praag.co.za

Category: Herman Toerien

  • Om net die helfte te ken

    Onlangse syfers dui daarop dat die onderwys in Suid-Afrika moet uithaal om nie die heel vrotste in die wêreld te wees nie. Hieroor meen Herrie is nou al genoeg geskryf, en om iets te doen daaraan is nou die aangewese ding. Soos om nog ‘n kurrikulum of twee uit te dink. Gelukkig is daar skole wat steeds puik doen, danksy puik onnies en puik leerlinge.

    Maar die swakkes is in ‘n soort worsmasjien, en baie kom op universiteit aan, waar hulle skielik op ‘n ander vlak moet meeding.

    Onlangs vertel ‘n dosent hy het onder druk van die universiteitsowerhede gekom oor die vreeslike hoë druipsyfer in veral sy Engelstalige klas. Laer kan hy nie met standaarde laer nie, want dis immers die universiteit, nie kindertuin nie. Toe besluit hy hy gee die vrae vooraf vir die studente, amper soos ‘n oop boek-toets.

    Die klasse kry ruim tyd om die vrae af te skryf, en te gaan leer.

    Die aand voor die toets kry hy ‘n benoude oproep van ‘n student wat wil weet op watter bladsye van die handboek is die antwoorde vir die vrae! Hy staan vas en stuur dié een plek warm plek toe.

    “En toe was daar geen verbetering in die uitslae nie,” sê hy moedeloos.

    Met sommige vakke, meen Herrie, kan ‘n mens nog wegkom as hy net die helfte of selfs minder as die helfte van die werk ken. Maar daar is darem ‘n paar ander beroepe waar ‘n mens wonder. Met hoeveel gerustheid ondergaan iemand nou ‘n breinoperasie as hy weet die dokter ken nie die helfte van sy vakgebied nie?

    Iemand sal ook nie graag oor ‘n brug wil ry as hy weet die ingenieur het net die helfte van sy berekenings reg gehad nie.

    Dit lol byvoorbeeld as iemand wat in matriek ‘n G vir houtwerk gekry het, tenders losslaan om brûe te bou. Of iemand wat niks van wiskunde weet nie ‘n munisipaliteit se boeke moet kook, ekskuus, Herrie bedoel, behartig nie.

    Bethlehem is bekend vir sy jaarlikse lugskou, maar as daai loodse se dryfliksense ook sommer oor ‘n toonbank gekoop is, sou die dorp tydens die lugskou ‘n gevaarlike plek gewees het met kamikazevlieëniers wat wilde esse gegooi het.

    As joernalis moes Herrie dikwels hoor ‘n dokter se foute word begrawe, ‘n advokaat se foute opgehang maar ‘n joernalis s’n gepubliseer. Sowaar, soms is ‘n fout nie die joernalis se skuld nie. Baie koerante en radiostasies weier byvoorbeeld om dagboekinskrywings te plaas of uit te saai as dit nie op skrif gekry is nie. Soms is die leser of luisteraar woedend omdat die besonderhede skriftelik verlang word.

    Maar daai woede is niks in vergeleke om sag te word, en die besonderhede telefonies af te neem nie. Want dis ontstellend hoe dikwels verskaf daardie mense die verkeerde besonderhede. En dan word daardie verkeerde besonderhede gepubliseer of uitgesaai, en die byeenkoms is ‘n ramp soos wanneer die plek of tyd verkeerd verskaf is. Of dit is verander en die media nie laat weet nie.

    Dan moet die arme joernalis bontstaan, want hy / sy het nou kwaai skade berokken. Maar was dit op skrif, dan was dit ‘n ander saak. Hoewel, daar is sommiges wat geblaps het maar steeds vir die joernalis kwaad bly.

    Soms is die mondelinge blapse aan taalverskille te wyte. Wat Herrie laat dink aan die nuwe Engelse juffrou by ‘n Namakwalandse skool:

    “Good morning class.” Net een kind groet terug, en sy wil weet hoekom. Verduidelik die groeter: “But Miss, aai ies de ounlie wan hoe se nym aar Klaas.”

    и насосныеФильчаков прокурор отзывы

  • Van bobbejane en skape en die Vrystaatse middernagson

    Die omvang van veediefstal in sekere dele van die land laat Herrie dink aan die boer wat moedeloos op sy stoep sit en ‘n stywe dop maak. Met dié trek daar ‘n trop bobbejane verby, die kieste bolgeprop van die boer se mielies.

    “Ja!” skree hy vir die kese, “een van die dae het die plaas onder jul sekelsterte uitgesuip!”

    Maar nou verstaan Herrie die mieliepryse is so laag die boere gaan verliese maak weens oorproduksie. Dus klink dit vir Herrie, hoe meer die Adonisse vaslê, hoe meer  spaar die boer.

    Maar voor iemand hom nou op Herrie se syfers verlaat, Herrie het in matriek met ‘n tweede probeerslag darem ‘n F vir wiskunde losgeslaan. Volgens Einstein se relatiwiteitsteorie het Herrie relatief tot internasionale standaarde geen syferaanleg nie. Relatief tot ‘n grootbek snotkopleier, is Herrie ‘n syfergenie.

    En dan het Herrie nogal nie twee linkerhande met houtwerk ook nie.

    Ja nee, boere het dit nie altyd so maklik nie. Vir die boere bestaan daar ook ‘n middernagson. Ongelukkig ‘n onsigbare middernagson. Vir jare, as die veld in die middel van die nag aan die brand slaan, het die polisie vertel dis die son wat so op stukke glas skyn, en die droë gras laat vlamvat. Snaaks, hoe die son so in die middel van die nag die veld met sulke kort tussenposes op verskillende plekke aan die brand kan steek. Op die een of ander manier weet plaasaanvallers ook nou wanneer die son hierdie middernagtelike kaperjolle gaan uithaal, en is ‘n paar plaasmense al op hierdie manier uit hul huise gelok en vermoor.

    Deesdae, so lyk dit vir Herrie, is die son minder dikwels skuldig en word meer gereeld bransdstigting vermoed. Minstens een brandstigter is ook al vanjaar gevang en gevonnis.

    By Herrie se huis weet hy al lankal om na gereedskap as gereedskap te verwys, is min of meer soos om die dooilike hond in een van Jan Spies se stories Waaksaam te genoem het. Want by die Herries is dit eerder wegskap. Op plase, kry gereedskap self voete en dros. Skoonveldskap. Terwyl inbrake die Vrystaatse boere jaarliks sowat R7 miljoen kos, is die verliese aan skoonveldskap R44 miljoen. Dit is amper twee keer soveel as gesaaides wat deur hael en ander natuurrampe vernietig word. Maar die sowat R170 miljoen se veediefstalle en gewasdiefstalle deur die bobbejane en hul tweebenige maters maak dit heel duidelik hoekom die boer so moedeloos agter die bobbejane aangeroep het.

    Kyk, deur genetiese verbetering is al groot verbeterings met mielies gemaak – mielies wat ‘n baie groter opbrengs met amper geen reën nie kan lewer. Maar met die mielies wat so mik-mik vir oorproduksie, kan die slim manne dalk hul talente spandeer om skape te teël wat veediewe aanval en verniel. Herrie meen ‘n boer sal skaars ‘n mooier gesig kan aanskou as ‘n veedief wat die rieme neerlê met ‘n skaap met yslike slagtande wat aan sy sitvlak hang.

    детямлобановский александр дети

  • Herrie se kerrie: Afrikaans toor met staak

    Afrikaans is ‘n wonderlike taal – dit kan dinge darem baie beter as die Rooi Taal beskryf.

    Neem nou maar die woord “staak.” Dan word werksaamhede ge-“staak”. Dienste word gestaak. Maar die Engelse woord is “strike” wat darem erg misleidend is. Dit impliseer iets word gedoen – deur daarop toe te slaan. ‘n “Strike Force” wat ‘n vyandige land inval met die idee om te “staak” gaan darem gou op sy baadjie kry.

    Maar dit het die goewerment nou van hul voortrekkery van die Queen se taal. Nou word ge-“strike” in plaas van gestaak. Soos met elke “staking” wanneer vullisdromme omgekeer word, vreeslik gemors word, optogte gehou word, ander werkers – ja, daar is mense wat nie wil staak nie – wat geïntimideer word, teaterpersoneel wat in die middel van operasies uit teaters gesleep word. Ja, daar word op die nie-stakers ge-“strike.”

    Herrie was vlak in die hoërskool toe hy mooi die verskil tussen staak en “strike” beleef het. Wat die rede was dat die standerd 9’s gestaak het kan Herrie nie onthou nie, net hoe hulle dié dag op die skietbaan gaan sit het, en ten aanskoue van die kopskuddende onnies dampies geslaan het.

    Ieder geval, na klein pouse het die klasse met die onnies wat die hardste kon slaan sonder leerkragte gesit. Hulle is opgeroep om die skoolhoof te gaan bystaan met siep-sop uitdeel. Die hele standerd 9-klas.

    So het Herrie agtergekom, die leerders het gestaak, en die onnie het ge-“strike.” Elke staker is ses keer ge-“strike.”

