praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 17. May 2012

Bygewerk op:04:37:53 AM GMT

Jy is hier: Tegnologie Persoonlik

Persoonlik

Prestigio-e-leser is teen sy prys ‘n wenner

E-pos Afdruk PDF

Prestigio PER3172BDie afgelope paar dae het ek Prestigio se basiese e-leser, die PER3172B, onder oë gehad en so twee, drie e-boeke daarop gelees. Omdat ek reeds baie met die Amazon Kindle vertroud is, kon ek die twee goed met mekaar vergelyk.

Die Prestigio PER3172B is ‘n veeldoelige leser wat eintlik teen die prys van R1199 (Praag-lede ontvang dit teen ‘n reuse-afslag en kan so min as R599 daarvoor betaal) meer vermaak as ‘n tradisionele TV en videokassetspeler insluit. Die Prestigio-e-leser kan die volgende dinge doen:

  • E-boeke in ‘n verskeidenheid formate vertoon
  • Musiek speel
  • Video’s speel
  • Foto’s vertoon

Hoewel ek ook hier en daar musiek daarop geluister en ‘n advertensievideo of twee op die volkleurskermpie van 17,8 cm (7 duim) gekyk het, het ek dit hoofsaaklik as e-leser gebruik. Ná alles is dit die belangrikste beweegrede om ‘n e-leser aan te skaf, maar die feit dat dit ook musiek, video en foto’s kan hanteer, is ‘n bonus. Veral ook in die lig van die poort vir ‘n mikro-SD-skyfie waarmee ‘n mens die aanboordgeheue van 2 Gigagrepe na 34 Gigagrepe (genoeg vir 70 000 boeke of 10 000 musieksnitte) kan opstoot!

Trouens, as ‘n mens dink wat een van Apple se basiese Ipods met slegs 2 of 4 Gig geheue kos, is die veeldoelige Prestigio amper verniet. ‘n Mens sou rustig daarmee op vakansie kon gaan, gewapen met ‘n paar honderd boeke en ‘n duisend CD’s of wat en jouself gate uit kon geniet.

Boonop kom die Prestigio, anders as ‘n Kindle byvoorbeeld, saam met ‘n leerhouertjie wat dit baie gemaklik maak om rond te dra. ‘n Leerhouer vir die Kindle kan maklik soveel kos soos die Prestigio mét sy gratis houer! Dan praat ‘n mens nie eens van ‘n laaier vir die Kindle wat jou sommer R200 kan terugsit nie. Hoewel ‘n mens die Kindle, soos ook die Prestigio, via jou rekenaar se USB-poort kan laai, is dit geriefliker om ‘n aparte laaier te hê, iets wat insgelyks gratis saam met die Prestigio versprei word.

Trouens, die hele Prestigio-pakket is uiters aantreklik, van die swart kartondoos waarin die instrument saam met leerhouer, laaier, handleiding en die nodige kabels verpak word tot die matswart plastiek van die leser self. Dit pas gerieflik in ‘n mens se hand as jy lees en die bladsye word aan die regterkant met ‘n stafie vorentoe of agtertoe geblaai, baie soortgelyk aan die Kindle en ander lesers.

Die Kindle is natuurlik ‘n sogenaamde e-ink-leser sonder enige agterlig wat die skerm laat gloei. Dis baie gemaklik op die oë, selfs in helder sonlig en ek sou sê ek verkies dit as e-leser. Prestigio maak selfs ‘n e-ink-leser of wat oor ‘n sogenaamde “Pearl”-skerm beskik, maar dis heelwat duurder as die basiese Prestigio - omtrent dubbel die prys om die waarheid te sê. Vir e-ink-lesers het ‘n mens saans ook kunsmatige lig - soos vir ‘n tradisionele boek - nodig en daarom is dit vir my minder nuttig. As ek saans vir my dogter by haar hoërskoolkooroefening moet wag, kan ek dus nie vinnige in die donker my e-leser aanskakel en lees nie. Die PER3172B is besonder nuttig as laat saans wil lees en nie jou vrou met ‘n bedlampie wil wakker hou nie, want hy beskik soos ‘n gewone rekenaarskerm wel oor ‘n agterlig wat die boek in die donker leesbaar maak. Wat dit verder gerieflik maak, is dat die helderheid van die skerm verstelbaar is. Ek het gevind dat ‘n mens bedags gerieflik op 50 tot 60 persent helderheid kan lees, terwyl so 30 persent in die donker gerieflik is, want dan is die letters net mooi sigbaar sonder dat die skerm te veel by jou oë inskyn.

