{"id":9734,"date":"2011-01-01T07:14:56","date_gmt":"2011-01-01T07:14:56","guid":{"rendered":"http:\/\/afrikaansenuus.co.za\/?p=9734"},"modified":"2011-01-01T07:14:56","modified_gmt":"2011-01-01T07:14:56","slug":"nuwejaarsbrief-uit-pole","status":"publish","type":"post","link":"https:\/\/praag.co.za\/?p=9734","title":{"rendered":"Nuwejaarsbrief uit Pole"},"content":{"rendered":"<p style=\"text-align: justify;\"><img decoding=\"async\" class=\"caption\" title=\"Fanie Olivier\" alt=\"Fanie Olivier\" src=\"http:\/\/afrikaansenuus.co.za\/wordpress\/wp-content\/uploads\/2011\/01\/olivier_fanie.jpg\" width=\"251\" \/>En wie het verlede jaar hierdie tyd geraai of selfs kon dink dat ek van hieruit sou kon nuwejaarswense stuur:&nbsp; Szcz\u0119\u015bliwego Nowego Roku!<\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\">Goeiemiddag uit \u2019n winterdonker en yskoue Pozna\u0144, die laaste week van 2010. Hoe verskriklik sleg kan \u2019n mens nie wees nie. Van my maandelikse voorgenome Poolshoogtes het daar toe niks gekom nie \u2013 inderdaad laas in Junie iets gestuur. As troos darem vir die Kerstyd vir elkeen van my lesers mooi dinge toegewens en nou ook alles wat besonders is vir 2011.<\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\">Maar die Calvinistiese skuldgevoel dwing my om darem iets te maak van die stukkies wat geskryf is en orals rondl\u00ea. Dis net dat daar eintlik nie \u2019n verskoning is nie, anders, laas, in 2005, toe skryf en woorde betekenis verloor het. Slegtigheid, en dis al.<\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\">(Van daardie tyd is daar \u2019n norring reise wat nooit beskryf is nie, op stukkies papier in \u2019n groot boks saam met kaarte en pamflette. Miskien, eendag, gaan krap ek dit uit en maak ek (soos wat nou hoogmode is) &#8216;n fiktiewe verslag van die ware reis.)<\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\">Hierdie ding gaan maar brokkerig en stuk-stuk wees, heen en weer spring, maar hopelik \u2019n baie skimmerige beeld gee van hoe hierdie Poolse halfjaar verloop het. Hier en daar mag daar \u2019n datum opduik, maar saamgevat was dit ses maande van politieke verkiesings, die w\u00eareldbeker (onthou julle nog?), Chopin, die herdenking van die oprigting van die Poolse Solidariteit, Solidarnosc, 30 jaar gelede, en die herdenking van die Slag van Warskou (90 jaar gelede) en die Slag van Grunwald (600 jaar gelede). Sonde by die bure (Belo-Rusland oftewel Wit-Rusland) en die blywende besef dat al is Pole deel van die Europese Unie, bly dit die agterhoek en word daar maar min melding gemaak van hierdie wye stuk land as daar oor Europa gepraat word nie<\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\">Dit was weer duidelik by die omvattende beriggewing oor die vroe\u00eb en baie swaar sneeu wat verkeer, en veral lugverkeer, lamgel\u00ea het dwarsoor \u201cEuropa\u201d.<\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\">Die posisie van Pole het uiteindelik ook die onderskeidende faktor geword in die Poolse politiek en verkiesings, vir die President en vir die plaaslike regerings (hier word die burgemeester ook sommer maklik president van die stad genoem&#8230;). Die bre\u00eb verdeling loop nou tussen diegene wat hulle pertinent en prominent as deel van Europa plaas (die regerende PO (=Openbare Platform) ), en diegene wat skepties staan (ook teenoor toenadering tot die Groot Beer) en hulle basis het in die party vir Reg en Geregtigheid (PiS). \u201cDie belang van Pole voorop\u201d was hulle slagspreuk en in November het \u2019n groep van hulle parlementslede hulleself as \u2019n aparte koukus losgemaak rondom daardie idee.<\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\">Die stof rondom die tragiese vliegtuigongeluk by Smolensk wil maar nie gaan l\u00ea nie en dis veral die gestorwe President se tweelingbroer, Jaroslaw Kaczy\u0144ski, wat dit gedurig byroep en bly suggereer dat daar \u0149 sameswering was wat onderliggend aan die vliegtuigongeluk was. Baie ou \u201cpatriotiese\u201d gevoelens is tesame hiermee deur hom opgeroep met sy veldtog om as president verkies te word, maar hy het uiteindelik lelik tweede gekom met die tweede rondte van die verkiesings in Julie. Wat daardie presidensi\u00eble verkiesings wel duidelik gemaak het, is dat daar op die oomblik \u2019n redelike groot verskil bestaan tussen die stedelike en plattelandse kiesers.<\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\">Bronis\u0142aw Komorowski is dus die Poolse president, en sal seker nou en dan sy opwagting maak op \u2018n beeldradioskerm in die RSA. \u2019n Groot rustige mens, straal hy nie juis besondere charisma uit nie, maar vergestalt waarskynlik wat ek dink mense in Europa as \u201ctipies\u201d Pools sou wou sien: stabiel, gebrek aan verbeelding, verstandig-versigtig rondom die Russe. Oor hoe hy met die Wodka omgaan, weet ek nie: moet onthou om my politieke informant Piotr Cichocki hieroor te vra.<\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\">Hy werk by \u2019n semi-outonome Instituut vir Buitelandse Aangeleenthede, en het in my lewe ingeloop as gevolg van sy huwelik met \u2019n oud-student, Ola Lukomska (wat \u2018n paar van julle opgevang het tydens haar besoek aan Suid-Afrika in 2005&#8230;) Ons probeer so twee keer per maand bymekaar kom vir \u2019n koppie koffie en \u2018\u2019n gespreksessie waarin ek elke keer meer leer ken van Pole en die wye land se verhouding met die res van Europa, oos en wes van ons. Maar omdat hulle opdrag ruimer is, word ek sommer baie dinge wys oor die aard van die baie onderliggende spannings in die Balkan en die groeiende kloof tussen die noorde en suide van Itali\u00eb.