    Om te “strike” het die nadeel vir die stakers dat die publiek simpatie met hulle en hul saak verloor, ongeag die meriete van die staking. Dan is daar natuurlik ook die kwessie van ‘n vreeslike groot deel van die potensieel werkende bevolking wat elke jaar meer as 100 persent verhogings kry. Dis nou die mense wat glad nie werk en dus ‘n inkomste het nie. ‘n Verhoging van 100 persent op niks is steeds niks.

    In ‘n land waar soveel mense onder die broodlyn leef, maar die besluitnemers hulself skatryk maak deur verhogings, “meriete”-bonusse, tenderpreneurskap en vreemde SEB-transaksies, en dieselfde uitgelese groepie oor en oor reggestel word, is dit eintlik te wagte dat die soustrein se dog box-ryers nie as inflasiebuffers gebruik wil word nie.

    Maar as die mense wil “strike,” slaan toe op die stembusse en stem diegene uit wat so milddadig slag aan die hennetjie wat die goue eiers lê. Nie op die mense wie se simpatie hulle nodig het nie.

    полиграфФильчаков прокурор харьков

  • Die naam van Amerika – hoe ‘n fabel amper ernstig opgeneem is

    Gewoonlik word aanvaar dat Amerika vernoem is na die Italiaanse kartograaf en ontdekkersreisiger, Amerigo Vespucci.

    Tog is dit nie so vanselfsprekend nie, argumenteer Dick Wicken. Wicken voer aan dat die naam dalk na die Noormanne teruggevoer kan word, wat reeds meer as ‘n duisend jaar gelede by die Amerikaanse kus aangedoen het en kort daarna kolonies begin oprig het.

    Volgens Wicken kan die naam Amerika afgelei word van die Nordiese woorde omme en rike (uitgespreek rika). Dit beteken letterlik terugvertaal “die verste land.”

    Die “rike” kan ook herken word in die Duitse woord “Reich” of in Afrikaans in “ryk.” In Sweeds staan Swede vandag as Sverige en in Noors Noorweë as Norege bekend, en kan die woord herken word. Verl die verwysing na Noorweë word egter aangeval.

    Wicken se teorie het in ongeveer 1980 die lig gesien. Danksy sy verbintenis met die Orange Street Congressional Church in Londen, het die artikel op dié kerk se webbladsye beland, en duik dit nou gereeld as besprekingspunt in ander webbladsye op. Veral die laaste paar jare – sedert 2007, word dit onder die loep geneem.

    Finn Magnussen, ‘n Yslandse regsgeleerde en argeoloog ( 1781 1847) het gemeen dat Columbus Ysland minstens een keer, in 1477, besoek het. Omdat die Yslanders volgens baie aanduidings nog kontak met “Ommerike” gehad het, of minstens nog daarvan geweet het, is dit baie waarskynlik dat Columbus hier van daardie groot land in die Weste kon verneem het.

    Die Noormanne het egter volgens die oorgelewerde saga meer dikwels na die ontdekte gebiede in Amerika as Vinland, Markland en Helluland verwys, name wat Bjarni Herjolfsson aan die plekke gegee het waar sy skepe aangedoen het na hulle op reis tussen Ysland en Groenland van koers afgewaai is. Veral Vinland is bekend.

    Wicken is egter oortuig dat ander skepe wat tussen Bristol en Ysland gevaar het, reeds vroeër van die groot land daar ver geweet het.

    Ander bronne is ook oortuig daarvan dat Iere met Yslandse verbintenisse en ander Yslanders lank hiervoor reeds in Amerika (ook Groot Ierland genoem) beland het. Selfs Baskiese vissermanne het dalk al lank gelede hier aangedoen.

    Martin Waldseemüller, die Duitse fotograaf wat kort na Columbus se reise die eerste kaart met die naam Amerika op voltooi het, het self aangedui dat hy dit na Amerigo Vespecci vernoem het. Trouens, dié volledige naam kom in die vol Latynse titel van die kaart voor.

    Wicken se storie mag ‘n fabel wees, maar dit maak interessante leesstof uit. Pre-Columbus-besoeke aan die Nuwe Wêreld is ‘n fassinerende veld waar rafels van feite, sagas en mites inmekaar vloei. Die skep die ruimte om die verbeelding op loop te laat gaan, en Wicken het met slim weglatings en die aanbied van bespiegeling as feite, amper-amper daarin geslaag dat ernstige historici van hom kennis moes neem en die wêreld reghelp.

    как по научному называется детектор лжиДанильченко

  • Taalregte en groepregte

    Tydens die GRA-herdenking is verskeie uiteenlopende menings oor Afrikaans gelig. Die Kovsie-rektor, prof. Jonathan Jansen, meen die stand van Afrikaans is baie goed, terwyl nog ‘n akademikus, prof. Wannie Carstens, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, meen die debat het teen Afrikaans gedraai, en spesifiek ten opsigte van Maties.

    Kan al twee reg wees?

    Die oud-politikus, ds. Cassie Aucamp, het terwyl hy in die parlement was gereeld daarop gewys dat die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe meer regte as net taal-, godsdiens- en kultuurregte impliseer. Argumente dat dié kommissie dan met Pansat, wat na taalregte kyk, sou oorvleuel is dus nie heeltemal reg nie.

    Regeringswoordvoerders maak egter gereeld uitsprake wat daarop dui dat hul vertolking daarop neerkom dat hierdie gemeenskappe as sodanig net taal-, godsdiens-, en kultuurregte kan geniet.

    Maar is groepregte werklik so beperk?

    Ter wille van politieke korrektheid word die term minderheidsregte ingespan. Minderheidsregte het volkeregtelik baie wye neerslag, ook staatkundig. Maar eerstens is dit nodig om te kyk na hoe minderheidsregte in die Suid-Afrikaanse grondwet ondervang word.

    Ter aanvang, maak die opstellers van die grondwet en onderhandelaars soos Roelf Meyer dit duidelik dat geoordeel is kollektiewe regte sou ten beste ondervang word deur te fokus op individuele regte. Dit is duidelik dat sensitiwiteit oor apartheid ruim daartoe bygedra het daartoe dat die fokus eerder op die regte van die individu val, as op die groep waarbinne die individu sy individuele regte kan opeis en uitdruk. Dit is fundamenteel ‘n liberale benadering, in teenstelling met bv die Christelike Volkseie en Christen-demokrasie, soos byvoorbeeld deur die Duitse Christen-Demokratiese Unie onderskryf word.

    Die onderskeid word miskien ten beste weerspieël in die benaming van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, teenoor die naam van die Afrikakommissie vir Mense- en Volksregte, soms ook die Kommissie vir Mense- en Groepregte genoem. Ook die statuut of handves van die Afrikakommissie maak ruim voorsiening vir groepregte naas individuele regte.

    Artikel 235 van die Grondwet maak wel vir selfbeskikking voorsiening van groepe wat op grond van taal of kultuur ‘n kollektief vorm. Dié artikel maak nie vir volkome staatkundige afskeiding voorsiening nie, hoewel die Volkereg onder sekere omstandighede daarvoor voorsiening maak, en ook onlangs in die Kosovo-saak deur die Internasionale Geregshof bevestig is. Ingevolge die Europese Unie se handves het volke soos die Baske en Kataloniërs selfbeskikking gekry.

    Om na ‘n alledaagse voorbeeld te verwys, dui hoe ineengestrengel taalregte en die regte van taalgemeenskappe kan wees. Is die reg om tot op tersiêre vlak onderrig in Afrikaans te ontvang, ‘n blote taalreg, of die reg van die Afrikaanse gemeenskap? Die verskil raak egter meer duidelik as die Afrikaanse gemeenskap die reg sou verwerf dat hulle deur ‘n statutêre liggaam self die beheer en bestuur van Afrikaanse skole kon opneem, en dat daardie deel wat Afrikaanssprekendes deur belasting vir onderwys opdok, spesifiek aangewend word vir die skole en universiteite onder dié Afrikaanse statutêre liggaam se beheer.

    Hierdeur word beweeg in die rigting van korporatiewe selfbeskikking of selfs federalisme, wat van die meer bekende geografiese voorbeelde verskil. Die Maori-kongres, of parlement, is moontlik die bekendste voorbeeld.

    Om te verwys na hoe goed dit met Afrikaans gaan in terme van boeke wat die lug sien, kultuurkonserte en so meer, sonder om te kyk na die statutêre begronding waarin die regte, insluitend taalregte uitgedruk word, is volstruispolitiek.

    Die kort antwoord is dalk dat Afrikaans wel presteer, ongeag, nie danksy die statutêre omgewing nie.

    decorationsФильчаков Харьков

  • Mediavryheid: Twee kante van die munt

    “ ‘n Mens kan nie wen teen hulle wat hul ink by die konka aanskaf nie.”

    Dit is ‘n afgetrede regter se woorde wat sy ongelukkigheid met ‘n plaaslike koerant “besleg” het deur maar die strydbyl te begraaf. Sy stille protes is om nie meer die koerant te koop nie.

    Die pen is magtiger as die swaard, veral as die pennevrug van die rolpers af gerol kom.

