besering en operasie beteken dat die Springbokke waarskynlik vanjaar die Castle Rugby Kampioenskap met twee skrumskakels sal aandurf wat albei hul klubrugby oorsee speel. Ruan Pienaar wat tans vir Ulster in Ierland speel is van verlede jaar af al deel van Meyer se planne, terwyl sy derde keuse in dié posisie naas Hougaard en Pienaar, Jano Vermaak, ook kort na die SupeRugby halfeindrondte na Toulouse in Frankryk vertrek het, waar hy vir die volgende twee seisoene sy rugby gaan speel.

    Stegmann was waarskynlik die sterkste kandidaat om die Blou Bulle in vanjaar se Curriebekerreeks te lei, nadat die ander kandidate vir die kapteinskap ook òf beseer is òf oorsee verkas het. Pierre Spies sal weens ’n besering eers weer in 2014 rugby speel, terwyl Dewald Potgieter na Japan uitgewyk het waar hy vir die Yamaha-span gaan speel.

    Saam met Potgieter en Vermaak het nóg vyf senior spelers Pretoria die afgelope maand verlaat. Hulle is Chiliboy Ralepelle (Frankryk), Juandré Kruger (Frankryk), Jacques Potgieter (Japan), Morné Steyn (Frankryk), Wynand Olivier (Frankryk) en Zane Kirchner (Ierland).

    Voeg hierby Spies en Arno Botha se langtermyn beserings en die feit dat Flip van der Merwe, Jan Serfontein, JJ Engelbrecht en Bjorn Basson waarskynlik almal by die Springbokke betrokke gaan wees, en dit word duidelik dat die Blou Bulle se diepte tot die uiterste beproef gaan word in die Curriebekerreeks wat op 10 Augustus afskop.

    Die Blou Bulle sal dus kan reken op slegs die stutte, een slot en een vleuel wat vir die Curriebekerreeks gaan oorbly uit die span wat verlede Saterdag in die halfeindrondte teen die Brumbies op die veld gedraf het. Pine Pienaar, die Bou Bulle se Curriebeker afrigter, sal dus byna ’n hele nuwe agterlyn en drie nuwe losvoorspelers moet vind vir sy Curriebeker veldtog.

    Verlede jaar moes die Blou Bulle baie hard werk om in die Curriebekerreeks onder die top vier spanne te eindig, terwyl hulle die vorige jaar selfs gesukkel het om nie laaste (sesde) te eindig en by ’n promosie-relegasie wedstryd teen die top span uit die Eersteliga betrokke te raak nie.

    Vanjaar sal die stryd soveel groter wees, want Pienaar sal moet terugval op jong en onervare spelers om sy Curriebekerspan vol te maak.

    Daar word verwag dat die OP Kings met ’n groot aanslag gaan kom om te probeer om vanjaar na die Premierliga-afdeling van die Curriebeker bevorder te word. Hoewel hulle tans vyfde op die punteleer in die Eersteliga-afdeling is, sal hulle vanaf volgende naweek en basies die hele tweede rondte van dié kompetisie al hul SupeRugby spelers beskikbaar hê vir hul Curriebekerspan. Dit is dus nie onmoontlik dat hulle die Pumas, wat tans tien punte voor hulle op die punteleer lê, sal kan inhaal en selfs dié liga kan wen nie.

    Indien die OP Kings dit regkry om vir die promosie-relegasie wedstryd te kwalifiseer teen die laagste span op die Premierliga-afdeling, kan dit aanvaar word dat die rugbymagte in die Oos-Kaap alles in hul vermoë sal doen om gepromoveer te word.

    Die Blou Bulle sal dit dus nie kan bekostig om enige kanse te vat om in so ’n wedstryd betrokke te raak met ’n jong en onervare span nie. Daar sal enorme druk wees op die Blou Bulle om selfs na die verlies van soveel top spelers én sonder die hulp van hul Springbokke steeds te presteer in die komende Curriebekerreeks. Die Springbokke speel hul laaste toets in die Castle Rugbykampioenskap op 5 Oktober, wat beteken dat die Blou Bulle se Springbokke eers in hul laaste ligawedstryd van die Curriebekerreeks, wat op 12 Oktober sal gespeel word, beskikbaar sal wees. Op daardie stadium behoort die spanne se lot op die punteleer reeds bepaal te wees. – looklocal.co.za

  • Swemmers vol vertroue vir eindstryd

    Swemmers vol vertroue vir eindstryd

    Van der Burgh
    Van der Burgh

    Die Suid-Afrikaanse swemmer Chad le Clos sê hy is ontspanne en vol vertroue voor vanaand se eindronde in die 200 meter vlinderslag by die Wêreld Swemkampioenskappe in Barcelona, Spanje.

