praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Saterdag, 13. Maart 2010

Bygewerk op:04:57:57 PM GMT

Jy is hier: Vermaak Boeke
Facebook Twitter Digg Delicious Stumbleupon Google Bookmarks RSS Feed 
Aantal kere gelees: 4907

Boeke

Platsakwenke

E-pos Afdruk PDF

Meer as 600 wenke om jou beursie te rek uit die pen van Carla van der Spuy!

Al gaan dit broekskeur, kan jy nog lekker leef. Volg hierdie platsakwenke en span dit saam met jou verbeelding, ’n bietjie toneelspel, ’n paar kamoefleerkunsies, hope logika en ’n blakend gesonde humorsin in. Platsakvakansies, sakpastroues en laer munisipale rekeninge is binne jou bereik, sê sy. 

Vind uit hoe jy op ’n beperkte begroting uithalermaaltye vir jou gesin en gaste kan opdis en teen ’n appel en ei mooi, jonk, fiks en gesond kan bly. Lees ook hoe jy met kleingeld jou huis silwerskoon en jou tuin lowergroen kan hou, jou bakhandkinders kan inspireer om self hul sakgeld op kreatiewe wyses te verdien en te voorkom dat jy helaas, eendag in hul agterplase moet plak. Al leef jy onder die spreekwoordelike broodlyn, hoef jy glad nie daarvoor te mik om onder die wynlyn te spook nie…

Carla van der Spuy is ’n gevestigde vryskutjoernalis wie se werk al jare lank in talle prominente tydskrifte en koerante verskyn. Haar artikels behels ‘n wye verskeidenheid van onderwerpe wat wissel van inspirasie en lewensdrama tot aktueel, humor en rubrieke. Sy glo dat ’n mens die ekonomie kan oorleef deur aanpasbaar te wees en jouself nooit uit die mark te prys nie.

Haar boek Platsakwenke het onlangs by LAPA verskyn.


Mulder-boek net betyds vir Afrikanervryheidstryd

E-pos Afdruk PDF

Skrywer: Pieter Mulder

Titel: Kan Afrikaners toyi-toyi?

Pretoria: Protea-boekhuis

Datum: 2008

ISBN: 978-1-86919-256-3
Prys: R160

Sedert die einde van 2009 heers ’n nuwe gees in die Afrikanerpolitiek. Vele mense het al onlangs opgemerk dat die debat in Afrikaans en onder Afrikaners geheel en al ’n ander koers begin inslaan as in Suid-Afrikaanse Engels. Terwyl die Engelse politieke diskoers vassteek in die gemeenplasige begrippe van die reënboognasie, die Madiba-kultus en ons mankolieke demokrasie, eintlik ’n meerderheidstirannie, is vele Afrikaners deesdae bereid om waagmoedig en eksperimenteel te begin dink.

Daarom is dit miskien nou veral ’n goeie tyd om Pieter Mulder se bundel essays, Kan Afrikaners toyi-toyi? op te neem. Die boek het volgens die uitgewer reeds in 2008 verskyn, maar was miskien ’n effe vroeg op die toneel, want toe is vele van die probleme wat Mulder aanroer, nog gesien as ignoreerbaar en dinge waaraan nie getorring moet word nie. Omdat Mulder leier is van die Vryheidsfront Plus, wat deur die meeste hoofstroomkommentators as ’n marginale Afrikanerparty gesien word, is sy mening moontlik ook nie so hoog aangeslaan as, sê maar, dié van Jacob Zuma of Helen Zille nie.

Maar met die huidige verskuiwing in die openbare mening en die oplaaiende kritiek in Afrikanergeledere, kan ’n mens politieke antwoorde in Mulder se boek begin vind. Soos menige gesoute politikus wat al jare lank aan parlementêre debatte, krisisse en skandale blootgestel is, is Mulder geneig om elke punt met ’n staaltjie of anekdote te illustreer.

Hierdie procédé maak die boek selfs meer toeganklik as wat dit andersins sou wees, want as ’n mens een sentrale tema in die bundel moet uitsonder, sou dit kulturele relativisme wees. Die meeste mense verstaan kulturele relativisme instinktief – “almal sien nie die wêreld op dieselfde manier nie” – maar om dit filosofies of intellektueel te definieer, is natuurlik moeiliker. Daarom is dit moontlik makliker vir mense om so iets deur middel van voorbeelde te begryp.

Só vertel Mulder in hoofstuk 26, “Wiskunde-vraestelle en Venda-kleremakers”, van sy moeilike Desembervakansie omdat sy vrou, ’n wiskunde-onderwyseres, langer as gewoonlik aan die nasien van matriekwiskundevraestelle moes bestee. Voorheen is nasieners per vraestel betaal, met ander woorde, vir die hoeveelheid werk wat hulle gelewer het. Hierteen het die stadige nasieners, veral ’n sekere mev Molefi, beswaar gemaak, want hulle bestee dan langer aan die nasienwerk as die vinnige nasieners. Hierna het die onderwysdepartement in hul wysheid besluit dat almal ewe lank moet werk, al voltooi sommige die werk teen ’n vinniger tempo as ander.

In dieselfde Desembervakansie ontdek Mulder ’n e-pos in sy inkassie met die titel “Westerse denke versus Afrika-denke”...

Lees die res van die resensie op LitNet.

Laas Opdateer op Donderdag, 25 Februarie 2010 08:34

Mensdom vanjaar ‘n eeu gelede byna van Jules Verne se beste werk beroof

E-pos Afdruk PDF

Kan dit weer gebeur?

Vanjaar, presies ‘n 100 jaar gelede, het ‘n boek onder die naam van Jules Verne verskyn.

Die boek, Les naufragés du Jonathan, (Die oorlewendes van die Jonathan) het vier jaar na die dood van Verne verskyn, en was ‘n somber, swartgallige beskouing van die samelewing van sy tyd. Die manuskrip is reeds in 1897 neergepen, en die somberheid is toegeskryf aan Verne se goemoedstoestand nader aan sy dood in 1905.

Hierdie boek het gou in die vergetelheid geraak, en dit het in 1977 eers duidelik geword hoekom. Dit was skynbaar reeds bekend dat Verne se seun, Michel, die oorspronklike manuskrip verwerk het, maar in 1977 het Piero Gondolo della Riva van Venesië die oorspronklike manuskrip, opgespoor, en die boek het onder sy oorspronklike titel, Magellania, verskyn. ‘n Engelse vertaling het eers in 2002 die lig gesien. Toe eers het dit duidelik geword in welke mate Michel die boek herskryf, en eintlik verongeluk het.

Wat Michel beoog het is nie duidelik nie. Meestal word aanvaar dat Magellania so dramaties van Verne se ander werke verskil het, dat die uitgewer gemeen het Verne se aanhangers sou hierdie andersheid nie aanvaar nie.

Met die verskyning van die oorspronklike Magellania is egter ‘n nuwe gehalte-dinamika aan Verne se oeuvre toegevoeg, iets waarvan sy seun sy nalatenskap byna beroof het.

Selfs vandag nog beperk inligtingstukke oor Verne hom dikwels tot die vader van wetenskapsfiksie. Verne was egter geen fiksieskrywer in die egte sin van die woord nie. Talle van die tuie en instrumente wat hy in sy boeke beskryf het, het later werklikheid geword, en van die uitvinders het ook erkenning aan Verne vir hul inspirasie gegee. Onder Verne se “voortydige” beskrywings tel duikbote, helikopters, lugreëlings en rolprente.