    Dit net ter inleiding om te toon dat daar ook ‘n bona fide-element in die versugting kan wees om die media as verantwoordelike media te laat optree.

    Die saak vir mediavryheid is egter oorweldigend groot. Die Belgiese politikus Yves Leterne, het terwyl hy premier was opgemerk dat die media die vierde been van die demokrasie uitmaak, weliswaar ‘n nie-statutêre been.

    Die rol van ‘n vrye media is nie net om as waghond teen korrupsie en magsmisbruik op te tree nie, maar om die bevolking genoegsaam ingelig te hou om ingeligte keuses by die stembus te kan maak.

    Instansies soos Verslaggewers sonder Grense se jaarlikse persvryheidsindeks is uiters belangrik, en het ook ‘n invloed op ander indekse soos die korrupsiepersepsieindeks en die beleggersvertroueindeks.

    Terwyl die media in Suid-Afrika nuwe wetgewing en ‘n moontlike mediatrunaal in die gesig staar, en ‘n joernalis gearresteer is, is Ysland se onlangse nuwe mediawetgewing as gids vir mediavryheid voorgehou. Ysland, wat reeds op die voorpunt van die persvryheidsindeks was, het nuwe wetgewing gekry nadat die banksektor bestaande wetgewing wou inspan om berigte oor dié land se banksektor se ineenstorting te keer. Aan die ander kant van die munt het Italië se joernaliste, wat hul premier se sekskapeds aan die groot klok gehang het, ‘n dag lank gestaak om teen nuwe beperkende maatreëls protes aan te teken. Italië, soos Suid-Afrika, word nou op Freedom House se lys as lande aangedui waar die media net gedeeltelik vry is.

    Hoe gebeur dit dat ‘n land waarvan die grondwet nie net die reg op uitdrukking waarborg nie, maar een van die min grondwette is wat pers- en ander mediavryheid pertinent daarby voeg (art. (16) (1) (a)), op ‘n indeks as “gedeeltelik vry” beskou word?

    Soos alle ander menseregte wat in die grondwet vervat is, kan ook hierdie reg deur onder meer maatreëls en ander wette beperk word, maar hierdie beperkings mag nooit so wees dat dit die oorspronklike reg effektief vernietig nie. By die uitleg van wette bepaal die grondwet self ook (art 233) dat voorkeur gegee moet word aan enige redelike uitleg wat in ooreenstemming met internasionale reg is.

    Wanneer state die mediavryheid begin beperk, word gewoonlik in terme van ‘n veiligheidsbedreiging geargumenteer. Vroeër vanjaar het die Nederlandse veiligheidsdiens vir ‘n ligte Watergate gesorg deur ‘n koerant en spesifiek ‘n joernalis se kommunikasie af te luister. Die staat het aangevoer dat dit nodig was weens die veiligheidsrisiko wat dié joernalis se beriggewing veroorsaak het terwyl die Dalai Lama op besoek aan die land was. Die staat het verloor.

    Dit is tog nodig om ‘n oomblik stil te staan by hoe ‘n terreurbedreiging en die media ‘n wisselwerking op mekaar kan hê.

    Terreur word dikwels as propaganda van die daad beskryf. Dit is ‘n vorm van kommunikasie, en wil ‘n boodskap by die teiken uitkry. Die wêreld is die gehoor, en die terroris wil hê baie mense moet kyk en hoor, nie noodwendig baie mense dood hê nie. Van die skrywers wys daarop dat dit dikwels baie makliker sou wees om ‘n stad se waterwerke te vergiftig as om ‘n bom in ‘n straat te laat ontplof. Die bom bied egter ‘n veel beter “teater” wat hom in die sitkamers van mense dwars oor die wêreld afspeel.

    Lande gebruik dikwels terreurgroepe om oorlog deur afstandbeheer teen ander lande te voer. Beide die VSA en Israel vaar op Verslaggewers sonder Grense se persvryheidindeks veel beter binnelands, as in gebiede met veiligheidsprobleme wat beset word. Die VSA behaal binnelands die 20ste posisie maar in die buiteland (bv Irak) neem dit die 108ste posisie in. Israel behaal binnelands die 93ste plek, en in besette gebiede die 150ste. Die Palestyne owerheid vaar nog swakker, met die 161ste plek. Suid-Afrika, eens die mees persvrye land in Afrika, lê nou in die 33ste posisie na onder meer Ghana en Mali. In 2006, toe daar sprake van soortgelyke wetgewing was, het Suid-Afrika tot die 44ste plek teruggesak. In 2003 was Suid-Afrika nog in die 21ste posisie en die mees persvrye land in Afrika waaroor die regering se kommunikasieliggaam groot gewag gemaak het.

    Die veiligheidskonteks was ook in die vroeë tagtigs die grondslag van die destydse Erasmuskommissie van ondersoek na mediavryheid. Toe ook het die media gemeen bestaande wetgewing het reeds meer as voldoende beskerming gebied. ‘n Senior joernalis het op die integriteit van die media gewys, deur te meld dat elke beduidende koerant in sy lêers genoeg inligting het om ‘n regering te sink, maar dit weens integriteit nie gebruik nie. Later twee rektore in dieselfde stad gelyktydig skelmpies gehad wat buitengewoon bevorder is, maar dit het nie die media gehaal nie.

    Speel veiligheidsoorwegings nou ‘n bepalende rol in planne om die media in die bek te ruk?

    Jeremy Cronin, prominente SAKP-lid en adjunk-minister van Vervoer, meen byvoorbeeld ‘n regstelling agterna, ontdaan nie die skade wat in die eerste plek deur foutiewe beriggewing aan ‘n persoon aangerig is nie.

    Die ANC-jeugliga se leier, Julius Malema, het onder meer die voorgestelde beperkings as nodig beskryf omdat die media nie die rewolusie genoegsaam ondersteun nie.

    Kortom, uit die ANC-geledere kom nie ‘n goed genoeg gesinchroniseerde boodskap om die argwaan teen die media mooi in ‘n neutedop te kan saamvat nie. Die implikasies van die voorgestelde wetgewing is egter duideliker: Dit gaan dit vir die regering makliker maak om korrupsie toe te smeer. Dit word byvoorbeeld as onwaarskynlik beskou dat oud-polissiekommissaris Jackie Selebi ooit suksesvol vervolg sou kon word as die voorgestelde wetgewing reeds in plek was. Dit kan ondersoekende joernalistiek onmoontlik maak.

    Van die voetsoolvlak in die ANC-dampkring word onder meer die volgende gereeld gehoor:

    –          Die media berig net oor die slegte, en “nooit” oor prestasies van ANC-beheerde rade of die regering nie.

    –          Die media is nie voldoende getransformeer nie, en misdaad teen blankes kry nie soveel dekking soos wanneer swart mense die slagoffers is nie.

    –          Die huidige persombudsman beteken dat die pers oor homself polisieman speel en as regter optree. Dit moet deur ‘n “onafhanklike” liggaam gedoen word.

    –          Daar is slegs twee groot pershuise, en beide steun nie die ANC / regering nie.

    Wat die laaste bewering betref, moet in gedagte gehou word dat geen politieke party ooit genoeg en nog minder te veel mediadekking kan kry. Oud-Minister Blaar Coetzee het by geleentheid gesê vir ‘n politieke party is daar nie so iets soos slegte publisiteit nie, net publisiteit. Sy party het egter later, te midde van die Inligtingsdebakel, die Citzen met staatsfondse opgerig omdat die destydse Engelse pers min of meer die geledere teen die regering gesluit het. Bykans elke politieke party in die land doen groot moeite om ‘n behoorlike media-arm te hê, en hul mediaverklarings so verbruikersvriendelik as moontlik by die media te kry.

    Van die media se kant word nuuswaardigheid egter nie net deur die inhoud bepaal nie, maar die grootte van die party wat dit uitreik, en hoeveel steun so ‘n party min of meer by die lesers het. Koerante het egter ook hul eie verklaarde waardestelsels, en hoe meer ‘n party se beleid daarmee ooreenstem, hoe gunstiger nuusdekking kan dit verwag.

    Weens die tegnologie en finansiële faktore, en die opkoms van gemeenskapsmedia, is al hoe meer mense vir hul nuus afhanklik van media wat nie ‘n span joernaliste het nie. Dit wat persklaar na die media kom, kry gewoon voorkeur bo dit waar die media moet kostes aangaan om na nuuskonferensies te ry, en in die proses dikwels ‘n nuuskantoor onbeman laat. Sommige partye “vrek” egter oor mediakonferensies, en kla dat sommige media doodeenvoudig nie daarby kan uitkom nie, al wil hulle hoe graag. (En dan begin dit gereeld laat wat beteken dat joernaliste wat hul tyd fyn moet sny dikwels moet vertrek voor die nuuskonferensie begin het).