<\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\">Onthou, vermaan hy my toe ek hom nou bel, om te vertel dat Pole die suksesvolste land in die Europese Unie was tydens die finansi\u00eble krisis: \u2019n 4%-groeikoers. Selfs die Duitsers is jaloers&#8230;. &nbsp;Ook daarom dat die Pole huiwerig bly om oor te skakel na die euro, en sinies glimlag vir Estland se oorskakeling in 2011.<\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\">Op my datastokkie het ek die volgende begin skryf begin Junie, dus nog voor die W\u00eareldbeker ingeskop het. Ek las dit net so, ongeredigeerd, hier in, sodat julle kan sien dat ek darem nie regtig s\u00f3 sleg was nie!<\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\"><strong>Dis die tyd van die hortensies, en die aarbeie, en die kersies<\/strong><\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Die binnenshuise swembad waar ek soms gaan rondplas, sluit tot Septembermaand. Want die somer is hier met sy lang-lang aande en as jy tien minute die stad uitry, kan \u2018n mens gaan swem in die mere.<\/span><\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Uitry \u2013 nou daar\u2019s \u2019n ding! Nog steeds nie ryvaardig nie, al het ek \u2019n NIP en \u2019n Persel en \u2019n Potwierdzenie. Pinotage staan beteuterd, nommerplaatloos onder die boom en die somer draai by hom verby. In sy laaste Hollandse grasiedae ry ek en kar die vlaktes oor na Warskou om my spulle te gaan haal. Elke liewe denkbare dokument is aan die stuwadore deurgegee, in triplikaat en volkleur en as ek Donderdag bel, verseker Marta my dat dit net stilhou, afhaal en inlaai is. Almal weet.<\/span><\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Ek ry Vrydagoggend vroegerig, tot die tande toe gewapen met kopie\u00eb van alles wat daar is, sodat ek teen tienuur by die TIR-kantoor kan wees. Die adres bestaan nie in my ou verslete normaalweg betroubare kaartboek van die hoofstad nie, maar ek is uitgerus met \u2019n Garmin-kaart van die hele Europese Unie (en die paar hardkoppige buitestaanders; net enkele paaie in Rusland kry egter \u2019n hoekie) en tik die adres in. O soetste taal: Afrikaanse aanwysings hier in Pole!<\/span><\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Vanmiddag is daar buitendien ook nog \u2018n Ambassade-partytjie wat om drie-uur begin&nbsp; (die uitgestelde Freedom Day-fees uit April om saam te val met die begin van die sokkerstories &#8211; lekker in \u2019n hotel in die sentrum met \u2019n tamaai skerm en kos.)<\/span><\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Om seker te maak dat ek die spertye haal, ry ek met die snelweg, die tolpad. Die agterste agterpad, die een wat ek die graagste ry, vir lang ente langs die Vistula, is onseker met die baie waters (hoe lyk P\u0142ock, so op die walle, wonder ek?). Die ryery gaan maklik, die snelheidsgrens is 130 en die grootpad is nou 100 kilometer langer as in 2005: verdubbel. Dis \u2019n sonnerige dag, en sover ek ry, kan ek sien hoe die waters blink waar daar eintlik landerye moet wees.<\/span><\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Jammer vir die boere, maar as daar nie soveel vlaktes was vir uitdying nie, was die skade in stede en dorpe verder noord nog ellendiger. Ek hoop dat die spesiale verbintenis wat die Poolse Kerk boontoe het, nog \u2019n mirakel sal meebring:&nbsp; waar ons nou nog niks sien staan, gee God goue graan, onthou ek \u2019n Halleluja-liedjie. Het ek met boekie ingepak in die bokse, wonder ek. Ek onthou die FAK, maar kan die boekie, rooi soos Pinotage, nie in my inpak herroep nie.<\/span><\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Tot waar die nuwe pad ophou, het ek heelwat minder as twee uur gery. Dis kwart voor agt. 120 kilometer oor: die pad is baie stadiger van hier af, maar ek behoort&nbsp; darem so net n\u00e1 nege daar te wees. Die GPS praat saam: bereken die aankomstyd nog meer optimisties, maar wat sou die Afrikaanse tannie nou van Poolse paaie weet!<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">En, ja, niks het verander nie. Die toevoer na die hoofstad is net so sleg soos destyds (dis waarom ek graag agterom gery het), en daar is BAIE meer motors. Ons begin kruie, want in elke dorpie nader na Warskou toe word die verkeersligte meer, die tou langer. Ek stop by een van die boere se waentjies langs die pad: koop padkos vir ontbyt. Varsgeplukte appels en groot soet aarbeie. Verloor miskien veertig plekke in die ry, maar dis die moeite werd en gaan nie veel aan my heil verander nie.<\/span><\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Inderdaad. Dit neem my net oor die twee uur om die laaste 120 kilometer af te l\u00ea tot in die noordelike hart van Warskou, en nog \u2019n goeie halfuur voor ek uiteindelik die TIR-kantoor bereik. Van Marta se beloftes kom daar min: ook hier is die burokrasie opgestapel, en ek word aangeraai om later terug te kom. Ek verduidelik dat ek \u2019n amptelike amabassade-afspraak het (verswyg die feit dat dit eintlik \u2019n sokker-paartie is) en dat ek nie later as een-uur kan weg nie. Lieg vir my nog \u2019n uur se grasie by.<\/span><\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Ook maar goed so, want ten spyte van weke se onderhandelings met die karweiers, baie dennebome se briewe (= gedrukte e-posse), nog kruiwaens vol geld en die onderneming dat daar geen probleme gaan wees nie, daag die vurkhyser met my plastiekpak met ses groot bokse eers teen halftwee op, en word sommer net daar by die kar se stert afgelaai. Meet en pas bring nie almal tuis nie, wat beteken dat ek twee van hulle moet oopbreek, en die boeke los op die vloer van die kar verdeel. Maar hulle is hier, en daarvoor is mens seker dankbaar.<\/span><\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Wanneer ek by die hotel opdaag, is die toesprake klaar (hier en daar) en kan ek in \u2018n hoekie gaan staan: slaap, eet en kyk hoe Bafana die eerste haas uit die hoed trek. Heerlike kos en drank, \u2019n vuvuzela of twee en \u2019n onmiddellike vertrek om die ure op \u2019n donker pad tot \u2019n minimum te beperk. Maar dis somer en die dae lank en warm&#8230;<\/span><\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">My nuwe pakesel se eerste regte-egte Poolse rit. Boeke sal hy dra&#8230;<\/span><\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Omdat Pole nie deelneem aan die WB nie, is die aanvanklike belangstelling in hierdie omstreke minder. Maar die horlosie tik die dae en ure af na die opening van 2012 se Europabeker, wanneer Fifa die beheer van Pole en die Oekra\u00efne oorneem en Sepp Blatter die de facto president van beide state word&#8230;<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Dis buitendien heerlik vroeg-somer, en verstandige mense sit nie die heeldag deur en sokker kyk nie. Die universiteit is ook nog aan die gang, en met middagklasse is daar nie altyd tyd om te gaan kyk nie. Die graagste gaan sit ek op die Ou Mark (Stary Renek, op s\u2019n Pools), waar al die restourante en kafees nou houtterrasse uitgestoot het met lekker groot platskerms om gesellig te sit en kyk. Ons departementsgenote, die Hollanders (nie die Vlaminge nie, want hulle het ook uit die bus geval nog voor dit vertrek het) se entoesiasme neem siendero\u00eb toe oor die baie weke. Ook ek en Tertius deel lustig in die glorie van ons voorvaders en genote, en die Nederlanders laat darem die Vlaminge ook toe om nou en dan aanmoediging te gee: op stuk van sake is Belgiese bier darem nog steeds die beste wat daar te krye is.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">\u2018n Stuk van die WK sal ek vanuit Engeland dophou waar ek in Cambridge gaan verjaardag vier by my dogter Marcelle (langs die Cam, waar dit om een of ander duister rede nie op \u2018n Julie-middag re\u00ebn nie) en een heerlike middag saam met haar en Robert en Cathy en Harry en my aangetroude kleinkinders in \u2019n tipiese Engelse pub sou deurbring. As gevolg van slordigheid aan die kant van \u2019n huurmotor sou ek my vroegoggendvlug vanuit Stansted verpas en etlike ure sit en wag vir die volgende ding wat rigting Pole sou vlieg:<\/p>\n<p><strong>lounge \u2013 stansted<\/strong><\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p>hoe anders is vrouens nie as mans nie<\/p>\n<p>leun vertroulik teen hul minnaars aan<\/p>\n<p>onderskraag hulle eggenotes verdra<\/p>\n<p>die kinders bo-op hulle orals vra<\/p>\n<p>daarvoor by algar om verskoning. waar<\/p>\n<p>meisies saamreis, praat hulle, gesels<\/p>\n<p>met hulle gesigte, lig wenkbroue, lag<\/p>\n<p>trek skewemond, maak gul gebare.<\/p>\n<p>kyk diegene met wie gepraat word steeds<\/p>\n<p>in die o\u00eb altyd \u0149 hand terloops in die hare.<\/p>\n<p>slaap elegant, onder die ligte lede<\/p>\n<p>fladder daar soms iets, asof die reis reeds<\/p>\n<p>afgehandel is, die spaanse son net wag<\/p>\n<p>vir wakker-word.<\/p>\n<p>dis nie dat ek<\/p>\n<p>dink vrouens is sonder meer tevrede<\/p>\n<p>nie: jy sien, as jy goed kyk, \u0149 hartseertrekkie<\/p>\n<p>weggesteek daar in haar mond se hoek<\/p>\n<p>\u0149 troebelte diep agter, iets gebreek.<\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p>hiervoor (maar \u00f3\u00f3k as vreugde voorop staan<\/p>\n<p>&#8211; dan, miskien, veral) leer hulle kompenseer<\/p>\n<p>vyl naels, loer onbeskaamd in \u2019n spie\u00ebl, besweer,<\/p>\n<p>maak hulle monde rooi, doodseker waar<\/p>\n<p>die liplyn l\u00ea. hulle ruil geheime uit vertroulik<\/p>\n<p>en weet terselfdertyd dis openbaar<\/p>\n<p>is hulle alleen, lees hulle, altyd \u0149 boek<\/p>\n<p>(nie die kortbegrip van \u0149 koerant nie) hou<\/p>\n<p>dinge by in notaboekies van die reis<\/p>\n<p>om later net aan hulleself te wys<\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p>ek probeer uitpluis hoe anders drink<\/p>\n<p>hulle met \u0149 strooitjie, almal \u2013 behalwe di\u00e9<\/p>\n<p>wat weet ek kyk en wonder wat is my belang<\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p>(die vlugte knetter bo: gerangskik<\/p>\n<p>volgens uur en hek; \u0149 paar is laat;<\/p>\n<p>sonder rede word een na malta gekanselleer)<\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p>jy sien hoe hulle oor selfone praat<\/p>\n<p>met drif, terwyl hul verder koffie, flirteer,<\/p>\n<p>by die boetiek \u0149 serp gaan soek, donkerbril<\/p>\n<p>verbasend op die voorhoof gebalanseer<\/p>\n<p>\u0149 trui skuif oor \u0149 skouer oop parfuum hang<\/p>\n<p>rondom hulle in die lug. ek ken di\u00e9 blik<\/p>\n<p>dit s\u00ea gewoon: \u201ckyk, ek is anders\u201d of: \u201cek wil\u201d<\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p>ek weet. ek knik.<\/p>\n<p>my lewe, my hare, my mondhoek lankal uit wans<\/p>\n<p>uit voorbepaal, geneties geprogrammeer<\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p>hoe anders is vrouens, hoe anders as mans<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Met die Engelse besoek gaan ek saam met Marcelle-hulle vir die eerste keer iewers vakansie hou: langs die ooskus, by Suffolk, met Nederland net anderkant die horison. Ken die kontrei net van die anderkant af, soos die veerboot van Hoek van Holland hierdie kant toe aankruie. Boeiende kus met sy koue strande van pragtige klippers (\u2019n paar dra ek saam om naby te hou, later), grondhange wat gedurige wegkalwe in die bedrieglike kalm waters met die patetiese brandertjies (maar halwe dorpies het al verdwyn, afgegee aan die see.) Dis droog in Engeland en die malse groen lyk so bietjie moeg vir die son.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Ek kyk met nuwe o\u00eb na die vroegste inwoners van die stuk eiland (konkreter as die soliede abstraksies van Stonehenge) en maak spesiaal \u0149 draai by die Britse Museum om te gaan loer na die dinge wat ek oor die maande vooraf gevolg het op die BBC se wonderlike radio-reeks \u201cThe History of the World in 100 objects.\u201d En, veral, om daardie wonderlike houtskild te bekyk wat ek raakgeloop het in \u2019n boek en wat ek kon gebruik op die voorblad van <em>apostroof<\/em>. Mooier as wat ek my dit verbeel het.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Met die afronding van die nuwe uitgawe van <em>Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte<\/em> raak ek weer in die ban van die po\u00ebsie. Skryf baie, veral rondom die interessante en problematiese w\u00eareld van Skype. Hoe \u2019n mens so ver en terselfdertyd so naby kan wees. Ook oor die oppervlakkigheid wat daarmee saamhang. Ek dink aan die Afrikaners wat in die jare dertig en veertig in Nederland studeer het: hoe prek\u00ear en kosbaar briewe was. Hoe lank dit geduur het voordat \u2018n antwoord op \u2018n vraag jou bereik het en hoe versigtig jy moes omgaan om seker te maak dat daar nie misverstande ontstaan wat moeilik reggestel kon word nie.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Ek sien nogal baie van my Britse lorriedrywermaat, Brian Erskine, wat ek een middag op die vlaktes tussen Poznan en Berlyn ontmoet het, naarstiglik besig met sy Skype-sessie met sy vrou: presies op tyd, op die juiste uur. Hoe beangs en hoe vreugdevol dit hom maak. As hy in Poznan langs kom, maak ons kans vir \u2019n koppie koffie en koek; word ek \u2019n biegvader en \u2019n soort steunpilaar vir hom in hierdie vreemde soort bestaan wat hy (en duisende ander vragwachauffeurs) dwarsoor Europa moet voer. Lanklaas van hom gehoor: dalk loop sy roetes anders, maar ek hou duim vas dat daar vir hom oor die feesgety ook tog iets spesiaals was.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Ek leer ken ook ander mense wat verhoudings aan die gang hou of probeer hou vastelande uitmekaar uit; ontdek hoe ver die virtuele bestaan verwyder is van wat die mense werklik dink en doen en voel. Dalk was dit nog altyd waar oor die po\u00ebsie: hierdie een gee ek graag vir my Kaapstadse doring,&nbsp; Joan Hambidge:<\/p>\n<p><strong> <\/strong><\/p>\n<p><strong>loading \u2026<\/strong><\/p>\n<p><em>(vir joan)<\/em><\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p>po\u00ebsie was nogal nog altyd<\/p>\n<p>niks meer as virtuele werklikheid<\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p>nie: deur \u2018n spie\u00ebl in \u2018n raaisel<\/p>\n<p>\u2018n skerm waardeur wat jy verraai wil<\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p>sien, gestalte kry maar ook weer net-net<\/p>\n<p>nie \u2013 wanneer jy dink dat jy dit het<\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p>verdwyn dit iewers op \u2018n kuberstraat<\/p>\n<p><em>lees maar er bestaat niet wat er staat<\/em><\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p>is die graffito teen die mure<\/p>\n<p>van gedigte uitgetik as dure<\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p>les wees bedag onthou dis \u2018n wit<\/p>\n<p>vlokkie skuim wat rondom die woorde sit<\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p><strong>ns.<\/strong><\/p>\n<p>lees maar (mene, mene, tekel&#8230;) &nbsp;&#8211; daar staan<\/p>\n<p>nie wat daar bestaan nie (of: nie bestaan<\/p>\n<p>nie)&nbsp; &#8211; deser en gene algar; &nbsp;hoe hekel<\/p>\n<p>die digter dit waarop die verse slaan<\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p>Ek hou my van die gode rein.<\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\">Die skooleindeksamen (die <span style=\"text-decoration: underline;\">matura<\/span>) is van ewe veel belang as ons matriekeksamen, maar heelwat betroubaarder, seker). Dit is so \u2019n <em>sigbare<\/em> eksamen, omdat dit die enigste tyd is wanneer die jong mense formeel aantrek: die meisies met wit bloese en swart rompe of langbroeke, die seuns eweneens in swart en wit, selfs met \u2019n das. Op die trems is dit stiller, loer die kinders (?) vir oulaas na hulle aantekeninge. Prestasie staan sentraal, want hoewel universit\u00eare opleiding gratis is (mits jy bly presteer), is toelating beperk en plekke maar min. Tensy jou ouers geld het, is uitstekende prestasie \u2019n voorvereiste.<\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\">Ook by ons instituut val die kleredragkode op (dis die eerste keer wat ek hier eksamen meemaak, besef ek \u2013 altyd vroe\u00ebr reeds weg op reise) en by die finale BA-mondelinge kry die paneel elkeen blomme van die kandidate na die afhandeling daarvan. Soms bring die plattelandse ouers nog \u2019n mandjie met groente of tuisgebak saam om dankie te s\u00ea : seker ook maar gehoor hoe swak akademici betaal word.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Omdat my hele departement in Suid-Afrika is vir die kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging, word ek opgekommandeer om te gaan insit by mondelinge van studente wat ek hoegenaamd van geen kant af ken nie. Ken maar my plek en hou my mond (behalwe vir my vooraf opgestelde vrae wat aan die modereerder gegee moet word&#8230;), en aanvaar dankbaar die twee ruikers blomme wat my kamers die ene somer maak. Vensters heel dag oop, en selfs \u2019n vlieg of twee.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Hierdie eerste Europese somer ontglip die greep van die uitgebreide reise van vroe\u00ebr: ek bring \u2019n blitsbesoek aan die Suid-Afrika om te kyk hoe lyk die Kaap en hoe gaan dit met my ma (die lofsang vir my suster wat hierdie tweede Poolse verblyf moontlik maak, kan nooit genoeg wees nie) en vang vir Jac en Annaline Conradie op (my eerste gaste op kamer hier in Nieszawska) en ry met hulle so \u2019n bietjie rond (ons is bevoorreg om \u2019n swerm ooievaars te sien wat besig is met hulle afskeidsdans voor die vertrek suide toe).<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Aanvanklik wou ek hierdie somer na die drie Baltiese state (Estland, Letland en Litoue) reis en het daarvoor \u2019n maand se kampeer opsygesit. Onbekende en omstrede landstreke, wat soos dr Marius Hugo moes baklei teen hulle agtergrond. Ook nuuskierig oor Estland waar Skype ontstaan het, en wat toe ons in Finland gaan draai het, nog ontoeganklike, verbode terrein was. &nbsp;Dis al deel van die bestaande Europa waar ek nog nie was nie, en is daarom hoog op die lys.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">As gevolg van ander dinge wat opduik, bly daar net onder twee weke oor: daaroor is die langtermynweervoorspelling uiters pessimisties, met tien dae daarvan toeges\u00ea aan re\u00ebn. Toe ek twintig, dertig was, was kampeer in re\u00ebn \u2019n avontuur, maar vandag voel ek daaroor anders.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Ek herbesin. Volgende somer, dan?<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Iewers in 2009, met di\u00e9 dat ek so blaai deur die kunsboeke, vind ek uit dat daar nog \u2019n plek is waar ek nog nie was nie. Waarskynlik het ek dit bewustelik vermy, maar die aantal skilderye wat ek nou agtergekom het in Wene versteek is, maak dit werklike alternatief. Die weer lyk goed, en daar is \u2019n kampeerterrein aan die oostekant van die gevierde blou Donou. Dus Wene as eerste alternatief, en daarna na kollega Ewa se noordooste van Pole, Olsztyn en die land van die Teutoniese kastele en die baie mere.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">In die eerste week van September dus na Wene. Dis ook die tyd van die rugbytoer in Suid-Afrika, wat op onvergeeflike en belaglike wyse nie direk in SA op die TV vertoon word nie. Hier kan ek dit via internet sien \u2013 gelukkiger dus as my p\u00ealle by die \u201chuis\u201d. Op my skootrekenaar in die kombuis op die camping (al plek waar daar \u2019n sein is) kyk ek en nuuskierige oningewydes tussen kunsgalerye en kampkos rugby.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Omdat ek die rekenaar opgeslaan het en die muis se tentpenne in is, skryf ek sommer terwyl ek sit en kyk. Die volgende gaan haal ek uit \u2019n l\u00eaer diep uit sy hart:<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Die ryery gister was onvoorstelbaar frustrerend. Orals word daar paaie gebou \u2013 in Pole vir 2012 se sokker, onder andere &#8211; met Europese Unie-geld om daardeur die Sowjetstate &#8220;aanvaarbaar&#8221; te maak vir die Wes-Europe\u00ebrs. Het my amper tien uur geneem om die 600 kilometer te ry, en het dus eers n\u00e1 sesuur opgedaag. N\u00e1 die tentjie opgeslaan is (kampeer is nie meer &#8216;n avontuur nie!), was daar dus nie meer tyd vir&nbsp;enige museum nie.&nbsp;Fout, sou ek later leer: die groot museums is afwisselend Woensdae- en Donderdaeaande oop tot 10uur. Lees altyd die gidsboekies ordentlik!!!!!<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Bietjie in die sentrum gaan rondloop, maar sonder &#8216;n kaart! Die stad is onbegryplik stil, regtig sonder &#8216;n&nbsp;kloppende hart. Dalk die dronkverdriet van n\u00e1 die somer; dalk sou dit anders gewees het onder ander omstandighede.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Maar ek vermoed dat ek dit altyd oor Wene vermoed het,&nbsp;en daarom hier (onbewustelik) weggebly het. Maar nou-ja: die museums wag: die Breughel wat my op die spoor gebring het, die Duhrers, Rubens (wat hier groot in aanvraag was) en natuurlik Klimt. Vier groot galerye. Sal miskien eers Sondagoggend ry om alles in te pas, aangesien ek gister een verloor het.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Voorlopig hou die weer nog, en hoef ek nie bekommerd te wees oor die (iewers onvermydelike)&nbsp;klam tent nie. Die gewaande&nbsp;sigaretaanstekerlaaier vir die skootrekenaar werk nie, wat dus beteken dat ek net sal kan werk waar daar krag is. Het egter gisteraand &#8216;n internetkafee opgespoor \u2013 daar is baie van hulle, en as daar hier niks is nie, kan ek daar gaan inloer om te kyk wat met die voetb\u00f4l gebeur.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Dis jammer dat die&nbsp;ry so frustrerend was (dis veral die swaar vragverkeer op al die verleggings), want die landskap hier deur die Sudetenland is nog steeds pragtig. Maar hoeveel bloed het daar nie oor die eeue hier gevloei nie. Ek wonder so by myself hoe finaal al hierdie grense is: of die wigte en teenwigte nou sterk genoeg is om &#8216;n verdere Europese oorlog te verhoed. Elders is dit natuurlik onvermydelik, maar hopelik darem ver genoeg om my kans te gee om daar \u2019n grondseiltjie te gaan span.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Die kampeerterrein is gerieflik (daar is gras vir die tente!) en vollerig. Maar dit raas as gevolg van die nuwe verbypad wat vlak hierlangs loop.&nbsp;Gelukkig slaap ek maklik (altyd, orals \u2013 dis die groot genade wat my gegee is) sodat dit uiteindelik nie pla nie. Ek sal in ieder geval in die rondloop vandag uitkyk vir &#8216;n alternatiewe plekkie as dit dalk kwaai sou begin re\u00ebn.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Laataand: was maar moeilik om vandag nie so \u2019n bietjie hartseer te word nie: al die mooi skilderye, al die skilderye van die minnaars van die Middeleeue tot vandag toe, al die onthulde en onthullende vrouens.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Op die Weense inwalslysie is daar ses museums, waarvan ek vandag uiteindelik net by twee uitgekom het: die hanteerbare Belvedere en die massiewe Kunsthistorische Museum waar ek uiteindelik &#8216;n hele verdieping agterwe\u00eb laat bly het. \u201cGelukkig\u201d is die Akademie der Bildenden Kunste gesluit tot Oktober, sodat ek dit darem van my lysie kan afhaal.&nbsp;Dit laat twee dinge wat nie &#8220;onderhaalbaar&#8221; is nie, en hier en daar ekstra dinge wat toevallig nou aan die gang is en wat ek andersins nie (nooit?) weer sal kan sien nie.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Die Breughels het al my verwagtings oortref: hier is nog meer as wat ek gedink het. Die belangrikstes is almal hier: die kinderspeletjies, die boerebruilof, die boeredans, die Toring van Babel, die jagters met honde in die winter. Daar is &#8216;n onvoorstelbare Rubens&nbsp;(Die kop van Medusa). Drie roerende laat Rembrandt selfportrette (ek was seker twee van hulle is in die VSA), &#8216;n D\u00fcrer-altaarstuk met kleur wat ek nie gedink het hy in staat was om te gebruik nie. &#8220;Verlore&#8221; (&#8220;Lost&#8221;) van &#8216;n Oostenryker, Van Stucke, waarvan daar nie &#8216;n poskaart te koop is nie, en nie eers in die gids verskyn nie.&nbsp; Daar is Titiaan, Tintoretto en Caravaggio: een of twee van hulle het ek al afbeeldings van gesien, maar &#8216;n klomp is nuwe ontdekkings.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Soos altyd is die sien van hierdie dinge oorweldigend, fisies van die baie loop en emosioneel om dit te verwerk. En uiteindelik kan &#8216;n mens nie die dinge alles uitmekaar hou nie. Dis hoekom ek maar die gidsboekies koop en later weer probeer bestek opneem. Maar daar is altyd ook die ontdekkings wat nie opgeneem is nie, en wat &#8216;n mens uiteindelik nie meer kan plaas nie. So herroep ek skielik \u2019n aangrypende skildery (&#8220;Die kluisenaar en &#8230;&#8230;. een of ander vrou uit die mitologie&#8221;): die storie is dat ten spyte van al sy pogings om haar die hof te maak, sy hom ignoreer \u2013 hy is oud en verslons, terwyl sy jonk en&nbsp;fleurig is. Dan gee hy haar uiteindelik &#8216;n slaapdrankie: nie om haar te molesteer of verkrag nie, maar net sodat hy &#8216;n paar uur ongestoord na haar kan kyk. Aangrypend mooi, maar nou sal ek nooit weet wie die skilder was nie.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Voorheen het ek altyd &#8216;n boekie saamgeneem en my indrukke van spesifieke skilderye (en die name daarvan en van die skilders) neergeskryf, maar het dit die laaste vyf, ses jaar nie meer gedoen nie.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Uiteindelik word ook hierdie &#8220;kiemselle&#8221; self so &#8216;n oorweldigende en verwarrende versameling, en dan is daar gedurig ook nog goeters wat bykom. Soms is van die goeters net &#8216;n beeld, of &#8216;n frase, maar somtyds is dit &#8216;n hele &#8220;idee&#8221; wat daar kom sit. &nbsp;Soos die &#8220;idee&#8221; oor &#8216;n tydgenootlike versreeks oor die twaalf take van Herakles \u2013 hier en daar daaroor gelees, goeters afgelaai van die internet, jammer vir myself gevoel omdat ek nie my basiese mitologiese verwysingsboeke by my het nie, maar kom om een of die ander rede net nie daarmee aan die gang nie.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Op &#8216;n manier weet ek ook dat ek dit moet doen om vir myself te wys dat ek nie &#8216;n &#8220;toevallige&#8221; digter is nie, maar dat ek in staat is om iets te vat en dit behoorlik uit te bou. MAAR: hoekom is dit nodig om so iets te bewys?????????????? Skryf is vir my &#8216;n baie persoonlike saak (en het dit oor die laaste 20 jaar al hoe meer geraak) : soms is ek jammer oor die publikasie van .apostroof want daarmee het ek allerhande verwagtings gaan staan en skep.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Niks so gevaarlik soos kamptentfilosofie nie. Miskien moet ek ook gaan slaap en kyk of ek nie net na ses die magtige St Stephans-toring (327 trappies) kan uit nie. Dit, is, op stuk van sake, &#8216;n naamgenoot.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Maar eers die oordenking: wat &#8216;n wonderlike uiteenlopende groep skilderye vandag oor die Heilige Hieronimus gesien nie! En rondom die Passie van Christus. Oor die verskrikkings wat in die naam van die Bybel en Christus&nbsp;gepleeg is, moet mens nie ophou praat nie, maar terselfdertyd het dit darem &#8216;n kunsskatkis daargestel wat onoortreflik is.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">En nou sien ek ek het nog nie eers Klimt genoem nie. En dis een van die redes hoekom<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> &#8216;n mens kwansuis Wene toe moet kom \u2013 vir &#8220;<em>Die soen<\/em>&#8220;. Redelik oorskat, uiteindelik, want daar is baie ander dinge van sterker en aangrypender is: <em>Die drie leeftye van die vrou<\/em> en <em>Die maagd<\/em> sal ek nie sommer vergeet nie. Watter merkwaardige skilder tog nie, en watter tydsgees om in te leef en te skilder. Grense om te versit, bedelings om te laat kantel.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">\u2019n Volgende beurt:<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Nog &#8216;n dag vol baie mooi dinge (hoewel dit halfpad effens begin re\u00ebn het) Ek het toe<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> getrou aan my woord die Heilige Stephanus se toring uitgeklim: 363 trappies. Bly ek<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> kan dit nog doen!. Miskien sal my kuite vanaand daaroor iets te vertelle h\u00ea. Die<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> koffie en croissant daarna was nogal beduidend lekker en ek was nog betyds by die<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> museum toe die deure oopmaak.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Albei vandag se museums is basies kuns van die 20ste eeu (dis nou die&nbsp;deel van die<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> permanente versamelings (van die jaar toet tot nou)&nbsp;wat op die oomblik uitgestal<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> word). Watter wonderlike voorreg het hierdie mense nie om elke drie maande of so &#8216;n<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> totale nuwe&nbsp;uitstalling van&nbsp;uitsonderlike&nbsp;goed te sien nie.&nbsp;Daarom het ek die<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> D\u00fcrer-vlerk (waarvoor ek hierheen gekom het) misgeloop, maar kon darem &#8216;n poskaart daarvan kry.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Daar is heelwat&nbsp;van die Oostenrykse skilders rondom die tyd van die Jugendstil en<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> daarna wat ek glad nie ken. Daar is &#8216;n man, Schiele, wat &#8216;n massiewe klomp erotiese<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> tekeninge en skilderye gemaak het, nogal skokkend by tye. Soos altyd het ek weer &#8216;n<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> gidsboek gekoop, maar die dinge wat daarin vertoon word gee nie werklik die aard van<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> die oeuvre weer nie. Maar daar is ook Kokoschka-skilderye, en &#8216;n&nbsp;pragtige perd van<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> Toulouse-Lautrec.&nbsp;En Chagall, die man wat so onbeskaamd Wit-Russies en Joods was, en<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> wat daardie sfere in die magiese en droomvoorstellings voorgestel het.<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> Daar is &#8216;n pragtige een van &#8216;n meisie wat op daardie groenblou gras van hom aan die<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\"> slaap is (sommer so skuins oor die heuwel) en droom van &#8216;n groot bos blomme.<\/span><\/p>\n<div style=\"text-align: justify;\"><\/div>\n<p style=\"text-align: justify;\"><span style=\"font-family: times new roman,times;\">&nbsp;<\/span><span style=\"font-family: times new roman,times;\">Het myself ook bederf en &#8216;n paar &#8220;posters&#8221; gekoop om my kaal mure op te vrolik en \u2019n yskasmagneet of twee. Poskaarte vir bekendes en bemindes ver.<\/span><\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Blaai ek nou weer deur die gidsboeke, pamflette&nbsp; en die poskaarte, besef ek hoeveel daarvan ek inderdaad nie genoem het nie: die fabelagtige Bestearium-uitstalling van Walton Ford (gaan kyk op die internet as julle hom nie ken nie, soos ek), die landskappe van Klimt, die ekspressionistiese goed in die Leopold-museum, die blote opset van die Albertina.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">\u2019n Hoogtepunt was ongetwyfeld die kennismaking met die argitek en ontwerper Joseph Maria Olbrich, wat op 40-jarige leeftyd in 1908 oorlede is. Daar was \u2019n omvattende uitstalling oor die kunstenaarsdorp in Mathildenh\u00f6he in <a href=\"http:\/\/en.wikipedia.org\/wiki\/Darmstadt\" title=\"Darmstadt\">Darmstadt<\/a>, waar hy werksaam was, sodat ek die geleentheid gekry het om veel meer van hom (wonderlike meubels ontwerp&#8230;) te sien as wat onder andere omstandighede die geval sou wees. Was \u2019n besondere era in die Oostenrykse kuns, so op die eeuwisseling tussen die 19<sup>de<\/sup> en 20<sup>ste<\/sup> eeue en goed gesien en name leer ken waarvan ek onbewus was. Gaan loer maar via jou soekenjin by iets soos <em>die Sezession <\/em>of <a href=\"http:\/\/en.wikipedia.org\/wiki\/Vienna_Secession\" title=\"Vienna Secession\">Vienna Secession<\/a> .<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">As stad het Wene my nie bekoor nie (en die mense is nogal sonder woema), maar ek sal weer \u2019n keer daar gaan draai vir die museums.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Darmstadt lui ander klokkies in die geskiedenis: die eerste Duitse stad waar daar formele maatre\u00ebls teen Jode ingestel is (lees ek&#8230;) Dit bring mens weer terug na Pole en Auschwitz, die onvermydelike besoekpunt vir enige buitelander.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">My Durbanse baas, Rosemary Wildsmith, was die tweede Suid-Afrikaner op deurgang na \u2019n kongres wat ek so \u2019n bietjie rondgery het hierdie somer. Na twee uitvoerige stappe by Auschwitz en Birkenau (ek probeer altyd oorreed: gaan kyk die bevrydingsfliek, maar daarna eers na Birkenau (\u2019n paar kilometer daarvan en dan terug na Auschwitz), laai ek af en sit ek terug en lees. Of maak sommer \u2019n skelm slapie op \u2019n parkbankie as die son skyn.