    Le Clos is een van drie Suid-Afrikaanse swemmers wat vanaand in eindrondes swem. Cameron van der Burgh en Giulio Zorzi het gekwalifiseer vir die eindronde van die 50 meter borsslag.

    Le Clos en Van der Burgh is albei die gunstelinge om hulle eindrondes te wen, nadat hulle met die vinnigste tye gekwalifiseer het.

    Van der Burgh het Maandag die silwermedalje in die 100 meter borsslag gewen.

  • Kings kry pak, Bulle pak Brumbies

    Dewald Potgieter
    Dewald Potgieter

    Die Leeus het die eerste van twee promosie-relegasiewedstryde vir aanstaande jaar se Superrugbyreeks teen die Southern Kings in Port Elizabeth met 26-19 gewen, berig RSG.

    Vir die Leeus het Stokkies Hanekom altwee hul drieë gedruk, terwyl Elton Jantjes ‘n skitterende wedstryd gehad en 14 punte bygevoeg het.

    Sy eweknie by die Kings, Demetri Catrakilis het self nege punte bygedra, terwyl Marcello Sampson en Steven Sykes die driedrukkers was.

    Die Oos-Kaapse Premier, Noxolo Kiviet, het Donderdag die provinsie se Superrugby se geliefde ANC-franchise besoek om hulle sterkte toe te wens, maar dit het toe nie vir die nodige punte gesorg nie.

    Die wenner van die valbyl-reeks sal tot 2016 van ‘n plek in die toernooi verseker wees.

    Die tweede en finale uitspeelwedstryd is aanstaande naweek op Ellispark in Johannesburg.

    Die twee halfeindrondewedstryde in vanjaar se reeks word Saterdag gespeel. In Hamilton, Nieu-Seeland speel die Chiefs teen die Crusaders in die Waikatostadion, en die afskop is net na halftien vanoggend.

    Op Loftus Versfeld sal die Bulle, Jake White se Brumbies net na vyfuur vanmiddag pak. Die wenner van die stryd in Hamilton sal aanstaande Saterdag teen die wenner van die wedstryd in Pretoria te staan kom.

    Die Brumbies het ‘n onveranderde span aangekondig vir die Superrugby-halfeindwedstryd.

    “Die Bulle gaan ‘n reuse-uitdaging wees die naweek. Ons weet dat hulle met hul voorspelers gaan speel en Morné [Steyn] gaan gebruik om die punte te kry,” het die span se afrigter, Jake White, tydens Woensdag se aankondiging gesê.

    Indien die Crusaders en die Bulle hulle onderskeie wedstryde wen, is die eindstryd op Loftus Versfeld. Indien die Chiefs en die Bulle wen, sal die eindstryd in Nieu-Seeland gespeel word.

    Bulle:

    15 Zane Kirchner, 14 Akona Ndungane, 13 JJ Engelbrecht, 12 Jan Serfontein, 11 Bjorn Basson, 10 Morne Steyn, 9 Francois Hougaard, 8 Dewald Potgieter (kaptein), 7 Jacques Potgieter, 6 Deon Stegmann, 5 Grant Hattingh, 4 Flip van der Merwe, 3 Werner Kruger, 2 Chiliboy Ralepelle, 1 Dean Greyling PLAASVERVANGERS: 16 Callie Visagie, 17 Frik Kirsten, 18 Morne Mellett, 19 Paul Willemse, 20 Jono Ross, 21 Jano Vermaak, 22 Jürgen Visser

    Brumbies:

    15. Jesse Mogg, 14. Henry Speight, 13. Tevita Kuridrani, 12. Christian Lealiifano, 11. Clyde Rathbone, 10. Matt Toomua, 9. Nic White, 8. Ben Mowen (kaptein), 7. George Smith, 6. Peter Kimlin, 5. Sam Carter, 4. Scott Fardy, 3. Ben Alexander, 2. Stephen Moore, 1. Scott Sio PLAASVERVANGERS: 16. Siliva Siliva, 17. Ruan Smith, 18. Fotu Auelua, 19. Colby Faingaa, 20. Ian Prior, 21. Andrew Smith, 22. Joe Tomane

  • Hansie Cronjé se saak weer opgerakel

    Hansie Cronjé se saak weer opgerakel

    Hansie Cronjé
    Hansie Cronjé

    Indiese polisie het aanklagte teen verskeie beroepswedders voorberei 13 jaar ná ‘n wedstryd-skandaal wat die gewese Suid-Afrikaanse krieketkaptein, Hansie Cronjé, uitgesonder het, het ‘n polisie-bron gesê.