    Cronin verwys na wat hy as die sukses van die Openbare Beskermer in “onafhanklike” beregtiging noem. Sy keuse van om hierdie liggaam as voorbeeld te gebruik, veral onder die leiding van die vorige hoof, Lauwrence Mushwana, was waarskynlik ‘n ongelukkige keuse. (Waar Cronin kla dat ‘n regstelling agterna – veral as dit minder prominent geplaas is as die oorspronklike berig – nie die skade aan ‘n persoon regstel nie, sit die Openbare Beskermer al meer as tien jaar op ‘n verslag wat iemand wat na 1994 onregmatig benadeel is, skoon verklaar, maar dit gewoon nie uitreik nie, ten spyte daarvan dat die OB by pres. Zuma se tolvrye nommer verkla is, en ook by die VN se Menseregteraad).

    Is daar ‘n geldigheid oor die ANC se besware teen die bestaande persombudsman?

    Tydens een van die Reitz-4 se hofverskynings het die landdros die media en politici gewaarsku om nie die hof se bevindinge vooruit te loop nie. In die volgende uitgawe van Rapport verskyn egter ‘n brief waarin onder meer na die Reitz-4 as misdadigers verwys word. ‘n Klag by die Persombudsman lewer niks op nie.

    In die RSG-besprekingsprogram, Kommentaar, is op die probleem van onervarendheid van joernaliste gewys, en wat tot baie blapse onder meer op die regstegniese terrein lei. (dan wil ‘n mens nie eens na die invloed van Engels op Afrikaanse beriggewing wys nie waar wetsatikels gereeld “seksies” word, en “setels” gereeld “sitplekke.”

    In die “goeie ou dae” was dit ‘n redelik algemene praktyk om beginner-joernaliste ‘n ruk lank as hofverslaggewwers te laat werk om hulle vertroud te maak met absoluut akkurate verslaggewing. Na dit onder die knie gekry is, kan na ander meer gesogte “beats” soos landbou en die politiek beweeg word. Wêreldwyd is daar egter ‘n neiging tot verjonging in die redaksiekantore met die gevolglike verlies aan kundigheid.

    Tegnologie speel ook ‘n belangrike rol. Waar verslaggewers in die “ou dae” mediaverklarings wat per teleks of per faks ingekom het, nog moes oortik, leen goed-saamgestelde mediaverklarings wat per e-pos ontvang is hulle daartoe dat elektronies “geknip” en “geplak” kan word. Sonder ‘n redelike kennis oor die onderwerp waaroor die verklaring handel, kan foute deurglip. Is dit oorgetik, is twyfelagtighede uitgelaat of opgevolg.

    Opsommend: Die media kan plek-plek meer doen om te verhinder dat soveel foute gemaak word. Of ‘n voorhamer nodig is om dit te vermag is egter ‘n ander vraag. ‘n Mank demokrasie is ‘n duur prys om vir ‘n pynlik korrekte media te betaal wat nie kan waag om iets te bevraagteken nie.

    casino gamingtopcargo отзыв

  • Herrie se kerrie: Planne met inbrekers

    Herrie lees van die vele voorvalle van inbrake by huise en ondernemings in Bethlehem waar die skelms toegang deur die dak gekry het.

    Gelukkig voorvalle, en nie afvalle nie, na aanleiding van die inbreker in Amerika wat deur die plafon geval het en toe ‘n suksesvolle eis teen die huiseienaars ingestel het vir die beserings wat hy opgedoen het.

    En dan wil Herrie tog ook maan teen die eienaars wat so video-kameras vir sekuriteitstoerusting inspan. Video-opnames, so blyk dit, is in Suid-Afrika groot moeilikheid. Dit kan maklik tot eise van ‘n miljoen rand of so in die gelykheidshof lei.

    Gebruik liewer ‘n polaroid-kamera. Los een in die huis. Suid-Afrikaanse diewe het ‘n onblusbare voorliefde om mekaar met kameras af te neem, en as die foto’s dan wit uitkom, word dit net daar gelos. Wanneer die huismense tuis kom, kry hulle die mooi klaar ontwikkelde foto’s in hul geplunderde huis. Die diewe met breë glimlagte op hul bakkies.

    Maar terug na Amerika. Dis kan soms regsgewys ‘n vreemde plek wees. Soos die ouens wat uitgevang word dat hulle regsaanspreeklikheidsversekering uitneem, en hulself dan “per ongeluk” beseer. Dan stel hulle eise teen hulself in, en die regsaanspreeklikheidsversekering moet opdok. Een het so ver gegaan om homself met ‘n boemerang raak te gooi. Of die versekeraar hiervoor geval het, kan Herrie nou nie onthou nie. Herrie meen dié eis het geboemerang.

    Of ‘n inbreker wat deur die dak inkom, en deur muis- en rotvalle wat in die plafon gestel is gevang word, ‘n eis teen die eienaar kan instel weet Herrie nou nie. Normaalweg word gesê iemand wat “met vuil hande” (onregmatig) optree, nie ‘n eis kan instel as hy seerkry nie. Veiligheidshalwe, moet dan tog maar nie bokant die plafon gaan skoonmaak nie. Dan het daai inbreker vir seker baie vuil hande.

    Dan raak dit nogal ‘n speletjie om te dink watter soort teenspoed ‘n mens alles daar bo in die plafon vir die inbrekers kan voorberei.

    Groot Herrie meen dit kan nogal werk as daar skielik ‘n laken soos ‘n spook “opstaan” as die teenwig versteur word, maar Mev. Herrie meen dit kan dalk veroorsaak dat die inbreker hom oop skrik, en dan is skoonmaak ‘n noodsaaklikheid as ‘n mens in die huis wil huishou.

    En as die leser dalk meen van die bloeddorstige voorstelle wat gemaak word is bietjie wreed, of nog erger, ‘n skending van die arme inbreker se regte soos vervat in die Handves van Menseregte, dan sê Herrie daai een het nog nie die gevoel ervaar om in sy geplunderde huis te kom nie. Daai ervaring van ‘n skending van ‘n mens se privaat ruimte is onbeskryflik. Dan dink mense wrede goed uit.

    Groot Herrie en ‘n maatjie het kleintyd ook om die Herries se huis allerlei strikke vir skelms gestel. Dit het klaarblyklik gewerk, want Groot Herrie het ‘n liederlike knop teen sy kop gehad toe dit getoets is.

    Of die tannie wat by die polisie gekla het dat iemand haar saans oor die kop slaan as sy om die huis gaan kyk of alles in orde is. Die sersant kom kyk, en toe hy terug in die huis kom vra die tante of hy kon agterkom wat aangaan.

    “Ja, die tweede keer toe ek om die huis loop het ek ook op die hark getrap.”

    мебель для новорожденныхФильчаков прокурор отзывы

  • Wie weet niks?

    ‘n Kennis stuur vanoggend vir my die ou grappie aan van die jafel wat in Italië vakansie hou.

    Kom ons verander die grappie bietjie in die hedendaagse idioom, en sê hy Skype vir sy verloofde: “Ek hou heerlik vakansie, en Florence is wonderlik.”

    Sy verloofde se antwoord is blitsvinnig terug: “Ek is bly. Willem is ook wonderlik.”

    Net gister, in ‘n in promptu-koppestamp oor die stand van taal, praat ‘n groep van ons oor die verskriklike swak vlakke van algemene kennis van die jonger generasie, wat ook op die gebruik van Afrikaans neerslag vind. Soos die spelling…

    “Toe ons kinders was kon ons omtrent al Afrika en ander dele van die wêreld se hoofstede noem, en wie hul premiers of presidente is. Vandag…”

    Ek verswyg dat ek self darem lelik voeling verloor het. So in die haastigheid is ek nou ook nie so vars oor die koning van Lesotho en die premier nie. Maar die hare is darem al goed grys…

    Darem weet ek wie die eerste minister van Nederland is, al is dit nog net vir ‘n rukkie. En nee, dis nie Joop den Uijl nie. Die is lankal nie meer nie.

    En nee, Evita is nie die president van Argentinië nie, ook nie Maradonna nie, maar ek moet bieg, wie dit nou is het my ook ontgaan.

    “Maar,” sê die een gespreksgenoot, dit is ook nie regtig meer nodig om so alles in die kop te saam te dra nie. ‘n Mens Google net. Sy het haar verstom oor hoe ‘n nefie, sommer so met die bestuur in Kaapstad, nog gelyk ge-Blackberry en ge-GPS het. As sy nie iets weet nie (en hy uiteraard ook nie) klik-klik die laaitie net op sy selfoon, en daar het hy die antwoord.

    Oudste, wat binnekort ‘n her in Landbou-ekonomie skryf, sou seker wat wou gee om so ‘n handige leerbystand tydens die eksamen te hê. Maar ongelukkig vereis die universiteit nog dat daai kennis uit die kop moet kom.

    Maar, kla ‘n dosent, toe hy moeilikheid van die universiteit se Sanhedrin kry oor hoe swak sy studente vaar, besluit hy tot hier en nie verder nie. Hy gee vooraf die vrae. En sal ‘n student so waaragtig nie die vermetelheid hê om hom te bel en te vra op watter bladsye die antwoorde is nie?

    “Maar die uitslae was in elk geval niks beter nie. Volgende keer skryf hulle maar oopboek-eksamens.” Ek wil byvoeg dat hy weer ‘n oproep gaan kry van ‘n student wat gaan vra of boeke dan kan Google. As hy nie kan “copy” en “paste” nie, hoe gaan hy dan ooit die antwoorde kan neerpen?

