praag.co.za

Tag: verraaier

  • Karel Combrinck: De Klerk doen dit weer

    Karel Combrinck: De Klerk doen dit weer

    Êrens op die internet sien ek in ‘n koerantberig ‘n foto van FW de Klerk met die opskrif:  “Ek sal dit weer doen .” Ek het nie die berig gelees nie, want ek was bang vir naar word. Om te weet wat De Klerk sou doen as hy weer die kans kry, het ‘n mens nie ‘n koerantberig nodig nie en behoef ‘n mens ook nie te veel verbeeldingskrag nie. Jy hoef net maar rondom jou heen te kyk en te wonder, is die man dan totaal gek?

    Die lys dinge wat mnr De Klerk sou herhaal as hy weer die kans kry, is oneindig : Geleidelike uitmoor van ons mense, uitrangering van witmense, veral wit mans uit die werkplek, aftakeling van ons ekonomie (pas weer ‘n afgradering van die RSA se kredietwaardigheid na benede rommelvlak, ‘n erestatus wat die land maande lank reeds beklee), ineenstorting van plaaslike regering, verval van groot staatskorporasies soos die SABC, die SAL en Eskom, vernietiging van ons taal en kultuur, diefstal van ons grond, korrupsie op feitlik elke vlak, jammerlike agteruitgang van infrastruktuur, paaie en brûe, kortom, rampspoedige wanbestuur van ons land op bykans elke gebied.

    “Bravo,” sê mnr De Klerk, “ek doen dit weer.”

    Maar nou, net ‘n paar woorde oor die ergste verraad van mnr De Klerk., naamlik die oorhandiging van ons weermag aan ons vyand, die ANC, wat ons vir jare geteister het met terrroriste-aanvalle in onder meer restourante en kerke. Dit is byna ondenkbaar. Mnr De Klerk het ons verdedigings- en polisiemag aan die ANC geskenk met alles wat dit behels : wapentuig, vegvliegtuie, pantservoertuie, wapenstelsels met al die tegnologie wat daarmee saamgaan en wat ons oor jare opgebou het, insluitende ‘n kernpotensiaal. En dít alles gedoen met ons belastinggeld.

    En, kom ons vergeet veral nie die jongmense, dienspligtiges en staandemaglede, wat hulle lewens nou tevergeef geoffer het in die stryd teen die ANC en hulle buitelandse bondgenote.

    Mnr De Klerk sê: “Ek voel vere. Ek doen dit dit weer.”

    Deur ons Weermag en Polisiemag aan die ANC te oorhandig, het mnr De Klerk ons die vermoë ontneem om ons te verdedig en ons uitgelewer aan geweldenaars wat ons mense byna na hartelus uitmoor en verkrag — veel meer as voor mnr De Klerk se oehoeroe. Terselfdertyd het hy die ANC se vermoëns om ons te oorheers eindeloos versterk. Vir die persoon wat by uitstek verantwoordelik was vir ons veiligheid, naamlik die Staatspresident, is dit ‘n onvergelyklik laakbare daad. Trouens dit is sekerlik die mees uiterste geval van verraad in die geskiedenis van die mensdom. Sonder om melodramaties te probeer wees: hy het die swaard van die volk gelê in die skoot van ‘n kommunistiese terroris.

    Om te dink ons het eens leiers gehad soos Genl Hertzog, dr Malan, adv Hans Strydom en dr Verwoerd. En voor hulle was daar ook nog  Genl De la Rey en Gen Christiaan de Wet. In hulle tyd was daar ook verraaiers, maar wie onthou hulle nog? Genl Smuts was ook ‘n verraaier, nie so erg soos De Klerk nie en kyk wat het van hom geword.

    Waaraan ‘n mens jou met sekerheid kan troos, is dat die tyd mnr De Klerk sal inhaal en beoordeel volgens sy verdienste en hom sal verdoem tot die verfoeilike verraaier wat hy is. Want niemand, nie eers jou vyand nie, het enige respek vir ‘n verraaier nie. Miskien sal van ons daardie heuglike dag nie belewe nie, want mense neem tyd om te verstaan, maar verstaan sal hulle uiteindelik  en so seker soos daglig sal mnr De Klerk en sy rommeldemokrasie op die vullishoop van die geskiedenis eindig.

  • FW de Klerk: verraaier… vloek der aarde!