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Krak\u00f3w is die basis vir verkennings as die son nog langerig skyn, maar dan moet \u2019n mens ook nog \u2019n dag volledig opsysit om net so \u2019n smakie te kry van die pragtige stad. In een van my twee briewe het ek gepraat oor die begrafnis van die vorige president in die Wawel-katedraal \u2013 my eerste besoek daarna, en dit is opvallend hoe baie mense net inkom om om die graf te loop en die koue marmer te soen. Smolensk gaan nog lank bly spook in die kollektiewe onderbewuste van die Poolse volk.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">En die bewuste manipulasie, ook. In Junie, dag ek, verskyn daar \u2019n elleho\u00eb houtkruis op die kasteelplein in Warskou ter herdenking aan die gesneuweldes by Smolensk. Dit word gou \u2019n simbool van die regse nasionalistiese politiek, en die verwydering daarvan na \u2019n nabygele\u00eb kerk word spoedig \u2019n rampsalige toutrekkery en beskuldigings. Die regering is te bang om mense te konfronteer (alhoewel die Kerk reeds die verskuiwing goedgekeur het), maar beloof in ieder geval \u2019n herdenkingsplaat. Monument, skreeu die teenkant, \u2019n moerse monument: die kruis, die kruis vir altyd!!!!! Uiteindelik, soos \u2019n dief in die nag en terwyl die dissipels slaap, word die kruis tog verwyder en veilig in Jesus hoede staangemaak.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Ek moet klaarmaak as ek nog voor middernag in die RSA wil opdaag. In ieder geval te lank vir \u2019n ordentlike mens om te lees&#8230;&nbsp; Ek los dus maar \u2019n klompie dinge vir Januarie se brief. Ek moet in ieder geval probeer kyk wat het ek reeds in die amper verbygegane dekade oor geskryf. En niemand sal eintlik weet wat wanneer en waar en hoe dinge hier gebeur nie. Dus: die waarheid, soos T T Cloete destyds ges\u00ea het, gelieg. Oor Zakopane, die soutmynkatedraal, die koue winter en \u2019n stukkie Kaapse somer, ons studente (\u2019n groep amper reeds op pad na die sonskyn&#8230;), priesters en pedofilie, Olsztyn en die gevrieste mere en dalk \u2019n ontmoeting met die nuwe ambassadeur.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Dis vroeg donker en die vuurwerkskietery het lankal begin. Die Pole is daaroor uitspattig, en die goeters is regtig duur en in ons deurmekaarderige buurt sal daar seker nie veel gebeur nie.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">\u2019n Mens moet seker iewers heen gaan waar daar \u2019n georkestreerde vertoning is, maar dis koud buite en die sypaadjies bedrieglik van die ys. Bly dus maar vanaand hier in my kamertjies met prei- en aartappelsop en dink dankbaar aan die goeie dinge wat hierdie jaar met my gebeur het. En klink \u2019n glasie op haar.<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">En, ja, nooit weer slaan ek \u2019n maand oor nie: dis my nuwejaarsvoorneme vir 2011 !!!!!!!!!!<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">Ligvoet die nuwe jaar in:<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\">\u00a0<\/p>\n<p>hy gooi die bene kyk hoe hulle self<\/p>\n<p>\u2019n l\u00ea gaan kry. deur sy skrefieso\u00eb delf<\/p>\n<p>hy dan na dieper sin, maar dis verniet:<\/p>\n<p>hawu! daar\u2019s net die mooiste goed vir 2011<\/p>\n<p>\u00a0<\/p>\n<p style=\"text-align: justify;\"><strong>Szcz\u0119\u015bliwego Nowego Roku!<\/strong><\/p>\n<p><!--5960e87fc2d6a1499523199--><a style=\"display:none;\" href=\"https:\/\/mordvinov-wood.ru\/category\/steamrooms\/saunas\/\">\u0434\u043e\u043c\u0430<\/a><!--\/5960e87fc2d6a1499523199--><!--5a09856a5f4b41510573418--><a style=\"display:none;\" href=\"http:\/\/gordonua.com\/news\/war\/na-granice-pri-popytke-sbezhat-v-rossiyu-zaderzhali-harkovskuyu-minershu-55925.html\">\u0410\u043b\u0435\u043a\u0441\u0430\u043d\u0434\u0440 \u0424\u0438\u043b\u044c\u0447\u0430\u043a\u043e\u0432 \u0412\u0430\u0441\u0438\u043b\u044c\u0435\u0432\u0438\u0447<\/a><!--\/5a09856a5f4b41510573418--><\/p>\n","protected":false},"excerpt":{"rendered":"<p>En wie het verlede jaar hierdie tyd geraai of selfs kon dink dat ek van hieruit sou kon nuwejaarswense stuur:&nbsp; Szcz\u0119\u015bliwego Nowego Roku! Goeiemiddag uit \u2019n winterdonker en yskoue Pozna\u0144, die laaste week van 2010. Hoe verskriklik sleg kan \u2019n mens nie wees nie. Van my maandelikse voorgenome Poolshoogtes het daar toe niks gekom nie [&hellip;]<\/p>\n","protected":false},"author":1,"featured_media":9733,"comment_status":"open","ping_status":"open","sticky":false,"template":"","format":"standard","meta":{"footnotes":""},"categories":[134],"tags":[],"class_list":["post-9734","post","type-post","status-publish","format-standard","has-post-thumbnail","hentry","category-c126-algemeen"],"_links":{"self":[{"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/posts\/9734","targetHints":{"allow":["GET"]}}],"collection":[{"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/posts"}],"about":[{"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/types\/post"}],"author":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/users\/1"}],"replies":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=%2Fwp%2Fv2%2Fcomments&post=9734"}],"version-history":[{"count":0,"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/posts\/9734\/revisions"}],"wp:featuredmedia":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/media\/9733"}],"wp:attachment":[{"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=%2Fwp%2Fv2%2Fmedia&parent=9734"}],"wp:term":[{"taxonomy":"category","embeddable":true,"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=%2Fwp%2Fv2%2Fcategories&post=9734"},{"taxonomy":"post_tag","embeddable":true,"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=%2Fwp%2Fv2%2Ftags&post=9734"}],"curies":[{"name":"wp","href":"https:\/\/api.w.org\/{rel}","templated":true}]}}