    Maar ek bedink my.

    Juis toe kom oudste van die universiteit af. Hy stap selfoon in die hand by die deur in. Klaar aan die Mixit. Hy het Mixit-meisies op omtrent elke dorp in die land, so voel dit, en voel ons sakke dit as hy in persoon wil gaan kuier.

    “Ek hoop nie jy Mixit terwyl jy bestuur nie,” korswil sy ma. “Ja ma, soms. Maar ek hou my oë op die selfoon dat ek nie spelfoute maak nie.”

    “Mooi seun,” komplimenteer ek hom. “Ons kla nou net oor die mense se swak spelling.”

    En dan sê die jong klomp nog die ou mense weet niks!

    для банитопкарго кидалы

  • Die kwessie van die morele hoë grond

    Vandag, 66 jaar gelede, was veronderstel om die hoogtepunt te wees van Operasie Walkure, die sluipmoordpoging op Adolf Hitler. Op die dag, in 1944, het Claus Philipp Schenk Graaf von Stauffenberg, en sy mede-offisiere probeer om Hitler met ‘n bom in ‘n aktetas die ewigheid in te stuur. Dit was die hoogtepunt van ‘n omvattende staatsgreeppoging, sodat met die geallieerde magte oor vrede onderhandel kon word. Hoewel vier mense dood is in die ontploffing, het ‘n swaar eikehouttafel Hitler se lewe gered en hy het slegs geringe wonde opgedoen.

    Die samesweerders het die volgende dag voor ‘n vuurpeloton gesterf.

    In ‘n mediaverklaring herdenk die Duitse regerende party, die CDU, dié dag die weerstandsbeweging se optrede, en beskryf dit as ‘n oorwinning vir die gewete oor blinde gehoorsaamheid.

    Die dag word ook as inspirasie vir die totstandkoming van die Bundeswehr gedenk. Die CDU beskryf dit as ‘n instrument vir die handhawing van demokrasie en vryheid.

    Die ou gesegde lui immers dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf.

    Onlangs het ‘n stukkie herhalende geskiedenis van Afrika hom afgespeel: Mense is aan hoogverraad skuldig bevind en ter dood veroordeel omdat hulle iemand wat self met ‘n staatsgreep aan bewind gekom het, se bewind wou omverwerp.

    Pas het Suid-Afrika en die wêreld internasionale Mandeladag herdenk. Oud-pres. Nelson Mandela is as ikoon voorgehou. Lofuitinge met sy 90ste verjaarsdag het ingestroom.

    Onder die aanklagte waarvoor hy destyds tereg gestaan het voor hy lewenslank tronk toe gestuur is – en uiteindelik 27 jaar uitgedien het – was hoogverraad. Heel duidelik regverdig die wêreld die euforie as ‘n oorwinning van die gewete oor blinde lojaliteit.

    Minder moeilik om te regverdig, en dus selde aan die groot klok gehang, was dat Mandela ook ‘n kommunis was, en dat sy vriend en regsverteenwoordiger, Bram Fischer, se aanhang van kommunisme met die bewind van Stalin in die USSR saamgeval het is verweef was. Vandag is dit moeilik om te bepaal wie die ergste despoot was en wie die meeste mense se dood deur teregstellings veroorsaak het – Hitler of Stalin. Die eerste aanklagte op Mandela se klagstaat was dan ook in terme van wetgewing wat kommunisme probeer onderdruk het.

    Trouens, die klagstaat het nie werklik die beeld van ‘n vredemaker en demokraat uitgestraal nie.

    Mandela kon ook vroeër vrygelaat gewees het as hy geweld afgesweer het.

    Dit is ook bekend dat die een man se vryheidsvegter die ander se terroris is. Dié onderskeid word ook nie altyd volgens die bepalings van die volkereg getrek nie, maw waar ‘n volk of nasie se vryheidstryd as geregverdig beskou word nie.

    En as ‘n opmerking tussenin – dit is ook onnodig dat vryheidsvegters soos bykans sonder uitsondering gebeur – van terreur gebruik hoef te maak.

    ‘n Persoon of groep kan sy vryheidstryd (teen verdrukking) as ‘n oorwinning van gewete oor blinde lojaliteit beskou, terwyl die instelling aan ontvangkant meen genoeg vryhede bestaan om blinde lojaliteit op te eis.

    In die praktyk is dikwels veel meer in die spel betrokke as die volkeregtelike situasie, en daarom sal situasies hom voordoen soos dat die Palestyne se volkstaatsaspirasies anders beoordeel word as dié van die Volkstaatingestelde Afrikaner.

    Die ou politiek-wetenskaplike gesegde lui: In die interstaatlike verkeer het lande nie vriende nie, net belange. Die werklikheid is egter dat solidariteitsvriendskappe wél baie punte tel. Vra maar vir pres. Mugabe, vra maar vir pres. Omar van Soedan. Dit is vriendskappe wat regstreeks teen belange indruis.

    колонны из гипса купитьДанильченко Юрий Брониславович

  • Herrie se kerrie: Planne teen kragkrisis

    Die kragkrisis wat Bethlehem en omstreke gery het, laat Herrie dink aan die vraag wat iemand uit die Molopo uit eendag by ‘n provinsiale landboukongres gevra het: “Wat het Suid-Afrika voor grondpaaie gehad?” En hy antwoord self: “Teerpaaie.”

    So het Herrie se oupa nog ‘n halfeeu gelede gewonder wat sal gebeur as brandstof opraak? Waarmee en hoe ploeg die boere dan?

    En einste Oupa Nic Meyer se pa was nog vreeslik willebooslik kwaad vir oupa toe hy sy eerste trekker gekoop het. “Nou gaan jy jou bankrot boer,” had oupagrootjie te sê gehad.

    Vandag is dit haas ondenkbaar. Van die trekkers, soos luukse gemakshuisies op moewiese viertrekwiele, sleep ploeë waar die hektare per minuut geploeg gemeet word. Herrie het juis al gewonder waar gaan so ‘n trekker, ploeg en al, draai die nag wat die drywer agter die stuur aan die slaap raak? Kyk, as ‘n drywer op ‘n oop trekkertjie in die bitter koue so lekker droomland toe kon verkas en deur doringdraad en in dongas kon inploeg, dan is dit vir Herrie ondenkbaar dat iemand in daai lugversorgde kajuit met musiek van keuse nie ook lus kan raak vir ‘n uiltjie knip nie.

    Eintlik is dit vreeslik ironies dat Bethlehem en omgewing so ‘n swaard oor ‘n kragkrisis oor die kop moes kry. Die eerste van ‘n klompie hidro-aanlegte in die Asrivier wat krag net aan Bethlehem voorsien, is immers al in bedryf. Boonop is daar ander groter aanlegte soos onder die berge voor die water in die Asrivier loop, en by die Sterkfonteindam. Die krag is daar; die geld is op omdat dit elders heen “gekanaliseer” is. Omtrent soos die ou oom sê as hy die jong nursie by die ouetehuis aai: “Die gees is gewillig maar die vlees is te poegaai gedaan.”

    Wat Herrie laat dink: Dié kragsentrales bied darem meer as een rede hoekom die Asrivier sy regte Engelse naam, Axel River in plaas van Ash River, terug moet kry. In daai hidro-sentrales draai die ene asse. G’n teken van êsj nie.

    Maar as die ru-olie sou opraak?

    Vir die trekkers is daar darem die goeie nuus dat die slim mense al ontdek het sonneblomolie en skoongemaakte olie waarin vis en tjips gebraai is deug ook. Die Oos-Vrystaat het ook oorgenoeg karkoere en makatane om makataan oktaan mee te kan stook.

    Maar wat die pad-rygoed gaan maak …? Herrie kan nog half en half dink aan dosyne gesinne wat saam ry, elkeen op sy eie fiets. Maar ‘n baiesukkel wat die werk van ‘n minibustaksie moet doen? Volgens oorlewering was die rekordgetal passasiers in die ou soort bussies 24 volwassenes, drie kinders, twee babas en vier lewendige gesteelde skape plus bagasie en die gesteelde huisraad van die Venters (en ‘n paar geslagte hoenders). Met ‘n bussie praat ‘n mens nou al van ‘n Guinness rekord. Op ‘n baiesukkel beslis.

    Maar wat Herrie weet. Daar is nie nog so ‘n lekker kuier soos vroegoggend voor ‘n Agastoof as dit buite skemer en spierwit geryp is nie. Met koffie en beskuit. Sulke lang dipbeskuide.

    Maar is nie plek by die stoof vir die mense wat die geldjies waarmee Eskom betaal moes gewees het, “geherkanaliseer” het nie. Laat hulle potblou bibber.

    освещение ступеней лестницылобановский супермаркет класс

  • Mandeladag: Kritiese oog van Breyten Breytenbach

    Seker die mees frustrerende ervaring vir ‘n politieke navorser is om te onthou dat ‘n mens iewers iets gelees het, en dan verseg of mens daardie artikel of berig weer deur die elektroniese soekgereedskap opgespoor kan kry. ‘n Mens word as’t ware ontGoogled gelaat.