    Daar is niemand in hierdie land; nie eers die Jodin en Black Sash-lid, Helen Zille wat my meer walg as FW de Klerk nie. Indien iemand wat sulke verraad soos hy teenoor sy volk gepleeg het en met miljarde dollars daarvoor beloon is, en dan boonop nog waag om in die openbaar te verskyn, kan dit net aan een feit toegeskryf word – arrogansie!

    ‘n Nasie kan sy gekke oorleef, en selfs die ooryweriges. Maar dit kan nie verraad van binne oorleef nie. ‘n Vyand voor die poorte is minder gevaarlik, want hy vertoon sy kleure openlik. Maar die verraaier beweeg vrylik tussen ons binne daardie poorte, sy sluwe fluisteringe ruis deur al die steë, word in die raadsale van die regering self gehoor. Want die verraaier skyn geen verraaier te wees nie, hy praat met ‘n aksent waaraan al die slagoffers gewoond is, en hy vertoon hul aanskyn en hul argumente, hy rig hom op die gemeenheid wat diep in die harte van alle mense sluimer. Hy verrot die siel van ‘n volk, hy werk in die geheim en ongesiens in die nag om die pilare van die stad te ondergrawe, hy besmet die politieke liggaam sodat dit nie langer weerstand kan bied nie. ‘n Moordenaar is minder om te vrees. Die verraaier is die plaag. – Cicero

    Elke jaar op 2 Februarie moet die Afrikaner weer verneder word deur na hierdie vloek der aarde se manewales op TV te kyk. Nou is ‘n straat na hom vernoem! Foeitog. En hy sê dit maak hom skaam. Sy optrede kan vergelyk word met ‘n graadeendogtertjie met dié verskil dat so ‘n kind wel opreg skaam is; De Klerk se optrede getuig van hoogmoed. As hy geen skaamte toon oor wat hy aan sy volk gedoen het nie, waarom sou hy skaam wees oor ‘n straatnaam wat na hom vernoem word? Of het hy dalk bedoel, skuldig? Ja, selfs Judas het spyt gehad …

    FW de Klerk en Desmond Tutu
    FW de Klerk en Desmond Tutu

    Vir diegene wat vergeet het wat verraad is, word die boek van Albert Blake, Boereverraaier: Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog aanbeveel. Dit werp interessante lig op wat as verraad beskou is en behoort te word en hoe verraaiers deur ‘n volk hanteer behoort te word.

    Reeds tydens die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881), ongeag die kortstondigheid daarvan, was verraad aan die orde van die dag. ‘n Sekere J van der Linden het tydens daardie oorlog die Boere se geheime beplanning aan die Britte oorgedra. Nadat hy in ‘n skermutseling met die Britte gevange geneem is, het die krygsraad op 31 Desember 1880 ‘n verhoor gehou, hom aan hoogverraad skuldig bevind en ter dood veroordeel. Op dieselfde dag is hy deur ‘n vuurpeloton terreggestel.

    Vir die Boere van destyds was verraad teen die Afrikanervolk ‘n Judassonde omdat die Bybel hulle geleer het verraad is verwerplik. Johanna Brandt het na die verraaiers as “Judasboeren” verwys. ‘n Sekere genl. Ben Bouwer het soos volg na hulle verwys:

    “Zij schandvlekten met hun laagheid die eervolle naam van die Afrikaner of Boer, (die eigenlijk slechts synoniem zijn). Zie, daar keeren wij ons in afgrijzen van, daarvan walgt het gemoed van ieder eerlijk mensch, van elken Afrikaner die voor de eer van zijnen naam waakte als voor iets heiligs.”

    Eugene Marais, die bekende volksdigter. het soos volg na hulle verwys:

    “ Wie zal het een dapper volk kwalijk nemen dat hy der verrader haat gelijk ieder eerlyk mensch den duivel, de zonde, en alles wat vuil en afschuwelijk is, haat?”.

    Roland Schikkerling het na hulle verwys as ‘n eerlose gespuis wat vir ewig gebrandmerk is en ook as ‘n veragtelike gespuis. President Steyn het self nog gedurende die oorlog gesê:

    “Veragting vir die National Scouts sal voortduur tot ons kinders se kinders tot in verre geslagte. Geen eerlike man sal sy hand na hulle uitsteek nie en geen Afrikaners sal hulle ken nie”.

