praag.co.za

Category: Johann Wingard

  • Is ‘n liberale demokrasie moontlik in Afrika?

    Tydens 'n besoek aan die London School of Economics (LSE) het akademici die standpunt gehuldig dat etnisiteit vir Afrika se ellendes verantwoordelik is. Dit is as rede aangevoer waarom inheemse tale moes verdwyn en deur Engels as lingua franca vir nasiebouprogramme vervang moes word. Volgens hulle manifesteer rassisme, wat as die groot euwel van vandag se wêreld beskou word, ook in die vorm van etnisiteit.

    Die LSE-akademici het beweer dat, voordat vrede en harmonie in Afrika bereik sou word, multikulturele samelewings mettertyd in nuwe gewade geplooi sal móét word, ongeag die etniese – of rassesamestelling van gemeenskappe.  

    Hul teorie vorm die basis van 'n liberalistiese siening wat individualiteit bo kommunaliteit stel om as sosiale en regsnorm te dien. Dit verskaf die onderbou vir nasiestate gedurende die moderne era.  

    Hulle beweer dat kommunaliteit en gemeenskapsregte by etniese gemeenskappe as 'n oudmodiese en gevaarlike praktyk beskou moet word. Individuele regte kan dit beter as beskawingsnorm hanteer.

    Liberalisme wat op 'n regsbasis gefundeer is, veronderstel dat elke individu sy eie persoonlike stel belange en doelwitte het. Die liberalisme is op soek na 'n neutrale regsraamwerk wat aan elke individu 'n gelyke kans sal bied, sodat hy as 'n vrye morele entiteit mag optree.

    Voorstanders van dié ideologie argumenteer verder ook dat 'n persoon se waarde nie aan sy verwantskap met ander persone of gemeenskappe gemeet kan word nie, maar aan die keuses wat hy uitoefen. Die uitbreiding van individuele menseregte soos anti-diskriminerende maatreëls, word deur die internasionale liberale gemeenskap as vooruitgang beskou. Volgens hierdie maatreëls moet omlynings van gemeenskappe verdwyn.  

    Maar 'n Wêreldbankverslag beweer die teendeel.  In hul belangwekkende verslag vra Ibrahim Elbadawi en Nicholas Sambanis die vraag: "Waarom is daar so baie burgeroorloë in Afrika?" Die verslag ontleed gewelddadige konflik sodat burgeroorloë beter verstaan kan word en metodes gevind kan word om daardie konflikte te voorkom.

    Die Wêreldbankverslag bevind dat Afrika se burgeroorloë nie aan sy etniese of religieuse diversiteit te wyte is nie, maar aan ander oorsake. Hulle betwis dus die LSE se siening en verskaf wetenskaplike gegewens om hul bevindings te staaf.   

    Die verslag bevind onder meer dat 'n gebrek aan toegang tot natuurlike hulpbronne spanning binne nasiestate skep wat die basis vir burgeroorloë vorm. Met behulp van onlangs geformuleerde modelle maak hulle 'n ontleding van burgeroorloë in 161 lande gedurende die tydperk 1960 – 1999. Daarmee bewys hulle dat die hoër voorkoms van burgeroorloë in Afrika nie aan die etno-linguïstiese fragmentasie van Afrikalande te wyte is nie, maar eerder aan die voorkoms van armoede, afhanklikheid van natuurlike hulpbronne en mislukte politieke stelsels.  

    Armoede skep onrus; afhanklikheid van hulpbronne skep mededinging daarvoor en mislukte politieke stelsels verskaf die morele vonk wat burgeroorloë laat ontketen. Hoewel dit gewoonlik inwoners van 'n bepaalde stam of gebied is wat gemobiliseer word om vir oorlewing in opstand te kom, hou etnisiteit as sulks geen kousale verband daarmee nie.

    Die verslag beweer verder dat etniese diversiteit die prosesse vir intergroeponderhandeling juis bevorder en dus politieke stabiliteit aanhelp eerder as benadeel. Hierdie prosesse verloop gewoonlik vreedsaam as etniese groepe voel dat hulle voldoende politieke verteenwoordiging geniet en wanneer die ekonomie 'n regverdige geleentheid vir produktiewe ekonomiese aktiwiteit bied.  

    Op die oog af klink dit na 'n heeltemal logiese formule vir vrede, naamlik voldoende politieke verteenwoordiging, gepaardgaande met voldoende ekonomiese betrokkenheid om 'n bestaan te kan maak.  

    Die afleiding kan dus gemaak word dat sou hierdie kernbevinding binne 'n staatkundige model toegepas kon word, daar vrede en voorspoed op die vasteland sou kon heers, mits daar nie konflik op ekonomiese gebied sou plaasvind nie.

    Maar dit klink veels te Verwoerdiaans om in die praktyk toe te pas. Die Suid-Afrikaanse situasie ná 1994 druis byvoorbeeld reëlreg daarteen in. Regstellende aksie, transformasie, SEB, ens., slaag daarin om die Afrikanerminderheid van die land se hulpbronne te weerhou. Dit skep presies dieselfde spanning as wanneer een Kongolese stam verhoed word om water uit 'n rivier te gebruik, vis te vang, hout te kap of hul beeste te laat wei.

    Dit is aksiomaties dat hoe wyer 'n gebied om heterogene gemeenskappe getrek word, hoe meer etniese groepe word by die gebied ingesluit en hoe kleiner is die politieke verteenwoordiging van die verskillende gemeenskappe daarbinne.  

    Deur Pretoria se munisipale grense byvoorbeeld tot ver buite Gauteng se grense te trek, waardeur getalryker aangrensende etniese gemeenskappe by Pretoria ingesluit word, word politieke verteenwoordiging vir Pretoria se belastingbetalers grootliks afgewater en het hulle gevolglik geen seggenskap meer in munisipale sake wat hulle ten nouste raak nie.  Dan word stadsburgers deur vreemdelinge van buite bedien. Selfs Mamelodi lê nie binne die Pretoriadistrik nie, maar is deel van die aangrensende Cullinandistrik.

    Onder die vaandel van die liberale demokrasie kan daardie vreemdelinge die stad se ware meerderheid, naamlik Pretoria se Afrikaners, se historiese erfenisse soos straatname na hartelus vernietig. Vir die werklike stadsmeerderheid bestaan daar geen alternatiewe institusionele kanale waardeur hul eie sake bevorder kan word nie en word die aandrang op sodanige strukture as isolasionisties, polities onkorrek en 'n hunkering na apartheid beskou.  

    Wat in Pretoria gebeur, is die norm regoor Afrika, en verklaar waarom die vasteland so sukkel om van homself bevry te word.  Dit is waarom die vasteland se regerings nie staatkundig kan vorder nie.