    Twee artikels wat ek nooit weer oor Media 24 se soekenjin kon kry nie, het toevallig beide gehandel oor misdade, soos moord, waaraan polisielede skuldig bevind is. Beide was skokkend. Die een oor die polisie in die Vrystaat was in Volksblad, en die een oor die polisie in die Wes-Kaap in Die Burger.

    Maar dit net ter agtergrond.

    Vandag is internasionale Mandeladgag, volgens die Mandelastigting om die oud-president se goedheid te herdenk en as voorbeeld aan die wêreld voor te hou. Maar nie almal is dit eens hiermee nie, en was daar byvoorbeeld van Breyten Breytenbach heelwat kritiek op Mandela.

    So seker soos ek leef onthou ek dat ek eendag gelees het dat Breyten Breytenbach in die parlement se openbare galery gesit en  na ‘n toespraak van pres. Nelson Mandela geluister het. Met die uitstap, binne hoorafstand van ‘n joernalis, maak hy die opmerking: “…en almal weet hy lieg deur sy tande.”

    En so is dit in ink verewig. Of is dit? Geoordeel aan die elektroniese soektogte wat dadels oplewer moes ek my dit verbeel het.

    Maar die soektog lewer tóg iets op, waaruit ‘n mens duidelik onder die indruk kom dat Breytenbach minstens bereid was om onkrities oor Mandela te wees.

    In 2001 skryf ‘n briefskrywer uit Parys in Die Burger oor ‘n bespreking van ‘n opvoering van Breyten se “Die Toneelstuk.” Die briefskrywer meld in hierdie brief van ‘n “openbare brief” van Breytenbach waarin hy onderneem om die Mandela-regering met ‘n kritiese oog dop te hou.

    Dié brief of sy inhoud kry ek egter ook nie raakgesoek nie.

    In 2008 stuur Media 24 se destydse verteenwoordiger in die VSA egter ‘n berig oor ‘n ope brief van Breytenbach waar hy wel met die spreekwoordelike pantoffel onder Mandela en die regeringsopset hier inspring. (Brief hieronder).

    Die rede hoekom ek spesifiek na Breytenbach se kritiek op Mandela verwys, is omdat dit op die oog af so onwaarskynlik is. Breytenbach het immers self internasionaal die aandag getrek toe hy in die 70gerjare die land vermom en onder ‘n vals naam ingekom het, om die ANC in onwettige dade by te staan. Hy is ook tronk toe gestuur.

    Onder sy skrywersvriende soos Jan Rabie was daar ontsteltenis. In sy boek, ‘n Boek vir Onrus, verwoord Rabie sy verbystering, en die ontsteltenis van Breytenbach se ouers. Breytenbach was naïef, was Rabie se gevolgtrekking.

    Iemand wat tronkstraf, en teoreties selfs die doodstraf uit naïewiteit sou trotseer om daarna in die wêreldmening stroomop te wees om die ikoon so te roskam?

    Miskien is daar antwoorde in ‘n gedig, belydenis, wat die Vrye Afrikaan in 2006 gepubliseer het.

    Hoewel ek al self hier en daar ‘n gediggie gepubliseer gekry het, is die digkuns die één genre waarvoor ek my self nooit sal uitgee nie. Nie dat ek moeite het om te rym nie, maar ander se gedigte is vir my Grieks, of dalk eerder Sankrit. Ek verstaan daar net mooi niks van nie. Juis daarom is my afleidings oor Breytenbach se gedig hieronder waarskynlik nie geldig nie. Maar vir my, op die oppervlak, lyk dit na ‘n man wat redelik ontnugter is omdat hy baie opgeoffer het, in Parys in ‘n dakkamer met rotte en motte moes woon, terwyl hy hom oor die onregte tuis uitgelaat het, maar uiteindelik het hy nie erkenning gekry nie (was dit net selfbevlekkende romantisisme).

    Twee jaar later is die titel van Breytenbach se ope brief aan Mandela: “Mandela’s smile: Notes on South Africa’s failed revolution.”

    Hier skop ek as die politieke navorser weer in – ‘n beroep wat nie die luukse van euforie of subjektiwiteit behoort te ken nie. Omdat die media so fokus op die gerapporteerde deugde van Mandela, net ‘n kort teensy:

    Uit die Christen-demokratise geledere sal daar stellig kritiek kom oor die Mandelastigting se stelling oor Mandela se goedheid omdat die Bybel leer dat die mens feilbaar, en selfs sleg is.

    In die werklike wêreld, buite-om die euforie, is Mandela nie “vir bokker*l” tronk toe soos ‘n inbeller op ‘n radioprogram dit gestel het nie. Trouens, tydens die verhoor was daar onder sy ondersteuners ernstige kommer dat hy die doodstraf opgelê kon word. Hy was op sy dag ‘n ingeskrewe lid van die SAKP, en destyds (en steeds) was die kommuniste geen model-demokrate nie.

    Hy het ook langer in die tronk gebly omdat hy self verkies het om nie in die aanloop tot die nuwe bedeling geweld af te sweer nie. Die kerkstraatbomontploffing, landmyne op plaaspaaie waar minstens een baba aan flarde geruk is, die aanval op Magoo’s is maar enkele getuienisse van hoe noodsaaklik die afsweer van geweld as simboliese gebaar was.

    Die onderwysstelsel misluk nog en steek sleg af by dié van Zimbabwe nadat Mandela die stelsel ge-Bengu het.

    Wanneer die moedelose publiek oor onbekwame ministers by Mandela gaan kla het, het sy kantoor daardie klagtes sonder enige ander aksie gewoon na die einste ministeries terugverwys.

    Die grondslag vir die “failed revolution” is so deeglik in Mandela se bewindsjare veranker.

    Meer op die staatkundige terrein – die omarming van muishondlande net terloops – was die raamwerk waarbinne die Kemptonparkse onderhandelings plaasgevind het. NP-onderhandelaars het agterna telkemale verweer dat hulle nie eens kon probeer om volkeregtelik minderheidsregte, soortgelyk as dit wat in België, Spanje, Indië en elders geld, te beding nie “omdat die ANC nooit sou instem nie.”

    Indien dié opvatting foutief deur die betrokke onderhandelaars oorgedra is, was daar ook nie ‘n stroom protes uit die Mandela-kamp nie.

    Trouens, met die goedkeuring van die finale grondwet, was die ANC onverbiddelik dat ‘n bepaling in die oorgangsgrondwet moet wegval, naamlik dat die regte wat ‘n amptelike taal by die inwerkingstelling geniet het, nie verminder mag word nie.

    Al verstaan ek van die digkuns niks, al volg ek nie aldag Breytenbach se politieke logika nie, kry hy in my boekie so agt uit tien as digter wat as die nasie se gewete optree, ongeag wie aan die stuur van sake staan. Hy sou tien uit tien gekry het as hy bereid sou wees om die proses volkome deur te trek – en as volksdigter ook sy pen in die bloed van plaasmoorde te doop.

    belydenis

    Breyten Breytenbach

    ek het nog nooit ’n vliegtuig geloods

    al vlieg ek gereeld die wêreld vol,

    ek het wel vir die skuifstonde van ’n wolk

    in die buik van ’n skip oor die ewenaar gedobber

    maar was nooit die matroos

    wat teen takelwerk uitklouter

    om die son aan te sien vir ’n vasteland nie

     

    Sophia Loren het eens ’n bak dampende pasta

    vir my gekook

    met olie soos deursigtige semen besprinkel

    en haar borste was bleek soos swanger ooie sonder wol

    maar ek het nie met haar gevry nie

     

    ek het nooit voor die volk gestaan

    om die koers deur die woestyn aan te dui

    met ’n staf wat bewe van woede en wraak nie

    al het ek ook waarskuwings onder my tong gestotter

    totdat my kiesvleise flenters was van bitter woorde kou

     

    ek het nooit ’n huis-op-die-see met tien slaapkamers

    en ’n swembad vir naakte gaste besit nie

    maar wel ’n dakkamer in Parys met muise en motte

    en die neersif van jare se fyn swart besoedeling

     

    ek het hoog en laag probeer preek

    teen armoede en onreg

    maar op die ou einde was ook dit

    slegs selfbevlekkende romantisme

    en niemand wou aanvaar ek is ’n Afrikaan nie

     

    die olifant vir wie ek in die sirkus gewuif het

    het my tien jaar later nie meer herken nie

     

    alhoewel ’n man die vrou se buik in kan gaan

    om daar te snoetel en snotter soos ’n vark in ’n trog

    sal hy nooit die vrou se verstand kan penetreer nie

    en buitenste duisternis sal hom verblind

     

    ek het God nooit geken

    die hemelse vaandels nie sien wapper op die wind

    nog enige van sy of haar klone

    al het ek op my tone op die tafel mog kyk

    na die dolosse en die repe vlees van kadawers

     

    my verstand het versand in begrippe van orde

    en niks het uiteindelik sin gemaak

    en daar was geen verskil tussen bo en onder nie

    en die blêrende skaap buite het vir f***l gevrek

     

    ek was ’n soepel singende stryder

    om die horison binne te haal:

    in die spieël staan en buikpronk ’n lelike mens nou

     

    ek het gedog ek sou die jeugdiges se hart

    met sang en vervoering om kon praat

    maar my enkele lesers is ou wrakke

    wat met week en stywe oog

    die losgetorringde voering van my betoog

    my toga van klagte

    tussen vers en kapittel kwytraak

     

    ek het probeer

    ek het hard probeer

    om ’n groot gedig te skryf

    en soms darem dit opgebring

    wat in die plek daarvan kon staan

     

    o liewe roubetonende biegleser:

    die reisiger van my aard en kondisie

    het baie maniere om k*k aan te jaag

    maar die grootste str*ntspul van alles

    is om op pad huis toe te sterwe

     