    ‘n Sekere JPD Theunissen het tydens die Anglo-Boereoorlog die burgers met verskeie argumente tot oorgawe probeer beweeg. Hy’t die gees van die défaitisme wat geheers het doelbewus misbruik en is nie net van verraad nie, maar ook van lafhartigheid beskuldig. Hy beweeg ‘n klomp van sy makkers tot oorgawe waarna ‘n eed van neutraliteit afgelê word en Theunissen voortgaan met sy boerderybelange. Hy is later deur die Boere gevang en van hoogverraad aangekla, skuldig bevind en is die doodsvonnis oor hom uitgespreek. Beide De la Ray en Smuts het die doodsvonnis bekragtig.

    Die bekendste twee voorbeelde van verraad was natuurlik dié van genl Piet de Wet en genl Andries Cronjé wat aktief saam met die Britte teen die Boere geveg het. Genl Christiaan de Wet het by geleentheid opgemerk dat indien hy sy broer sou raakloop hy hom “soos ‘n hond sou vrek skiet”.

    ‘n Mens bevind jou dus in goeie geselskap as jy in die hardste terme denkbaar na hierdie veraaiers verwys. En De Klerk beklee nou die posisie van die nommereenverraaier in hierdie land. Ons is eerloos deur hom uitgelewer aan ‘n vyand wat alle middele tot sy beskikking gebruik om ons te vernietig. Dit is hoogverraad.

    Waar die optrede van verraaiers tydens die Anglo-Boereoorlog as skandelik beskou is en met hulle afgereken is indien hulle gevang is, loop hierdie vloek der aarde met ‘n glimlag op sy gesig rond en word hy steeds ryklik beloon en geprys vir sy verraad. In plaas daarvan dat, soos na die Anglo-Boereoorlog, waar verraaiers vir jare geminag is en selfs uit kerke verban is, word hierdie verraaier-monster telkens uitgebeeld as die man wat ons land van ‘n bloedbad gered het. Laat dit tienduisendmaal herhaal word: Dit is ‘n blatante en infame leuen!

    Daar is iets drasties fout met sekere volksgenote se oordeelsvermoë. Is dit afvalligheid wat die deurslag begin gee, of praat hulle maar net die media klakkeloos na as hulle ook vir De Klerk nog enige agting het? Wel, geen opregte Afrikaner kan enige respek hê vir ‘n man wat tot sulke laagtes gedaal het nie! Hy mag nie toegelaat word om die mantel van verraaierskap enigins te probeer afwerp nie! Ja, geen opregte Afrikaner kan enigsins respek vir hom hê nie.

  • FW de Klerk se glansende daad van verraad

    Op die vooraand van die twintigjarige herdenking van 2 Februarie 1990 toe FW de Klerk besluit het om Nelson Mandela en sy medegevangenes van die ANC en SAKP vry te laat en die verbod op dié twee organisasies op te hef, beleef ons die wrange nalatenskap van die sogenaamde “onderhandelings” van destyds.

    In die referendum van 1992 is die toentertydse blanke kiesers gevra om “ja” of “nee” te stem op die volgende, oënskynlik onskuldige, vraag: “Is u ten gunste van die voortsetting van die Staatspresident se hervormingsproses wat op 2 Februarie 1990 begin is en gemik is op die daarstelling van ‘n nuwe grondwet deur onderhandeling?”

    In die lig van De Klerk en Roelf Meyer se optrede kort daarna, asook die verwikkelinge sedertdien, sou daardie referendumvraag eerder só moes gelui het: “Is u ten gunste van ‘n militêre oorgawe aan die ANC en SAKP, met die oorhandiging van die weermag en alle outomatiese wapens aan Umkhonto we Sizwe, asook die instelling van grondhervorming, rassediskriminasie teen blankes op alle gebiede en die uitfassering van Afrikaanse skole en universiteite?”

    Indien dié vraag destyds gevra is, sou waarskynlik net ‘n klein groepie radikales en Engelssprekendes in 1992 “ja” gestem het. Die res sou saam met die KP en HNP “nee” gestem het.