    Die liberale demokrasie in 'n nasiestaat is dus 'n probleem vir Afrikalande met heterogene kultuurgemeenskappe, tensy 'n verdieping van die demokrasie doelbewus nagestreef word. Bevolkings as geheel het hul selfbeskikking by onafhanklikheid ontvang, maar vir kleiner volke binne die oud-kolonies was die werklikheid anders.  

    Die logiese uitvloeisel van 'n liberale demokrasie in Afrika is dat slegs die grootste groepe op selfbeskikking aanspraak kan maak terwyl die kleiner volke se belange en aspirasies ondergeploeg word. Sou hulle daarteen beswaar maak, word hul besware as "rassisties" of "hunkering na die goeie ou dae" beskryf. Sulke gefrustreerde gemeenskappe word dan onstabiele gemeenskappe.

    Is daar nog iemand wat glo dat die tuislandgemeenskappe vandag beter daaraan toe is sonder die selfbeskikking wat hulle voor 1994 gehad het? Is hulle gelukkig met hul huidige situasie? Gaan hulle dit nog veel langer aanvaar? Presies dieselfde geld vir die res van Afrika, waar kleiner volkies hul selfseggenskap heeltemal ontsê word.  

    Om op 'n liberalistiese begrip soos nie-rassigheid en die hoop op 'n gedeëtnifiseerde bevolking as 'n resep vir langdurige vrede binne 'n veelrassige land te steun, is nie slegs naïef nie, maar ook uiters gevaarlik.  

    Dit stuur die land onherroeplik nader aan die afgrond van rasse- en etniese spanning. Deur gemeenskappe se groepsregte te erken en te beskerm en om respek tussen groepe te bevorder, het die land 'n veel beter kans op vrede as 'n kunsmatige deëtnifiseringsproses wat almal deur 'n worsmasjien wil stuur. Hierdie stelling is veral van toepassing tussen die swart etniese groepe van die land.

    In artikel 234 van die land se grondwet word voorsiening gemaak vir die formulering en instelling van sodanige groepsregte, juis om potensiële spannings tussen groepe te ontlont en om die demokrasie te verdiep. Die kommissie vir die beskerming van die regte van taal, kultuur en godsdiensgemeenskappe het volgens artikel 185 van die grondwet die opdrag om sodanige regte te identifiseer en te omskryf. Die kommissie, wat in 2002 gepromulgeer is en wat baie miljoene rande gekos het, het egter nog geen gemeenskapsregte geïdentifiseer wat hy moet beskerm nie.

    Die tyd het nou aangebreek vir Afrikaners, wat hulself as 'n kultuurgemeenskap beskou, om op die beskerming van hul kultuurregte aan te dring en om hul gemeenskapsregte formeel op te eis. Daardie regte sluit in die regte op die behoud van hul erfenisgoedere soos monumente, straatname, dorpsname, moedertaalonderrig, skoolkurrikulering, ens. Vandag is Afrikaners op hulself aangewese om hul lot self te bepaal; die regering kan dit nie meer vir hulle doen nie.

    roulette games noФильчаков прокурор харьков

  • Minderheidsvolke se soewereiniteit: ?n Standpunt

    In gesprekke met hooggeplaasde ANC-lede word dit duidelik dat minderheidsregte as ‘n interne aangeleentheid beskou word en dat die huidige “regstellende” maatreëls,  transformasie, grondhervorming, rassekwotas en swart bemagtiging as ‘n geregverdigde regstelling van die verlede beskou word wat nie aan die internasionale reg onderhewig is nie.  

    Wetenskaplikes beweer egter dat vanweë die interaksie tussen minderheidsregte, soewereiniteit en kapitalisme, die regte van minderheidsvolke deesdae op die “terrein van internasionale samewerking” val.  

    In veelvolkige state ervaar minderheidsvolke gewoonlik ‘n verdeelde lojaliteitsgevoel wat soms tot binnekonflik lei. Hulle ervaar ondermeer dat ‘n spontane samehorigheid binne hul etniese gemeenskap bestaan, maar dat ‘n mate van identifikasie en gemeenskaplike belange terselfdertyd ook met die groter gemeenskap ervaar word.

    Minderheidsvolke is dus bereid om hulle spontaan aan meerderheidsoorheersing te onderwerp en die gemeenskaplike regering te gehoorsaam. Belastingbetalers wat byvoorbeeld deur ‘n gedeelde burgerskap geborge voel, se vertroue in “hul” regering word daardeur versterk, sodat hulle bereid is om hul belastings getrou te betaal om die staat mee te finansier. Die ryker en armer streke en gemeenskappe van die land word sodoende saamgebind.  

    Maar daardie samehorigheid wat so spontaan tussen lede binne ‘n gemeenskap bestaan, is sigbaar afwesig tussen gemeenskappe. Apartheid se erflating het dus niks daarmee te doen nie, dis gewoon ‘n natuurwet.

    Volke se reg tot selfbeskikking beteken nie noodwendig dat elke volk, hoe klein ookal, altyd sy eie onafhanklike staat sal kan vestig nie. Binne veelvolkige state kan volke vreedsaam met mekaar saamleef, soos wat byvoorbeeld die Engelse, Walliesers en Skotte binne die Verenigde Koninkryk doen. Maar hulle sal dit slegs doen as hul nasionale regte gerespekteer word en die kleiner volke nie deur die sterker volke oorheers word nie – veral nie op taal, kultuur en onderwysgebiede nie.  

    Sou dit gebeur, begin politieke druk opbou wat die voortbestaan van die nasiestaat bedreig – hoofsaaklik vanweë die feit dat die brose solidariteit tussen die volke van die land verbrokkel het. Die brûe tussen etnië is weggespoel. Vir die regering se nasiebouprogram om binne ‘n veelvolkige land soos Suid-Afrika te slaag, moet die solidariteit tussen die volksgemeenskappe verstewig word; beslis nie om die identiteit van gemeenskappe aan te tas of te transformeer nie. Laasgenoemde is ‘n sigbare teken van ‘n staat wat besig is om te misluk.

    Deur state se soewereiniteit word die politieke onafhanklikheid van ‘n land gewaarborg en die toestand geskep waarin minderheidsvolke op hul selfbeskikking kan aandring of kan uitleef.  Hoewel min volke vandag werklik soewerein is — deurdat hulle een of meer van hul soewereine magte aan ‘n groter geheel (soos bv. aan die EU, die IMF ens) afgestaan het — besit state egter nog verskeie elemente van soewereiniteit.  