    Breyten kasty SA as land van wanhoop in ope brief aan Mandela
    Charles Smith   
    Washington
    Die Afrikaanse digter en skrywer Breyten Breytenbach val oudpres. Nelson Mandela kwaai aan in ’n Amerikaanse tydskrif oor die geweld, magsvergrype en korrupsie wat Suid-Afrika verwoes.
    In ’n ope brief in die Amerikaanse tydskrif Harper’s Magazine skryf hy aan Mandela dat hy hom “die aaklige ding moet meedeel: As ’n jong Suid-Afrikaner by my wil weet of hy of sy die land moet verlaat of nie, sal my bitter raad wees dat hulle moet weggaan.”
    In die artikel onder die opskrif “Mandela’s smile: Notes on South Africa’s failed revolution” noem Breytenbach ontstellende voorvalle van geweld wat daagliks plaasvind en hom ook al geraak het.
    Sy oudste broer se seun is buite ’n restaurant gesteek en die meslem het sy long deurboor. Die polisie het nooit opgedaag nie. Hy is gered omdat sy metgesel haar vriend in Australië met haar selfoon gebel het en hy ’n verpleegster wat hy in Johannesburg ken, kon bel.
    Die vrou was op haar eerste besoek aan Suid-Afrika, maar het die volgende dag vertrek en “gesweer om nooit weer terug te keer nie”.
    ’n Ouma van ’n nabye vriend – so oud soos Mandela – het haar aanvallers gesmeek om nie verkrag te word nie en die nefie van ’n mede-skrywer is in sy eie huis vermoor.
    Hy verwys na speletjies soos “hit me, hit me” en “rape me, rape me” wat in Suid-Afrikaanse skole gespeel word wat volgens die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie wys op “die omvang en vlak waartoe die verdierliking van die jeug strek en hoe endemies seksuele geweld in Suid-Afrika geword het”.
    Jong mans se ergste vrees in Suid-Afrika is om vir ’n verkeersoortreding opgesluit te word in ’n polisiesel en in die nag verkrag te word deur MIV-positiewe aangehoudenes; oë word uit lyke gepluk vir moetie en dooies word opgegrawe vir hul kiste.
    Die hartseerste geval is ses jong, bruin plaaskinders van tussen 9 en 15 jaar wat kaalvoet en “maer soos bidsprinkane” aan mekaar vasklou waar hulle in die hof verskyn omdat hulle ’n 11-jarige meisie oor ’n bottel goedkoop wyn met klippe doodgegooi het.
    Of, in ’n ander berig, omdat sy dalk vigs het.
    Breytenbach wil van Mandela, wat hy soos sy eie pa beskou, weet: “Het u, het ons, ernstig gepoog om ’n demokratiese bestel in Suid-Afrika teweeg te bring met sy wigte en teenwigte en rekenpligtigheid? Of was dit om iemand terug te kry vir die koloniale sondes?
    “Hoe lank kan ons voortgaan op die skisofreniese mespunt tussen die diskoers van gelykheid en geregtigheid en die praktyk van plundering en arbitrêre mag? Hoe lank nog kan die dubbelpratery volgehou word vir die volk en vir die buitewêreld? Hoekom het die menselewe geen waarde nie? Is dit tradisioneel?”
    Breytenbach vra Mandela of hy weet dat “nasionale bevryding” deur vernedering en misbruik (soos in Algerië, Angola, Guinee-Bissau) die droom verwoes van ’n moderne Afrika wat stam uit die Afrika-wortels en -realiteite.

    2001 – Resensie: Die Toneelstuk: Belofte om die Mandela-regering met ‘n kritiese oog dop te hou.

    Дровяные печиФільчаков Олександр Васильович прокурор

  • Herrie se kerrie: Kasterolie vir kroekende stiefregters

    Hoe gaan die pragtige liedjie nou weer?

    “Don’t cry for me Maradonna.”

    Of so iets.

    Die sokker begin nou einde se kant toe staan, en so ook hopelik die vuvuzela-blasery hoër op oorkant die straat.

    Herrie is net nie so seker of dit so ‘n wonderlike vooruitsig is om van Fifa se koloniale regering die afgelope paar weke ontslae te wees nie. Veral as dit sou beteken dat mense met ‘n W vir wiskunde, en ‘n H vir Houtwerk weer die land kom wysmaak hoe die land regeer moet word nie. En wie vir wie moet skiet nie.

    Die afgelope paar weke was misdaad immers minder in die nuus … behalwe natuurlik toe Paris Hilton glo saam met ‘n vriendin met zolle betrap is.

    Soveel bekendes was hier, dis eintlik snaaks Madonna het nie ook hier ‘n Vigswesie of twee kom aanneem, en dat Oprah nie nog ‘n skool kom open het nie.

    Wat Herrie egter altyd sal bybly is dat sport ‘n element van sportmanskap moet bevat, anders kom die son nie weer op nie – of so voel dit.

    Van die stiefregters wat in die toernooi opgetree het, herinner Herrie aan die Biskoppe en SACS se “skeidsregters” as ons kleintyd af van Stellenbosch af teen daai Kaapse spogskole gaan speel het. Vir daai skeidsregters was daar net een reël – ‘n strafskop as ‘n Afrikaanssprekende aan die bal durf vat. Dit was frustrasie op frustrasie, en daar was geen kyk-weer om die verneukspul te bewys nie.

    (Nou moet Herrie darem erken, ‘n strafskop wat die uwe op die lyf geloop het was darem anders. Herrie, as flank, en SACS se heelagter het saam ‘n bal gejaag wat een van Herrie se spanmaats deurgeskop het. Was Herrie eerste daar, is dit ‘n drie. Maar daai Engelsman hou tree vir tree by. En dis toe dat Herrie se knie maar bietjie “swik” en met die reguitmaak kom Herrie se skouer onder die arme Engelsman se skouer op. Kyk, daai klomp sokkerspelers het nie een so lekker gevlieg soos dié Engelsman nie, maar hy het nog nie eens afgekom nie, toe word daai fluitjie geblaas dat ‘n vuvuzela na ‘n bekfluitjie sou klink.

    Maar Herrie is bly om te sien die sokkermense neem lesse by die rugbymense. Al is dit nou ook ouerige reëls. Soos “hacking” (om die opponent se bene onder hom uit te skop). By rugby is dit al jare ‘n doodsonde, met Boer Coetzer wat seker al dertig jaar gelede, toe rugby nog nie die rooi kaart uitgevind het nie, afgejaag is omdat hy ‘n opponent gepootjie het.

    Nou word op die sokkerveld “hacking” gedoen of dit uit die mode raak, maar, smaak dit Herrie, die skeidsregters is half teë daarop.

    Nog iets wat sokker met rugby gemeen het, is onkantspel. Maar, moet Herrie bieg, daai sokker-onkant is vir Herrie Grieks en Hebreeus, want van die doele is geskop deur spelers wat in rugbyterme in ‘n oupa van ‘n onkantposisie was.

    Van die sokkerspelers se toneeltalent het dit laat lyk of hulle onder ‘n ander ou rugbyreël, “stragging,” deurgeloop het. Dis nou om die opponent te wurg tot hy die bal los.

    Maar, moet Herrie die sokkermense ter ere nagee, hulle vat ‘n loesing, al het die ref hoé gekroek, beter as baie rugbyspelers.

    italiasvetпрокурор Фильчаков

  • Bepleit Bekker ideëkolonialisme?

    ‘n Onlangse beriggie in Naspers het bykans ongesiens verbygegaan.

    Koos Bekker, uitvoerende hoof van Naspers, het gewys na voordele van “sosiale media” asook die gevare en dat dit tot polarisasie kan lei. (Beriggie hieronder).

    Hierdie kwessie word al lank en ruim deur talle instansies en individue onder die loep geneem. Die baken hiervan, uit die gedrukte media, was toe Tim du Plessis, destyds nog redakteur van Rapport, gewys het daarop dat hoofstroom media dwaas sal wees om nuus vir sekere doeleindes te manipuleer, omdat die werklike toedrag gewoon daaromheen sal vloei, soos deur die “alewige blogs.”

    Bekker lys nou Facebook, Twitter en Myspace. Twitter het bekendheid verwerf toe dié netwerk intensief ingespan is om die ware toedrag van sake met die laaste Iranse presidentsverkiesing te versprei. Koerante oorsee het nie net geskrewe inligting gekry nie, maar foto’s en videomateriaal.

