Nieu-Seeland se Swart Pette, hulle nasionale krieketspan, het die openingstrofe, die eerste T20-wedstryd van die Proteas se toer, fluit-fluit gewen. En as die oorwinning nie reguit na hulle gloeiende hoofde gegaan het nie, en hulle enigsins ’n in staat tot ’n nugtere ontleding van die wedstryd en hulle vooruitsigte is, sal hulle hard en verbete fuif… en onrustig gaan slaap. Hulle kommentators het die trompette teen die lippe, eenparig in hulle mening dat Nieu-Seeland nou “heel bo-op” die kriekethoop is. Hulle “het nou momentum” en daar word vergesigte gesien van oorwinnings in die T-20-, eendag- en toetsreekse.
Wel, nou ja, ’n T-20 swaeltjie maak nie ’n somer van ’n toer nie. En eerlikwaar, ek bedoel… T20! Dit is krieket op tik, ’n balspeletjie vir toeskouers wat sukkel met aandagafleibaarheid. As daar ’n wyse gryse in die raadsale van Krieket Nieu-Seeland is, drup hy vanaand regoor die Swart Pette se oorwinningskolwyntjie.
Hy sal hulle herinner teen wie hulle speel – en daarmee nie noodwendig wys op Suid-Afrika se (veelvuldige) voortreflikhede nie, maar hulle rare swakpunte. Hy sal verduidelik dat Suid-Afrika elke reeks – hier, daar of waar ook al – sleepvoet begin. Wat veroorsaak dit? Nugter weet en nugter gaan nie sê nie, maar gee die Proteas se span ’n week af en hulle verval in ’n winterroes. Vandag, in Wellington, was dit weer so. Hulle was soos ysbere wat na hibernasie verskyn, slegte smaak in die mond, pelse wat loshang, slaapklonte wat in die hoeke van die oë koek. En so speel hulle toe sulke gaap-gaap krieket terwyl hulle hulleself as’t ware onder die armholtes krap en met slaapstramoë die toneel om hulle met min belangstelling betrag.
Die Swart Pette, daarenteen, verdien elke klop op die skouer. As hulle uit ’n grot gekom het, was dit met ’n hongergrom op die lippe, blitsende strale uit die oë – gretig vir geweld, lus om bloedige happe vleis te verorber. Hulle het alles reg gedoen, en dit teen volspoed. Eers het hulle die loot gewen en die lomerige Proteas genooi om eerste te kolf. Dit is wat jy doen as daar op ’n ingelegde kolfblad gespeel word. Hierdie een is ’n paar kilometers van die stadion voorberei, op ’n sleepwa gelaai en na die rugbystadion aangery. Daar is ’n langwerpige vlak graf voorberei en die blad is netjies daarin geïnstalleer. Die probleem is, so ’n blad het nie ’n geskiedenis nie en dit is moeilik om te weet hoeveel lopies genoeg sal wees. Om ’n teiken op so ’n blad te jaag is tot voordeel van die jaers.
Suid-Afrika se kolfbeurt was, met die uitsondering van ’n paar stroke, uit die oude doos – d.w.s. so uit die Kepler Wessels-handleiding van 1992. Die kolwers het nie die bal geslaan nie; hulle het dit gepor. Waar T20 krieket woeste swaaihoue vereis, het die Proteas delikate pietshoutjies aangebied, soos ’n skynswaardgeveg in ’n balletuitvoering. In plaas van innovering was daar korrekte, tegniese krieket – soos dit op die meerdaagse toetsveld hoort. Die een kolwer wat skynbaar vroeër as die ander ontwaak het, was ou Stem-In-Die-Bos, Hashim Amla. Hy het die ernstige Kiwi’s se balle lustig rondgekletter voordat hy op 19 uitgehardloop is na ’n supermenspoging deur Martin Guptill.
Colin Ingram het uitgeslof gekom, befoeterd soos ’n tiener wie se middagslapie deur iets so beuselagtig as ’n internasionale krieketwedstryd onderbreek is. Hy het nie net verskrik nie, maar ook glad nie lus om daar te wees nie, gelyk en het sy paaltjie met onbehoorlike haas weggegooi. AB de Villiers en JP Duminy het hulleself ingegrawe asof dit vir die duur van die winter is, asof dit die eerste sessie van ’n tydlose toets was. De Villiers het genoeg selfrespek gehad deur vroeg uit te gaan eerder as om almal se tyd verder te mors. Duminy het beurt na beurt sulke fraai, geslepe krieket gespeel en gelyk asof hy onder die indruk was dat die planeet sou ontplof as hy ’n bal tot by die grens slaan.
Uiteindelik het Vernon Philander darem sy moer skuins gedraai en vier agtereenvolgende sesse van ’n hopelose wegdraaibouler – wie se naam onbelangrik is – oor middebaan in die skare in te slaan.
Die Proteas het verbete gekeer dat enige vennootskappe tussen hulle lede sou ontstaan en dit gedoen deur ritmies hulle paaltjies weg te gooi. Die sawwe begin het tot ’n einde gekom met Johan Botha en Albie Morkel in die kolftuig. Botha die Vernuftige het ’n paar vernuftige viere geslaan.