Veral vir ouer persone wat groter letters verkies, is die Prestigio ‘n seën, want ‘n mens kan die tipografie van enige boek van baie klein tot regtig baie groot verstel, afhangend wat vir jou die gemaklikste is. Omdat uitgewers van sogenaamde “massamarkslapbande” gewoonlik soveel inhoud op die minste aantal bladsye en papier wil inpas, is hulle gewoonlik heeltemal te klein gedruk en sonder ‘n bril haas onleesbaar. Die e-leser het ons daarvan bevry.

Die skerm van die Prestigio is “antiweerkaatsing”, dus kan mens dit ook in baie helder lig in die buitelug gebruik. Oor die algemeen het die aanpasbaarheid van die skerm my nogal verbaas en is dit ‘n vernuftige stukkie tegnologie wat oral - in die vliegtuig, in die bed, buite - gebruik kan word, solank mens net die skerm se helderheid by die hoeveelheid lig rondom jou aanpas.

Persoonlik dink ek die swart-en-wit e-ink-lesers is nog ‘n tikkie gemakliker om te lees: iets soos ‘n Kindle of Prestigio se PER5162. Maar dan boet ‘n mens effens aan veeldoeligheid in, want die veelsydige PER3172B kan nog vir jou volkleurvideo’s of foto’s ook vertoon. Boonop kan dit in enige lig gelees word. Dis net die ding om, gelaai met ‘n paar honderd of duisend boeke, oral byderhand te hê waar ‘n mens dalk moet wag, toustaan, reis of ‘n ledige uurtjie wil verwyl. Of sommer net vir ontspanning wil lees. Teen die prys is dit eenvoudig onverbeterlik!

Koop dit aanlyn by die Praagwinkel.

Laas Opdateer op Saterdag, 28 April 2012 17:52

Internettoegang - wie is die goedkoopste?

E-pos Afdruk PDF

Duisende mense gebruik elke dag die internet, hetsy by die huis, hetsy by die werk of beide.

Baie Afrikaners gebruik 3G-toegang maar dit is 'n medium wat redelik duur is. ADSL is die medium wat per Gigagreep die goedkoopste is terwyl WIFI oftewel koordloos op die oomblik die duurste is. Nie lank gelede nie was die scenario egter omgekeerd. Nou het 3G goedkoper geword as wat WIFI-toegang deur middel van "Hotspots" of langafstand-wifi of wimax (Slegs Telkom en Vodacom het op die oomblik WIMAX lisensies.) Ek is bewus daarvan dat sekere verskaffers soos Screamer, 5.8GHz Wifi as WIMAX bemark maar dit is foutief aangesien dit twee verskillende standaarde verteenwoordig.).

Voordat M-Web die onbeperkte internettoegang teen R199 per maand begin bemark het (384kbps - nie breëandtoegang nie maar nogtans beter as 'n konvensionele modem se 56kbps), was die koordlose toegang van verskaffers soos Screamer, Auranet, Megasurf, SA Wireless en JirehTech beslis van die goedkoopste in die land. Die enigste struikelblok tot toegang was die hoë koste van implementering omdat die toerusting wat gebruik is, gekoop moes word vir enige iets van R1900 tot en met R3800.

Met die aanlê van verskeie ondersese kabelstelsels soos Seacom (2009), Eassy (2010) en WACS (2011), het verskeie ADSL-verskaffers hulle pryse begin verlaag. Daarna het 3G-verskaffers gevolg maar koordlose verskaffers het die teenoorgestelde gedoen en hul pryse verhoog. In die verlede was die huur van 'n ADSL-lyn die beperkende faktor wat daartoe gelei het dat minder mense dit aanvanglik aangeskaf het, maar met die nuwe kabels wat ná 2009 in werking gekom het, is Telkom gedwing om hul pryse te verlaag om sodoende 'n bepalende speler in die mark te kon bly. Dit het alhoewel nie ander koordlose spelers gekeer om lynhuur te begin hef vir "lyne" wat nie bestaan nie.