    Vele mense noem Max du Preez, Carl Niehaus, Antjie Krog en Ruda Landman “verraaiers” omdat hulle as gebore Afrikaners die ANC se ideologie verinnerlik het en vandag deelneem aan ‘n politieke en propagandaveldtog teen hul eie mense. Maar ek is van mening dat elkeen, ongeag sy of haar afkoms, vry is om sy politiek of idees te kies. Soos Schopenhauer egter gesê het: “Slegs ‘n minderheid mense is vatbaar vir oortuiging. Die meerderheid is slegs vatbaar vir gesag.” Vele Afrikaners in die huidige bedeling wat die heersende ideologie van politieke korrektheid en anti-blanke rassisme aanhang, is eintlik maar meelopers en hul idees sal waarskynlik môre met ‘n handomkeer verander indien ‘n andersoortige regering aan bewind kom. Soos die hensoppers en hanskakies van ouds, is sulke mense “geleentheidsverraaiers” en doen hulle dit heel openlik, waarskynlik omdat hulle voel dat hulle deur die maghebber teen weerwraak uit eie geledere beskerm word.

    Die ergste vorm van verraad, myns insiens, word gepleeg deur iemand wat voorgee om lojaal teenoor sy volk te wees, maar agteraf – en skelm – eintlik met die vyand heul om sy eie mense tot ‘n val te bring. Hierdie soort verraaier is deur die Latynse skrywer Cicero beskryf toe hy gesê het:

    “‘n Volk kan sy dwase, selfs die eersugtiges onder hulle, oorleef, maar nie verraad uit die binnekring nie. ‘n Vyand voor die poorte is minder vreesaanjaend, want hy word uitgeken en hy laat sy vlae openlik wapper. Dog die verraaier beweeg vrylik tussen diegene binne die poorte terwyl sy slinkse fluisteringe deur al die gangetjies ruis en selfs in die regeringsetel self hoorbaar is. Want die verraaier verskyn nie as verraaier nie – hy praat op ‘n toon wat aan sy slagoffers welbekend is, sy aangesig en sy gewaad is soos hulle s’n, en hy beroep hom op ‘n soort gemeenheid wat diep in die harte van alle mense verskuil lê. Hy vermurwe ‘n nasie se siel – hy werk heimlik en ongesiens in die duister om die stutpilare van ‘n stad te ondergrawe – hy besmet die staatsmasjinerie totdat dit van alle weerstand beroof is. Selfs van ‘n moordenaar is minder te vrees.”

    Vele mense glo dat FW de Klerk en Roelf Meyer nog eendag sal teregstaan en deur ‘n Afrikanerhof, selfs ‘n krygshof in die geval van ‘n staatsgreep of revolusie, verhoor sal word om te bepaal of hulle werklik in hul gemoed aan verraad skuldig was en of hulle bloot uit dwaasheid of naïwiteit gehandel het. Ek wil nie so ‘n, eventuele, verhoor vooruit loop nie en kan daarom nie oor De Klerk se ware motiewe ‘n oordeel vel nie.

    Dat daar egter, soos hulle in die reg sê, ‘n prima facie-saak van verraad teen hom en Roelf Meyer bestaan, is gewis. Waarop grond ek dié stelling? Kom ons kyk na enkele aspekte van De Klerk en Meyer se optrede gedurende daardie ysingwekkende maande voor Mandela se kroning by die Uniegebou in 1994.

    Hoewel die referendum oor “onderhandeling” gegaan het, beplan De Klerk en veral Meyer reeds vroegaan ‘n volslae oorgawe aan die ANC wat metterwoon ‘n militêre oorgawe sou word, met die oorname van die bevelstruktuur van die weermag, tesame met alle pantser en outomatiese wapens, deur Umkhonto we Sizwe, APLA en ander gewapende groepe aan ANC-kant. De Klerk dank trouens ‘n groot groep van sy generaals op versoek van, let wel, Mandela, af omdat dié sogenaamd dalk die “hervormingsproses” (wat sedertdien die “Nasionale Demokratiese Revolusie” geword het) in die wiele kon ry.

    Toe die NP se hoofonderhandelaar, dr. Tertius Delport (tans DA-parlementslid), ‘n regsgeleerde, vassteek by sekere van die ANC se onredelike eise om alle mag, ook oor die Afrikaner se toekoms, te bekom, dank De Klerk hom summier af en stel vir Meyer aan. Volgens oorlede Chris Louw, wat die onderhandelings destyds as joernalis gedek het, het Meyer vroeg-vroeg met die NP-kabinet begin onderhandel om die ANC se voorstelle te aanvaar, eerder as wat hy met die ANC onderhandel het om enige NP-voorstelle aan te neem. Selfs De Klerk het op ‘n stadium blybaar teenoor die voortvarende Meyer, wat enkele jare later letterlik ‘n kaartdraende lid van die ANC geword het, uitgeroep: “Maar my God, Roelf, nou het jy ons mos uitverkoop!”

