WP Nel, die jong Cheetahstut wat in een seisoen die verbeelding soos selde aangegryp het, is ‘n boorling van Loeriesfontein in die Noordweste.
Nel het nie net in 2009 vernietigend geskrum nie, maar ook gereeld agter die doellyn gaan kuier soos sy drie in die halfeindstryd teen die Sharks getuig.
Sy seisoen het ‘n naasbeste opgelewer – toe hy as stut vir die Barbarians teen die All Blacks gekies is.
WP is op 30 April 1986 gebore, maar sy hoërskoolopleiding in Worcester voltooi, en vir Boland se Onder 18 span gespeel, daarna die WP se Onder 21-span gehaal, en vir die WP Vodacombeker-rugby, en vir Boland Curriebekerrugby gespeel, voor hy in 2009 vir die Cheetahs op die toneel gebars het. Hy het die Curriebekerspan in 2009 vanuit die Vodacomreeks gehaal, en nog nie Super 14-rugby gespeel nie.
WP is egter nie die enigste ysterman wat van Loersiesfontein kom nie. Nog ‘n legendariese stut wat uit dié geweste kom, is James O’Kennedy. Ook hy het vir die Boland gespeel, en die skrum met die ewe bekende Dawid de Villiers geanker het. In 1969 het die Boland, met ander bekendes soos die kaptein Dawie de Villiers, Mike Jennings en Pietman Basson in die Curriebeker-halfeindstryd teen die WP gespeel. Dié WP-span was amper ‘n volwaardige Springbokspan met spelers soos HO de Villiers, Jannie Engelbrecht, Mike Lawless, Eben Olivier, Andy van der Watt, Jannie Barnard, Jan Boland Coetzee, André de Wet, Wouter Hugo, Charlie Cockrell en Tiny Neethling, wat die kaptein was.
Dié span was nie ‘n eendag-somerspan nie, en in die laat jare sestigs is ‘n slag gelykop teen Noord-Transvaal, met spelers soos Frik du Preez in sy geledere, gespeel.
Op die internet skryf iemand dat die O’Kennedy’s van Loeriesfontein net so taai was soos die Etsebeth’s van Epping/Vasco. Om een van hulle platgemoker te kry het ‘n man ‘n Chev se domkrag nodig gehad – nie ‘n pieperige Datsun-domkrag nie.
Dit is egter nie net Loeriesfontein wat ystermanne oplewer nie. Uit die Noordweste het nog legendariese ysters gekom soos Herklaas Engelbrecht, Bert Young en Kakie Goosen.
Daar moet skynbaar ook iets in die Oos-Vrystaat se water wees. Onder die bekende stutte tel manne soos Jannie du Plessis, CJ van der Linde en Faan Rautenbach. As kragman staan Bismarck du Plessis nie veel vir boet Jannie terug nie, terwyl die Cheetahflank, Hendro Scholtz, die Cheethas se sterkste speler tot verhouding van sy gewig is. Frans Viljoen, wat nou as losvoorspeler die pap dik vir die Cheetahs aanmaak, kom soos Frans Steyn, van Ficksburg af.
Ook Gerrie Britz, wat al die Springboktrui oor sy kop getrek het, is ‘n gebore Oos-Vrystater.
Intussen, so lyk dit, het die Cheetahs met WP Nel, Coenie Oosthuizen en Wian du Preez weer ‘n stutfaktor soos min. Boonop het die Cheetahs skitterende skrumdokters soos Os du Rand byderhand, en vir die Super 14 kan nog ysters soos Albertus Buckle uit Griekwas ingespan word. Die Cheetahs sal nie weer die fout maak om sy buurman vlak te kyk wanneer na bruikbare Super 14-spelers gesoek word. Wanneer Nel en Oosthuizen saamspan sug die opponente nie net in die skrums nie, die twee baljaar die veld word soos die dae toe die Wit Tornado vir Barabas Venter en Bees Steyn gelyk op die veld gehad het.