
‘n Anonieme ekstreemlinkse, waarskynlik marxistiese, groep is sedert Donderdag besig om adverteerders op die praag-webblad te intimideer om hul advertensies te verwyder omdat die blad kwansuis “regs en rassisties” sou wees. Die veldtog word vanaf ‘n Facebook-blad geloop met die naam, “Stop right wing website Praag” met as onderskrif “Stop the right wing website www.praag.co.za earning revenue from companies who advertise on the site”.
Volgens dr. Dan Roodt van praag het die aksiegroep Saterdagoggend daarvan bewus geraak dat iets fout is. “Ons het skielik agtergekom dat ons netwerkadverrtensies nie meer op die blad vertoon nie, maar het aanvanklik gedink dat daar ‘n fout met die stelsel kon wees. Min het ons vermoed dat ‘n groep kwaadwilliges besig was om leuenagtige, onverdraagsame en lasterlike boodskappe aan groot maatskappye in Suid-Afrika te stuur waarin ons as ‘regs en rassisties’ voorgestel word. Eers teen Sondagaand het van ons ondersteuners en lesers ons van die bestaan van die ‘Stop praag”-blad verwittig.”
praag het onmiddellik geëis dat individue agter die Facebook-blad hul name, asook ‘n adres waar stukke op hul beteken kan word, bekend moet maak. “Ons beskou hierdie veldtog in ‘n baie ernstige lig,” sê dr. Roodt. “Nie net word ons grondwetlike regte op vrye media, spraakvryheid en reg om handel te dryf aangetas nie, maar die groep stel hom ook aan strafregtelike vervolging bloot.”
Die pro-afrikaanse aksiegroep vermoed dat die veldtog deur sy deelname aan die Rooi-Oktober-veldtog teen geweldsmisdaad ontketen is. Op die voorblad van die Facebook-groep verskyn insgelyks ‘n foto wat by die Rooi-Oktober-betoging voor die Uniegebou geneem is en waarop dr. Dan Roodt met ‘n praag-T-hemp en swart hoed sigbaar is. “Ons voorspel reeds geruime tyd dat Suid-Afrika, nes Duitsland tydens die Weimar-republiek van die 1920s in twee of meer politieke en ideologiese kampe gaan polariseer. Marxistiese groepe wat voorheen stedelike terreur in Suid-Afrika gepleeg het of voorstanders van terreuraanvalle op burgerlikes was, wil hê dat Afrikaners, Afrikaans en Afrikaanse instellings soos skole en universiteite moet verdwyn en neem daarom aanstoot aan ons pro-Afrikaanse standpunte,” meen dr. Roodt.
Die blote publikasie van nuusberigte oor geweldsmisdaad, korrupsie en taaldiskriminasie word deur ekstremistiese linkse groepe in die land as “regs en rassisties” beskou omdat sulke misdade merendeels deur swart mans gepleeg word. “Dis ‘n geval van ‘skiet die boodskapper’,” sê Dan Roodt. “Ook het linkse ekstremiste daaraan gewoond geraak dat hul ideologiese sienings klakkeloos in die media en aan die universiteite herhaal word en staan onverdraagsaam teenoor politieke of intellektuele kritiek. In vele opsigte het Suid-Afrika ‘n tipiese kommunistiese land geraak, wat onverdraagsaamheid teenoor konserwatiewe, vryehandels- of patriotiese standpunte insluit.”