    Soos Pieter Mulder vanoggend op RSG laat blyk het, het De Klerk en die Nasionale Party nog tydens die algemene verkiesing van 1989 ‘n kragdadige standpunt ingeneem dat “terrorisme met hand en tand beveg sal word” en dat Afrikaans en eie skole en woonbuurte “ononderhandelbaar” was. Van “onderhandelings” was daar toe glad nie sprake nie. En van oorgawe allermins!

    Die wonderbaarlike oorname van Suid-Afrika, die enigste nywerheidsland in Afrika en ‘n militêre moondheid van formaat, deur ‘n radikale kliek uitgewekenes van die ANC/SAKP wat destyds nog deur die veiligheidsdienste van die VSA en baie ander lande as ‘n derderangse terroristegroep geklassifiseer is, moet as een van die sonderlingste gebeure in die geskiedenis gesien word. Sonder FW de Klerk se verraad teenoor sy eie kiesers, ondersteuners en natuurlik die hele Afrikanervolk, sou hierdie vreemde staatsgreep wat onder die dekmantel van “onderhandelings” oor “wigte en teenwigte”, “groepsregte” en “demokrasie” uitgevoer is, geensins moontlik gewees het nie.

    Interessant is ook dat die liberale politikus Frederik van Zyl Slabbert, self ‘n verloopte Afrikaner en destydse kritikus van sogenaamde “apartheid”, verwys na De Klerk in sy boek, Duskant die geskiedenis. Tydens ‘n gesprek tussen Tjol Lategan en Van Zyl Slabbert kom die volgende na vore (bll. 35-36):

    “Ek (Slabbert) vra hom eendag tydens middagete, ‘Tjol, wat dink FW gaan hy bereik?’ Hy sê, ‘Moenie jy jou bekommer nie, Van Zyl. Ons kapituleer glad nie. FW gaan hulle by onderhandelinge betrek en dan tien jaar lank die pas markeer.’ Ek sê, ‘Julle besef nie met wie julle te doen het nie.’ Niks som hierdie dwaasheid beter op nie as genl. George Meiring se eie woorde: ‘Ná die inhuldiging is ek gevra om aan die president se tafel te sit. Ek weet nie hoekom ek gekies is nie. FW de Klerk het ook aan die hooftafel gesit – hy sê vir my terwyl ons na die verbyvlug en ander verrigtinge kyk, ‘Ons hoef regtig nie so maklik in te gegee het nie’ (sy woorde). Ek sê vir hom, ‘Maar jy het nooit jou sterk basis gebruik  om vanuit te onderhandel nie, jy het nooit die militêre magte gebruik as ‘n magsbasis wat jy tot  jou beskikking gehad het nie, jy wou dit nooit gebruik nie.’ Hy het net stilgebly, en daarna het ons nie weer gesels nie. Sedert daardie dag is daar nie ‘n goeie gees tussen ons nie.’”

    Natuurlik is De Klerk se oorgawe aan die ANC, wat die land sedertdien met sy “ontplooide kaders” en skurke na willekeur regeer en na hartelus plunder, in die Britse en Amerikaanse media as ‘n “wonderwerk” opgehemel. Ons moet egter onthou dat Groot Brittanje oor die afgelope twee honderd jaar nog nooit die bestaan van die Afrikanervolk as inheems aan dié land en aan Afrika erken het nie. Trouens, Brittanje het slegs in die kort wyle tussen 1883 en 1899 ons reg op selfbeskikking erken en in 1910 is die Unie in die Britse Gemenebes ingedwing waar ons onder andere in twee wêreldoorloë as kanonvoer vir die Britte gebruik is. Kort ná die radikale Britse priester, Trevor Huddleston, se terugkeer na Brittanje vanuit Suid-Afrika in die laat vyftigerjare, het Britse linkses begin om ‘n grootskaalse propagandaveldtog teen ons land en veral teen Afrikaners te voer.

    Die sogenaamde “wêreldwye kritiek op apartheid” was niks minder as anti-Afrikanerhisterie wat uit Londen en veral deur die linkse Guardian en die BBC aangeblaas is nie. Die plaaslike Engelse koerante wat grotendeels onder beheer van die Britsgesinde koloniale mynhuise gestaan het, het insgelyks Afrikanerregering as ‘n “misdaad teen die mensdom” begin verdoem en die weg op revolusie voorberei. Trouens, niemand minder nie as Bram Fischer, die ondergrondse leier van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, het die rol van die Engelse pers hier te lande in die sestigerjare so beskryf: “They are doing a sterling job.” Die land se komplekse etniese, taalkundige en politieke probleme is tot enkele eenvoudige slagspreuke gereduseer met die onderliggende implikasie: die Afrikaner moet magteloos gestel en liefs vernietig word.