    Die soewereiniteit van ‘n demokratiese land beteken dat sy bevolking as geheel soewerein is en sy soewereiniteit demokraties onvervreembaar is.  

    Binne ‘n veelvolkige land is minderheidsvolke ook soewerein, nie slegs die sogenaamde demokratiese meerderheidsgedeelte nie.  

    Gevolglik het geen regering of parlementêre meerderheid die reg om binne ‘n veelvolkige staat een volk sy soewereiniteit te ontneem nie – dit is onwettig en onaanvaarbaar dat ‘n geslag die reg ontneem word om sy eie leefwyse self te bepaal.    

    Om die 1994 magsoorgawe in Suid-Afrika dus as ‘n opsegging van Afrikaners se soewereiniteit te vertolk waar hulle hul vryheid vrywillig prysgegee het om hulle aan die arbitrêre optrede van ander volke te onderwerp, word deur puriste as ‘n juridiese dwaling en groteske politieke naïewiteit beskou.  

    As volksgemeenskappe mekaar se reg op hul soewereiniteit respekteer, oftewel hul reg op vryheid, kan spontane samewerking tussen vrye volke plaasvind omdat hulle op die basis van juridiese gelykheid en in ‘n gees van onderlinge vertroue en samewerking met mekaar versoen is; ‘n logiese en aanvaarbare wyse van samewerking tussen volke.  

    Deur die demokratiese proses egter binne ‘n veelvolkige land slegs aan te wend om die mag te bekom, waarna minderheidsvolke geminag en nuwe ongelykhede geskep word, word allerweë as ‘n vyandige daad beskou.  Dan word die vernietigende kragte van wantroue en onsekerheid op die politieke landskap losgelaat en die voortbestaan van die nasiestaat bedreig.

    Deur hul regte te erken en te beskerm, sodat hulle vrede bo onrus sal verkies, of in die ideale scenario, waar ‘n konflikomgewing in ‘n voorspoedomgewing omskep kan word, sal die allerbelangrike gevoel van sekuriteit vir ‘n minderheidsvolk geskep word.  

    Die verantwoordelikheid berus dus op regerings om sy pligte na te kom ten opsigte van minderheidsregerings se reg op selfbeskikking binne die politieke werklikhede van ‘n land.  Internasionaal word die vlak van volwassenheid wat deur regerings bereik is, gemeet aan die mate van selfbeskikking wat sy minderheidsvolke geniet —  hoe sodanige minderhede met mag vertrou word.

    Die dilemma vir Afrikaners is egter die mate wat sy volkskap onderling tussen lede van daardie gemeenskap geniet.  By die Boerevolk gedeelte is die getalle klein met ‘n intense gevoel van solidariteit, maar onder Afrikaners, oftewel wit Afrikaanssprekendes, bestaan twyfel oor ‘n gemeenskaplike kultuuridentiteit, ‘n identiteit wat baie van hulle met ander Afrikaanspraters wil deel.

    Binne so ‘n heterogene groep is dit vir enige regering moeilik om aan taalminderhede se eise vir minderheidsregte te voldoen, omdat lede mekaar om elke draai weerspreek. 

    какое нужно оборудованиеДанильченко

  • Afrikaners en politieke werklikhede

    Dis weer dieselfde geykte uitdrukkings, weer dieselfde clichés, soos: "Die idee dat jonger Afrikaners hul etnisiteit herontdek weens 'n hunkering na volksidentiteit is net so onakuraat as die mitiese 'Boerevolk' waarna hy verwys. Die term 'Boerevolk' is kontensieus en nie juis goed gegrond as 'n historiese etnisiteit of gepaardgaande naam nie. Die woord 'Boer' was ook 'n skelwoord soos 'kaffer' wat deur die Engelse aangewend is."  

    Hierdie mening het ek reeds ad nauseam gehoor.  Maar ek het nog nooit van iemand gehoor wat deur die term "Boer" beledig gevoel het nie.

    Du Toit is waarskynlik heeltemal onbewus van die feit dat baie hoërskoolseuns vierkleure vandag agter op hul skooltasse verf.  Kom, ek wed jou Du Toit het nie die verhoogstuk, "Ons vir jou", gesien nie.   Verder verwed ek 'n honderd rand dat hy lid van die Broederbond was, en tans 'n ywerige ondersteuner van die Afrikaanse Taalraad is, gekoppel aan die FAK, Afrikanerforum of Solidariteit.

     Laasgenoemde is prysenswaardige instansies wat, soos du Toit, hulself geroepe voel om die Afrikanervolk te red.  Maar die probleem is dat die Afrikanervolk nie gered wil wees nie, omdat daar nie meer soiets soos 'n Afrikanervolk bestaan nie.  Die Afrikanervolk was 'n projek wat die Nasionale Party en sy telge moes voed, maar waarvan die gom verweer het.   

    Volksnasionalisme  is nog altyd aan staatsmag gekoppel. Soos ander ideologieë het dit ook 'n rakleeftyd.  Die geskiedenis het geleer dat op enkele uitsonderings na, nasionalismes 'n rakleeftyd van twee tot drie geslagte het.  Nasionalisme kan beskryf word as die ideologie van volke se geïndividualiseerde bestaan, 'n ideologie van sosiale begrensing, van sosiale kontinuïteit en van sosiale gelyksoortigheid, maar  wat tog verskeidenheid kan insluit.  Dit is die ideologie van 'n sosiale realiteit wat as die konsep van nasieskap ontstaan het en meelopend is met die twee dimensies van tyd en ruimte.

      Binne tydverband omlyn die geskiedenis 'n volk en die integriteit van sy landsgrense identifiseer 'n nasie in ruimtelike verband.  Hierdie twee werklikhede is die hoofbestanddele van 'n nasie se selfidentifikasie en soewereiniteit.  Die nasie vertolk sy geskiedenis en daardie vertolking sal verander as die nasie sou verander.  So ook die landsgrense.  'n Volk se eksklusiewe aanspraak op die landsgrense is slegs geldig solank hy die staatsmag beheer.  Wanneer hy daarvan afstand doen, dan maak sy opvolger aanspraak op daardie ruimte.  Dan verloor 'n volk sy volkskap en word sy lede tot enkelingburgers gereduseer.

    Hiermee vervaag Du Toit se veralgemeende stellings van die Afrikanerdom tot irrelevante bespiegelings.

