{"id":25671,"date":"2014-07-08T13:13:54","date_gmt":"2014-07-08T11:13:54","guid":{"rendered":"http:\/\/praag.co.za\/?p=25671"},"modified":"2014-07-08T13:16:55","modified_gmt":"2014-07-08T11:16:55","slug":"bodem-ii-21-die-motorfietsbobbejaan","status":"publish","type":"post","link":"https:\/\/praag.co.za\/?p=25671","title":{"rendered":"Bodem II, 21: Die motorfietsbobbejaan"},"content":{"rendered":"<p>\u2018n vervolgverhaal deur Gustav Venter<\/p>\n<p><a href=\"http:\/\/praag.co.za\/?page_id=21038\">Bodem I<\/a> is reeds volledig.<\/p>\n<p>Lees eers <a title=\"Bodem II, 20: Die langgate\" href=\"http:\/\/praag.co.za\/?p=25434\">Bodem boek II, 20<\/a>.<\/p>\n<p>Hoe is dit dan dat ons om die reghoekige gate staan en na die lang liggame daarin kyk en genoop voel om \u02bcn goeie verslag van die lewe, en soms dood, van die afgestorwene te gee? Is dit ons manier om desperaat \u02bcn kontrak te probeer vestig, sodat wanneer dit ons is wat in die laaste loopgraaf l\u00ea, ons so aangeprys sal word, dat dit ons oorgang na die doderyk meer sussend sal maak?<\/p>\n<p>Dit was maklik om die verdrag gestand te hou met Tabitha \u2013 sy het goed gelewe en dapper gesterf. Wat ook al die gehalte van Dermot se bydrae in die lewe, sy laaste optrede en lafhartige sterwe het dit doodgetrek. Die mense om sy graf sou hom altyd onthou as die een wat gevlug en geval het. Selfs Reginald, wie se spraak kleurvoller en driftiger deur sy huldeblyk aan Tabitha geword het, moes diep grawe vir mooi knipsels uit die lewe van Dermot.<\/p>\n<p>\u201cEintlik was hy \u02bcn timid mannetjie,\u201d het hy stroef ges\u00ea. \u201cNie eintlik security guard material nie, sou ek s\u00ea. Ma\u2019 hy\u2019t \u02bcn relative gehad by head office, en beggars can\u2019t be choosers is mos wat hulle s\u00ea. Sy secret ambition was om DJ te wees, eintlik nogals strange vir \u02bcn introvert soos Dermot, ma\u2019 in \u02bcn perfect world, sou hy da\u2019 oppie stage gewees het, besig om disks te spin. Sy family sal hom miss, arme Dermot&#8230; poor chappy.\u201d<\/p>\n<p>Dermot wou \u02bcn platejoggie wees. Dermot was \u02bcn sekuriteitswag. Dermot het weggehardloop. Dermot is in die agterkop geskiet. Dermot, arme jong donner. Kom ons beweeg aan. Ons het skuifelvoetjie versit na die laaste graf, die langste reghoek in die aarde waarin Solly se<br \/>\nliggaam toegedraai was in \u02bcn grys kombers. Die motorfietsers se stroefheid het diep en stil geword. Dit sou soveel makliker en selfs redeliker gewees het om maar net die grawe wat regop in die sandboggel gesteek het te vat en die gat op te vul sodat die letsel in die aarde kon begin heel, sodat die liggaam in sy elemente kon verdeel en die koolstof van Solly die koolstof van die Kaapse bodem kon aanvul. Maar daar was dinge om te s\u00ea, mooi woorde oor Solly, nie vir Solly nie, dink ek; vir ons, sodat ons elkeen die versugting kon h\u00ea van \u02bcn graf waarrondom mense staan en mooi dinge oor ons s\u00ea.<\/p>\n<p>Ek, Joachim en Micki het hom nie juis geken nie; Reginald nog minder, so ons moes vir sy<br \/>\nmotorfietskamerade wag. Ylbaard was duidelik hulle woordvoerder, maar vir eers bly hy stil en<br \/>\nniemand praat nie.<\/p>\n<p>Uiteindelik kug Ylbaard, roggel en rasper aan die slym in sy keel. Hy lig sy kop en die bries roer in die rooi tentakels op sy ken. Hy sluit sy o\u00eb vir \u02bcn oomblik asof hy die woorde van \u02bcn gedig in sy kop repeteer en die son skyn op sy gesig. Dan kantel sy kop vorentoe en sy ooglede trek oop.<\/p>\n<p>\u201cMoer,\u201d s\u00ea hy gewigtig. \u201cMoer. Ek wil nie hier wees nie; nie hier langs \u02bcn gat in die grond met Solly daarin nie. Dit voel vir my asof dit nie waar is nie, asof hy vir ons \u02bcn poets bak. Dit voel vir my as ek opkyk sal ek hom daar sien, by sy Groot Fiets, sy boude op die saal maar sy bene di\u00e9 kant, voor hom, staan-sit hy so. Ek het hom tienduisend keer so gesien, skyf op die lippe, branna in \u02bcn beker, d\u00e1\u00e1i beker van hom, in die hand.