    Ontredderd en ontwapen soos tans, is ons ‘n maklike prooi vir sowel die ANC-bewind wat die land se pantser en outomatiese wapens beheer, asook die duisende moordbendes wat huise en plase na hartelus aanval. Die vraag kan gerus gevra word: het terrorisme in 1994 aan sy einde gekom of woed dit tans in ‘n ander gedaante voort, in die vorm van sogenaamde “misdaad”?

    De Klerk se ‘nuwe era’

    In die lewe van elke volk is daar hoogtepunte en laagtepunte. Terwyl die ANC-gesinde media in dié land en veral Nasionale Pers die oorgawe van 1994 konstant as “onvermydelik” en “‘n goeie ding” probeer ophemel, weet die gewone Afrikaner vandag van beter. Hy ervaar die geweld, onreg en korrupsie van De Klerk se bestel aan eie bas.

    Pleks van “die begin van ‘n nuwe era” soos 2 Februarie 1990 aan ons voorgehou word, verteenwoordig dié datum, asook 27 April 1994, ‘n laagtepunt in ons geskiedenis. Soos soveel mense al gesê het: Ná die militêre neerlaag van 1902 teen Brittanje kon die destydse Boereleiers nogtans die eer en waardigheid van hul volk by die onderhandelingstafel red. Hoewel elke plaas deur die verskroeide-aardebeleid vernietig is, het elke boer nog steeds kaart en transport op sy grond gehad. In weerwil van Britse oorheersing, het Nederlands en later Afrikaans tog gelyke status teenoor Engels bekom. Hoewel Engelse die stedelike ekononomie en die mynhuise beheer het, was Afrikaners nogtans grondwetlik gelyk met Engelse en kon hulle op alle regte – ook op Afrikaanse skole en universiteite – aanspraak maak.

    Hoe lyk dinge ná 1994? Beskik ons nog oor kaart en transport op ons grond? Is Afrikaans nog gelyk met Engels? Is ‘n blanke Afrikaner gelyk met ‘n Engelssprekende swarte wat vir bemagtiging, regstelling en ander vorme van rasgebaseerde groepsregte kwalifiseer?

    Die vreemde bondgenootskap tussen die Naspersbase soos Ton Vosloo en Koos Bekker en De Klerk is iets wat nader ondersoek behoort te word. Hoewel “FW” en “De Klerk” vloekwoorde in die meeste Afrikaners – selfs die liberales, die linkses en die gays – se monde geword het, hou koerante soos Beeld, Die Burger en Rapport vol om oor “ons wonderlike grondwet” en De Klerk se “briljante onderhandelings” te skryf. Tesame met die SAUK wat onder direkte ANC- politieke beheer staan, tap Naspers hierdie propaganda by Afrikanerhuise teen dieselfde tempo in as wat die ANC die riool of suur mynwater in ons spruite en riviere laat loop.

    Net gister het Max du Preez – daardie propagandawoewoezêla en meeloper van die ANC-regime – weer honend in Rapport die huidige vlaag Afrikanerontevredenheid só afgemaak:

    “Mmm. Vergeet van die Eeu van Onreg of die Nag van die Lang Messe. Ek sien die Oomblik van Groot Ontgogeling in ons nabye toekoms. Die een of ander tyd gaan die besef skielik op die nuwe weerspanniges neerdaal dat daar nie ’n manier is waarop hulle die lokomotief van meerderheidsregering kan stuit nie. Dan gaan hulle voel soos die vier bloeiende Boerekrygers van die AWB in die stof langs hul grys Mercedes aan die einde van die Bophuthatswanakatastrofe in 1994: mislei en verraai deur leiers wat valse hoop verkwansel het.”

    In die doktrine van Marx en Engels is daar iets soos “historiese onafwendbaarheid”, wat kortom beteken dat wêreldkommunisme sal seëvier, kom wat wil. Max du Preez se stellings herinnner my nogal daaraan, dat die “lokomotief van meerderheidsregering” onstuitbaar soos Marx en Engels se “spook van kommunisme” deur die geskiedenis donder en alles – ook die lydende Afrikanervolk – in sy dolle vaart uit die pad vee.