    Polisie in Nieu-Delhi het ‘n “gedetailleerde klagstaat” teen vyf beroepswedders voorberei, het die bron gesê.

    Die optrede kom nadat Delhi se polisiehoof Neeraj Kumar aan plaaslike media gesê dat hy beplan om aanklagte in te dien oor die Cronjé-wedstrydknoeiery-saak en IPL-wedstrydknoeiery voor die einde van die maand.

    Kumar het aan die Hindustan Times Saterdag gesê dat hy ‘n ” paar los punte” voor sy aftrede aan die einde van Julie, insluitend beide gevalle, wil opklaar.

    Die Indiese Premierliga (IPL) is geruk deur bewerings van wedstrydknoeiery in Mei vanjaar met sowat 29 mense wat in hegtenis geneem is, waaronder drie Indiese spelers.

    Cronje is verban uit die spel vir die res van sy lewe in Oktober 2000, ses maande na Delhi polisie hom beskuldig het van omkopery deur die Indiese beroepswedder Sanjeev Chawla tydens sy span se toer na Indië in dieselfde jaar.

    Polisie sê Cronje het geld aanvaar van Chawla vir onder-presterende optrede tydens die eendagreeks in Indië en spanmaats Herschelle Gibbs, Nicky Bojé en Pieter Strydom oorgehaal om aan boord te kom.

    Cronje is afgedank as kaptein ná ‘n Suid-Afrikaanse ondersoek omdat hy $10000 (sowat R99000) en $15000 (sowat R148000) van Chawla aanvaar het.

    Die polisie kan as bewys “honderde bladsye” van telefoonoproeprekords tussen Cronjé en Chawla uithaal, het die bron gesê.

    Chawla woon glo in die Verenigde Koninkryk en die Indiese polisie hoop op sy uitlewering nadat die klagstaat voor die hof geplaas is. Die klagstaat sal waarskynlik geen melding van Gibbs of Bojé maak nie.

    Cronjé is in 2002 op die ouderdom van 32 jaar dood toe ‘n ligte vliegtuig waarin hy op reis was neergestort het.

  • Handskoen en harpuis: Boks, die manlike kuns

    Ons weet nie veel van die apostel Paulus se persoonlike lewe en voorkeure af nie, maar dít weet ons: Die man het sy boks geniet. Hy gebruik dit om ’n doelgerigte geloofslewe te beskryf. “Ek is nie soos ’n bokser wat net lug raakslaan nie,” beduie hy in een van sy sendingbriewe. Dit is moeilik om die denker wat liefde as “die uitnemendste” innerlike natuurkrag beskryf het, met die kryt te versoen, maar in die twee millennia daarna sou daar ’n ontelbare skare mans – en ’n beduidende aantal vroue – wees wat iets roerend en selfs edel in dié sport gevind het.

    Om suksesvol te oorleef, te koester, te bou en te beskerm, hang van die krag en sekerheid van die mens se instinkte af. Die man van vervloë dae wat in die nag uit sy slaap opspring en ’n knuppel opneem om sy huis en haard te beskerm, het nie die luuksheid van onsekerheid gehad nie. Die oomblik wat dit sou neem om te bepeins of hy moet of nie moet slaan nie, kon sy en sy gesin se ondergang beteken het. Hoewel die noodsaak vir dié soort paraatheid verdwyn het met die totstandkoming van die moderne staat en sy sekerheidsmagte, is die manlike instinkte nie sondermeer afgeskakel nie, en ’n aktiewe instink bou voortdurend druk op om uitgeleef te word.