Prysvergelyking tussen internetdiensverskaffers
Verskaffer Spoed Lynhuuur Prys/maand Bandwydte Tipe toegang Uit-bondeldata Dekkingsgebied
JirehTech 512kgps geen R268 1,5 Gg Wifi R83,22 per Gg Dele van Gauteng, Vrystaat, Limpopo, Natal en Noordwes
Megasurf 2048 kgps geen R200 2 Gg Wifi R120 per Gg Dele van Weskaap, Noord-Vrystaat en Gauteng
Screamer 512 kgps geen R199 3 Gg Wifi geen inligting beskikbaar Inligting op webblad nie betroubaar
Iburst 1024 kgps geen R149+R99 aansluiting 1 Gg Iburst R500 vir 750 Mg Groot dele van SA
Neotel 7168 kgps geen R299 2 Gg Vaste CDMA 8 sent per Mg (R81,92 per Gg) Slegs groot stede
Mweb 1024 kgps R445 (by Telkom) R29 1 Gg Vastelyn ADSL N.v.t. Hele republiek
Vodacom 7168 kgps geen R319 1,5 Gg 3G/HSDPA R2 per Mg (R2048 per Gg) Hele republiek
CellC 7168 kgps geen R250 1,2 Gg 3G/HSDPA geen inligting beskikbaar Hele republek
MTN 7168 kgps geen R289 1 Gg 3G/HSDPA 29 sent per Mg (R296,96 per Gg) Hele republiek
8ta 7168 kgps geen R149 3 Gg 3G/HSDPA geen inligting beskikbaar Hele republiek
Virgin Mobile 7168 kgps geen R614,40 1 Gg 3G/HSDPA 60 sent per Mg (614,40 per Gg) Hele republiek
Red Bull Mobile 7168 kgps geen R249 3 Gg 3G/HSDPA 39 sent per Mg (R399,36 per Gg) Hele republiek
Wireless G 1024 kgps geen R149 1 Gg Wifi geen Sien webwerf vir dekking
Wireless G 7168 kgps geen R179 1 Gg 3G/HSDPA geen Hele republiek

 

As ons dus nou na die beste waarde vir geld kyk, sal ons al die verskaffers in een van twee katagorieë moet plaas, naamlik: vaste koppeling en mobiele koppeling. Die beste waarde vir geld vir mobiele koppeling sal dus gaan aan 8Ta, Telkom se sellulêre netwerk vir hulle R149-bondel met 3Gg data. Die verskaffer wat die laaste plek kry in die kategorie is dan: Virgin Mobile wat teen R614.40 per Gg tans die duurste in die land is.

Die beste waarde vir geld vir vaste koppeling, hetsy WIFI hetsy ADSL, gaan aan Screamer wat 3Gg teen slegs R199 per maand verskaf. Die een wat in hierdie kategorie die laaste plek kry, is MWEB ADSL. Wat ek natuurlik in MWEB se guns moet sê, is dat die prys hoër is as wat dit moet wees omdat Telkom tans  ADSL-lynhuur en stemlynhuur op dieselfde lyn reken.

Die maatskappy met die duurste data per Mg is Vodacom met R2 per Mg en die goedkoopste is dan MWEB met 0.028c per Mg. Die vraag wat natuurlik dan nou op almal se lippe is, is hoekom Vodacom nie data teen dieselfde tarief as MWEB kan lewer nie? Vodacom het ten minste vingers in al die nuwe kabels. Die vraag bly ook staan dat as MWEB data teen R29 per Gg kan lewer, hoekom nie een van die ander verskaffers dit kan doen nie?

Wat ook nogal opvallend is, is dat al die koordlose verskaffers databondels verkoop maar dat nog nie een van hierdie verskaffers besluit het om voorafbetaalde data ("Out of bundle") maar teen dieselfde prys te verkoop nie, wat beteken dat hulle nog steeds staatmaak op tegnologies gestremde mense om data buite die bondel te gebruik.

Daar is aanvangklik aangekondig dat data goedkoper sal word namate die kabels verouer omdat die kabels se kostes elke jaar verlaag. Seacom is reeds in 2009 gelê en ons het verlagings gesien maar nog nie genoeg verlagings om internet vir die massas moontlik te maak nie.