    Ook dreig Du Preez ons sommer namens die ANC dat ons soos honde doodgeskiet gaan word indien ons hoegenaamd hierdie dwingelandy van rasse- en taaldiskriminasie sou bevraagteken.

    In Oos-Europa en elders het diktature of eenpartystate waar die bevolking in elke verkiesing met meer as tagtig of negentig persent vir die regerende party gestem het egter tot ‘n val gekom. Die Baltiese state (Litaue, Letland en Estland) met hul piepklein bevolkings het van die magtige Sowjetunie afgestig en is vandag vry en onafhanklik.

    Net so min as wat die Berlynse muur vir altyd die mense van Oos-Duitsland (die sogenaamde Duitse Demokratiese Republiek) van vryheid kon weerhou, gaan De Klerk en Mandela se “Demokratiese Republiek van Suid-Afrika” en sy muur van onvryheid ons permanent in bedwang hou.

    Om die gevolge van De Klerk se verraderlike oorgawe in perspektief te stel, hoef ‘n mens net twee kolomme op te stel wat die Afrikaners se posisie vóór en ná 1994 opsom:

    Vóór 1994 Ná 1994
    Gedeelde gebiedsaanspraak op die 1 200 000 vk. km. van die RSA Geen grondgebied
    Taalgelykheid met Engels Taalgelykheid met die onderontwikkelde Afrikatale en ongelykheid teenoor Engels
    3000 Afrikaanse skole en 5 Afrikaanse universiteite

    300 Afrikaanse skole en geen Afrikaanse universiteite

    Min of geen gewelddadige sterftes onder Afrikaners ‘n Tweede volksmoord: ongeveer 5000 gewelddadige sterftes onder Afrikaners per jaar, 80 000 in totaal

    Weermag en polisiemag grotendeels onder Afrikanerbeheer

    Weermag en polisiemag onder vreemde beheer

    500 000 outomatiese wapens, tenks en pantser onder Afrikanerbeheer

    500 000 outomatiese wapens, tenks en pantservoertuie onder vreemde beheer

    Eskom, Telkom, Transnet, SAL verskaf werk aan Afrikaners Eskom, Telkom, Transnet, SAL dank Afrikaners af
    Yskor onder Afrikanerbeheer en staatsbesit Yskor in Britse besit

    Eiendomsreg, met kaart en transport vir boere

    Eiendomsreg aangetas en grondhervorming
    Gelykheid teenoor Engelse Ongelykheid teenoor swartes, kleurlinge en Indiërs
    Taal- en kultuurregte Min of geen taal- en kultuurregte
    Omgewingsbesoedeling onder beheer Omgewingsbesoedeling buite beheer
    Riolering word onderhou
    Riolering stort in duie
    Onderhoud van paaie Swak onderhoud van paaie
    Goed funksionerende staatshospitale Wanfunksionerende staatshospitale
    Behoorlike plaaslike bestuur en munisipaliteite Vervallende, korrupte munisipaliteite
    Vrye deelname aan die ekonomie Beperkte deelname aan die ekonomie weens rassebepalings van die De Klerk-Meyer-grondwet
    SAUK grotendeels onder Afrikanerbeheer SAUK onder ANC-beheer

     

     

     

     

    De Klerk se tweede volksmoord

    Soos die Britse lords – Milner, Roberts en Kitchener – wat ‘n raps meer as ‘n eeu gelede ‘n volksmoord teen ons gepleeg het, het De Klerk deur sy verraderlike en onvoorwaardelike oorgawe aan die ANC en die Umkhonto-terroristebende ‘n tweede volksmoord teen sy eie mense, die Afrikaners, ontketen. Soos die Britse lords voor hom, was hy sy hande in onskuld. Hy pleeg nie self die geweld nie, maar hy het die omstandighede geskep vir ons mense om vermoor, verkrag en verdryf te word.

    Niemand weet presies hoeveel Afrikaners gewelddadig sedert De Klerk se revolusie omgekom het nie. Sulke syfers word geheim gehou, want waarskynlik sal dit ‘n skandaal veroorsaak indien dit ooit moes uitlek. Die globale syfer vir Suid-Afrika oor die afgelope sestien jaar is ongeveer 500 000, ‘n klein bietjie minder as die 800 000 wat in ‘n ander groot Afrikavolksmoord, dié in Rwanda, die lewe gelaat het.