    Die meeste mans het nou nog die drang tot aksie, om met ’n teenstander slaags te raak, om diep in homself te moet delf om neerlaag te voorkom en oorwinning te behaal. Die mens het homself deur die eeue gekondisioneer om hierdie drang óf persoonlik, óf deur die dade van ’n ander uit te leef, en dit, in ’n neutedop, verduidelik die herkoms van sport. Van die vroegste tye af kon sterk, fikse manne ander, minder fisies gegoede, mans kry om hulle te betaal om teen ander sterkmanne te veg. In Romeinse tye was dit die gladiator wat die gemeenskap se verbeelding gekaap het. Die Middeleeue het die verskynsel van die ridderkampvegter gebaar. In die laat negentiende eeu en deur die eerste driekwart van die twintigste eeu was boks die primêre skouspel waarmee die gemeenskap sy versugting vir aksie bevredig het.

    In die eerste vyf twintigste-eeuse dekades was boksers dikwels meer bekend en gewild as filmsterre. Hulle is gesien as iets amper bomenslik. Die gedagte dat ’n man die veiligheid van ’n kleedkamer sou verlaat, homself sou inhok in ’n verhewe kamp van hoekpale en toue waar hy homself in die openbaar fisies, net met sy vuiste, vernuf en vasberadenheid, moes verdedig teen ’n geweldenaar, het ’n hol kol op die toeskouer se maag en ’n bewondering in sy gemoed gelaat. En as bystander was hy nie onbetrokke in die stryd nie. Omdat hy ’n paar pennies vir ’n kaartjie betaal het, óf omdat hy hom bloot vereenselwig het met een van die boksers, is hy emosioneel by die geveg ingesleep. Anders as in ’n rolprent waar die held beskerm is deur draaiboekskrywer en regisseur en waar filmateljees ingestel was om gehore met ’n verkose uitslag te bedien, was daar nooit enige waarborge in boks nie. Geen geveg was ooit ’n uitgemaakte saak nie. Die bokser se oorwinning het aan sy ondersteuners ook behoort, maar sy neerlaag is emosioneel net so intens deur sy volgelinge beleef.

    Die boksers het uit ’n ander wêreld verskyn. Hulle habitat was dié van dofbeligte gimnasiums met oefenkryte, slaansakke, gebiedende afrigters en afgeleefde oudstryders wat met raad en daad rondgeslof het teen ’n agtergrond van mure vol vergeelde toernooiplakkate en foto’s van vergange helde in hulle fleur te midde van die stryd tussen die toue vir ewig vasgevang. Boks het die verbeelding aangegryp, juis omdat dit so ryk aan stories was en elke geveg het die lewensverhale van twee manne vir die duur daarvan laat saamdruis. Soos in die beste verhale, is die rykheid van karakter deurslaggewend en in geen sport was die karakters ooit meer kleurvol as in boks nie.

    Bokskampioene het soos gode te midde van sterflinge gewandel, wesens van legende en mite. Hulle heldedade is ontleed, bespreek, besing en toegejubel. Anders as tans, was daar op enige gegewe tyd op die meeste net agt gewigsafdelings en dus net agt wêreldkampioene. Die gemiddelde mens se kans om tydens sy leeftyd drie keer deur weerlig raakgeslaan te word, was aansienlik beter as om ’n wêreldkampioen – heersend of voormalig – te ontmoet. Boksers was deels sportman, deels sprokiesheld. Hulle het monsters verslaan, vuurwarm geleef en vroeg uitgebrand. ’n Volk het sy helde nodig gehad, en boks het baie van hulle verskaf.

    Die Goue Tyd van boks was sekerlik van die 1930’s tot die 1980’s. Kampioene was skaars en dus verhewe, veral in die mees gevierde gewigsklas van die swaargewigte. Enige boksentoesias kon die opeenvolging van kampioene van, sê nou maar, John L. Sullivan, tot en met Larry Holmes resiteer, soos wat rojaliste die dinastie van konings in vroeër jare kon opsê. Daar was Sullivan, boks se eerste wêreldfiguur wat verslaan is deur “Gentleman” Jim Corbett, wat die kroon afgestaan het aan Bob Fitzsimmons waarna dit deur verskeie hande gegaan het voordat die verafskude Jack Johnson die eerste swart wêreldkampioen in 1908 geword het en dit sou bly totdat ’n knoorse plaasseun, Jess Willard, hom in 1915 kis geslaan het en daarna self verrinneweer is deur die “Manassa Mauler,” Jack Dempsey, wat ’n legende van verwoesting was totdat hy deur ’n belese marinier, Gene Tunney, geklop is en die titel later deur Tunney met sy aftrede afgestaan is aan die Duitser Max Schmeling wat verslaan is deur die geslepe Jack Sharkey wat op sy beurt oordonder is deur die reusagtige Primo Carnera wie se heerskappy skouspelagtig kortgeknip is deur die vernietigende grapjas Max Baer wat op sy beurt deur die depressieheld James Braddock verras is voordat die Joe Louis-era begin het met die negerbokser se oorwinning oor die veelgeroemde “Aspoestertjieman,” ’n era wat eers twaalf jaar later met Louis se uittrede tot ’n einde sou kom en waarna Ezzard Charles die vakante titel gebuit het en later Jersey Joe Walcott sou afstaan voordat dit deur die genadelose Rocky Marciano gebuit is en syne tot en met sy uittrede as die enigste onoorwonne swaargewigkampioen gebly het, waarna Floyd Patterson dit gewen, aan Ingmar Johansen (wat die laaste blanke kampioen vir ’n baie lang tyd sou wees) afgestaan en toe weer teruggewen het, waarna hy deur Sonny Liston verpletter is en dit by Liston deur ’n opkomende jong grootbek, Cassius Clay, weggestroop is…

