'n Fout in die wêreld se mees algemene webblaaier, Internet Explorer, is nog nie deur Microsoft reggemaak nie.
Miljoene internetgebruikers word bedreig deur 'n fout wat kriminele kan toelaat om persoonlike en bankbesonderhede te kan bekom.
'n Groot fout is ontdek in Microsoft se internet Explorer-webblaaier, wat deur 70% van alle rekenaars gebruik word.
Omtrent 2 miljoen rekenaargebruikers het na bewering reeds die slagoffers van die probleem geword nadat hulle klaarblyklik veilige webwerwe besoek het, en die probleem dreig om oor die hele wêreldwye web te versprei.
As gevolg van die fout kan "Trojaanse perd"-virusse op miljoene rekenaars oorgedra word, wat aan kriminele toegang tot die rekenaars gee oor 'n afstand.
Kuberkrakers in Sjina is die middelpunt van die kuberaanval, wat die ernstigste is in die geskiedenis van Microsoft se bedryfstelsel. Soveel as 10 000 webwerwe is reeds geraak volgens die teen-virusvervaardiger Trend Micro.
Tot dusver het die krakers die tegnologie benut om rekenaarspeletjiewagwoorde te steel wat op die swartmark in die verre ooste verkoop kan word. Daar bestaan wesentlike vrese dat kuber-kriminele die fout kan uitbuit om bankrekeninge se toegangskodes te steel of om gemors-e-pos uit te stuur.
Microsoft het gesê dat die aanvalle sover net op die weergawe 7 van Internet Explorer plaasgevind het, maar het gewaarsku dat ander weergawes ook potensieel kwesbaar kan wees.
Die probleem is dat Microsoft se webblaaier, wat deur 1 miljard mense gebruik word, 'n basiese fout in die kernkomponent bevat wat dit toelaat om data van 'n webbladsy af te kan lees.
Krakers het 'n reeks HTML-kodes gevind, (die kodes waarmee webwerwe geskryf word) wat daardie fout uitbuit en veroorsaak dat Explorer nie wil werk nie.
Dit aktiveer 'n skadelike program wat deur die krakers geïnstalleer word wat aan hulle toegang gee tot die rekenaar sonder dat die eienaar dit weet.
Elia Florio, van die internetsekuriteitsmaatskappy Symantec, het gesê dat indien die masjien nie beskerm is nie, dit soos 'n oop deur vir 'n dief is.
Trend Micro se senior sekuriteitsadviseur in Brittanje, Ric Fergusson, het gesê "die bedreiging gaan van hier af net toeneem."
Microsoft werk oortyd om 'n programmatuurinlasprogram op te stel om die fout in die sekuriteit reg te stel. Intussen stel sommige industriekenners voor dat mense na alternatiewe webblaaiers toe moet oorskakel soos Opera en Firefox. Ander sê weer dat dit in belang is van sekuriteitskenners om te praat oor die saak, om hulle sagteware se verkope te help verhoog.
Microsoft stel voor dat gebruikers hulle internetsekuriteitsgebied na "hoog" toe verstel en Internet Explorer verstel om in "beskermde modus" te werk, en ook om teen-virusprogramme op datum te hou.