    Informeel beweer lede van die polisie wat hulle met moordondersoeke besig hou dat tagtig persent van moorde op blankes in Suid-Afrika “rasgemotiveer” is. Weens die rassehaat wat oor die afgelope sestien jaar – ook via die SAUK se TV- en radiopgramme – aangeblaas is, kan ons verwag dat daar proporsioneel meer Afrikaners as swartes vermoor word. Indien ons slegs ses persent van die bevolking is, is daar waarskynlik meer as ses persent moorde teen ons gepleeg, waarskynlik in die orde van tien persent. Tien persent van die 500 000 moorde sedert 1994 = 50 000.

    Nie net is 50 000 Afrikaners oor die afgelope sestien jaar vermoor in die grootste slagting sedert 1899-1902 nie, maar ‘n miljoen Afrikaners het landuit gevlug om aan geweld, besoedeling, gesondheidsgevare en erge rasse- en taaldiskriminasie te ontkom.

    In sy boek “Hunnen in Süd-Afrika”, het die Duitser Wilhelm Vallentin oor die Britse en swart verkragtings van Boerevroue tydens die ABO geskryf:

    “Wat die gevolge van hierdie gedwonge geslagsverkeer met die gesonde, kragtige Boerevroue en -meisies vir die toekoms van die land inhou, kan aan die fantasie van die onbevooroordeelde persoon oorgelaat word.”

    Die onnoembare vraag wat De Klerk se “demokrasie” aan ons opdring, is: Hoeveel Afrikanervroue is sedert 1994 verkrag? Met hul mans en seuns ontwapen, geïntimideer deur wette wat selfverdediging deur ‘n blanke feitlik strafbaar maak en saggemaak deur propaganda, is ons vroue en meisies weereens aan die seksuele geweld van ‘n besetter uitgelewer.

    Weereens swyg die regime in alle tale oor verkragtings van Afrikanervroue. Ons weet egter dat daar in De Klerk se “nuwe era” elke sewentien sekondes ‘n vrou verkrag word. Dit beteken rofweg dat daar elke 283 sekondes, oftewel elke vyf minute of so ‘n Afrikanervrou verkrag word, dit wil sê, 12 per uur, 288 per dag, 2016 per week of 104 832 per jaar….

    ‘n Mens kan verder uit hierdie statistiek aflei dat ongeveer tien persent van die totale Afrikanervrouebevolking jaarliks verkrag word. Vroue, meisies, ma’s, oumas, voor die voet. Verkragting op hierdie skaal is, net soos massamoord, ‘n oorlogsmisdaad of misdaad teen die mensdom.

    Dis nie te sterk gestel om te sê dat De Klerk regstreeks of onregstreeks vir hierdie tweede volksmoord in die Afrikanergeskiedenis verantwoordelik is nie. Sonder sy onbesonne daad van volslae oorgawe – “Ons hoef regtig nie so maklik in te gegee het nie,” soos hy dit teenoor genl. George Meiring gestel het – sou hierdie ramp nooit plaasgevind het nie. Selfs die fameuse “bloedige burgeroorlog” wat soveel idiotiese Naspers-kommentators – soos Mad Max, maar daar is ook ander – altyd ophaal as De Klerk se oorgawe bevraagteken word, sou nie tot soveel sterftes en verkragtings gelei het as dít wat die “De Klerk-vrede” ons besorg het nie. ‘n Volskaalse oorlog tussen Afrikaners en die Xhosa-geleide ANC van destyds sou, gegewe ons toentertydse voordeel in wapentuig en opleiding, net een uitkoms gehad het: ‘n Afrikaneroorwinning. Met ‘n ANC wat militêr platgeslaan sou gewees het, sou daar sekerlik maklik “onderhandel” of gehandel kon gewees het.

    Pleks daarvan beleef ons tans een van die donkerste ure in ons geskiedenis, waar ons nie eens weet of daar nog plek vir ons kinders in die Suid-Afrika van môre gaan wees nie.

    Asof die vrees vir die moordbendes en verkragters wat ons daagliks teister nie genoeg is nie, word ons deur gekoopte lafaards soos Max du Preez in “die grootste Afrikaanse Sondagkoerant” met summiere teregstelling, vermoedelik deur amptenare van die mislukte De Klerk-staat, gedreig.

    Dis nou “menseregte”, dis nou “demokrasie”.

    free slotsлобановский класс харьков