Op 'n reis verlede jaar na Europe, het ek uitgevind dat meeste huishoudings konneksies van 12mg/s kry vir ongever R120 per maand. Dit is natuurlik onbeperkte lyne en sluit die lynhuur sowel as die data in. Ons het nog 'n baie vêr pad om te stap in SA om daardie tipe pryse hier te sien.

Laas Opdateer op Vrydag, 09 September 2011 10:22

Die Blu-Ray revolusie

E-pos Afdruk PDF

Ons almal ken van DVD kyk, daardie blink 12cm skyf wat soveel kykgenot bring omdat daar honderde TV-kanale is maar niks om te kyk nie.

Wat mens egter in ag moet neem is dat DVD slegs die evolusie van die standaard kompakskyf was. DVD is oorspronklik in die laat 90s vrygestel as die opvolger op VHS en Betamax.

Vir die wat nie weet nie, Betamax word tot vandag toe gebruik deur seker uitsaaiers as gevolg van die beeld- en klankkwaliteit maar dit was nooit die eindgebruiker se keuse gewees nie en VHS het toe eindelik die stryd gewen net soos wat Blu-Ray teenoor HD-DVD gewen het.

Blu-Ray is ontwikkel met korter golflengte bloulasers (Light Amplification through Simulated Emmission of Radiation) wat meegebring het dat meer data op dié manier per skyf geberg kon word. Dit laat nou toe dat ons volle hoëdefinisie beeld kan kry teenoor DVD se standaarddefinisie.

Hoëdefinisie se beeld is 1920 x 1080 groot teenoor standaarddefinisie se PAL-standaard wat maar 768 x 520 groot is. Soos jy self kan sien is daar wêrelde se verskil tussen die twee standaarde. Een groot verskil is dat HD glad nie oor standaard RF of komponent kan loop nie as gevolg van die kodering wat gebruik word om kopieë te voorkom.

Om volle HD te kan geniet het jy 'n skerm en speler, hetsy 'n rekenaar met 'n Blu-Ray Rom of 'n alleenstaande Blu-Ray speler nodig. Die twee word dan gekonnekteer d.m.v HDMI of "High Definition Media Interface". Hierdie koppeling dra die beeld en klank digitaal na die televisie sodat die televisie vir deel van die kodering verantwoordelik is. Dit wil dus sê dat jy glad nie HD op 'n gewone buis televisie sal kan kyk nie.

Ek het aanvanglik na die aankoop van my Blu-Ray Rom uit Engeland (SA is eenvoudig net te duur), drie flieks gaan koop. Mr & Mrs Smith, StarTrek en 2001 a Space Odysey. Ek moet wel sê dat Mr & Mrs Smith se beeld nie veel beter as die DVD weergawe is nie. Die Blu-Ray weergawe van StarTrek (2009 weergawe) is natuurlik fantasties maar kom nie by die kwaliteit van die 1968 meesterstuk, 2001 a Space Odysey nie. Die Blu-Ray weergawe is baie beter as die DVD-weergawe.

Die eerste paar minute van die fliek is dit duidelik sigbaar dat die beeldkwaliteit beter is. Alle buitelyne en detail is fantasties helder, skerper as die DVD-weergawe wat dowwe buitelyne en gesmeerde detail bevat. Daar is natuurlik die nadele en dit is dat die fynste bewegings van die kamera baie duidelik is en dat fyn detail wat verberg word deur die laë kwaliteit van DVD, natuurlik baie sigbaar is. Dit moet natuurlik gesê word dat indien jy verder as drie meter van die skerm af sit dan begin die probleme minder duidelik raak en kan jy die fliek in elk geval geniet.

Aanvanklik was Blu-Ray flieks onbekostigbaar. Gelukkig het die pryse die laaste paar maande baie gedaal. Jy kan nou al baie van die ou flieks teen 'n appel en 'n ei optel en plekke soos Makro en Game verkoop baie uit teen minder as R100. Ongelukkig is die fliekmaatskappye bietjie traag om die ou Afrikaanse treffers soos Fiela se Kind en Die Storie van Klara Viljee na Blu-Ray oor te sit. Hopelik gebeur dit gou want ek kyk graag ou Afrikaanse flieks en dit lyk nie asof MultiChoice gou KykNet gaan opgradeer na HD nie.

Laas Opdateer op Donderdag, 23 Junie 2011 09:47

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL