DA verwyder Verwoerd-standbeeld

Deel op
“Die DA kan nie die geskiedenis van Suid-Afrika verander deur standbeelde te verwyder nie,” was die reaksie van dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, na die verwydering van dr. Verwoerd se standbeeld in Midvaal.

“Die argument behoort nie te wees of jy met ‘n individu uit ons geskiedenis saamstem of nie, maar of dit deel van ons geskiedenis is. Koningin Victoria het ‘n aandeel gehad in die dood van my familielede in Britse konsentrasiekampe. Omdat sy ongelukkig deel van ons geskiedenis is, het ek nie geëis dat haar standbeelde by die Parlement en ander plekke in Suid-Afrika verwyder word nie. Waarom verwyder die DA nie nou ook die standbeeld van Jan van Riebeeck in Kaapstad’ as die oorspronklike koloniale veroweraar ‘ asook die van Koning Victoria in Kaapstad nie?” het dr. Mulder gevra.

Waar daar ‘n gevoel is dat die geskiedenis nie volledig is nie, het die VF Plus al in die verlede voorgestel dat nuwe standbeelde opgerig word van byvoorbeeld vorige ANC-leiers soos Oliver Tambo en Nelson Mandela. In die geval van Midvaal was dr. Verwoerd vir baie jare die Parlementslid vir die Midvaalgebied en daarom is die standbeeld daar opgerig en tot op datum deur die ANC daar gelaat.

In baie Afrikastate is een van die bydraende redes vir die permanente onstabiliteit die feit dat alle geskiedenis, standbeelde en straatname van ‘n vorige president telkens deur die nuwe president vervang is.

Na die val van die Berlynse muur en die hereniging van Duitsland, is besluit om die kommunistiese standbeelde en name in Oos-Duitsland te behou omdat dit deel van hulle geskiedenis is. Dit is ‘n meer verstandige benadering tot ‘n land se geskiedenis. ‘n Ander benadering sal beteken dat die PAC byvoorbeeld alle ANC-straatname en -standbeelde verander as hulle aan bewind sou kom in Suid-Afrika.

Stadsrade soos Midvaal en andere moet eerder belastinggeld aan dienslewering spandeer as om dit te mors op die verandering van straatname en die verwydering van monumente.

“Die DA is geen vriend van die Afrikaner nie,” het mnr. Jaco Mulder, LPW en leier van die Vryheidsfront Plus in Gauteng, gesê.

Dr. Verwoerd het ‘n historiese verbintenis met Meyerton gehad en hierdie stap van die DA  kom neer op die minagting van ‘n stuk kultuurerfenis van die dorp.

Jaco Mulder het bygevoeg dat enige politieke party wat die geskiedenis van ‘n kultuurgroep minag, geen plek in ‘n diverse politieke landskap soos Suid-Afrika verdien nie.

Die voorsitter en burgemeesterskandidaat van die VF Plus in Midvaal, mnr. Corrie Pyper, het op die toneel tydens die verwydering gesê dat daar geen plek vir die Afrikaner en sy kultuur in die DA is nie en dat die DA die aksie berekend in die nag twee weke voor die plaaslike owerheidsverkiesing uitgevoer het om politieke guns by swart kiesers van Midvaal te wen.

Die DA sal die stap aan die hoofsaaklik Afrikanergemeenskap van Midvaal, met wie se mandaat hy die raad regeer, moet verduidelik. Dit is die resultaat van ‘n liberale en identiteitlose samelewing van individue wat die DA nastreef.

дома для куколлобановский класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.