    George Orwell skryf in 1945: "Nationalism is power-hunger tempered by self-deception."  Destyds het hy na die Duitse, Italiaanse en Britse nasionalismes verwys, maar sy insigte van destyds kan net so op die Afrikanervolk van toepassing gemaak word.  Orwell beweer dat nasionaliste hulself bedrieg deur aan hul eie meerderwaardigheid te glo, selfs wanneer die feite tot die teendeel hulle in die oë staar.  Hy sê dat 'n nasionalis tot die mees flagrante selfbedrog en oneerlikheid in staat is, maar die wete dat sy wandade in belang van iets gepleeg word wat groter is as hy, naamlik vir die saak, maak hom absoluut seker dat hy slegs die waarheid en geregtigheid deur sy optrede dien.  Enigiets wat trou aan die saak bevorder is toelaatbaar, maar feite met 'n negatiewe strekking word as verkeerd verwerp.  Sulke feite moet geplooi of verswyg word om die saak na behore te dien.

    Tydens die dekades tussen die depressiejare en Republiekwording is die Boere en die Cape Dutch onder die begrip "Afrikaners" of "die Afrikanervolk" in een kraal gejaag.  Sommige geskiedskrywers beweer dat die etniese ontwaking van Afrikanerdom, oftewel die Afrikaners se volksnasionalisme, deur die herdenking van die 1938-ossewatrek ingelui is. By die "Ekonomiese Volkskongres" van 1939 is besluit dat Afrikaners 'n groter aandeel in die Suid-Afrikaanse ekonomie moes verkry.  Hierna het 'n etnies gebaseerde kapitalisme ontwikkel, wat bestuur en gedryf is deur SANLAM, Federale Voksbeleggings, die  Broederbond met sy tentakels in die Afrikaanse media, die Nasionale Party, die veiligheidsdienste, die akademie en die semistaatsinstellings. Baie van u was seker by die Voortrekkermonument in 1947 om die ontluiking van die Afrikaners se volksnasionalisme te ervaar.  'n Jaar later het etnies gesinde Afrikaners die staatsmag deur die Nasionale Party verkry.  

    Jong professionele ingenieurs, regsmense, finansiële bestuurders, nyweraars, bemarkers, ja, noem maar op, het met sterre in die oë hul loopbane in die staatsdiens en by hierdie Afrikanerorganisasies begin.  Hulle wou vir die saak werk.

    Baie het geglo dat daardie netwerk ontwikkel moes word om die Nasionale Party te dien.  Aanvanklik mag dit wel die geval gewees het, maar teen die sewentigerjare was die werklikheid andersom.  Die party het sakebelange begin dien.  Praktiese politiek is deur sakebelange bepaal. Beklee met staatsmag, kon Afrikaners op die hele Suid-Afrika aanspraak maak en is die Afrikanervolk se soewereiniteit deur die onaantasbaarheid van ons landsgrense en die standardisering van sy gekiedenis bevestig.  Lees gerus weer die jubelende volksliedere in die FAK-sangbundel om hierdie emosie te kan waardeer.

    Afrikanersentiment het die Afrikanerbesighede laat groei met die oprigting van banke, bougenootskappe, versekeringswese ens. Regeringsbeleid het Afrikaners opgehef, sodat daar min werkloosheid onder Afrikaners was.  'n Groot deel van die jaarlikse fiskus het deur Afrikanerwerkers se hande gevloei en in die koffers van Sanlam, Volkskas, en Afrikaanse pers beland. Semistaatsbedrywe soos die poswese, spoorweë, Yskor en SASOL was die net wat Afrikaners van 'n loopbaan verseker het en wat Afrikanerdom se geldmag en invloed verder uitgebrei het.  Hierdie instellings het op Afrikanersentiment gedy en binne twee dekades kon enorme finansiële mag uitgeoefen word. Maar dit was teen 'n prys.  Teen die middel-sestigerjare het Afrikanernasionalisme sy eerste treë gegee wat dertig jaar later tot sy ondergang sou lei.

    In 1965 het dr. Verwoerd vergeefs teen Federale Volksbeleggings se stap gewaarsku om nie die geheimsinnige internasionale wêreld van die mynwese te betree nie, aangesien die oorlewingstrategie van Afrikanerdom reëlreg met die mynhuise se belange gebots het. Die Britsbeheerde mynhuise het Afrikanerdom se politieke heerskappy as 'n verbygaande ongerief beskou en tydelik aanvaar.  Hulle het dus planne gesmee om die Afrikanerdom onder beheer van die mynmagnate te bring.  Die oorname van General Mining en later Union Corporation was die eerste ernstige stap vir die Afrikanerdom om die geheimsinnige binnekring van 'n  volksvreemde domein te betree wat voorheen as die Afrikanerdom se grootste vyand beskou is.  Dit was die enigmatiese skemerwêreld van die internasionale geldmag.

    'n Gaping is doelbewus vir die Afrikanerdom oopgelaat waarin die stryd tussen etnisiteit en groot besigheid beslis sou word.   Tot almal se verbasing is aangekondig dat van kredietfinansiering gebruik gemaak sou word om die oorname van General Mining deur Afrikaanse sakebelange moontlik te maak.  Met 'n enorme skuldlas en die vooruitsig van 'n pot goud aan die einde van die reënboog sou invloedryke Afrikaners voortaan onder 'n vreemde juk moes trek.  Die probleem was egter dat slegs die Boeregedeelte van die Afrikanerdom enige etniese gewete gehad het. Die res is gerieflikheidshalwe as Afrikaners gekategoriseer.

    Afrikanernasionalisme was voorheen op etniese kapitalisme geskoei en het daarmee saam gegroei. Etniese kapitalisme was 'n netwerk wat alle fasette van die Afrikaner se bedryfs- en kultuuromgewing, soos 'n reusevisnet bymekaar gehou het.  Teen 'n muur van die FAK se kantoor by die VTM pryk die organisasiewapens of embleme van 32 organisasies wat in brons gegiet is.  Name soos Federale Volksbeleggings, Sanlam, Yskor,  FAK, Die Rapportryers, Voortrekkers, SAS&H, Volkskas,  SA Akademie vir Kuns en Wetenskap, General Mining, SASOL, ens.  Hierdie organsasies is gestig om die Afrikanersaak te dien en was inderdaad die Afrikanervolk se erfporsie. Hierdie name was dus die kernpunte of nodusse van Afrikanernasionalisme.

    'n Nodus is een van die baie knooppunte in 'n net, wat deur skakels aanmekaar verbind word.  Daardie net het soos 'n elastiese spinnerak gewerk waarop die spinnekop van nasionalisme sy prooi kon vang en isoleer.  Ná die magsoorgawe van 1994 het die net geskeur en gedisintegreer deurdat sy nodusse opgegaan het in die proses van transformasie. Die Broederbond het irrelevant geword en is deur die Native Club vervang.  Afrikanerorganisasies is nou ten volle getransformeer.  Die enjinkamer van die mitiese Afrikanervolk is uitmekaargehaal.

    Gedurende die sestiger- en sewentigerjare en daarna het Afrikaners se volksnasionalisme derhalwe in 'n staatsnasionalisme verander.  Die klem het begin val op die witman en nie meer op die begrip Afrikaner nie. Die terminale sterfproses van Afrikaners se volksnasionalisme het begin. Sedert 1994 is daardie proses bloot voortgesit om ook die ander volksgroepe in die nasionale begrip in te sluit. Die towerwoord is inklusiwiteit op sport-, godsdiens-, akademiese, sake- en kultuurgebiede. Etnisiteit moet uitsterf om plek te maak vir 'n nuwe heterogene kultuur wat die nuwe mites en nuwe amptelike geskiedenis van 'n nuwe nasie moet weerspieël. Afrikaners moet uitreik na veral ander Afrikaanssprekendes sodat Afrikaners hul invloedsfeer kan verbreed.  Die term Afrikaner moet deur Afrikaanse mense of Afrikaanses vervang word.  Loslit- en oopgulp-Afrikaans, "songs" en kunstefeeste moet die mark vir die Afrikaanse media onder alle kultuurgroepe bevorder.  Die term "volk" het die vyand van die taal geword.

    Van Wyk Louw se Afrikanernasionalisme wat vroeër 'n volksnasionalisme was, het van John Vorster se tyd die fondament van 'n nuwe staatsnasionalisme geword wat sakebelange moes dien.   Daardie nuwe staatsnasionalisme is gebou op die Afrikaner se volksnasionalisme en het die etniese volksgevoel en samehorigheid van Afrikaners doodgesmoor.  Met die verlies aan staatsmag in 1994 en gepaardgaande weersin wat Afrikaners in die nuwe staatsbestel ontwikkel het, is die hoofaarinspuitings wat Afrikaners voorheen daagliks deur die propagandamasjien gevoer is, afgesny en het staatsnasionalisme sy laaste asem uitgeblaas.

    Is hierdie genoegsame bewys dat die Afrikanervolk 'n projek was? Hoe verdedig 'n lid van die Afrikaanse gemeenskap homself teen die internasionale reg wat beweer dat Afrikaners net so uitheems is as wit Australiërs, Kanadese of Amerikaners?  Waarom het 'n Boer nie dieselfde probleem nie?

    Hoe kan Du Toit die bestaan van die Boerevolk bevraagteken? Sy verwysing na die AWB is 'n duidelike bewys van sy onkunde van die moderne geskiedenis. Die AWB het niks met die Boerevolk uit te waai nie, maar is weereens 'n NP-regeringsprojek wat deur oudpremier JB Vorster aangevoor is.

    Ek sal op 'n ander geleentheid weer na die gesuiwerde ANC verwys.

    no deposit winФильчаков Александр Васильевич

  • Politieke herrangskikking en Afrikaners

    Met sy bewindsaanvaarding het die ANC die voordeel gehad dat hy apartheid, kolonialisme, onderdrukking en bevryding as die saambindende gom kon gebruik.  Dan was daar ook nog die charismatiese Nelson Mandela wat die unifikasiegom van die land se swart volkere was.
    Maar die ANC het doelbewus probeer om die beeld van ‘n Afrikanistiese sosiaal-demokratiese en vryemarkgedrewe politieke party te vestig.  In die proses is die ideologiese saambindende krag sodanig verswak dat daar op persoonlikhede terguggeval is.  Die werklike gom was die versugting om deel van die binnekring te kon word.  Die party kon mens superryk maak, en die swak misdaadbeleid het daardie drang verder gevoer na waar midaad lonend geword het. Sonder ‘n geloofwaardie gom moes die party uitmekaar val, en dit is besig om te gebeur.
    Dit bring ons terug by die Verwoerdiaanse siening dat die land uit verskillende etniese volke bestaan.  ‘n Groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking beskou die land se bevolking as ‘n kohabitasie van gemeenskappe, gerangskik volgens etniese en rasselyne.  Kom ons noem daardie deel die kommunitêre groep.
    Maar dan is daar ook ‘n ewe groot deel van die bevolking wat glo dat mense as individue optree en hulself bevry het van hul godsdienstige, etniese of groepsbande wat baie mense as beperkend beskou.  Hulle is die liberale groep.
    Presies soos daardie proses van ontstamming reeds by Afrikaners plaasgevind het, het dit ook by die land se swart volke gebeur.  Die opkomende swart middelklas, maak reeds ‘n beduidende deel van die land se ekonomiese stelsel uit.  Hulle beoefen hul professies regoor die land, buite hul tradisionele gebiede.  Dit is redelik om te aanvaar dat dit juis hierdie groep mense is wat die eerste ontstamdes sou word.
    Tydens die Nasionale Party se bewind het die gedagte van ‘n Afrikanervolk diep wortel geskied en baie jong manne het hul lewens daarvoor opgeoffer.  Mense wat die Boerevolkgedagte aangehang het was as agterlik, oudmodies en selfs as verraaiers van die ideaal van Afrikanerdom beskou en hanteer. Die Boerevolk, wat internasionaal as Afrika se inheemse volk beskou was, moes plek maak vir ‘n identiteit van Afrikanerselfverwesenliking sedert 1948.
    Maar sedert 1994 het dinge verander.  Ondanks pogings van die sake- en akademiese establishment om ‘n taalgroep van alle rasse te vestig en, gevoed deur die land se kunstenaars, het Afrikaners weer na hul wortels begin teruggaan.  Duisende beskou hulself weer as Boere.  
    Mandela het eenkeer aan ons gevra wie nou eintlik die Afrikaners is wat selfbeskikking wil hê, gedagtig aan die sensitiwiteit rondam die rassekwessie.  Sou hy gevra het wie die Boere was wat selfbeskikking wou hê, sou daar by niemand enige twyfel bestaan het nie.
    In die politieke toneel beweeg ons tans in die wit vloedwaters van die Oranjerivier.  Al wat Lekota en Zille se partye ideologies skei, is die kleur van die leiers se velle en relatiewe drang na selfverryking van die ondersteuners.  Lekota se party sal waarskynlik aanhou om regstellende aksie, grondhervorming en sportkwotas op te dwing om hul chronies te bevorder en om stemme op die Mbeki manier te wen deur die rassekaart op gepaste tye te speel.  Hoe Zille hiermee gaan saamleef sal net ‘n liberalis weet.  Maar oorhoofs sal hulle wel saamwerk en hul verskille teenoor mekaar verklaar.
    Teoreties bestaan daar geen moontlikheid van samewerking op nasionale vlak tussen die VF Plus en die DA nie, hoewel die Weskaap wel ‘n uitsondering mag wees.
    ‘n Groot aantal ontstamde Afrikaners sal die DA ondersteun en sommige mag selfs by die Lekota-party aansluit om hul gewetens te sus.  Baie neo-Boere, veral die meer uitdagende jonger garde, sal hulle by die VF Plus bevind.
    En die VF Plus self?  Die politieke gevryery met die nuwe ANC-leierskap gaan nog interessante resultate oplewer.  Mens kon nie help om die uitbundige applous te sien nadat Pieter Mulder sy toespraak gelewer het na president Motlanthe se inhuldiging nie. Ek sal geensins verbaas wees as die etnies georiënteerde partye soos die ‘gesuiwerde’ ANC en die VF Plus wel tot praktiese samewerking oorgaan nie.  Zuma sê hoeka dat die ANC die land nie sonder die Boere kan regeer nie…
    In ruil ontvang die VF Plus toegewings soos:  hersiening van regstellende-aksiebeleid, hersiening van die grondhervormingsbeleid, hersiening van dorpe en strate se naamsveranderingsbeleid, alles wat deur Mbeki se Afrikaniste as heilige koeie voorgehou was, maar wat die Zuma-kamp besef uiters verdelend vir die land se mense is.  Die VIGs-kwessie, asook misdaad en by name Selebi, sal ook ‘n rol speel.  Sodoende sal die VF Plus tasbare resultate kon toon en vir samewerking beloon word.  Tot dan sal manne soos Conrad Beyers en Jansen van Rensburg aangehits moet word om vir Afrikaners se regte te stry totdat toegewings verwesenlik word. 
    Om dit uiteindelik op te kook en af te water:  Hoe sal Afrikaners nou weet vir watter kamp om te ondersteun?  
    -Die stuwende volksgevoel onder diegene wat hulle weer as Boere beskou, sal veroorsaak dat Boere hulle heel gemaklik tot die gesuiwerde ANC-en-VF-Plus-groepering sal wend.
    Die groep wat hulself as ontstamde Afrikaners (nie as lede van ‘n volk beskou nie), Afrikaanses of slegs liberaliste beskou, sal hulle weer welkom voel in die geledere van die DA/Lekota-groepering.
    Hoe suksesvol sal die Lekota-party nou eintlik wees?  My raaiskoot is dat die ANC se steun sal afneem van 70% na 58% van die stemme op nasionale vlak.  Die ANC se tweederdemeerderheid sal ons nooit weer sien nie.  
    Of die Afrikanergemeenskap sterker uit hierdie politieke moeras gaan tree, sal net die tyd ons leer.  Een ding is seker, die Boerevolk wys duidelike tekens dat hy besig is om homself te vind.

    детские игры для деДанильченко

  • Luke Watson is reeds deur Afrikaners veroordeel

    Só gaan dit met verkiesingsprosesse in die VSA, met sportgebeure, met politieke voorkeure, met Jacob Zuma se skuld of onskuld, en nou weer wat Luke Watson sou gesê het.  Of hy wel die gewraakte woorde gebesig het, is nie ter sprake nie.  Die publiek verkies om dit te glo en daar is niks wat Watson daaraan sal kan doen nie.

    Direk hierna volg die proses om sy naam volksbesit te maak. Die naam sal voortaan geassosieer word met iemand wat verraad teenoor Afrikanners pleeg. Sy naam mag selfs verbuig word. Vanweë Watson se swakheid om op truie te wil braak, noem ‘n Engelse rubriekskrywer hom nou Puke Watson.

    Maar sy groot toets lê nog voor.

    Sal Watson die moed hê om ooit weer op enige Suid-Afrikaanse rugbyveld vir ‘n wedstryd op te draf? Ek glo nie. Hy het waarskynlik sy heel laaste wedstryd reeds gespeel, want die plaaslike rugbypubliek is die eenogigste skares ter wêreld.

    Eerstens sal die Dutchmen teen wie hy speel waarskynlik sorg dat hy die wedstryd nie voltooi nie, en dan is daar nog al die Piet van Zyls wat spesiaal wedstryde toe sal gaan om nuwe volkshelde te word.

    Daarom sal ek nie verbaas wees as hy en pa Cheeky dit sterk sou oorweeg om hierdie aaklige land vol Dutchmen vir ‘n meer gemoedelike plek soos Skotland te verruil nie. Die Skotte is mos sulke klein outjies en die Watsons het sekerlik nou nog familie daar.

    справку пндФильчаков прокурор отзывы

  • Wettige onwettigheid

    Die doel was ooglopend om Mbeki nog in die wedloop te hou om steeds hoof van die ANC te bly nadat hy as staatspresident uitgetree het, soos die land se grondwet dit bepaal.

    Die ware oogmerk was egter dat hierdie mosie, wat destyds as 'n meesterskuif en 'n politieke deurbraak beskou is, Mbeki in staat sou stel om vir baie jare nog die volle mag te kon behou, selfs al was hy nie meer president van die land nie.  Die aanname was dat Mbeki sterk genoeg binne die party gestaan het dat sy herverkiesing by die daaropvolgende Pietersburg-konferensie as 'n gegewe beskou ia.

    Maar by Pietersburg het Mbeki dit toe nie gemaak nie.  'n Mini-revolusie het daar plaasgevind wat die wese van die ANC onherroeplik sou verander.

    Die grondwet en ander landswette wat die skeiding van magte reguleer, bepaal dat die staatspresident en sy kabinet (as uitvoerende instellings) nie mag inmeng in die werksaamhede van die wetgewende en regsplegende gesagte nie.  Dit was juis regter Chris Nicholsson se vermoede dat daar genoegsame voorbeelde van politieke inmenging bestaan om te aanvaar dat Jacob Zuma se aantyging dat hy weens politieke redes, van bo geïnspireer, deur die  nasionale vervolgingsgesag gejag word, nie heeltemal uitgesluit kan word nie. Dít en ander prosedures wat nagelaat is, was genoegsame redes waarom hy Zuma se vervolging as onwettig beskou het.

    Daardie aanmerking was ook genoegsame rede vir die ANC om Mbeki binne 'n week na die hofuitspraak as staatspresident te herroep.  

    Mens kan die vraag vra waarom Jacob Zuma dan nie vir Mbeki direk opgevolg het nie?  Die ANC se uitvoerende komitee bestaan waarskynlik uit ander leiers as raserige heethoofde soos Julius Malema, Vavi en Nzimande.  Leiers soos Motlanthe, Zuma, Phosa en Mbete besit oënskynlik genoeg staatsmanskap om Zuma vir eers nie as presidentskandidaat voor te stel terwyl daar 'n swaard oor sy kop hang nie.  Mens aanvaar dus dat Zuma nie staatspresident sal of wil word terwyl daardie swaard oor sy kop hang nie.