Magellania speel hom egter op ‘n heel ander vlak af – ‘n kliniese ontleding van gemeenskapslewe, filosofie, godsdiens en die mens se posisie in die natuur. As basis gebruik hy die lot van ‘n groep skipbreukelinge wie se skip in die Straat van Magellaan vergaan het. Die oorlewendes besluit om ‘n kolonie te stig. Hul wel en weë kruis met dié van ‘n persoon van onbekende herkoms, Kaw-djer, wat voorheen net ingestel was op sy eie en die inboorlinge se behoeftes. Sy eie herkoms is in misterie gehul, en sy lewensuitkyk, “Geen God en geen meester nie” verklap die filosofiese diepte waarin die boek delf. Kaw-djer, met sy uitgebreide kennis, help die koloniste om te vestig, maar toe die gemeenskap uitmekaar begin val, is hy teensinnig om as leier oor te neem.

Kaw-Djer, wie se innerlike gemoed en gedagtegang eerder as die omgewing en gebeure die verhaal oorheers, is ‘n passiewe anargis en hy glo vas in die vryheid van die menslike gees.

Hier, aan die suidpunt van Amerika, waar Chili en Argentinië met mekaar oorhoeks is oor waar die grens tussen hulle loop, vind Kaw-djer die niemandsland waar hy sy lewensuitkyk ongesteurd kan uitleef. Met die stranding van die Jonathan, wie se skipbreukelinge eintlik na Afrika onderweg was, word sy opvattings deur praktiese realiteite uitgedaag.

Magellania was egter nie die enigste werk van Verne wat geykte opvattings van die skrywer uitgedaag het nie. Op grond van sy werk, Mathias Sandorf, wat oor ‘n Hongaarse vryheidsvegter handel, is hy soms ook as rewolusionêr beskou. Sandorf, wat as verdediger van die verdrukte volksmassa intree, is reeds ‘n voorloper van Kaw-Djer wat dieper na die lewe kyk as die geykte opvattings van sy tyd.

Dit is egter moeilik om te bepaal of Verne Kaw-Djer se lewensbeskouing futuristies op vandag se samelewing sou wou projekteer, soos hy met sy tegnologiese “uitvindings” gedoen het. Hy het immers vir Kaw-Djer ‘n afgeleë deel van die wêreld gekies wat slegs deur beperkte buite-insette aangetas is.

‘n Meer sinvolle vraag sou moontlik wees hoeveel armer die wêreld is omdat nuwe insigte nie in die gemeenskap opgeneem word nie. Skrywers, by uitstek, is aan die beoordeling van uitgewers uitgelewer of hul pennevrug die gemeenskap sal haal. Vandag bied die internet wel “aflaaiplek” en potensieel ‘n wêreldgehoor, maar dit is steeds die gedrukte media wat die denkraamwerk bepaal. By die onlangse SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufeesvieringe is byvoorbeeld (so ver bekend) geen kategorie geskep vir bydraes tot Afrikaans of die wetenskap wat op die internet geplaas is nie. Daar is dus geen aanmoediging of inspirasie vir internetskrywers om by standaard-taalgebruik en spelling te bly nie, en die spelling is gewoonlik ook beroerd.

Die werklike vraag is egter: Bepaal dit wat die gemeenskap verwag – dit wat binne sy gemaksone val, nie dit waaraan die denkende gemeenskap blootgestel word nie? As ‘n skrywer soos Verne amper-amper van sy diepgang en veelsydigheid beroof kon word, hoeveel ander gevalle is daar nie?

Selfs die gevestigde wêreld van die evolusioniste, insluitend die teïstiese evolusioniste, geomorfoloë en sterrekundiges word deurlopend deur jong aarde kreasioniste bygedam.

Is dit werklik in die Akademie se belang dat gemeenskappe moet ervaar dat die sepie-kultuur ‘n groter erkenning verdien as diepgang buite die gedrukte en uitgesaaide wêreld bloot omdat dit deur vooropgesette idees na die internet “verban” is?

Gaan daar oor bykans ‘n eeu ‘n Piero Gondolo della Riva wees wat daarin gaan slaag om kosbaarhede van skrywers op die internet gaan opspoor en deel van die hoofstroom-raamwerk neem? Gaan daar van gevestigde en selfs bekroonde skrywers so werke na vore kom wat die letterkunde gaan verryk, maar internet toe verban is omdat dit anders as hul geykte patroon was?

 

Bladsy 1 van 4