<\/p>\n<p>\u201cHy was \u02bcn eenkantmens, was Solly, selfs in die Sunriders. Maar hy was altyd deel van alles wat ons gedoen het, veral as daar stront gestook is.<\/p>\n<p>\u201cEk het&#8230;\u201d Ylbaard se stem verhees tot onhoorbaarheid. Hy trek diep, sidderend aan asem en<br \/>\nprobeer weer. \u201cEk het di\u00e9 foto in sy beursie gekry.\u201d<\/p>\n<p>Hy hou \u02bcn gelamineerde, dowwe volkleurfoto op.<\/p>\n<p>\u201cShortcut,\u201d s\u00ea hy.<\/p>\n<p>Daar is \u02bcn beroering van verbasing onder die motorfietsers en hulle leun in die rigting van die foto.<\/p>\n<p>\u201cShortcut,\u201d beaam Lance.<\/p>\n<p>\u201cShortcut!\u201d bevestig Kip.<\/p>\n<p>Ek kyk na die foto en is self verras. Dit is van \u02bcn bobbejaan op \u02bcn motorfiets, \u02bcn bonkige ou Kawasaki Z1100 op sy staander. Die primaat sit bedrewe op die saal, een arm reguit voor hom, vingers geklem om die handvatsel en die ander hand wys hy in die rigting van die kamera, vuis gebal met die middelvinger parmantig, blatant regop in die universele \u201cvatjouweg\u201d-gebaar, terwyl die bobbejaan uitdagend en slu oor dit na sy gehoor korrel.<\/p>\n<p>\u201cDie Sunriders hier weet alles van Shortcut af. Dis die bob\u2019jaan se naam. Maar ek gaan die storie van Solly en Shortcut vertel vir die ander.\u201d<\/p>\n<p>Die ander is ek, Joachim, Micki, Boeta die reus en Reginald.<\/p>\n<p>\u201cSolly het op \u02bcn kleinhoewe in die Langkloof gebly. Ons het hom net gesien as die klub gaan ry het, breakfast runs, rallies, toy runs, so aan. Hy was getroud, \u02bcn paar keer, en het \u02bcn kind of twee by elke vrou gehad. Sy plekkie het \u02bcn boord vrugtebome gehad en dis hoe Solly geld gemaak het. Elke somer het hy appelkoos- en perskerolle gemaak en aan die plaasstalletjies en groentewinkels verkoop. En die res van die jaar het hy aan sy motorfietse gewerk.<\/p>\n<p>\u201cHy het vandat ek hom ken net twee fietse gehad, twee Kawasakis, sy elfhonderd wat hy sy \u2018Klein Fiets\u2019 genoem het en \u02bcn 1300 wat sy \u2018Groot Fiets\u2019 was. Die twee het nooit op dieselfde tyd geloop nie. Elke jaar het hy een van hulle uitmekaar gehaal, boute en blaaie tot op die laaste moertjie, skroewe en waster. Dan het hy hom stukkie vir stukkie weer aanmekaar gesit totdat alles perfek was. Die oomblik wat die &#8216;fiets loop, het hy \u02bcn draai gaan ry en wanneer hy terugkom, begin hy die ander een uitmekaar haal.<\/p>\n<p>\u201cEendag, as ek reg onthou het ons Paternoster toe gery, of dit kan die slag wees wat ons Williston toe is, daag hy met sy Klein Fiets op en by hom het hy \u02bcn bababobbejaan. Shortcut. Dit was net nadat sy tweede vrou hom gelos het.<\/p>\n<p>\u201cSolly en Shortcut het mekaar verstaan. Shortcut was eers baie oulik, so \u02bcn nuuskierige klongetjie, maar soos hy ouer geword het, het hy \u02bcn bliksem geword. As Solly en Shortcut naby was, het jy gesorg jou goed is mooi weggesit want hy het geleef om te steel en as hy eers in jou goed was, was alles stukkend of rondgestrooi of stukkend.<\/p>\n<p>\u201cEen van sy dinge was om honde te byt. As daar honde naby was, moes ons hom goed in die oog hou, want netnou-netnou sit die kak wit. En hy was bliksems skelm daarmee. As daar \u02bcn hond naby is, eers ignoreer hy hom soos \u02bcn stopstraat. Ou Shortcut sal homself eenkant hou en maak asof hy g\u02bcn brak sien nie. Hy sal homself besig hou met die soek van goggas onder klippe of stompe, of homself krap en vlooie soek of sommer net sit en balbak, sy o\u00eb toe, maar nie heeltemal toe nie&#8230; totdat die hond naby genoeg is, en dan waai die hare. Dis \u02bcn geskree soos \u02bcn mal vark, en \u02bcn gebyt en \u02bcn gestoei en \u02bcn aanganery, totdat die hond l\u00ea of tjank-tjank daar weg is. Dan boggom Shortcut en hy het hierdie grinnik op sy gesig, baie tevrede met homself, soos \u02bcn standerdsessie wat sy maatjie se ma sonder klere gesien het.