    Dit is juis hier waar die knoop lê. As president van die ANC bestaan daar geen beletsel vir Jacob Zuma om as ongebonde private individu, nie-amptelik by al drie die arms van die staat betrokke te raak nie.

    As ANC-partyleier kan hy dus deur Motlanthe regeer. Die adjunk-ANC-president kan die land vir jare regeer sonder dat enige wigte en teenwigte op die ANC se baas van toepassing sal wees.  President Motlanthe het reeds verklaar dat die leierskapstruktuur die regeringsbeleid bepaal – hy moet dit slegs uitvoer.

    Ons sit dus nou met 'n wettige onwettigheid.  

    Wat sou gebeur het as die Skerpioene nie ontbind is en sy hoofde deur die einste leierskapstruktuur aangestel, bevorder of vergoed sou gewees het?

    Wat sou gebeur as die nuwe nasionale vervolgingsgesag deur die partystruktuur uitgesoek word en om hul kandidaat deur die betrokke departemente se prosesse aangestel te kry, en daarna volgens wet deur die staatspresident bekragtig sou word?

    Ek sou raai dat alle aanklagte teen Jacob Zuma in hersiening geneem gaan word.  Dit is mos nie onwettig om geld van vriende te ontvang nie.  Politici kry mos gereeld geld van allerhande bronne.  Waar het die geld vir die Mandela-stigting en die FW de Klerk-stigting oorspronklik vandaan gekom?  Hoe het so baie politici regoor die wêreld miljoenêrs geword?  Is 90 000 bewyse van geld wat ontvang en uit een rekening na 'n ander verskuif is, bewyse dat die geld onregmatig ontvang is?   Het die staat ooit opset bewys, dit wil sê, dat Jacob Zuma ooit in 'n posisie was waar hy die uitslag van 'n tender kon beïnvloed? Bestaan daar bewyse dat hy dit wel gedoen het? Hierdie en vele ander argumente sou die nuwe nasionale vervolgingsgesag kon aanvoer, en waarskynlik ook dosyne tegniese redes waarom Jacob Zuma nie verder vervolg behoort te word nie.

    Juridies sal sy naam dus skoon wees, sonder dat daar enige onregmatige inmenging deur die staatspresident of die kabinet was.

    Die wettige onwettigheid wat tans in die land heers, sal slegs kan verdwyn wanneer die leier van die regerende party weer  die staatspresident is. Tot dan regeer Luthuli-huis die land en nie die presidensie nie.

    дизельный или бензиновыйлобановский александр интервью

  • Terug na Afrika?

    Suid-Afrika se paradoksale begeerte om na Afrikanisme terug te keer bly ‘n enigma. Voor 1880 het Afrika nog soos die primitiewe wêreld gelyk wat voor die Middeleeue regoor die wêreld bestaan het voordat die nasiestaatgedagte posgevat het.

    In die pre-nasiestaat het nie-politieke en nie-morele natuurwesens gewoon; vry om te maak soos hulle wou, slegs deur hul eiebelang en oorlewing beperk. Hul moraliteit was op dieselfde vlak as die norm wat ook vir dief- en roofbendes oor eeue heen gegeld het.  Gemeenskaplike beplanning om vrede en stabiliteit te verseker, was dus ondenkbaar; voorwaar ook ‘n akkurate beskrywing van die pre-1880-Afrika wat arbitrêr daarna tussen Europa se moondhede opgedeel was.

    In sy stuk: “SECESSION AND THE MODERN STATE”(1996) ontleed Donald W. Livingston, die kwessie van sesessie.  Hy bevind dat gedurende die afgelope twee eeue, filosowe die politieke opsie van sesessie vanuit ‘n moraliteitsoogpunt geïgnoreer het.  Livingston verwys na die Engelse filosoof, Thomas Hobbes se boek Leviathan (1651) waarin die teorie van die staat en die pre-nasiestaat beskryf word.  Aan die hand van Hobbes se werk verduidelik Livingston hoe dominante individue, wat ‘n anargistiese omgewing ondraaglik ervaar het, ooreenkomste met mekaar aangegaan het.  Hierdeur is soewereine politieke entiteite gevorm wat toesig kon hou oor die dade van enkelinge.  Hy sê dat  Hobbes nie omgegee het of so ‘n staat die vorm van ‘n monargie, aristokrasie, of demokrasie aangeneem het nie.  Wat belangrik was, is dat die soewereine entiteit as onverdeelbaar, onfeilbaar en onweerstaanbaar gesien moes word.  Enige soewereine entiteit moes hierdie drie eienskappe besit, anders sal daar twee of meer ‘soewereine’ stemme wees, sonder ‘n skeidsregter bokant hulle, waarna hulle net weer na die wilde anargie van die natuurstaat sou degenereer.

    Livingston beweer dat, hoewel die Hobbesiaanse staat outoritêr was, dit nie totalitêr is nie.  Die Hobbesiaanse soewereine funksies word ‘n skeidsregter wat heers sonder om bevele te gee.  Deur ‘n staat se inkomste te beperk tot invoerbelasting word sy magte outomaties beperk tot dit wat binne ‘n beperkte begroting bekostigbaar is.  Vandag se opgeblaasde staatsdienste was dus vir Hobbes ondenkbaar. 

    Livingston konkludeer dat desnieteenstaande, het Hobbes se ‘teorie van die staat’  bygedra tot die ondoeltreffende, vernietigende en bemoeisieke leviatane wat die politieke wêreld van die afgelope byna twee eeue oorrompel het.  Vanuit die doktrine dat soewereiniteit onverdeelbaar, onweerstaanbaar en onfeilbaar is, het die nasiestate van vandag ontwikkel.

    Maar daar is nog ‘n ander gevolg:  Soewereiniteit is altyd aan ‘n grondgebied gekoppel.  Deurdat soewereiniteit onverdeelbaar is, is grondgebied dus ook onverdeelbaar, wat tot gevolg het dat ‘n volk binne ‘n veelvolkige nasiestaat nie van so ‘n staat kan afskei nie.  Sesessie sou kwansuis op die territoriale versnippering van ‘n staat neerkom; op sy beurt weer ‘n ontkenning dat soewereiniteit onverdeelbaar is.  Om hierdie rede bevraagteken moderne en post-moderne filosowe nooit die moraliteit van sesessie nie en word hul aandag beperk tot die teoretisering en legitimisering van die moderne nasiestaat.