Die Nieu-Seelanders het voortgegaan om alles reg te doen. Sowat van balle op die tiekie naby die kolfstreep, sowat van sissende draaiballe en knallende snelballe… Hulle het alles gevang wat gevang moes word en die penne raak gegooi toe dié getref moes word. En hier is die verstommende ding: Nadat hulle alles reg gedoen het, en die Proteas skaars ’n paar dinge skaflik gedoen het, het Suid-Afrika 147 lopies op die telbord gehad.
Die Swart Pette het hulle vorm in die tweede skof behou. Al het hy ’n naam soos ’n skadelose siertenkvissie, het Martin Guptill elke bal binne trefafstand venynig en sekuur raakgeslaan. Die Proteas het eweneens húlle vorm behou. Die boulers het kort en wyd geboul, die veldwerkers was elke keer nét uit posisie of te traag om regtig te hardloop vir vangskote. Guptill, en Brendon McCullum in ’n mindere bate, het krieketballe soos ’n meteorietstorm op die stadion uitgegiet.
En nadat hulle alles tot die beste van hulle vermoë en met groot verbetenheid gedoen het, en die Proteas met dubbel die entoesiasme bloot traag sou gelyk het, moes die Swart Pette nog ses lopies in die laaste boulbeurt kry om te wen. Dit hét hulle teen Johan Botha gekry, maar dit is juis dít wat die Nieu-Seelanders vir die Rennies sal laat gryp. Nadat hulle hulle absolute, onafgebroke beste gelewer het, en nadat die Proteas onverpoosd triestig was, was daar uiteindelik bitter min verskil tussen die spanne.
Die Nieu-Seelanders is soos ’n klein motor met ’n klein, hoëwerkverrigtingenjin – hulle kan meeding as elke onderdeeltjie presies reg werk en hulle sonder onderbreking teen die hoogste toere anderkant die rooilyn ry. Die Proteas, daarenteen, is ’n V8 wat, sonder om te probeer of om die enjin te oorspan, rondte na rondte teen onbehoorlike spoed kan ry.
Die Nieu-Seelanders het amper die volmaakte wedstryd gespeel. Hulle kan nie beter nie. En die Proteas kan nie vrotter nie. En glo my, hulle sal nie.
Die Nieu-Seelanders het verlede jaar die Rugby Wêreldbeker gewen. Mag dit vir hulle genoeg wees. Want hulle gaan nie nog ’n krieketwedstryd teen Suid-Afrika wen nie; nie hierdie somer nie.
- Suid-Afrika: 147/6 na 20 boulbeurte. Duminy 41, Ontong 32
Southy 3 paaltjies vir 21. - Nieu-Seeland 148/4 na 19.4 boulbeurte. Guptill 78*, Williamson 24
Duminy 1 paaltjie vir 20.

Gister, so in die vroegaand, het ’n uitbundige, waaghalsige 22-tal jong amateurs ons herinner wat dit aan rugby is wat van ons entoesiaste gemaak het. Vir 80 luisterryke minute is geesdriftiges teruggevoer na ’n ander era, ’n heerlike tydvak voordat professionalisme, propagandageskal, politieke tusseninnery en die uitbuiting van spelers die spel omvorm het van ’n diepgevoelde volkspel na ’n siniese obsessie.
Die Suid-Afrikaner James Cunnama het gister die wêreld se ystermankampioen geword in die 70.3-wedstryd wat in Austin, Texas gehou is. Cunnama het die moordende driekamp van 70.3 myl (112 km), ook bekende as ‘n “halwe ysterman”, in ‘n tyd van 3:35:57 gewen. Deelnemers moet vervolgens 1,93 km swem, 90 km fietsry en ‘n halwe marathon (21,09 km) hardloop, sonder om tussenin te rus.
In die jare toe Curriebekerspanne nog met die trein gereis het, en geld bitter skraps was, het ‘n Vrystaatspan bestaande uit net die 15-tal Nuweland toe gereis. Op die trein is lekker gekuier, en een van die voorspelers het sy knie seergemaak. Toe dié speler die Saterdag op Nuweland se stasie afklim, is die been stokstyf. Omdat hy noodgedwonge moes speel, is hy aangesê om na die beste van sy vermoë die laaste vesting saam met die heelagter te verdedig.
President Jacob Zuma het Maandag sy gelukwensing aan Louis Oosthuizen, die wenner van die Britse Ope, oorgedra. 
Gietende reën en ‘n sopnat veld in Port Elisabeth was waarskynlik die vernaamste rede hoekom Duitsland en Uruguay nie die tipiese vrye spel gelewer het wat tradisioneel in die uitspeelwedstryd uitgestal word om die wêreldbeker se derde en vierde plekke te bepaal nie.
Die Kaap is weer Hollands, en nou rus die taak op die Duitsers om hul lywe Piet Hein te hou en die gedugte Spaanse Silwerfloot te kelder om ‘n stamland-eindstryd te verseker.
“Oranje mag nou glo in die eindstryd.” So berig Trouw oor Nederland se historiese oorwinning oor Brasilië.