    Trouens, met dié dat bykans amper elke mens nou ‘n wandelende joernalis is, en gereeld voor die dienende joernaliste op tonele soos ongelukke kan wees, wend verskeie media oorsee nou al lede van die publiek as “gemeenskapspers” aan om stories en foto’s uit alle uithoeke van die betrokke lande te verkry.

    Die wetlike druk van die media hier om aan ras- en geslagskwotas te voldoen, slurp bedryfsgeldjies op en korrespondente, vryskutjoernaliste (tensy hulle goeie verbintenisse het) en gemeenskapsjoernaliste trek noustrop.

    Internasionaal wil dit ook nog nie voorkom of adverteerders – enige media se lewensbloed – nog dieselfde premie op internetgedrewe media plaas as op die gedrukte, of die uitsaaimedia nie. Baie van die nuusblogs en woernale is dus nie kommersiële bedrywe nie. En hoewel die meeste slegs deur groot persoonlike opoffering bestaan en kwaliteit lewer, is die konvensionele media tog bekommerd. Dit ding wel om die advertensiekoek mee, en, soos Bekker dit stel, dit werk fragmentering aan die hand.

    Uit die berig is dit nie duidelik of Bekker hier in wese erken dat die pers, en dan spesifiek sy groep, ‘n soort eenvormige gedagtekolonialisme beoefen nie. Dit is moeilik om enige ander afleiding te maak.

    Trouens, onder die vorige redakteur het die Volksblad in ‘n hoofartikel, na kritiek oor partypolitieke bevooroordeeldheid tydens ‘n Kovsie-studenteverkiesing, sy eie beleidsbeginsels geplaas en daarby verklaar dat enige party wat hierdie beginsels onderskryf, die Volksblad se steun verdien. Dié beleidstelling was nie van dié van die DA te onderskei nie.

    Met ‘n vorige poging om ‘n missie te stel, het ‘n briefskrywer opgemerk dat die woord “Christelik” ontbreek. Volksblad het gekursifiseerd onderaan die brief geantwoord dat dit vanselfsprekend inbegrepe was. Met die latere beleidstelling was “Christelik” weer afwesig en was daar nie ‘n beroering onder lesers nie. Onder dieselfde redakteur het Volksblad verklaar dat “aborsie nie meer deel van die openbare debat” was nie. Met die laaste rits openbare debatte oor gewysigde aborsiewetgewing, het Volksblad en sy gemeenskapskoerante, die openbare verhore totaal geïgnoreer. Ander gemeenskapskoerante vanuit Media 24 se stal in die Vrystaat het egter wel nuusdekking verleen. Na die betrokke redakteur afgetree het, het verskeie omvangryke artikels en gereëlde nuusdekking oor aborsie wél in Volksblad verskyn.

    Die punt is, die nuus, en nie die redakteur of koerantgroep se ideologie nie, maak die nuus. As die nuus dan via ander “sosiale netwerke” rondom die tradisionele media beweeg, bevind hulle hulself in effektief dieselfde posisie as veral Arabiese lande se regerings wat streng perssensuur toepas, maar nie kan verhinder die dat die publiek goed ingelig is nie.

    As koerante sy “saamtrekkende krag” (aldus Bekker) wil gebruik om by voorkeur mense uit die dampkring van Max du Preez (pas byna woordeliks nagepraat deur prof. Amanda Gouws), Henry Jeffreys, Zelda Jongbloed en ander te “kolonialiseer” is dit te wagte dat ‘n toenemende aantal denkende mense hulle tot alternatiewe sal wend.

    Uit ‘n globale perspektief handhaaf hierdie mense (Max en kie) ‘n “politieke visie” wat reeds ongeveer dertig jaar uitgediend is. Verdien die publiek nie ‘n meer verteenwoordigende globale staatkundige en politieke perspektief nie? Lê die probleem van polarisasie nie eerder daarin dat baie mense nou net aan een van die perspektiewe blootgestel word nie en dan noodwendig elders na die geheelbeeld moet soek?

    Om te argumenteer dat dit wat aan lesers in terme van politieke en staatkundige beïnvloeding voorgesit moet word, aan die kriteria van fatsoenlikheid moet voldoen, gaan gewoon nie op nie. Gebrek aan fatsoenlikheid kom nie net op een deel van die politieke spektrum voor nie. Dit sal byvoorbeeld bars gaan om Jeffreys se “Afrikaner-afvalliges” in enige dampkring ‘n baadjie van fatsoenlikheid aan te trek.

    En kan politieke retoriek gebaseer op foutiewe inligting enigsins kwalifiseer om as “fatsoenlik” voorgesit te word?

    ‘Díe media kan tot fragmentering lei’

    KAAPSTAD. – Daar is voordele aan sosiale media, maar dit kan tot die fragmentering van ons samelewing lei, het mnr. Koos Bekker, uitvoerende hoof van Naspers, gister gewaarsku in ‘n praatjie oor sosiale media in die Kiks.
    Sosiale netwerke soos Facebook, Twitter en Myspace se rol in die samelewing het die naweek op Fortune, Time en CNN se Global Forum ter sprake gekom. Volgens Bekker word daar al hoe meer wegbeweeg van gestandaardiseerde media soos koerante en tydskrifte, en mense wat nog saam die 19:00 nuus kyk en die volgende dag kan saampraat oor wat in die wêreld aangaan. “Die sametrekkende krag van media (soos koerante) wat gebruik word, word verswak.”
    Hy het gesê dit word al hoe makliker om in kleiner groepies bymekaar te kom, wat kan lei tot polarisasie. “En ons word so versterk in ons vooroordele.” – Alicestine October

    how to promoteФильчаков Харьков

  • Herrie se kerrie: Oumagrootjie se móét troue

    Met die kleinhuisie-moles in die Kaap kan Herrie nie verstaan hoekom die volkie saans vasgenael voor die TV sit en sepies kyk nie. Ja, sê Groot Herrie, die kleinhuisiemoles laat die k*k behoorlik spat … by wyse van spreke natuurlik.

    Maar saans sit die nasie Sewende Laan en kyk, omtrent soos ‘n eietydse boekevat.

    En van boekevat gepraat, daar was al ‘n paar gevalle waar inbrekers veel meer as boeke gevat het terwyl die huismense vasgenael sit en kyk wat aangaan “in die Laan.”

    Volgens ‘n gewoonlik betroubare bron was daar nog nie ‘n enkele swangerskap in Sewende Laan wat nie buite die eg was nie. Tot Jan-Hendrik se eerste vrou se verwagting was in afwagting van ‘n ding met die boetie (vertel die bron).

    Nou, so klink dit vir Herrie, ‘n beter naam vir Sewende Laan sou die Afrikaanse naam vir die reeks, Dallas, wees. Spyk*rkaskenades.

    Maar dis nie van vandag af dat die volkie darem geweet het hoe om te vry dat die rook trek nie. Van Herrie maar kan onthou is gefluister van iemand wat in die ander tyd is, iemand, wat soos Worsie gesê het oor die tou geval het, moet troue, en vele meer. Dit lyk ook of die hompiekedompioes wat gebruik is, al jare lank van Indië af kom.

    Die moet-troue die verste terug waarvan Herrie weet is ‘n vriend se oumagrootjie.

    Vertel die vriend, hy was stom verbaas oor hoe dié oumagrootjie heel openlik gepraat het oor haar moet-troue. Na oumagrootjie al weggeval het, pla die ding hom nog, en hy vra sy pa daarna.

    Sy pa lag. “Ja, jou oumagrootjie moes trou. Toe sy nog ‘n jong meisie was, het daar ‘n vryersklong gekom, waaroor sy nog nie seker was oor hoe sy voel nie. Op ‘n dag gaan ry hulle perd, en toe die jongetjie haar op die perd help, toe skuif haar rok bietjie op en hy sien haar kaal enkel.

    “Toe moet ek maar met hom trou,” het ouma vertel.

    Dié storie het naderhand ‘n tweede vers bygekry, wat oumagrootjie heelwat later in die geskiedenis plaas. Die tweede vers het sy oorsprong ‘n ‘n gepubliseerde storie, maar Herrie kan nou glad nie onthou in watter bundel en deur watter skrywer nie.

    Die tweede vers lui dat die ouma se enkel gewys het toe die tweetjies op die plaas gaan stap het, en die jongetjie vir ouma deur die draad gehelp het.

    Met hul vyftigste huweliksherdenking kry hulle lus om weer daai stap nostalgies te gaan stap. Die plaas is toe al lankal in ander hande, maar die kinders kry ‘n toestemming gereël.

    Toe die twee oues by die draad kom, is dit ‘n blinknuwe draad. Deur moet hulle deur, ter wille van die besondere herinnering. Maar skaars is die tante nog in die proses, toe skop sy die oom se knieskyf dat dit heel skeef staan. Die tante vlieg op: “Nou wie het daai draad loop elektrifiseer?”

    игри для мальчиков машинкиАлександр Фильчаков прокурор