Toe die Kaapse goewerneur verneem dat Smith hulp vra, het hy ‘n mag onder kol. Josias Cloete per skip gestuur om die beleërde garnisoen te ontset. Cloete was lid van ‘n gesiene Kaapse familie. Die Natallers kon nie verhinder dat hy land nie en het teruggeval na Pietermaritzburg.
Cloete het aan die Zoeloes die reg gegee om beeste en perde van die trekkers af te neem en teen betaling na hom te bring. In dié proses het Zoeloes verskeie trekkers vermoor. Hoewel party trekkers bereid was om hulle te verset, het die Volksraad hulle aan die Britse gesag onderwerp, onder meer weens die dreigende Zoeloegevaar.
Sowat ‘n jaar later het Napier die toestemming waarop hy so lank gewag het, gekry om Natal te annekseer. Hy het Henry Cloete, ‘n broer van kol. Josias Cloete, as kommissaris gestuur.
Groot was veral die protes van die vroue, wat soveel moes opoffer vir die vryheid. Onder leiding van Johanna Smit, suster van Gerrit Maritz en eggenote van Erasmus Smit, het ‘n afvaardiging van 400 ‘n onderhoud met Cloete gevra. Eers het Johanna Smit ‘n uiteensetting gegee van wat in die verlede met hulle en hul volk gebeur het. Daarna het Johanna Maré ‘n smeekskrif aangebied.
Terwyl sy besig was om dit aan hom voor te lees, het Cloete besluit om die saal te verlaat. Die vroue het hom voorgekeer en mev. Smit het verklaar: “Ons het goed en bloed gegee om onder die gehate vlag uit te kom, en al moet ons kaalvoet en blootshoof oor die Drakensberg loop, ons sal nie onder dié vlag berus nie.” Nog ‘n vrou het gesê: “Ons voete is deurgeloop en ons is moeg van die swerwerslewe en ontbering. Maar ons is bereid om nog verder te loop. Ons is bereid om kaalvoet oor die berge te gaan, die vryheid of die dood tegemoet.”
Reeds van 1842 af het die trekkers Natal begin verlaat. Pretorius en sy ou kommandante Landman en De Lange het hulle probeer aanpas by die nuwe omstandighede. Pretorius het in ‘n poging om Afrikaners en Engelse op sosiale gebied bymekaar te bring, een aand ‘n deftige bal en dinee aangebied met die keurigste geregte: lensiesop, skaapvleis, wildsvleis met spek gestop, hoender, kalkoen, bobotie, sosaties, groenboontjies, aartappelkoekies, blomkool, slaai en koue tong, ham en klein toebroodjies, wyn en brandewyn, en as nagereg wafels. Ds. Lindley het die tafelgebed gedoen, en Pretorius se toespraak by ‘n heildronk is sin vir sin getolk.
Maar die lewe het ondraaglik geword. Straffeloos is vee geroof soos aan die oosgrens. Herhaaldelik het Pretorius klagtes van veediefstal, brandstigting en onveiligheid voor die bevelvoerende offisier in Port Natal gebring.
Hy het in 1847 na Grahamstad gery om met die goewerneur, sir Henry Pottinger, mooi te praat, maar dié wou hom nie eens ontvang nie. Die toestand was toe al so erg dat Pretorius se gesin van hul plaas gevlug het. ‘n Swart dorp is daarnaby aangelê. Toe hy sy mense in Desember 1847 bereik, was hulle saam met ander vlugtelinge in ‘n laer langs die Tugela. Maar waarheen kon hulle vlug? In die gebied tussen die Vaal en Oranje was daar spanning tussen wit mense en Griekwas.


Vol hoop het die trekkers hul eie staat begin opbou. In 1839 is ‘n grondwet geskryf; mans bo 21 jaar kon stem vir die Volksraad van 24 lede. Die Gelofte van Desember 1838 is nie algemeen nagekom nie. Wel het ds. Erasmus Smit elke jaar ‘n dank- en biddag in Pietermaritzburg gehou, terwyl ook Sarel Cilliers en sy familie dit gedoen het. In 1839 is geld begin kollekteer vir die Geloftekerk in Pietermaritzburg wat in 1841 voltooi is. Ook Vrystaters, Kolonialers en Engelse het bygedra.