    Cassius Clay het natuurlik, tot die groot vermaak van ’n Westerse wêreld wat toenemend aan selfhaat begin ly het, homself herontwerp as Muhammad Ali. Die liberale pers het in alle ywer van hom die sport se grootste megaheld gemaak, ’n ikoon op die vlak van Suid-Afrika se mislukte terroristeleier, Nelson Mandela. Die Ali-legende is oor sowat twee dekades geskep, van sy opkoms as jong ster tot sy finale, verkleinerende nederlaag teen Larry Holmes in die vroeë tagtigs. ’n Gevegslegende kan nie sonder formidabele teenstanders geskep word nie, en Ali is goed gedien met veral Ken Norton, Joe Frazier en George Foreman wat almal ’n holte in die heldemuur vir hulleself verdien het.

    Die val van Ali het sy koninkryk laat versplinter. Verskeie boksbeheerliggame het gesampioen en elkeen het ’n sny van die uiters winsgewende koek probeer kaap. Skielik was daar twee, drie, vier, en nou wie weet hoeveel, beheerliggame, elkeen met sy eie kampioen. Die aansien van die bokser as volksheld het verdof.

    Suid-Afrikaners het deur die dekades hulle eie bokshelde gehad. George Hunter het in 1948 ’n goue medalje en die toekenning vir die mees wetenskaplike bokser by die Olimpiese Spele gewen. In die vyftigerjare het die Toweels, ’n Lebanese familie van die Oos-Rand, die vaandel gedra. Vertellinge van hulle krytdade het die grondslag gelê vir my eie belangstelling in boks.

    My twee oupas het nie veel in gemeen gehad anders as hulle liefde vir boks nie. Oupa Willem (Roux) was kort, vasberade en ’n predikant in Boksburg. Oupa Flip (Venter) was kort, veglustig en meermale burgemeester van Boksburg. Volgens oorlewering kon hyself ’n bokser van formaat gewees het. Hy was diep betrokke by die opheffing van armblankes in Boksburg en het op ’n keer gereël dat van die ouer mans as skoonmakers kon werk. Ene Floyd, ’n dorpsamptenaar het hulle gestuur om die lokasies se strate te gaan vee. Toe Oupa Flip dit hoor, het hy afgesit na die munisipale kantore. Hy het vir Floyd, wat ’n goeie kop langer as hy was, by die trappe van die munisipale kantore raak geloop en hom met een magtige regterhaak neergevel. Die oumense het die tien pond waarmee hy beboet was, ingesamel.

    Oupa Flip, soos die res van Suid-Afrika, was in ekstase toe Viccie Toweel Suid-Afrika se eerste wêreldkampioen geword het met ’n titaniese geveg teen die legendariese Manuel Ortiz. Toweel het sy titel ’n keer of wat suksesvol verdedig voordat hy deur die toue geklim het vir ’n ontmoeting met ’n bleek Skot, Jimmy Carruthers. Oupa Flip het homself met sorg en bewende afwagting voor die radio tuisgemaak. Toe die openingsklok lui, het hy gevroetel vir ’n sigaret en gedemp geswets toe hy besef hy het dit in die kombuis laat lê. Die spanning sou vir hom te veel wees, en hy het kombuis toe en terug gewikkel, en so het hy die hele geveg misgeloop. Carruthers het vir Toweel binne sekondes uitgeslaan.