    Sedert 1790 tot 1990 het daar slegs enkele voorbeelde van suksesvolle vreedsame sesessies voorgekom.  België het van Nederland afgeskei in 1830, Noorweë van Swede in 1905 en Singapoer van die Maleisiese Federasie in 1965.

    Sedert die val van die Berlynse muur het daar egter ‘n verandering in die soewereiniteit van nasiestate gekom en het verskeie vreedsame sesessies plaasgevind, soos bv. die Tjeggiese en Slowaakse Republieke wat deur sesessie uit Tjeggoslowakye geskep is.  Met die uitsondering van Eritrea van Etiopië, was alle sesessies vreedsaam sedert 1990, ook die sesessie van Walvisbaai van Suid-Afrika na Namibië.  Dit was selfs waar van Joegoslawië waar daar slegs halfhartige weerstand van die sentrale regering, wat deur Serwiërs gedomineer was, bestaan het toe Slowenië en Kroasië afgeskei het.  Die huidige konflik gaan oor die Serwiese enklawes in Bosnië en Kroasië, wat nie toegelaat word om af te skei en by Serwië aan te sluit nie.  Tony Blair se goedkeuring vir selfbeskikking aan Noord Ierland, Wallis en Skotland is ‘n verdere bewys van die verdeelbaarheid van soewereiniteit.

    Intussen is Europa aan die opmars. ‘n Groter entiteit soos die EU is geskep, met selfs ‘n gedeelde Euro-geldeenheid, wat ‘n groot verlies aan soewereiniteit van  lidlande verteenwoordig.  Die Europese Parlement is reeds in staat om gemeenskaplike wetgewing aan te neem wat verpligtend op ledelande is.  Daar kan dus met reg beweer word dat soewereiniteit vandag wel wesenlik verdeelbaar geword het.  ‘n Direkte uitvloeisel van die EU is dat landsgrense sagter geword het, deurdat burgers van een lidstaat dieselfde regte geniet as burgers van ‘n ander en dat goedere vryelik tussen lidstate oor grense heen mag beweeg. ‘n Versagting van landsgrense verdeel soewereiniteit nog verder.  In die toekoms sal algehele sesessie van ‘n lidstaat vanaf die Unie moontlik, wettig en prakties  uitvoerbaar wees, hoewel ekonomies dalk ongewens. 

    Op die politieke landskap is hierdie verskynsel baie nuut; iets waarmee die VSA, Kanada en Meksiko waarskynlik nog te kampe gaan hê sover dit die oprigting van die Pan-Amerikaanse vryhandelsentiteit aanbetref.  Die afskeiding van Quebec, wat tans ‘n haas onverteerbare vooruitsitg vir Kanada is, sal polities meer aanvaarbaar raak wanneer ‘n groter Pan-Amerikaanse politieke entiteit tot stand kom en waarin Quebec ‘n gelyke vennoot sal kan wees.  Gesien teen die agtergrond dat die VSA sy alleenheerskappy as makro-moondheid waarskynlik eers sal moet inboet, sal so iets egter nie gou gebeur nie.

    Om  nou weer na Afrika terug te keer.  Ek noem Suid-Afrika se terugkeer na Afrikanisme ‘n paradoksale enigma, omdat dit impliseer dat daar na Afrika se manier van dinge doen teruggekeer gaan word; soos Afrika dit vir eeue voor die koloniale tydperk gedoen het.  Landsgrense, wat arbitrêr deur koloniale moondhede op die vasteland afgedwing was, mag dus nou in gedrang kom. 

    Lande soos Zambië en Mosambiek het reeds hul soewereiniteit oor die beheer van hul geldsake aan die IMF en die Wêreldbank afgestaan, wat daardie lande se begrotings elke jaar moet goedkeur en waar verteenwoordigers van daardie organisasies hul kabinetsvergaderinmgs bywoon.  Die volgende stap sal gemeenskaplike projekte oor aangrensende landsgrense wees. Neem bv. die Groter-Limpopowildreservaat van Suid-Afrika, Mosambiek en Zimbabwe.  Soewereiniteit se verdeelbaarheid en dus ook territoriale verdeelbaarheid, word sodoende stelselmatig as ‘n gegewe politieke opsie in Afrika aanvaar en stadigaan prysgegee.

    Vir Afrikanisme om as ‘n ernstige politieke filosofie gesien te word en nie slegs as die politieke mobilisering van swart nasionalisme om die euforie van die “finale bevryding” te vier nie, sal Afrika se volke bevry moet word soos om te wees soos  hulle tydens die pre-1880 tydperk was.   Dit beteken dat grense wat regdeur stamme, volke en selfs gesinne se huise getrek was, opgeskort sal moet word.

    Vroeër was daar dikwels aangevoer dat Afrikalande se buitelandse skuld die  prysgee van grondgebied, asook die verskuiwing van landsgrense onmoontlik maak.  Binne die huidige internasionale politieke klimaat, waar daar op die algehele vergewing van buitelandse skuld vir Afrikalande aangedring word, kan daardie argument dus eersdaags verdwyn.  ‘n Verdere aansporing van die herskikking van Afrikagrense is die NEPAD program, wat reusagtige gesamentlike voedselproduksieprojekte tot gevolg mag hê binne streke waar bepaalde klimatologiese of logistiese voordele bestaan.  Sulke projekte sal noodwendig beteken dat die land waarop ‘n projek geplaas word, nie noodwendig die volle fiskale, politieke of maatskaplike seggenskap oor sodanige projekte sal hê nie.  Sulke projekte mag selfs direk onder die beheer van die Afrika-Unie ressorteer.

    Dit is binne hierdie verwysingsraam dat ‘n pre-1880 volk, soos die Afrikaners, wat van die Boerevolk afstam, ook hul eie staanplek sal moet vind.  Hoewel sesessie nie tans moontlik lyk nie, en, gesien teen die agtergrond van die twiste wat bestaan oor watter deel van Afrika aan Afrikaners toegewys moet word selfs onwenslik mag wees, sal sesessie, as ‘n politieke opsie, telkens weer sy verskyning op die politieke terrein maak.

    Dit is derhalwe wys om die groter politieke prentjie, asook die filosofiese strominge oor die moraliteit van sesessie noukeurig te volg en om ‘n kultuur van denke te vestig wat gedurig daarop wys dat sesessie wel ‘n morele politieke opsie vir Afrikaners se netelige probleem van selfbeskikking is sodat sy volkskap behoue sal bly.

    Julie, 2003

    строительство саун москваДанильченко Юрий Брониславович Харьков