praag.co.za

Tag: Kameroen

  • Dodetal in Kameroen-treinramp styg

    Dodetal in Kameroen-treinramp styg

    Die dodetal in verlede week se treinongeluk in Kameroen het tot 79 gestyg, het die staatsmedia in die land gister berig.

    Owerhede in Kameroen is steeds besig om deur die wrakstukke na die oorskot van passasiers te soek.

    Sondag is nog 11 liggame gehaal uit die puin van die passasierstrein wat ten tyde van die ongeluk met 1 400 mense volgepak was.

    Die trein was tussen Kameroen se twee belangrikste stede, die hoofstad, Yaounde, en die sentraal-Afrikaland se hawestad, Douala, onderweg toe dit Vrydag naby die dorp Eseka ontspoor het.

  • MTN staar nog yslike boetes in die gesig

    Die selfoonreus, MTN sê hy is nog nie amptelik in kennis gestel van boetes teen sy sakebelange in Kameroen nie, maar dat die kwessie ondersoek word.

    Kameroen se teenkorrupsie-raad sê MTN het glo versuim om belasting op speletjies en dobbeldienste te betaal, het RSG berig.

    Die maatskappye MTN en Orange is volgens berigte as deel van ‘n omvattende operasie met sowat 160 miljoen dollar beboet.

    ‘n MTN-woordvoerder, Chris Maroleng sê die maatskappy sal kommentaar lewer sodra sy ondersoek afgehandel is.

    Die maatskappy is verlede jaar met sowat 80 miljard rand in Nigerië beboet.

    Berigte is ook verlede jaar ontvang van ‘n boete in Uganda.

  • Boko Haram slaan toe in Tsjad en Kameroen

    Dubbele selfmoordbomaanvalle Sondag het die lewe van minstens nege mense in die verre noorde in Kameroen geëis, ’n dag nadat driedubbele ontploffings in Tsjad die dood van 41 mense veroorsaak het.

    Boko Haram word vir die naweek se geweldpleging verantwoordelik gehou, het AFP berig.

    Albei lande is deel van die streekskoalisie wat teen die militante veg, wat in die afgelope maande hul bloedige aanvalle uit hul tradisionele vesting in die noorde van Nigerië verder buite die land se grense geneem het.

    Twee vroue selfmoordbomaanvallers het die aanvalle in die Kameroense nedersetting Kangaleri uitgevoer, het veiligheidswoordvoerders gesê.

    Nege mense is dood toe die eerste vrou ’n bom in ’n klein melk- en oliebolrestaurant laat ontplof het. Die tweede bom­aanvaller was die enigste slagoffer toe sy haar bom laat ontplof het.

    Van die 29 beseerdes is verskeie “baie ernstig” beseer, het ’n plaaslike amp­tenaar gesê.

    Die dodetal in Saterdag se drie bomontploffings in die stad Baga Sola in Tsjad het intussen tot 41 gestyg.

    Nog 48 mense is in die aanvalle beseer, het die Tsjadiese regering in ’n verklaring gesê.

    Een van die ontploffings het ’n vismark in Baga Sola geteiken en die ander twee ontploffings het in ’n vlugteling­kamp aan die buitewyke van die stad plaasgevind.

    Dit was die eerste sodanige aanval op Baga Sola. Die indruk dat dit ’n redelike veilige stad is, het tienduisende Nigeriese vlugtelinge en inwoners van Tsjad wat haweloos gelaat is deur Boko Haram-geweld, na die stad laat stroom om ’n veilige hawe te vind.

    Humanitêre- en veiligheidsbronne sê verskeie mense het hulself in die middel van ’n skare mense opgeblaas.

    Tsjad se verre noordelike gebied het reeds sedert Julie 15 selfmoordbomaanvalle beleef wat aan Boko Haram toegeskryf word. Meer as 100 mense is in die aanvalle dood.

    Minstens 17 000 mense is reeds dood en meer as 2,7 miljoen is haweloos gelaat sedert Boko Haram in 2009 met sy insurgensie begin het.

    Die groep, wat ’n alliansie aangekondig het met die Islamitiese Staat wat in Irak en Sirië veg, het die afgelope tyd grondgebied verloor nadat met ’n multinasionale aanslag begin is, maar veg nou met guerrilla-styl aanvalle en bomaanvalle terug.

    Die Nigeriese weermag het Sondag Boko Haram-vegters aangemoedig om oor te gee.

    Die weermag sê meer as 200 lede van die militante groep het hulle op 25 September in die noordoostelike dorp Banki oorgegee. Die dorp is as afspringplek vir aanvalle teen Kameroen gebruik.

  • Skare slaan selfmoordbomaanvaller dood

    ‘n Selfmoordbomaanvaller in Nigerië wat ‘n tweede ontploffing wou veroorsaak, is deur ‘n skare doodgeslaan.

    Minstens 17 mense is dood toe ‘n selfmoordbomaanvaller by ‘n bushalte in die noordooste van Nigerië se Borno-staat toegeslaan het.

    Volgens militêre bronne het ‘n tweede selfmoordaanvaller probeer om sy toestel by dieselfde bushalte te laat ontplof.

    ‘n Skare mense het hom egter gekeer en doodgeslaan.

    Die Boko Haram-groep is bekend daarvoor dat hy selfmoordbomaanvallers gebruik.

    Die Nigeriese weermag, saam met sy buurlande Kameroen, Niger en Tsjad het die afgelope drie weke verskeie oorwinnings in skermutselings met Boko Haram behaal.

  • Oranje onoorwonne na tweede rondte

    Oranje onoorwonne na tweede rondte

    Arjen Robben (links)Nederland het reeds voor gisteraand se groepfase-wedstryd teen Kameroen na die volgende rondte deurgedring. Die span het egter steeds met genoeg ywer gespeel om Kameroen 2-1 te troef.

    Vir die Nederlanders was dit goeie nuus dat Arjen Robben, hul beseerde ster, vir die eerste keer in die toernooi speelkans gekry het. Robben is laat in die tweede helfte opgestuur, en het sommer dadelik sy stempel afgedruk. Hy was ook instrumenteel in die aanteken van die wendoel.

    Intussen hét Italië toe, soos verwag is, die kous oor die kop gekry en die toernooi word nou verder sonder die verdedigende kampioen gespeel. Italië se teenspoed volg kort op dié van Frankryk, die ander grote wat reeds uitgeknikker is. Vandag kan dieselfde lot Spanje te beurt val.

    Die Italianers kan, soos die Franse, ‘n baie stief ontvangs tuis te wagte wees. In Italië is sokker gewilder as die pous, en sokkermal Italianers is bekend dat hulle erg emosioneel is oor dié spel.

    Nog sokkernuus is dat Kaliforniese windtonneltoetse toe onomstootlik bewys het – die Jabulani se vlug is onvoorspelbaar. Hierdie bal is spesiaal vir die toernooi ontwerp, en het vanuit die staanspoor die argwaan van spelers en afrigters op die lyf geloop omdat dit by tye kompleet lyk of die tokkelossie met hom doenig is.

    установкаtopcargo