    Toweel sou vir een-en-twintig jaar ons enigste wêreldkampioen wees.

    In 1973 het die spanning en die glorie van boks my vir die eerste keer werklik aangegryp. Ek was toevallig saam met vriende op ’n familieplaas in Nylstroom en ons het rondom die groot staanradio in die sitkamer vergader, die grootmense op stoele en ons kinders wat op ons mae met ons kenne in ons hande gestut gelê het. Daardie rooi mat met die Oosterse patroon op, die bal-en-klousitkamerstel en die vertoonkas en die kombuisreuke en die plaasnaggeluide sal in my geheue altyd verbind wees met die glorie en atmosfeer van boks.

    Arnold Taylor, ’n koekiebakker van Johannesburg (regtig!), het na ’n moeisame weg deur die rangordes ’n titelgeveg met die wêreldkapokgewigkampioen, Romero Anaya, van Meksiko afgedwing. Dit was ’n bloedige uitmergelstryd, en die drama daarvan is in my jong gemoed versterk deur die feit dat ek dit net kon hóór, elke trefslag van handskoen teen vlees, die geskuifel van boksskoene op harpuis, die histeriese geloei van die skare en die masjiengeweervoordrag van die kommentator. Ek was aangegryp en dit het vir my belangrik geword dat Arnold Taylor sou wen, en na die vyfde rondte, waarin hy tweemaal platgeslaan is, het dit vir my ’n obsessie geword.

    My hartklop het versnel, my asemhaling vinniger en vlakker, en ’n drukking van afwagting het in my opgebou en daarmee saam ’n desperate begeerte dat my wil deur die vuiste van Taylor sou geld. Anaya was ’n ware kampioen, ’n tipiese Meksikaanse bokser, tegnies bedrewe, glibberig, gesout en met knalkrag in beide hande. Taylor het ’n goeie regterhaakhou gehad en vragte moed en… en eintlik was dit al. Hy was ’n maklike teiken vir Anaya en sy stokkerige bewegings het sy voornemens blootgelê.

    Anaya het hom nog drie keer in die agste planke toe gestuur en nog drie keer het Taylor opgestaan. Hy het nie ’n duim se grondgebied prysgegee nie; eerder onverskrokke en meedoënloos vorentoe op die aanval geskuifel en net nooit opgehou slaan nie. Teen die veertiende rondte was hy, verstommend genoeg, nog steeds op sy voete, steeds op die aanval. Anaya was nou al moedeloos; moedeloos om Taylor te slaan en moedeloos om geslaan te word. Tog was hy so ver voor op punte, só in beheer van die geveg en onstuitbaar… Soos ’n donderslag uit blou lug het Arnold Taylor oorgehaal en ’n verwoede regterhaak geslinger: ’n Voltreffer!

    “… en hy slaan soos ’n dooie os neer!” het die kommentator gegil. (Later, toe ons uittreksels van die geveg in die nuusprent in die inryteater gesien het, was dit opvallend dat Anaya se agterkop vóór sy hakke die krytvloer getref het.)

    En skielik was daardie plaassitkamer in die Nylstroom-distrik vol gillende, huppelende, vuispompende mense. Sekondes tevore was ek uitgeput, asof ek persoonlik drie keer in ’n rondte platgeslaan is, verkleineer, afgetakel, lusteloos en van nederlaag oortuig. Daardie sekondes wat dit vir skeidsregter Stan Christodoulou geneem het om vir Anaya uit te tel – en dit was ’n lang telling want ’n oorstelpte Taylor wou nie na ’n neutrale hoek gaan nie – was ’n hele epog van spanning, hoop en groeiende ongeloof. Teen die tyd wat die Meksikaan uitgetel was, was ek vol energie, jubelend, huppelend. Dit was asof ék persoonlik tussen die toue was, asof ek die wetenskaplike vernietiging van Romero Anaya oorleef het, asof dit mý regterhaak was wat hom omtrent onthoof het. Arnold Taylor was ’n bloedige held en het van honderde duisende manne daardie aand helde gemaak. Dis net, ek was nie vol kneusplekke nie en Anaya het nie bloed getrek uit een van die ander luisteraars nie. Taylor, aan die anderkant, het gelyk asof hy heen-en-weer deur ’n hamermeul is. En dit is waarom hy die prysgeld wat hy ontvang het – en daardie dae was dit relatief min – dubbel en dwars verdien het.