Te midde van al die ellende van 1838 was daar soms kans vir ‘n bietjie skinder oor ‘n liefdesgeskiedenis waarby die heldhaftige Marthinus Oosthuizen betrokke was. Dit is een van Suid-Afrika se groot liefdesverhale, soos oorvertel deur Theo Gerdener.

Soos enkele ander leiers was Andries Pretorius ‘n indrukwekkende figuur: meer as twee meter lank en goed gebou, so simmetries dat gesê is dat ‘n beeldhouer in hom ‘n uitstekende model vir ‘n Hercules-beeld sou kon vind. Hy was hardwerkend, vriendelik en vol ondernemingsgees, en het ‘n hele paar plase in die Kolonie besit. Aan die einde van 1837 het hy ‘n besoek aan die trekkers gebring en ‘n deel van die veldtog teen die Matebele meegemaak.
By die geveg van Italeni moes nie net Uys se manne vlug nie, maar ook Potgieter se kommando. Die skrik het wyd versprei en elkeen het van die onheilstoneel probeer wegkom. Die aand van 12 April het die eerste twee lede van die kommando weer by die laer aangekom en die hele nag het nog meer opgedaag “met bedrukte aangezichten”, soos Erasmus Smit in sy dagboek aanteken.
Die terugtrekkende Zoeloes het op 17 Februarie 25 000 beeste, en baie skape, bokke en perde saamgeneem. Waens en gereedskap was totaal verwoes, die laers tot niet gemaak, en 282 wit en 250 bruin mense vermoor.
Ná die moord het Dingane en sy raadgewers ‘n erger slagting voorberei. Een van hulle het gesê: “Nou moet ons die wyfievoël en die kinders op die nes gaan vang.” Kort daarna het baie Zoeloesoldate verdwyn in die rigting waaruit die Boere gekom het.
Dis onduidelik waarom presies Piet Retief se geselskap op 6 Februarie 1838 weer na Dingane is. Toe die trekkers gereed staan om te vertrek, kom ‘n boodskapper van Dingane by Retief met die versoek dat die trekkers nog eenmaal na hom moet kom om te groet.
Die oggend van 25 Januarie 1838 het Piet Retief en sy keurkommando afskeid geneem van die res van die trekkers. Erasmus Smit het die godsdiensoefening in Retief se tent gelei. Retief was die vorige week neerslagtig, “vol droefheid” oor die tweedrag onder die mense, skryf hy aan sy vrou. Hendrik Potgieter, met wie hy vyf dae vantevore gepraat het, het hom blykbaar afgeraai om hom in Natal te vestig omdat hy nóg die Engelse, nóg die Zoeloes vertrou het.
Teen die einde van 1837 het dit dus gelyk of daar ‘n toekoms vir die trekkers is. Ná die onderhandelinge met Dingane was daar in Natal ‘n vooruitsig van grondgebied. En terwyl die onderhandelinge in November in Natal aan die gang is, het ‘n kommando onder Potgieter en Uys (Maritz was siek) wes- en daarna noordwaarts oor die Gatsrand na Mosega opgeruk. Daar het hulle die Matebele van 4 tot 12 November in ‘n negedaagse slag totaal verslaan en verdryf. Op die negende dag het 12 000 Matebele-vegters wanhopig weerstand gebied. Sommige het op vegosse met skerpgemaakte horings gery, maar dié beeste het meer verwarring onder hul eie mense geskep as onder die vyand. Daarna het Mzilikazi met die grootste deel van sy onderdane gevlug — eers die Kalahari in en daarna noord na die huidige Zimbabwe.
Piet Retief was van die begin af ten gunste van Natal as die eindbestemming van die trek. Daarmee het ander leiers nie saamgestem nie. Potgieter se groot strewe was om so ver moontlik van die Engelse weg te kom, en omdat daar reeds ‘n paar Engelse handelaars in Port Natal was, het dit vir hom vanselfsprekend gelyk dat die Britse gesag daarheen sou uitbrei. Hy wou dus nie saamtrek nie.