<\/p>\n<p>\u201cVir, ek weet nie, vier, vyf jaar was Shortcut altyd saam met ons Sunriders as ons gaan ry het. Die moeilikheid wat hy gemaak het! Hoe groter hy geword het, hoe kwaaier het hy geword. Dis net Solly wat hom regtig kon hanteer as hy moeilik was, en dan het hy dit met sy sambok gedoen. Shortcut was skytbang vir die sambok want as Solly hom gebliksem het, het hy hom gebl\u00edksem. En dan agterna, dan sit hulle styf teen mekaar en Shortcut is so mak soos \u02bcn lammetjie.<\/p>\n<p>\u201cShortcut het net een baas gehad. As ons gery het, het hy agter Solly gesit en vasgehou, maar vas-vas, want hy het eenkeer afgebliksem.<\/p>\n<p>\u201cDit maak nie saak hoeveel \u2018fietse daar was nie, vyf, tien, vyftig, hondered, Shortcut het hom nie aan een ander een gesteur nie. Hy sal daar eenkant loop en peuter, dan skop die manne die ysters aan die brand. Die hele aarde bewe naderhand van \u2018fietse wat raas, maar Shortcut is min gespin&#8230; totdat Solly sy Kwacker opstart, enige een, die Groot Fiets of die Klein Fiets, dan is dit soos turboweerlig en Shortcut sit agterop.<\/p>\n<p>\u201cNaderhand het Shortcut \u02bcn probleem geword. Van kleins af het hy gesuip. Die manne het gou geleer om vir hom \u02bcn dop te gooi. Jy kon dit vir hom so in die bottel aangee of in \u02bcn beker en hy drink vir hom soos asof hy die vliegste van kroegvlie\u00eb is. Niemand het ooit tuiser agter \u02bcn Black Label-bottel of \u02bcn Klip-en-Coke-glas gelyk nie. Die manne het natuurlik te ver gegaan en dan word Shortcut dronk soos \u02bcn lord, en eerlikwaar, dan was hy \u00e9\u00e9rs snaaks. Daar is niks snaakser as \u02bcn dronk bobbejaan op \u02bcn motorfiets-rally nie.<\/p>\n<p>\u201cDie moeilikheid is, die volgende dag is hy siek, dan as hy agter Solly ry, bekots en beskyt hy hulle altwee \u00e9n die \u2018fiets waarop hulle ry.<\/p>\n<p>\u201cToe eendag kom Solly sonder Shortcut by \u02bcn breakfast run aan. Al wat hy wou s\u00ea is dat Shortcut dood is. Wou nooit oor hom praat nie. Eers baie jare later het hy, toe hy goed gesuip was, my vertel wat gebeur het. Hy het geweet hulle kan nie so aanhou nie. As die manne en Shortcut bymekaar is, maak hulle hom suip en dan mors hy en is hy bakleierig. So, na een rally, een nag in die Langkloof op sy plot, gee Solly vir Shortcut drank en laat hom suip tot hy poepdronk was, en toe die bob\u2019jaan uitpaas&#8230; toe slaan hy hom met \u02bcn vierpondhamer dood.<\/p>\n<p>\u201cEn nou begrawe ons vir Solly. Ek kyk na hierdie foto en ek weet dat Solly se beste paar jaar d\u00e1\u00e1rdie jare was saam met Shortcut. Ons het hom nooit voor dit en nooit n\u00e1 dit so gelukkig gesien nie. Dit was sy goue jare. Maar toe moet hy kies, kies tussen ons en die bobbejaan. En toe slaan hy hom dood.<\/p>\n<p>\u201cHierdie is nie \u02bcn goeie tyd vir ons nie. Die w\u00eareld het mal geword. Nie een van ons weet wat met ons gaan gebeur nie \u2013 miskien weet die kommandant,\u201d en hy knik in Joachim se rigting, \u201c- maar ons ander weet nie. Ek weet net d\u00edt, ek wens Solly was hier, Solly en Shortcut saam. Dit sou alles makliker gemaak het.\u201d<\/p>\n<p>Die motorfietsers se skouers hang, hulle gesigte trek pynplooie deur al die herinneringe en die<br \/>\nstrakheid van die werklikheid. Vir eers s\u00ea niemand iets nie.<\/p>\n<p>\u201cSolly was nie eintlik \u02bcn musiekou nie,\u201d gaan Ylbaard dan voort. \u201cMaar daar was een song wat uit sy weermagdae kom en hy het altyd ges\u00ea dit moet op sy begrafnis speel.\u201d<\/p>\n<p>Hy knik vir Kip wat \u02bcn musiekspeler by hom het. Die motorfietser haal diep asem en druk die<br \/>\n\u201cspeel\u201d-knoppie. Nie een van ons ander was voorberei op wat uit die luidsprekers galm nie. Dit is \u02bcn tagtigsliedjie, Pierre de Charmoy met sy heserige stem wat hy in die nasale holtes masker soos Neil Diamond en hy sing: \u201cMoments shared with you are in a dream&#8230; How I\u2019d like to have you here right now, to share my feelings and to reason why, live on!\u201d<\/p>\n<p>Ons is nog meer verbyster toe die motorfietsers in alle stemme van die noot af raserig begin<br \/>\nsaamsing: \u201cLive on!\u201d<\/p>\n<p>Terwyl hulle sing haal Ylbaard \u02bcn geduikte, goedgebruikte blikbeker uit sy sak en Lance skink dit<br \/>\nplegtig vol goedkoop brandewyn en hulle sing nog steeds reeds nadat die opname tot \u02bcn einde<br \/>\ngekom het, en terwyl hulle die koortjie vir die sesde keer herhaal \u2013 \u201cLive on!\u201d \u2013 slinger Ylbaard<br \/>\ndie drank in die graf in sodat dit in \u02bcn lang ry druppelplasse oor die uitgestrekte liggaam onder die<br \/>\nkombers val en donker kolle in die dik, grys weefstof maak.<\/p>\n<p>Solly en Shortcut. Geen motorfietser en bobbejaan is ooit plegtiger gehuldig nie. Hierdie moes die eerste begrafnis in die geskiedenis gewees het waar die teraardebestelling begelei is met Pierre de Charmoy en brandewyn. Maar uit sulke opregte eenvoud kan kosbare tradisies ontstaan, en tot vandag toe, wanneer ons \u02bcn makker in die reghoekige gat uitl\u00ea, sing ons \u201cLive on!\u201d en gooi ons brandewyn in die graf.<\/p>\n<p>Dis maar net hoe ons dit doen.<\/p>\n<p>Daarna het ons die gate met die grond gevul en toe aangegaan met die uitputtende werk van<br \/>\noorlewing.<\/p>\n<p>(word vervolg)<\/p>\n","protected":false},"excerpt":{"rendered":"<p>\u2018n vervolgverhaal deur Gustav Venter Bodem I is reeds volledig. Lees eers Bodem boek II, 20. Hoe is dit dan dat ons om die reghoekige gate staan en na die lang liggame daarin kyk en genoop voel om \u02bcn goeie verslag van die lewe, en soms dood, van die afgestorwene te gee? Is dit ons [&hellip;]<\/p>\n","protected":false},"author":3,"featured_media":0,"comment_status":"open","ping_status":"open","sticky":false,"template":"","format":"standard","meta":{"footnotes":""},"categories":[29,115],"tags":[15714,15065,15024,1665,15019,15413,2242,15043,15018],"class_list":["post-25671","post","type-post","status-publish","format-standard","hentry","category-s32-feuilleton","category-c106-verhale","tag-die-chaos","tag-eboek","tag-fiksie","tag-geweld","tag-gratis","tag-haelgeweer","tag-suid-afrika","tag-verhaal","tag-vervolgverhaal"],"_links":{"self":[{"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/posts\/25671","targetHints":{"allow":["GET"]}}],"collection":[{"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/posts"}],"about":[{"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/types\/post"}],"author":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/users\/3"}],"replies":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=%2Fwp%2Fv2%2Fcomments&post=25671"}],"version-history":[{"count":0,"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/posts\/25671\/revisions"}],"wp:attachment":[{"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=%2Fwp%2Fv2%2Fmedia&parent=25671"}],"wp:term":[{"taxonomy":"category","embeddable":true,"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=%2Fwp%2Fv2%2Fcategories&post=25671"},{"taxonomy":"post_tag","embeddable":true,"href":"https:\/\/praag.co.za\/index.php?rest_route=%2Fwp%2Fv2%2Ftags&post=25671"}],"curies":[{"name":"wp","href":"https:\/\/api.w.org\/{rel}","templated":true}]}}