    Vir my, en die wyer Suid-Afrikaanse publiek, het daardie November-aand in 1973, ’n nuwe en vurige belangstelling in boks ingelui. En ’n panteon bokshelde het reg gestaan om ons saam met hulle in die kryt te neem, manne met verskillende benaderings, tegniese swak- en sterkpunte, en, bowenal, persoonlike verhale en karakters, manne soos Pierre Fourie, Charlie Weir, Andries Steyn, Brian Mitchell en die swaargewigviertal Mike Schutte, Kallie Knoetze, Gerrie Coetzee en Jimmy Abbott.

    Volgende keer vertel ek meer van hulle, en hoe boks as deel van die volksbewussyn verwelk het, en ek nooi julle om saam met my te onthou.

    топкарго отзывы

  • Stormers hou die fort Doeroender

    Dit is ’n beproefde waarheid in voetbal dat ’n goeie offensief wedstryde wen, maar ’n hegte verdediging wen toernooie. In die wortel van dié twee benaderinge is daar uiteenlopende strydfilosofieë: Die aanvallende span reken daarop om te wen deur meer punte as die ander span te kry terwyl die verdedigingsgesinde span daarop ingestel is om te sorg dat die ander span minder punte as hulle kry. Die Reds het verlede jaar, in weerwil van bogenoemde aanname, die Super Rugby-toernooi aanvallenderwys gewen met ’n offensief wat om die oëverblindende hanteer- en voetwerk van Quade Cooper gekonstrueer was. Hy is tans op die kroklys, maar nog steeds probeer hulle die aanvallende voetbal van verlede jaar speel. Die lollery is wanneer hulle nou teen ’n goed-georganiseerde verdediging te staan kom en dis wat vroeër vandag in Australië teen die Stormers gebeur het.

    Die Rooi wedstrydstrategie was ’n eenvoudige een: Kry die bal en hou aan daarmee dryf en hardloop totdat daar ’n bres in die verdediging verskyn. Wel, die Stormers-verdediging was ’n slot waarvoor die Reds nie ’n sleutel kon vind nie. Sodra die Reds in aanvalsformasie kom, vorm die Stormers se verdediging op, ongestoor, ongejaag, presies seker waar die brandpunte in die offensief is en hoe hulle dit gaan snuit. Hulle het so ’n goeie begrip van die ruimtes tussen hulle dat die lyn, of soms die kurwe, deurentyd heg bly. Dit is ’n plesier om hierdie verdedigers aan die werk te sien. Daar is nie een werklik verwoestende verdediger onder hulle nie – Juan de Jongh kom seker die naaste daaraan – maar die verstandhouding, vertroue en kommunikasie tussen die verdedigers is op die kop. Wanneer ’n aanvaller in die skootsvak kom, word daar oombliklik besluit wie sy pale gaan lig.

    Daar is egter nóg ’n element in die verdediging en dit is die swerwende jagters. Selfs wanneer die verdedigingslinie faal, is dié verdedigers volspoed in posisie om die ontsnappende aanvaller neer te vel.

    Die Stormers verstaan ook dat die werk nie klaar is wanneer die bal grond toe gaan nie. Die losbal word genadeloos gejag, nie net deur die losvoorspelers nie, maar deur elkeen binne trefafstand. Die Reds het net nooit die luuksheid gehad om ’n bal te laat rondlê nie en dit was veral Tiaan Liebenberg en Gio Aplon wat vinnig op los goed geteer het. Boonop het die Stormers die vermoë ontwikkel om rondom die losskrum met vinnige verdediging te verras. Telkemale is ’n Reds-speler afgehaal om te sien dat hy die bal afgestaan het omdat ’n verdediger opgeduik het net waar hy nie verwag of gewens was nie. Dit het alles veroorsaak dat die Reds se tyd om ’n aanval in te rig baie beperk was.

    Einstein het gesê dat ’n kranksinnige mens iemand is wat ’n eksperiment oor en oor herhaal en elke keer ’n ander uitslag verwag. Om deurlopend aan te val met dieselfde resultaat – nóg ’n uitgedoofde aanval, nóg ’n verlore bal, nóg ’n bal wat skielik terug geskop word oor al daardie meters wat jy so duur gekoop het – laat ’n span naderhand effens mal voorkom en dis wanneer ’n speler wat normaalweg nugter dink, soos Will Genia, sotlikhede aanvang, soos om te reken hy kan die vlakopstormende Stormers-linie koudsit met ’n boogskoppie uit sy eie kwartgebied. Die gevolg was ’n teenaanval waarin Kitshof, die jong kerriekopstut fyntjies langs die kantlyn afgetrippel het, op een of ander manier binne gebly het en die bal aangestuur het na Aplon wat weer sy aangee te midde van ’n sweepslaglak nie vir iemand nie, maar na ’n algemene area, gegooi het waar dit tog opgeraap is en die ander aanvallers kon deurslaan. Uiteindelik was dit Peter Grant wat tussen oorhoopse Reds-verdedigers deurgedwaal het vir ’n drie.

