Die links-liberale Sondagkoerant Rapport, wat deesdae grotendeels bestaan uit artikels wat uit die ekstreemlinkse Sondagblad City Press vertaal word, het gister ‘n hoofartikel gepubliseer waarin hy sy instemming met die standpunte van Julius Malema oor Afrikaans uitspreek.
Die titel van die artikel is: “Malema is reg — maak egter kru denkfoute.” Terwyl Malema geheel en al anti-Afrikaans is en wil hê dat die taal moet verdwyn, sien Rapport egter een of twee polities korrekte redes waarom Afrikaans ten dele moet voortbestaan. Een van die redes wat die Sondagblad aanvoer, is dat “Afrikaans die taal met die mees etnies-diverse sprekers” is. Verder is Afrikaans reeds op enkele uitsonderings na op universiteit afgeskaf, iets wat Rapport klakkeloos aanvaar en eintlik toejuig. Rapport verklaar: “Geen universiteit doseer meer uitsluitlik in Afrikaans nie en die meeste kursusse word glad nie in enige taal benewens Engels aangebied nie.”
Mites en vooroordele betreffende Afrikaans en Afrikaners waaroor Rappport met Malema saamstem, is onder andere:
- Malema is reg wanneer hy sê wit mense is in baie sfere van die Suid-Afrikaanse samelewing nog die bepalers van norme en kultuur.
- Hy is reg dat te veel swart mense nog in 2017 verneder word deur ’n tekort aan kwalifikasies en werk.
- Hy het reg dat Afrikaans tydens apartheid ’n belangrike draer van Afrikanerkultuur was en dat die tale en kulture van ons swart landgenote – net soos ons swart landgenote self – as minderwaardig beskou is. “Bantoetale” was in die formele ekonomie taboe.
- Malema is ook reg dat Afrikaanse mense – eerder as die sprekers van die inheemse Afrikatale – gedien word deur die voortgesette gebruik van Afrikaans as onderrigtaal.
- Hy is reg dat Afrikaanse én Engelse kurrikulums deur talle swart studente – reg of verkeerd – as ontoeganklik ervaar word.
- Hy is reg om steeds woedend te wees oor die onregte wat sy mense aangedoen is in die naam van Afrikanernasionalisme, wat op sy beurt ’n reaksie was op die vernedering en verarming wat Afrikaners aan die hand van die Britte moes deurmaak.
- Malema is reg dat baie wit Suid-Afrikaners, en baie Afrikaners, veral in die vorige bedeling, min moeite gedoen het om Afrikakultuur en Afrikatale te omarm, en eerder van swart Suid-Afrikaners verwag het om Engels en Afrikaans hul eie te maak.
“Laastens,” meen Rapport, “Malema se geloof dat (Afrikaans) ’n wit konstruk is, was in 1976 laas korrek.