    Die Stormers se ander drie was ’n langafstandspanpoging wat uiteindelik voltooi is deur Gio Aplon. Grant se korrel was die hele aand in en na al die Reds se harde werk was dit die Stormers wat gaan lemoenskyfies eet het met ’n voorsprong van 17-3.

    Toertamheid het die Stormers in die tweede helfte gevang en van teenaanvalle was daar nie sprake nie. Hulle is verrinneweer in die skrums en het net soms hulle eie lynstaanballe gewen. Maar die verdediging het steeds gehou. Die Reds se enigste drie was nie die vrug van volgehoue, deurpriemende aanvalle nie, maar van ’n lynstaanblaps deur die Stormers net buite hulle doelgebied. Deon Fourie het die bal eenvoudig oor sy slotte gegooi tot waar James Horwill losgestaan en die bal sonder ’n verdediger voor hom gevang het. Vyf maklike treë vir ’n drie.

    Dit was die Reds se enigste punte in die tweede helfte en die Stormers kon self net twee strafskoppe se punte insamel vir ’n 23-10 oorwinning.

    ’n Mens sou wou sien dat die Stormers se gevaarlike agterlyn meer bestendig begin vuur. Maar selfs sonder trosse drieë, as dit bloot van hulle verdediging afhang, kan die Kapenaars hierdie jaar dwarsdeur druk en die hand aan die trofee slaan.

    лобановский александр дочь

  • Krieketster in kaping doodgeskiet

    ‘n Voormalige Namibiese en Suid-Afrikaanse krieketspeler Louis Vorster is in Muldersdrift doodgeskiet Dinsdagaand, het Gautengse polisie gesê.

    Hy het ‘n vulstasie verlaat toe ‘n goue Volkswagen met twee swart mans sy pad geblokkeer het, het gesê Lt-Kol Tshisikhwawe Ndou.

    Een van die mans het ‘n skoot na hom geskiet, terwyl die ander na die passasierskant van sy voertuig geloop het en ‘n sak gegryp het. Hulle het gevlug.

    “Hy was op die toneel dood verklaar,” sê Ndou, en het bygevoeg dat ‘n moordsaak geopen is. Hy kon nie bevestig of die persoon Vorster was nie.

    Vroeër Dinsdagaand, het Sport 24 berig oor die nuus van Vorster se dood op die sosiale netwerk-webwerf, Twitter.

    Die omstandighede rondom sy dood was duidelik nie, maar hy is buite Pretoria geskiet het, het hulle berig.

    Onder die twiete was een van die Proteas se Albie Morkel: “Vanaand huil ek soos ‘n baba oor ‘n verlore groot vriend. Rip Louis Vorster … # anothercrimevictiminSA!!”

    Voormalige Proteas-draaibouler Pat Symcox het getwiet: “Louis Vorster ex-krieketspeler doodgeskiet buite Pta vermoor soooo sooo hartseer. Wat ‘n mooi man!”

    Die Proteas se kolwer, Jacques Rudolph: “Nog ‘n sinnelose moord in SA … RIP Louis Vorster”.

    Daar was ook ‘n pos deur die Suid-Afrikaanse swemmer Ryk Neethling: “‘n groot man se lewe is met geweld geëindig vanaand RIP Louis Vorster.”.

    Vorster het sy eersteklas debuut gemaak in die 1985/86 seisoen en Noord-Transvaal, Noord-Wes, Namibië, Matabeleland, Transvaal en die graafskap van Worcestershire in Engeland verteenwoordig.

    Sy laaste genoteerde eersteklaswedstryd vir Namibië teen Oostelikes in Windhoek was in Oktober 2009.

    Hy het 4786 eersteklaslopies teen ‘n ​​gemiddeld van 33,23 behaal, met ‘n hoogste telling van 188.

    Александр Фильчаков Васильевич